Ek begin die ding deur bo-oor hom te hurk en sodoende amper aan hom te raak, trek my vingers deur sy reguit, swart hare, borselkopstyl, en wieg myself heeltyd vorentoe en agtertoe oor die styfvel van sy borskas, buig af en soen hom teen die kromming van sy nek, dan op sy mond, dan lig ek sy regterarm op en snuffel in sy armholte. Die hare daar so duidelik anders as die dun streep bokant sy naeltjie, die reuk daarvan soeterig en warm en jonk, en daarna soet-surerig. Die intieme tas-tas van my mond teen die holte van sy arm ja hom op. Hy gryp my om my boude en lig homself op sodat ek sonder weerstand kan ingaan.
Ná ’n ruk lig ek hom nog hoër sodat ek hom so kan kry terwyl ek hurksit, ’n posisie wat my gewig hak toe stuur en momentum verleen aan my laer rug en gat en my kans gee om strawwer te werk.
Nadat hy homself gewas het, gaan ek in en maak ook so, weer. Toe ek na myself in die spieël kyk, kom ek verlewendig voor, begeesterd.
Ek loop by Dewa se kamer uit en kom op die stoepie. Die hof binnekant die kampong lyk anders as toe ek daar aangekom het. Die hoenders skrop nog steeds rond, die honde lusteloos soos netnou, die veghane wag gapend in hulle omgekeerde mandjies van gevlegte rattan, ons woord is mos rottang, kinders speel op die grond en vroue doen huishoudelike goed, en die reuk van naeltjies en uitlaatdampe en gryswater hang daar. Al hierdie dinge dring tot my sintuie deur, elkeen nes dit is en nie anders nie, sonder die bolaag van jagsheid waarmee ek agterop Dewa se skoeter binnegery het, toe die veghane in hulle omgekeerde mandjies na rasende monstervoëls gelyk het.
Dewa kom sê hy sal my terugvat na my villa. “Wanneer gaan jy weer kom?” Ek oorhandig die 300 000 roepees. Uit ons aanlyn gesprek wis ek dis wat hy verwag en ek het die regte bedrag by my.
“Ek weet nie. Was dit lekker vir jou?” Dit was, ek kon dit aanvoel. AUD30, dis niks. ’n Konsensuele transaksie.
“Ja. Sangat baik.” Ver terug klink sy baik na baie. Ek druk hom styf vas, maar hy doen nie dieselfde terug nie. Reeds neem hy die afstandelikheid op wat ek die eerste keer op die sosiale netwerk aangevoel het.
Ek glip my Havaianas aan. Toe ek myself oorswaai om agterop sy skoeter plaas te neem, kyk ek af na my voete wat, nes die res van my lyf, varsrooi gesweet is ná die afspoel.
Op daardie oomblik onthou ek my pa en ek daar waar ons op die wal vasgestampte grond staan, en die bul wat met die koei paar, en die ding wat hy daaroor gesê het. Daar was geen ooglopende sneller om nou dit te gaan staan en onthou nie. Dit het gekom, en dis al. Daar was geen ooreenkoms tussen daardie laatmiddag in die kampong van Dewa-hulle en ons verre Oos-Kaapse plaas nie.
Teen vroegaand is ek terug in ons privaat tuin. Ek sluit die houtpoort agter my; ek het iets bereik, nee wragtag. My lyf tam, my luim tintelend. Die klosse frangipani gee perske-en-speserye af. Miriam en Ralton loop my tegemoet, drankie in die hand.
“Mmm,” sê Ralton, “lekker warm hand,” toe hy myne skud. Hy’s getrek. Bietjie. Toe plaas hy die agterkant van sy hand teen my bors. “Jy was besig, kan sommer voel.”
Hulle was bly om my in een stuk terug te hê. Ralton met sy lang glas brandy & Coke durf niks kwytraak oor die Russiese pimpbase wat agter sosiale media besig is nie. In stede daarvan bied hy my ’n gerolde sigaret aan.
Teen middernag raak Seminyak stil. Dis boonop ’n donkermaannag op die kalender. In die tradisionele Hindoe-huisgesin vas almal behalwe kinders en siekes. Jy mag nie ’n woord uiter nie; dis nou die tyd om selfbeheersing toe te pas en oor jou waardes te besin.
“Kom saam, ek wil net gou-gou uitloer. Net om te sien hoe is dit daar buite,” sê Miriam.
Ons volg die plaveiklip deur die donker tuin en sluit die poortdeure na buite oop. Nie ’n enkele straatlamp brand nie, g’n siel te siene nie. Met my selfoon op toorts gestel, lig ek vir ons langs die steeg af. Die gedaante van ’n hond kom nader. Ons halt. Die hond ook.
“Daar,” Miriam pluk aan my arm. Waar die steeg by Jalan Petitenget aansluit, gewaar ons die wagte met hulle kragtige toortse besig om die strate te patrolleer en seker te maak almal is binne.
