Tevergeefs delf sy in die donker voue van die swaar gordyne wat voor haar geheue getrek is. Nee, sy kan hierdie gesig nie onthou nie, en sy is baie seker as sy haar al gesien het, of hierdie foto, sou dit haar nou op ’n spoor gebring het.
En hoekom is die foto tussen ’n klomp boeke ingedruk, asof dit inderhaas daar ingeprop en toe vergeet is? En hoekom het sy, wat veronderstel is om al maande in hierdie woonstel saam met Rudolf te gebly het, nog nie daarop afgekom nie?
Sy voel instinktief aan dat sy nie hierdie foto so sou laat bly lê het as dit reeds in die woonstel was toe sy hier gekom het nie. Maar dan beteken dit net een ding: hierdie foto was nie vroeër hier nie. Dit moes onlangs sy verskyning gemaak het … onlangs toe sy weg was? Toe sy by tant Kitty gekuier het …?
Iets soos ’n koue vrees trek in haar saam. Is hierdie pragtige meisie met die rooi hare en amandelvormige groen oë die oorsaak dat daar so ’n vreemde verhouding tussen haar en Rudolf heers, dat hulle getroud is en tog eintlik ook nie?
Is die vae vermoede wat elke dag sterker in haar word dat daar iets groots met haar en Rudolf se huwelik skort, tog ’n feit en het dit met hierdie meisie te doen? Het sy werklik by tant Kitty gekuier omdat sy siek was, of was sy eintlik weg van Rudolf af, het sy die pad oopgemaak vir hierdie vrou omdat sy nie langer teen haar kon wedywer nie?
Hoe meer sy hieroor peins, hoe meer oortuig raak sy dat sy eindelik op ’n spoor gekom het en ’n grondige rede gekry het hoekom Rudolf so vreemd teenoor haar optree. Al die ander redes wat hy en tant Kitty so halfhartig aanvoer, het vir haar nog altyd na twak geklink. Hierdie een, hierdie rooikop Catherine en die verhaal wat sy besig is om om haar te bou, klink baie meer aanneemlik.
Was hul huwelik reeds op die rotse toe die ongeluk plaasgevind het en … sy sidder meteens, voel die hoendervel teen haar arms opkruip … wás dit ’n ongeluk? Hoekom is hulle so vaag oor die ongeluk? Elke keer wanneer sy meer besonderhede wil weet, praat hulle dit dood.
Sy staar stip na die foto sonder om dit werklik raak te sien. Dis of haar gedagtes die loop geneem het en sy wend geen poging aan om hulle onder beheer te kry nie. As die feite is soos sy vermoed hulle is, verklaar dit nóg meer dinge.
As dit miskien nie werklik ’n ongeluk was nie, sal hy optree soos hy nou optree – amper asof hy tussen twee vure sit. Hy kan nie anders as om te maak of daar niks gebeur het of nooit enige moeilikheid tussen hulle was nie, want sy was baie siek. Sy was amper dood. Hy moet, as hy enigsins menslik is, ’n gewetenswroeging hê omdat sy verhouding met hierdie rooikopnooi sy jong vrou amper tot selfmoord gedwing het. En nou het sy haar geheue verloor. Hy moet haar nou saggies en versigtig hanteer. Hy sal haar nie trompop kan vertel dat hul huwelik verby is nie. Sy is nog te swak vir so ’n skok.
Madie bespiegel verder. Hy sien ook nie kans om langer met hul huwelik voort te gaan nie. Nou probeer hy haar dit deur sy optrede aan die verstand bring dat alles eintlik tussen hulle verby is en reeds was, en dat daar geen toekoms vir hul huwelik is nie. As ’n mens al jou geliefde se portret lewensgroot in jou woonstel aanhou terwyl jy nog met jou vrou getroud is, moet die verhouding reeds ver gevorder wees.
Stadig druk Madie die portret op dieselfde plek terug en staan op. Sy soek nie verder nie. Dis tog nie nodig nie.
Dis nie haar woonstel hierdie nie; hier is niks van haar nie. Nie eens die kombuisrakke is volgens haar smaak gepak nie. Die meubels in die sitkamer, duur en elegant, is ook nie gerangskik soos sy dit sou gerangskik het nie. Sy is nie maar net ’n week of twee gelede uit hierdie woonstel nie; sy is lánkal hier uit. Daarvan is sy nou seker.
