Groen soos die hemel daarbo. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624082620
Скачать книгу
Opel. Almal was erg oor hom. Sy taal, sy gebare. Hy’t net geweet hoe om ritme aan sy stories te gee. Dan sit hy terug en staar teen die lig wat die groot venster van ons sitkamer binnegelaat het. Hy wou graag die liefde van God oraloor sien. In der waarheid was daar min getuienis daarvan. Dit het hom melancholies gestem. Hy kon sien hoe ’n era binne sy eie lewensjare besig was om verby te gaan. En onmoontlik om dit te keer.”

      Sy laat hom terugkeer na die kern van die saak. “Miskien wou jou vader hê jy moes self jou seks uitsorteer. Dis so ’n komplekse area. Die Grieke het dit toegegee selfs al het hulle nie al die beperkinge gestel wat later met die Christendom gekom het nie. Daar kan nooit sprake wees van begeerte sonder ontbering nie, sonder ’n mate van lyding nie. Dit was belangrik vir hulle. Maar die handeling, die moontlikheid van die handeling, so eie aan ons natuur, om dit vas te vat, om nie passief te wees nie – dit is krag, dit is waarvan krag gekom het. Ek sou sê jou vader wou hê jy moes dit weet. Hy het die belangrikheid van die handeling goed begryp daar op sy plaas. Voor sy oë, omring deur diere.

      “Nou, wat betref die reëlmaat, en die vorm wat die handeling aangeneem het, daaroor het die Grieke min of niks te sê gehad nie. Weens fatsoenlikheid, meen ek. Dus geen konneksie tussen die vorm van aphrodisia en die doggy style van die bul met die koei nie.” Hier het sy iets verwag van haar kliënt. Maar niks. Niks.

      Sy staan op en kom bietjie nader. Haar vingernaels druk teen haar handpalm asof sy hierdie woorde deel wil laat word van sy siel, dié idees wat sy as briljant beskou, ’n hedendaagse hervertelling van die Grieke se idees oor seks. Natuurlik sê sy dit nie. Sy durf ook nie nader aan hom kom nie en keer terug na haar stoel.

      “Mag ek aangaan?”

      “Jip. Ek moet sê ek hou daarvan dat jy my pa nie oordeel nie.”

      “Nie in hierdie huis nie, Simon.”

      Hy leun terug. Hy lyk goed vir haar. Uit een stuk.

      “Jy sien, Simon.”

      “Ek sien, ja.” Nou korswil hy met haar.

      Sy laat nie toe dat dit haar skeel nie. Hulle het saam die eerste paar stappe geneem. Haar kliënt het homself oopgevou deur elke kontoer van haar chaise longue te gebruik. Die woord “loslê” kom by haar op. Sy is nog nie heeltemal klaar nie, maar voel dat sy eerder moet ophou. Die sessie is duidelik op ’n einde.

      Hy kyk haar aan, mond halfoop, die wys- en middelvinger van sy linkerhand teen sy voortande. Dis hoe hy omswaai. Een oomblik aangenaam en skynbaar in ooreenstemming met haar uitsprake, die volgende oomblik skepties. Dit sou haar byna kon ontsenu.

      “Ek dink dis genoeg vir vandag.”

      Toe dui hy aan dat hy nog nie heeltemal klaar is nie, en gaan voort. Daar is die dinge waaroor hy begaan is, en dan is daar hare. Daar het nog nie ’n werklike uitwisseling tussen hulle plaasgevind nie. Ook dit ontsenu haar.

      “Ek het al baie gedink aan die seksadvies wat my pa my daardie middag gegee het, want ek dink dis hoe dit bedoel was, as advies. Maar selfs daai tyd, in my prille jeug, ek meen, dis nie asof dit in my was om goed te bevraagteken nie, selfs toe het ek geweet ek gaan niks verder by hom hoor oor die saak nie. Nooit nie. Terselfdertyd het ek gewéét daar skort iets. Dis mos nie die hele storie daai nie. Natuurlik kon ek dit nie sê nie, ek sou nie weet hoe nie. Ek was te groen, te kwesbaar, ek het nog nie eers gemasturbeer nie. Draadtrek.” ’n Laggie volg, maar sonder dat hy na haar kyk. “En die ding wat ek wou sê, maar nie kon nie, het ongesê gebly, amper soos ’n sensasie wat agterna nog aanbly, ’n stertjie.

      “Miskien is dit hoe dit gewerk het. Daar kom die stertjie toe weer terug, in Bali. Die Balinese mense wat aangaan met hulle besigheid so teen die laatmiddag, en skielik, my pa, ’n Afrikanerman besig om na sy beeste te kyk op ’n Oos-Kaapse plaas. Wat is die verband?”

