“Twee, drie weke, ja.”
Hy sug. “Ek weet, en tog kan ’n mens iemand baie goed leer ken in so ’n kort tydjie, veral as julle daagliks met mekaar te doen kry.”
“Ja, ek sal dit glo. Veral as julle man en vrou speel.”
“Catherine, asseblief! Waarvoor sien jy my aan?”
“Vir ’n groot gek op die huidige oomblik, maar ons laat dit daar.” Sy sug. Sy is woedend vir hom, maar besef ook dat sy nou versigtig te werk sal moet gaan. Rudolf kan met sagte hart en al uiters koppig word.
Sy sal hom reg moet hanteer, anders gaan sy hom finaal verloor. Sy het eers hierdie afgelope twee weke besef wat hy werklik vir haar beteken, en sy gaan hom gewis nie nou weer verloor nie, nie ter wille van ’n klein bog soos die kastige Madie nie.
Aan die ander kant is sy so verlig om te hoor dat hy nie werklik getroud is nie en dus nie heeltemal buite haar bereik nie, dat sy hom amper kan vergewe vir die dwaasheid wat hy aangevang het. Een ding is seker: sodra hierdie saak afgehandel is, gaan hulle trou, besluit sy in haar enigheid.
“Hoe lank gaan hierdie geheueverlies nog aanhou, dink jy?” vra sy. In haar hart twyfel sy baie aan dié storie. Hierdie danige Madie is besig om Rudolf en tant Kitty heerlik aan die neus te lei, maar haar speletjie is so te sê uit. Van nou af het sy met haar, Catherine, te doen.
“Dit wissel van persoon tot persoon. Sy moet ’n geweldige skok opgedoen het en dit sal moontlik net ’n skok wees wat haar geheue terugbring. Maar tot nou toe was sy te swak om haar aan so iets bloot te stel.”
“Sy lyk vir my al heeltemal reg en gesond.”
“Ja, maar ek dink sy is nog nie geestelik sterk genoeg nie. As haar geheue op ’n brutale manier wakker geskud moet word, kan sy die kluts heeltemal kwytraak. Ek sal haar graag nog ’n rukkie kans wil gee.”
“Hm.” Catherine frons skerp. Rudolf toon ’n ongesonde bedagsaamheid en kommer teenoor hierdie Madie. Hoe gouer sake tot ’n punt gevoer word, hoe beter. Maar van dié voorneme hoef Rudolf nie te weet nie. “Daar is dus niks anders te doen as om te sit en wag nie?”
“Nee, eintlik nie, maar … daar is iets wat jy vir my kan doen. Asseblief.”
“Ek? Wat? Natuurlik sal ek help waar ek kan, maar …”
“Jy kan vir my vasstel hoe ver hierdie ondersoek al gevorder het. Die koerante het doodstil daaroor geraak. Ek het nie ’n idee hoe ver die polisieondersoek gevorder het nie. Miskien het hulle al lankal opgehou om na Madie te soek, miskien reeds uitgevind wat werklik daardie dag gebeur het, en dan hou ek haar onnodig in die woonstel gevange. Want dit is omtrent wat sy op die oomblik is – my gevangene – en sy begin al moeiliker word daaroor. Een van die dae gaan sy nie meer die redes aanvaar hoekom sy dan nie buite mag kom nie.”
“Goed. Dit behoort nie moeilik te wees nie. Ek ken ons misdaadverslaggewer.”
“Dankie, Catherine.” Hy is opreg dankbaar. Dit sal al baie help. “Maar doen dit net so dat niemand agterdogtig word nie.”
“Natuurlik. Ek is mos self ’n joernalis, en Van Jaarsveld sal dit nie vreemd vind as ek uitvra nie. Dis maar ’n siekte waaraan ons joernaliste almal ly. Ek sal môreoggend ’n draai by sy kantoor gaan maak.”
Rudolf staan op. “Ek sal nou moet gaan. Baie dankie, Catherine.”
“Nou al? Dis nog nie so laat nie,” laat sy teleurgesteld hoor, maar hy skud sy kop.
“Dis al oor elf. Ek is ook bekommerd oor Madie. Ek weet nie of die gebeure van vroeër vanaand haar miskien ontstel het nie.”
Die groen oë verhard weer. “Wat presies is julle twee se verhouding, Rudolf? En moenie my so aankyk asof ek iets ongeoorloofs vra nie. Sy verkeer onder die indruk dat sy wettig jou vrou is. Hoe … hanteer jy daardie deel van die klug?”