En sy weet ook hoekom. Daar is nou antwoorde op baie hoekoms: hoekom hier nie ’n draad klere van haar was toe sy hier aangekom het nie, hoekom al haar nagklere splinternuut is, hoekom hier nie ’n borsel of kam of tandeborsel van haar in hierdie woonstel te kry is nie, hoekom daar nêrens iets persoonliks van haar rondlê nie. Ja, sy weet nou hoekom …
Dis ’n baie bedeesde en besadigde Madie wat ’n ruk later ewe soet deur tant Kitty in die bed aangetref word. Die groot blou oë is uitdrukkingloos en haar belangstelling in wat tant Kitty op sig gebring het, byna nul. Net so gretig soos sy was om klere te kry, net so min stel sy nou belang.
Tant Kitty kyk haar bekommerd aan. Sou daar ’n onverwagte insinking gekom het? Maar daar moes tog iets gebeur het? Sy voel onrustig.
“Het iemand gebel terwyl ek uit was?”
“Nee.”
“Of was hier dalk iemand?”
“Nee.”
Madie trek die laaste rok weer uit en trek haar nagklere aan.
“Maar wil jy dan nie enetjie aanhou nie? Jy wou dan so graag.”
“Nee, ek gaan maar weer in die bed klim.”
Nou is tant Kitty werklik bekommerd. Iets is verkeerd. “Voel jy siek, Madie?”
“Nee. Ek voel … niks.”
Dis ’n diep bekommerde tant Kitty wat Rudolf by die voordeur inwag.
“Wat skort?” vra hy onrustig.
“Dis wat ek nie weet nie. Sy was soos altyd toe ek hier uit is om vir haar klere te gaan koop en toe ek terugkom, is sy … só.”
“Wat bedoel tante – só?”
“Wel, sonder enige belangstelling, lusteloos … ek weet nie hoe nie. Sy lyk amper soos iemand wat ’n skok gehad het …”
Hy frons skerp. “Het iemand gebel? Of was hier nie dalk iemand terwyl tante weg was nie?”
“Ek het gevra. Sy sê nee, maar dit beteken nie dat …” Haar oë rek ontsteld. “Rudolf, jy dink tog nie dat Catherine miskien hier was nie?”
“Ek hoop van harte nie so nie.” Hy sug. “Ek sal seker moet gaan hoor.” Hy stap die slaapkamer binne, sien die onmiddellike verstywing van haar liggaam onder die laken, merk dat die oë onmiddellik wegdraai. Iets skort gewis. Hy aarsel langs die bed. Sal hy dit waag om haar met die gebruiklike piksoentjie op die voorkop te groet? Toe besluit hy daarteen.
“Hoe gaan dit, Madie? Hoe voel jy?”
“Heeltemal goed, dankie.”
Dis ’n uiters formele, stywe stemmetjie wat antwoord en sy frons verdiep. Sy klink selfs vyandig.
“Is jy seker? Voel jy nie siek nie?”
Hy sien haar ’n slag hyg na asem. Toe draai sy soos ’n klein wildekat na hom toe en die blou oë blits soos hy hulle nog nooit sien blits het nie.
“Ja! Ek voel versmoor … versmoor onder jou belangstelling. Is jy nou tevrede? Loop dan hier uit! Toe! Loop!”
Sy algehele verslaenheid wakker haar ontsteltenis net meer aan. Sy klink amper histeries toe sy skree: “Loop, sê ek jou! Ek wil jou nooit weer sien nie, jou valse, agterbakse … Loop!”
Tant Kitty kom in die deur staan en kyk geskok na die toneeltjie voor haar. Madie gaan hewig aan die huil. Rudolf staan ’n oomblik besluiteloos en verbysterd, toe haal hy sy skouers op vir Kitty se vraende, ewe verbysterde blik.
Hy neem op die kant van die bed plaas en trek Madie aan die skouers orent, gryp net betyds die klein vuisies vas wat teen sy bors wil tamboer. “Madie, gedra jou! Wat beteken hierdie gedrag? Hou op met huil en antwoord my! Onmiddellik!”
Die stomende blou oë blits soos twee dolkpunte op hom. “Jou skynheilige ding! Vir wie probeer jy bluf? Vir my of tant Kitty? Wel, jy kan maar ophou met jou toneelspel. Ek weet alles!”
“Jy … weet … alles? Wat?”
“Ja! Alles – van daardie rooikopding wat jy agter my rug aanhou en … en dat ons weg was van mekaar, en dat ons huwelik op die rotse is en … dat jy my nou maar net teruggevat het omdat jy skuldig voel en omdat jy nie anders kon terwyl ek siek was nie en …”
“Is