      “Daar hoef geen verband te wees nie, nie ten tyde van jou waarneming nie. Maar nou is daar een. Jy het pas die twee insidente saam opgeweeg, hier en nou.” Sy vat ’n sluk uit haar glas. Verlig.

      “Ja.”

      ’n Bevestiging. Slegs die tweede een sover. As hy voortgaan by haar, en teen die tyd vermoed sy dat dit die geval gaan wees, gaan hy inderdaad ’n koppige kliënt wees.

      “Weet jy wat my die meeste gefassineer het? Dat die brein die twee insidente verbind het. Vrye assosiasie. Dis wat my bowenal gefassineer het.”

      “Regtig?”

      “Ja.”

      “Het jy dus tot ’n slotsom gekom oor jou vader se advies?”

      “Ja.”

      “’n Uitleg van jou vader se advies interesseer jou nie meer nie?”

      “Ek dink nie so nie. Nee.”

      “Jy is dus meer begaan oor hoe die brein werk? Die vermoë om lukraak gestoorde herinneringe op te haal, en dan op een of ander manier sulke herinneringe met die teenwoordige te verbind? Die verband tussen die twee insidente, het jy daarmee ’n probleem?”

      “Glad nie. Dit fassineer my net hoe die brein werk.”

      Sy is oortuig, of liewer, sy wil haarself daarvan oortuig, dat dit die Grieke was wat hom tot hierdie insig gebring het, selfs al het hy nie daaraan erkenning gegee nie.

      “Dis dan al. Ons is voorlopig eers klaar. Sien ons mekaar weer, Simon? Wil jy die gesprek voortsit?”

      Hy sit sy donkerbril met die opstaan op. In haar ingangsportaal gaan staan hy voor die reusefoto wat hy blykbaar nie vroeër goed bekyk het nie. Die donkerbril word weer afgehaal.

      Dr. Spiteri staan effens nader aan hom en verduidelik dat dit die werk is van ’n jong Russiese fotograaf, Slava Mogutin, wat nou in New York woon. Sy het die foto in Amsterdam bekom deur ’n ruiltransaksie. ’n Vriend van ’n vriend van haar was hoogs beswaard. Tien sessies met haar in sy hotelkamer is gereël, en in ruil kry sy toe die foto, nommer drie in ’n oplaag van tien. Sy onthou hoe die kliënt soms op die punt van sy bed gesit het in die hotel, hoe hy na haar gegryp het met naels wat in die vel van haar gewrig ingevreet het. By tye moes sy hom vashou. Sy kon, sy was in staat tot die soort fisieke steun. Hy was ’n fris man, maar sy kon die spiere teen sy vel voel bewe. O, sy het omgegee vir hom, en hy het dit op sy beurt aangevoel. Teen die laaste sessie het sy gesigspiere begin ontspan. Sy het hom laat weet hoe goed hy dan lyk. Mettertyd het sy gehoor dat hy weer agteruitgegaan het. Sy is nie gevra om die foto terug te gee nie. Dis nie asof daar ’n jaar waarborg op haar terapie is nie.

      Op die foto is daar ’n jongman, die skinhead-tipe, wat op sy maag op ’n bank lê, bietjie soos die een hier in haar sitkamer, behalwe dat dié een met swart leer gestoffeer is. Behalwe vir ’n paar blink Doc Martens-stewels wat tot halfpad teen sy kuite kom, is die skinhead heeltemal kaal. Daar is tatoeëring op een van sy kuite, maar jy kan nie die skrif mooi uitmaak nie. Die penis van die skinhead is so geplaas, of het op natuurlike wyse so gaan lê, dat die agterkant daarvan tussen die V van sy bene uitsteek. Sy bene is so ver moontlik oopgesprei, met sy linkerbeen wat van die bank afhang. Om die bank lê ’n klomp los goed. Leë bierblikkies en gebruikte industriële kleefband, telefoondraad en ’n rooi gereedskapstrommel en so aan. Op ’n kelim lê ’n pitbull-terriër met geknipte ore en klinknaelhalsband. Die hond is vas aan die slaap, terwyl die skinhead sy kop oplig en ’n vuil kyk na die kamera gee.

      Toe Simon uiteindelik klaar na die foto gekyk het, sê hy: “Ek sal graag terug wil kom na jou toe, dr. Spiteri. Volgende Maandag, selfde tyd?”

      Sy kom skud sy hand. “Ek sien uit daarna.”

      Hy is nou beleefd. Sy raai dat dit by sy ouerhuis aangeleer is.

      Daardie aand bederf sy haarself met tiramisu. Haar dag was vol, erg by tye. Sy bel Colm, in versoeking om hom uit te vra oor die nuwe kliënt. Dis presies wat hy vermoed. Ja, dit was hy wat Simon na haar verwys het. “En?”

      “Ek het nie gevra nie, en jy hoef my niks te gesê het nie.”

      Colm respekteer haar professionalisme