Sy antwoord is koel, en dis duidelik dat hy hom vererg het. “Daar is geen probleme nie,” antwoord hy kalm, wetende dat hy nie heeltemal die waarheid praat nie. Dit sal hy nooit aan Catherine erken nie. “Sy was baie siek en swak. Tant Kitty slaap nog by haar in die kamer. Verder verstaan sy dat sy eers heeltemal moet herstel.”
“Maar sy is nou heeltemal gesond, nie waar nie? Ek bedoel, fisiek is daar niks met haar verkeerd nie, of hoe?”
“Nee, maar … wel, tot dusver het sy nog aanvaar dat sy siek is en eers gesond moet word.”
Binnekort gaan sy nie meer nie, dink Catherine vlugtig. Sy knik haar kop. “Sal dit nie beter wees as jy vir haar, én vir tant Kitty natuurlik,” voeg sy met nadruk by, “met ’n vakansietjie stuur solank jy dinge hier probeer uitpluis nie? Dit sal jou uit ’n baie moeilike situasie help.”
Hy frons. Hy het al self daaraan gedink, en tog voel hy onwillig om dit te doen. Dis of hy bang is om haar onder sy oë te laat uitgaan. Hy besef egter die wysheid van Catherine se voorstel.
Madie het haar gewis nie so volkome vereenselwig met die huidige stand van sake soos dit op die oog af mag voorkom nie. Hy bespeur ’n groeiende rusteloosheid in haar en het haar broeiende blik al dikwels op hom gevoel. Miskien moet hy tog maar ernstig aan die vakansieplan dink. Die kanse dat sy sommer herken sal word, is gering, veral as hy haar na Durban of een van die groot strandoorde stuur. Elke dag word die moontlikheid ook kleiner dat iemand haar op grond van die koerantfoto sal herken.
“Ek het al daaraan gedink. As ek net eers kan vasstel hoe ver die polisie met hul ondersoek is, sal ek weet wat die beste sal wees.”
“Dit sal ek môre vir jou vasstel. Daarvan kan jy seker wees.” Sy staan op, kom voor hom staan en slaan haar arms om sy nek, die pragtige gesig na hom opgehef. “Rudolf … ek is jammer dat ek so haastig was. Dis net omdat ek jou so liefhet dat dit so ’n verskriklike skok vir my was. Is ek vergewe?”
Hy kan niks anders doen as om sy arms om haar te plaas nie, maar terwyl hy op die lieflike gesig afkyk, wag hy vergeefs op ’n vonkie om binne-in hom aan die brand te slaan.
Hy voel ontsteld. Catherine is al baie jare deel van sy lewe. Sy was deel van sy toekoms ook. Hoe is dit moontlik dat hy binne drie weke so heeltemal koud teenoor haar kon raak, dat haar skoonheid hom nie meer betower nie?
Hy sug saggies en bring sy mond doelbewus op hare neer. Dit sal regkom, maak hy homself wys terwyl hy haar soen. Dis maar net die buitengewone situasie waarin hy hom op die oomblik bevind, al die spanning en kommer van die afgelope weke, wat hom afgestomp het.
Tog … toe hy Madie in sy arms geneem het daardie een keer, was hy nie afgestomp en koud soos op hierdie oomblik nie. Inteendeel, sy sinne het gesing en gebruis en hy het amper van sy wysie af geraak …
Hy maak hom vinnig uit haar omhelsing los en staan terug, ’n gedwonge glimlaggie om sy lippe. “Goeienag, Catherine. Sal ons mekaar môremiddag vir ete ontmoet? Dan kan jy my vertel wat jy vasgestel het.”
“Dit sal heerlik wees. Op die ou plek?”
“Goed. En dankie, Catherine. Baie dankie dat jy verstaan en bereid is om te help.”
Sy glimlag net en knik, maar toe die deur agter hom toegaan, trek die oë weer saam en sy gaan peinsend op die bank sit. Natuurlik verstaan ek, jou dierbare gek, beter as wat jy dit self verstaan. En natuurlik is ek bereid om te help – op my eie manier …
Alles is in doodse stilte gehul toe hy die woonstel se voordeur versigtig oopstoot. Hy sug verlig, maar sy verligting is van korte duur. Die oomblik toe hy die leeslamp in die sitkamer aanskakel, gaan die kamerdeur oop en staan sy voor hom in haar nagklere.
Meteens is die vonkie daar waarna hy netnou vergeefs in Catherine se omhelsing gesoek het. Dit sterf egter ’n vinnige dood toe hy in haar oë kyk.
“Die hospitaal het al ’n uur gelede na jou gesoek. Ek het beloof ek sal jou die boodskap gee sodra jy inkom. Dis glo dringend.” Hy kan net knik en voordat sy omdraai,