“Dis soos ek dit verkies,” antwoord sy saggies.
“Jy kan nie vir altyd wegkruip nie.”
Deborah voel haar wange brand. Soms het Kurt geen takt nie – mens noem tog nie so iets voor werknemers nie!
Kurt merk haar verleentheid op en wil homself skop, maar dit is te laat.
“Jy is nou ’n Mannheim,” voeg hy bruusk by. “Ek sal dit waardeer as jy my vanaand sal vergesel na ’n soirée …” Hy voel soos ’n onbeholpe idioot. “Dis te sê as jy dit sal kan verduur om ’n aand in ’n spul ou mense se geselskap deur te bring.”
Deborah glimlag, dan knik sy. “Ek sal graag saam met u gaan, meneer Mannheim.”
Hy knik ook en loop by die deur uit. Een keer, net een keer tevore het sy hom Pa Kurt genoem. Dit was die oggend ná hy haar verwese en gekneus in die konservatorium aangetref het en haar gevra het om hom na die myne te vergesel. Hoe diep het sy sedertdien in sy hart gekruip, dink hy toe hy die wagtende koets bestyg. Hy moet versigtig wees. Sy is jonk, té jonk, en sy is Karl se vrou … as Karl nog leef.
Die koets kom rukkend in beweging. Waar ís Karl? Kurt se hart trek saam in angs. In die eerste week ná Karl se verdwyning het Kurt vermoed dat sy seun ontvoer is. Ná die morsige insident in die Theatre Royal het hy dadelik vir Kit Malloy verdink. Dit het hy dan ook aan Von Brandis genoem, maar Von Brandis was oortuig dat Malloy onskuldig was. Soos die dae verby gekruip het, het die hoop dat Karl iewers aangehou word begin taan, en het hy begin dink dat Karl dalk nie meer leef nie. Daar is geen bedrae geld meer uit Karl se rekening onttrek nie, en omdat hy sy seun ken as ’n verkwister, weet hy dat dit vir hom byna onmoontlik is om asem te haal sonder om geld uit te gee. Dit, veral, het die afgelope week sy vrees laat groei dat Karl dood is. Kurt is bewus van sy hart se moeisame geklop. As dit wel so is, sal hy ’n dubbele verlies ly: afgesien van sy seun, sal hy ook vir Deborah verloor. Sy sal vry wees om met Malloy te trou. Die gedagte laat ’n warm golf in Kurt se nek en gesig opstyg. Dit mag nie! Dit sal hy nie toelaat nie! Aan Malloy, die dobbelsaloneienaar, sal hy Deborah nie sommerso afstaan nie!
Emosioneel uitgeput leun hy terug in die koetsbank. Stadig begin ’n plan om haar te behou in sy kop vorm aanneem. Deborah se flinkheid van begrip sal dit vir hom maklik maak om haar op te lei om in sy voetspore te volg. Tot dusver was sy bloot as waarnemer saam met hom na die myne, maar van nou af gaan hy haar bewustelik oplei. Hy gaan haar iets aanbied wat nie te koop is nie, dink Kurt selftevrede: ’n loopbaan. ’n Loopbaan waarmee hy Deborah aan hom gaan bind! Afgesien daarvan dat sy intelligent is, weet hy ook dat sy ambisieus is, en dit tel in sy guns. Selfs daardie verduiwelse saloneienaar met sy Ierse sjarme sal beswaarlik kan opweeg teen die Mannheim-myne.
* * *
Gedurende die paar uur wat sy afgehad het, kon Liu-Hohan geen rus kry nie, want elke keer as sy haar oë toemaak, het sy die vervalle gesig van die man met die blou oë gesien. Groot, starende oë, teen die einde byna swart. Sy weet dat hy waarskynlik iewers in ’n agterkamer van ’n derderangse hool neergesmyt is. Vir Lu-Shi was dit belangrik dat hy nie in die Dragon Queen moes omkom nie. Lu-Shi sou egter nie ’n duit omgee as die man op ’n ander plek sterf nie. Om die waarheid te sê, sou hy dit waarskynlik verkies. Dooie mense praat nie.
Wat het dit met haar te doen? het sy haarself herhaaldelik betig. Sy is net ’n jig-jig-meisie, en daar was al dosyne in dieselfde toestand as die een met die blou oë. Dis net – waarom dink sy so baie aan hom?
Uiteindelik kom sy orent uit die fetusposisie waarin sy gelê het. Sy trek haar haastig aan. Sy sal versigtig probeer uitvind waarheen hulle hom geneem het. Daar was nie veel geld in die man se beursie oor nie, maar sy sal dit kan gebruik. Die besluit om tot aksie oor te gaan laat haar heelwat beter voel.
Enkele oomblikke later verlaat Liu-Hohan haar nederige plakkershuisie, trek buite haar uitgaanskoene aan en steek die straat oor na die buurvrou wat na haar baba omsien terwyl sy werk. Haar baba is gebore kort nadat ’n man op ’n wit perd Happy Valley binnegery het op soek na Cockney Liz. Die man het die mal hond waarvoor hulle almal so bang was, doodgeskiet. Liu-Hohan was trots dat sy saam met die dapper man op sy perd gery het. Sy het haar seuntjie na dié vreeslose ruiter vernoem.
