Groen soos die hemel daarbo. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624082620
Скачать книгу
aansporing begin hy haar vertel van sy ervaring met ’n jong Balinese man. Toe hy by die sousige dele kom, maak hy seker dat hy niks uitlaat nie. Die openheid verras haar ietwat en maak dat sy haar profiel van hom aanpas. Tydens die vertel van dié dele, gaan sy oë ook oop. Hy weet duidelik wat hy wil oordra.

      Nee wat, daar was niks onbetaamliks aan die insident nie. Lieflik, en ’n raps eksoties. Lieflik nie in die sin van liefde nie, eerder verrykend. Dr. Spiteri wil presies wees wat betref die gebruik van woorde. Sy sal hom ook nie vra of hy veilige seks beoefen het nie. Slegs as ’n kliënt veilige seks deel van die gesprek maak en dit ’n kwessie word, sal sy dit opvolg.

      Sy skink vir hom ’n glas gefiltreerde water met ’n skyfie suurlemoen uit haar tuin. Hy ledig die glas.

      “Gebruik jy patsjoelie, dr. Spiteri?” vra hy uit die bloute.

      “Noem my asseblief Jo, Simon.”

      “Jo?” Hy lag skelm. “Ek sou nie kon nie,” sê hy.

      Op daardie oomblik besluit sy sy wil hom as kliënt behou. Sy hou van die man hier voor haar. “Nee, dis ’n velolie van jojoba en druiwepitolie. Hoekom?”

      Hy sak terug in ’n lêposisie sonder om haar te antwoord. Toe vertel hy die deel van die storie oor sy vader. Dr. Spiteri besef toe dis waarom dit gaan. Daar mag ander redes ook wees, maar dis vir seker waarom hy gekom het.

      “Ek wil nie slegpraat van my pa nie. Hy’s lankal dood. Ek dink baie aan hom. Wat snaaks is, is dat ek aan sy oorskot dink, die graf waar hy begrawe lê. Hy was so ’n vasberade mens, dit moet jy verstaan om hom te verstaan. Hy sou nie nalaat om ook ’n plek vir sy graf aan te dui nie. Aan die voet van ’n koppie in die Oos-Kaap; niemand nêrens om daarna te kyk nie. Is maar net daar. Partymaal dink ek daaraan om terug te gaan Suid-Afrika toe net om die graf weer te gaan besoek. Dit sal nou toegegroei wees met bitterbos, daai taai, bitter bossie wat jy daar kry. Skaap eet dit nie. Daai graf, ai tog.”

      “Die graf van jou vader. Waarom dié graf?”

      “Maak my melancholies, sou ek sê. Oor ’n paar jaar sal daar g’n spoor van daardie graf oorbly nie. My pa sal versmelt met die veld. Dis darem ’n troos. Dis wat hy was: uit die aarde. Die veld. Maak nie saak wat enigiemand sê oor hom of oor die verhoudinge op die plaas tussen hom, tussen almal van ons, en die swart plaaswerkers nie. Al daardie goed. Álles. Ek wil nie slegte goed oor hom dink nie.”

      “Maar dit gebeur wel?”

      “Nee. Ek dink nie so nie. Nee. Ek sou sê, nee. Hy was ’n man van sy tyd. Ek wil nie nou gaan sleg dink van hom nie. Een van die sterk beelde wat ek van hom oorhou, was toe ek een slag ingepak het ná ’n vakansie. Om terug te kom Australië toe. Hy was so aarselend, glad nie hoe hy is nie. Hy loop in terwyl ek besig is om in te pak. Hy’t iets op die hart, sê hy. Ná ’n lang tyd terwyl ek nou my hemde en baadjie vou en in die koffer pak, slaag hy daarin om te sê dat hy dink ek moet bietjie meer stort. Dit was al teen die einde van sy lewe, sy mooi gesig het al so begin wegval. Hy was naby die einde. Dit was dus ook in ’n laat stadium van ons verhouding wat hy dit aan my kom sê het. Teen daai tyd was ek gemaklik met myself, oor hoe ek is, en met genoeg selfvertroue. Bedoel Pa ek stink? vra ek toe. Dit was snaaks. Jy kan ’n bietjie meer stort, wat, sê hy. Dis vandag se sweet wat jy ruik, maar ek sal deodorant gebruik. Meer. Party dae gebruik ek niks, maar ek sal van nou af. Ek kon sien hy was so verlig. Dit was so mooi vir my dat hy nou dit aan my wou kom sê. Hy het altyd omgegee oor my. En met dit ook.”

      Simon bly vir ’n lang ruk stil. In die verte het kookaburras hulle gekek-kek sag, hard en harder gemaak. Die kras klank het soos ’n koeël op en af oor die rivier gespeel en die stilte van die vertrek binnegekom.