Ons stap vinnig terug tuin toe en maak die poortdeure sag agter ons toe. Miriam steeds ingehaak aan my arm. Ek trek haar nader, teen my borskas aan, en hou haar vas, haar lang krulhare teen my gesig, die vel van haar kaal skouers onder my hande. Toe los ons mekaar en trap versigtig al op die klip langs tot by die stoep waar die kooltjie van Ralton se sigaret sy sitplek verraai.
1a
Dr. Spiteri se nuwe kliënt arriveer tienuur. Sy kry meeste van haar kliënte op aanbeveling, wat haar met ’n gevoel van genoegdoening laat. In die geval van die kliënt vermoed sy Colm het iets daarmee te make. Colm is ’n goeie vriend en so oneerbiedig met sy tong as wat kan kom. Sy wonder nou of sy iets soortgelyks by die nuwe kliënt gaan kry. Hy’t haar deeglik uitgevra oor die foon: weet sy genoeg oor seks? Praat hy nou van die daad of terapie met seks as onderwerp? Toe sê sy maar: “Ek is ’n mens, jy weet,” en dit skyn hom gerus te stel. Die afspraak is gemaak.
Sy het ’n vyftiger-styl rok gekies, saliegroen met ingegorde middel. Kort voor die kliënt kom, raak sy daarvan bewus dat sy op die kombuistoonbank trommel. Sy is, hoe sal sy dit stel, benieud. Die dag is alreeds taaierig. Sy verstel haar bra deur die bandjies op te lig en terug te laat skiet.
Simon Avend is mooi fiks, sy kan dit sien. Sterk ken. Vroeë dertigs, raai sy. Sy’t niks gemis nie. Sy het haar nuwe kliënte goed deurgekyk, hulle vibe opgetel soos hulle hier in Noord-Nieu-Suid-Wallis sê, dan seker gemaak sy laat staan dele van of die hele observasie as dit enigsins die teiken mis.
“Koffie, Simon?” Dit vat hom ’n ruk om te antwoord. Die kliënt is skaam, byna kil.
Hy loop in haar sitkamer rond. Sy hou hom dop terwyl sy die koffiemoer in die mandjie van haar espressomasjien gooi. Hy let die leste ding op, selfs haar klassieke Bialetti.
Dr. Spiteri se sitkamer het twee sit-areas, beide geskik vir konsultasie. Agtertoe maak die sitkamer oop op ’n ruim veranda wat noord op die Wilsonrivier front. Die sit-area naaste aan die veranda is uitgerus met ’n chaise longue in die Chesterfield-styl. Die geronde rug- en armleuning is met fluweel gestoffeer. Nagklubpers, noem sy dit graag.
Simon se keuse val op die chaise longue. Hy sit ’n ruk en gaan lê dan met sy arms oor sy bors gevou. Oukei, dink sy, dis hoe hy dit wil hê, en maak die melkverwarmer vol.
“Ek wil graag hierso sit as ons praat,” sê hy, en staan op van die chaise longue.
“Doodreg, Simon. Dis sy werk daardie.” Met sy strepies-Polo-hemp en al is daar iets ouderwets aan hom. Hy loop uit stoep toe.
“Mal oor hulle,” sê hy.
“O ja, die rivierkoggelmanders. Te oulik.” Simon kyk af op die oopte langs die rivier waar rivierkoggelmanders soggens in die son sit en bak.
Sy laat hom begaan op die veranda, so lank soos hy wil, en plaas sy koffie op die sytafeltjie langs die chaise longue. Sy het haar Japannese koppies uitgehaal, slank en regop in ryppruim met ’n goue rand.
“As jy klaar is, Simon.” Sy het ’n tweede afspraak daardie dag, maar eers ’n hele ruk na middagete. Anders as meeste terapeute waarvan sy weet, stel sy nie ’n streng tydslimiet aan haar konsultasies nie. Sy verkies dat die saak tussen haar en die kliënt sy eie loop in die sessie neem, en dan op sy eie en sonder druk eindig.
Hy gaan sit weer op die chaise longue, neem ’n enkele suikerblokkie uit die kristalhouer wat sy langs sy koffie geplaas het.
Hy vermy haar blik meeste van die tyd, wat haar glad nie skeel nie, sy sou dit nie anders wou hê nie. Hy sluk sy koffie in twee, drie slukke weg. Nee, niks meer nie, dankie. Sy let op sy arms, sy ken, weer, want dit lyk bietjie soos Bennie s’n. Sy’t syne so in haar hand gehou wanneer sy vir hom gaan kuier op sy skaapplaas in Parkes, diep in die binneland van Nieu-Suid-Wallis. Dr. Spiteri ruk haarself reg. Dwalende gedagtes in die teenwoordigheid van ’n kliënt is beswaarlik hoe sy haar konsultasies wou inrig.
Intussen