Liu-Hohan neem die kindjie in haar arms en liefkoos hom. Dis nie die enigste rede waarom sy hierheen gekom het nie: haar buurvrou kan skryf, Engels skryf. Daarby is sy ’n Christen, ’n Roomse Christen, en Liu-Hohan weet dat die Roomse mense priesters het wat ook dokters is. Priesters wat mens nie geld vra nie. Sy wil meer daaroor by haar buurvrou uitvind. Sy sal haar betaal om ’n brief te skryf sodat die priester kan verstaan dat dit ’n ernstige geval is. Miskien, as die man met die blou-blou oë se joss goed is, kan hy nog gered word.
* * *
Sam Naudies balanseer op sy een hand die silwerskinkbord waarop ’n visitekaartjie soos ’n wit eilandjie lê, sy blik ondersoekend op Deborah. Haar duidelike onthutsing toe hy haar vertel het van die besoeker wat in die voorportaal op haar wag, stem hom tot nadenke.
Deborah staan op. Wat sou Mac MacIntyre hier kom soek? Tydens sy laaste besoek, toe hy sonder waarskuwing opgedaag het met die nuus dat Kit Malloy leef, was daar vir hom geen warm verwelkoming nie. Syself was so verdwaas dat sy skaars kon praat, en haar skoonpa was, om die minste te sê, baie na aan onbeskof.
“Sal ek hom sê dat mevrou nie beskikbaar is nie?” vra Sam stil.
Vinnig ruk sy haar reg, skud haar kop en maak die kasboek toe waaraan sy besig was om te werk. “Nee, Sam. Neem asseblief vir meneer MacIntyre na die voorhuis en vra dat die kombuis vir ons tee berei.”
Sam knik, draai om en loop uit om mevrou Deborah se bevel uit te voer. Hy voel egter onrustig. Hy wil nie hê dat enigeen haar nou weer moet ontstel nie. En Mac MacIntyre is, wat Sam betref, in die kamp van die vyand. Die kamp van Kit Malloy, wat sy huis wil beroof van die nuwe pêrel in hul kroon, mevrou Deborah. In die laaste paar weke het sy ’n diep indruk op hom gemaak. Miskien was dit ook omdat Sam in sy siel oortuig was dat mevrou Deborah die antwoord op sy gebede was, dat sy die een sou wees wat sy seurtjie Karl op die regte pad sou kon hou.
Sy hart word swaar toe hy aan Karl dink. Waar sou hy wees? Hoe is dit moontlik dat ’n man so herkenbaar soos hy heeltemal kan verdwyn? Hy onderdruk die swart gedagtes en haas hom na die voorportaal, waar hy Mac uit sy jas en hoed help en daarna na die voorhuis begelei.
Mac het nie Sam se uitnodiging om hom tuis te maak in een van die gemakstoele gehoorsaam nie. Met sy hande agter sy rug inmekaargestrengel, beweeg hy van skildery na skildery, bekyk hy die duur ornamente wat in oormaat in die vertrek uitgestal is. G’n wonder ou Mannheim wil ’n huis laat bou nie; hy’t een nodig – en ’n grote daarby! Mac sien wel merkbare veranderings aan die voorkamer sedert sy vorige besoek. ’n Varsheid het die muwwerige atmosfeer vervang. Lig stroom deur die vensters, want die luike is nie soos voorheen permanent toegetrek nie. Deborah se invloed? Dis duidelik dat ’n vroulike hand die vertrek omskep het in ’n veel gemakliker en toegankliker plek.
Mac sug beswaard. Wat vir hom voorlê, rus swaar op sy hart. Hy het gekom om met Deborah te praat. Sy vrou Meg het die telegram vernietig waarin Kit laat weet het dat hy leef. Meg se agterbaksheid laat Mac aandadig voel aan die dilemma waarin Kit en Deborah beland het, en dit is waarom hy uiteindelik gekom het. Kit se lyding en ongeluk rus swaar op sy gewete. Mac is so diep ingedagte dat hy nie opmerk toe Deborah die vertrek binnekom nie.
“Môre, meneer MacIntyre. Ek moet sê u besoek is ’n onverwagse verrassing.” Deborah kom nader en reik haar hand uit om te groet toe Mac na haar toe omdraai. Sy beduie dan na die gemakstoel naaste aan hom. “Sit, asseblief. Ek het gevra dat hulle vir ons iets te drinke bring.”
Mac merk onmiddellik die opvallende verandering in haar voorkoms. Afgesien van haar deftige donker geruite uitrusting, straal sy ’n elegansie en selfversekerdheid uit wat voorheen nie teenwoordig was nie, dink hy bewonderend toe hy gaan sit.
Deborah neem teenoor hom plaas. “Ek vertrou alles is in orde met die Arms and the Soul?” sê sy om die ongemaklike stilte tussen hulle te oorbrug.
Mac knik stywerig. Hy