      Sy is nie ongemaklik by hom nie. Sy staan op en herrangskik ’n datura-stingel in die vaas. Dis haar manier: in stede daarvan om so in stilte oorkant ’n kliënt te bly sit, verrig sy sulke takies. Verskuiwing van energie, noem sy dit. Of sy hom as kliënt gaan behou, hang af van wat hier tussen haar en Simon uitgelê word, en nie net oor sy vader nie. Dis eerder die stories oor die pa as oor seks wat haar kliënt laat toemaak. Ongewoon. Sy wil hom regtig behou, sy is nie seker presies waarom nie.

      Simon kyk nie een keer op nie. Uiteindelik gryp hy die armleuning vas en hys homself op om na die stoep toe te kyk.

      “Gee jy om om die stoepdeure toe te maak?”

      “Geen probleem, Simon. Ek skakel die waaier ook aan. Nog iets oor jou vader?”

      “Ek sien hom meestal op die plaas rondloop. Meestal. Ek sien hom daar op sy grond. Besig met goed om sy plaas glad te laat verloop, en winsgewend. Daar loop hy, heen en weer op sy grond.”

      “Watter soort man was hy?”

      Hy antwoord nie. Sluit weer sy oë.

      “Sou jy sê hy was ’n man met sterk seksuele drifte?”

      Sy oë gaan oop. Die dromerigheid aan sy blik verander, verskerp.

      “My pa wou hê alles moet werk. Nou. Dadelik. Behalwe as hy oor die ou dae vertel het. Oor sy pa en sy aanhou en uithou reg deur die Groot Droogte en die Groot Depressie van 1933. My pa het gesê sy pa het vrouens maar sleg behandel, soos kak. My oupa. Dit was pynlik vir hom om dit te sê oor ’n man wat hy bewonder het.

      “Elk geval, my pa het sin vir die onmiddellike gehad. Jare en jare was ons nie deel van dorpselektrisiteit nie. Ons het een van daardie Lister-opwekkers gehad en as daai ding gaan staan, selfs al was dit koud en donker, dan’s my pa daar uit met die toorts en hy gaan sukkel met daai enjin totdat hy hom weer aan die gang kry. Hy was ’n man van aksie, hy’t nie veel gesê nie. Buierig. Daardie woord wat ons het: omgekrap. Asof hy in ’n stadium mee gepeuter was. Nie opgefok nie, jammer vir die woord. Dit was nie asof hy opgefok was nie. Net ’n difficult customer. Altyd onvergenoegd. Jy kon nooit by hom uitkom nie, sy kern. Ek weet nie of hy self kon nie. Die een ding wat my bybly van daardie middag, was sy helderheid, sy sekerheid: menseseks is maar net soos dié van ’n bul en ’n koei. Dit was dit. Dis waarmee hy my gelaat het.”

      “Blameer jy hom daarvoor?”

      “Nee, ek wil nie.”

      “Maar jy doen dit tog?”

      “Nee.”

      “Maar wat is dit dan oor die stelling wat jou vader gemaak het? Hoekom bly dit ’n raaisel vir jou?”

      “Dit is so. Dit bly ’n raaisel. Ek dink ek probeer hom verstaan. Ek probeer agterkom hoe hy so iets kon sê.”

      “Jy weet die klassieke Grieke het dit nie oor seks gehad soos ons dit deesdae doen nie. Hulle het die woord aphrodisia gebruik en vir hulle het dit drie dinge beteken: die handeling, die genot wat uit die handeling spruit en die krag van begeerte wat op die plesierervaring volg. Ek weet nie wat jou vader van begeerte gemaak het nie. Ek dink dis billik om aan te neem dat hy hom as Christen binne die Protestantse tradisie gehou het, soos jy vertel het, en dat hy homself en sy begeertes ingehou het. Hy sou homself ingeperk het.”

      Simon leun terug. Die kyk wat hy haar gee. Die belangeloosheid van daardie blik. Sy is nie seker of sy moet aangaan nie.

      “Ek sou sê dis wat jou vader geweet het, dis waarvan hy seker was: die deel van seks wat die handeling insluit. Die doen van die daad. Maar die plesier wat voortvloei uit die daad; wie van ons kan dit bewoord?” Sy wil hom graag heelhuids betrek.

      “Dit kom voor of jy daartoe in staat is, Simon?” sê sy. Daarvan hou hy. Hy glimlag weer. Sy oë skreef en toe hy opkyk, lyk hulle waterig. Haar kliënt het iets onthou. Sy’t g’n twyfel daaraan nie. Van die man met die netjiese Polo-hemp tot by hierdie loslittige, warm kreatuur. Sy moet toegee: hy prikkel haar.

      “Gaan aan,” sê hy.

      “Ek twyfel of jou vader oor seks wou praat, of daartoe in staat was. En dan was daar die begeertes; hy wou dit waarskynlik ook aan jou oorlaat. G’n kommentaar daaroor waag nie. Miskien het die kapasiteit daartoe ontbreek. Die woorde.”

      “My