“Stadig nou, kind. Jy is soos ’n grammofoon wat opgewen is. Ek het jou mos al vertel. Jy was siek, grieperig, en toe het jy ’n rukkie by my gekuier en toe … het die ongeluk plaasgevind.”
“Ek sien.”
Daar is iets in die reguit blou blik wat tant Kitty ongemaklik maak, maar sy doen haar bes om ongeërg voor te kom. “Sodra Rudolf ’n kansie het, sal ek sorg dat hy jou goedjies gaan haal.”
“As dit van hom afhang, sal ek seker vir die res van my lewe in my nagklere moet rondloop,” brom sy onderlangs en kyk ontevrede voor haar uit. Weer is dit of iets haar hinder. Sou sy as sy net ’n kort rukkie by tant Kitty gaan kuier het, werklik tot die laaste draad wat sy besit, saamgekarwei het? Hier is nie een enkele rokkie of ’n stukkie onderklere van haar in die woonstel nie.
Sy wip soos sy skrik toe hy skielik in die deur verskyn. Sy wil instinktief terugduik in die bed en die beddegoed tot by haar ken optrek. Maar sy bly hierdie keer staan. Dis nou verspottigheid, betig sy haarself; waarvoor sal sy vir hom skaam wees? Hy is haar man. Hy moes haar al honderde kere in haar nagklere gesien het. Nietemin voel sy weer ’n blos oor haar wange spoel.
Hy vra skerp: “Wat gaan hier aan? Hoekom is jy uit die bed?”
“Omdat ek klere soek. Ek gaan nou opstaan, Rudolf. Ek is nie meer siek nie.”
“Kindjie …”
“En as jy my nog ’n keer kindjie noem, sal ek aan die gil gaan totdat die dak lig. Ek is nie jou kindjie nie; ek is jou vrou. Ek gaan ook nie weer bed toe nie, want ek is nie meer siek nie. Ek wil klere hê om aan te trek, en as hier nie is nie, gaan koop jy vir my ’n rok – dadelik.”
Die twee mense staan haar so verbysterd en aankyk dat haar ergernis net so vinnig verdwyn as wat dit opgevlam het. Sy laat haar blik sak, word nou eers bewus daarvan dat die dingetjie wat sy aanhet, beslis min aan die verbeelding oorlaat. Sy vou haar arms ongemaklik en voel meteens die trane agter haar ooglede brand. Hulle was so goed vir haar, so dierbaar …
Sy sluk. “Ek is … jammer, maar ek …” Die blou oë lig weer en pleit. “Asseblief, Rudolf, kan ek nie maar ’n slaggie opstaan nie? Ek is al so moeg van die bed en … ek het niks om my gedagtes mee besig te hou nie. Ek kan nie eens terugdink aan iets nie.”
Sy sien die speling van ’n vreemde emosie oor sy gesig gaan, toe is hy meteens by haar, tel haar in sy arms op en dra haar terug bed toe. Vanaf die deur kyk Kitty bekommerd na hulle.
Rudolf lê haar weer neer, maar die skraal arms gaan meteens om sy nek, hou hom teen haar vas en trek hom saam met haar neer.
“Rudolf …” Sy kop buig en hy kyk vraend in die blou oë af. “Het jy … het jy my lief?”
In die deur hou tant Kitty haar asem op. Sy sien hoe die spiere in sy kake begin speel en hoor sy stem duidelik skor antwoord: “Is dit nodig dat jy my so iets vra, Madie?”
Nog ’n oomblik priem die blou oë met ’n vreemde, deurdringende intensiteit in syne. Toe sak die ooglede en gly haar arms los. “Nee, seker nie. Ons … is mos getroud.” Sy begin die beddegoed oor haar trek en hy staan op en kyk onbeholpe op haar af, toe hulpsoekend na die deur waar tant Kitty vinnig in die rigting van die kombuis padgee.
“Tant Kitty kan môre vir jou iets gaan koop om aan te trek, maar net op een voorwaarde, en dis dat jy sal belowe dat jy nie by hierdie woonstel sal uitgaan nie. Dis ’n bevel, Madie.”
Sy kyk onmiddellik weer fronsend op. “Maar hoekom?”
“Omdat … omdat jy ’n verkoue kan opdoen …”
“Moenie verspot wees nie, Rudolf. Die dae is lieflik.”
“Madie!” Sy swyg toe sy die streng stem hoor. Hy het nog nooit so ernstig geklink nie. “As ek jou een enkele keer buite hierdie woonstel vang, sit ek jou onmiddellik terug in die bed en sny self die laaste stukkie klere van jou met ’n skêr stukkend. Verstaan ons mekaar?”
“Nee!” Die blou oë is meteens koud, kil soos hy hulle nog nie tevore gesien het nie. “Nee, ons verstaan mekaar glad nie. Iets skort tussen ons twee, nè, Rudolf?”
“Wat bedoel jy?” vra hy fronsend.
Sy antwoord reguit: “Iets skort met ons huwelik, nie waar nie? Daar is ’n groot skroef los tussen ons twee, nie waar nie?”
Hy kyk haar verslae aan. “Wat … wat bedoel jy? Waarvan praat jy?”
“Ek praat van ons twee – van my en van jou. Ek is al meer as ’n week terug uit die hospitaal en …”
“En?”
“En jy het my nog nie een keer gesoen of in jou arms geneem nie. Ek praat nie van daardie pikgoedjies wat jy op my voorkop neerplak wanneer jy na jou spreekkamer gaan nie. Ek praat van ’n ordentlike soen wat ’n man sy vrou soms gee as hy regtig vir haar omgee. Maar jy … Ek kon eerder jou dogter gewees het as jou vrou.”
Sy frons is hewig en tot haar verbasing sien sy nou ’n rooi blos oor die rand van sy boordjie stoot.
“Moenie belaglik wees nie. Jy was siek en …”
“Presies. Ek wás siek. Ek ís nie meer siek nie. En al het ek my geheue verloor, skort daar verder niks met my nie. Iets is verkeerd. Het ek van jou weggeloop toe ek kastig by tant Kitty gekuier het?”
“Madie! Watter twak praat jy! Natuurlik nie.”
“Dan moes daar iets anders gebeur het. Het ons die een of ander tyd baklei?”
“Nee!”
“Ons was dus nog altyd ’n baie gelukkig getroude paartjie?”
Die woord wurg uit. “Ja.”
Sy lê terug teen die kussings en kyk na hom op. “In daardie geval, Rudolf van der Merwe, kan jy gerus ophou om so ’n uiters bedagsame eggenoot te wees. Bedagsaamheid is seker bewonderenswaardig, maar as dit oordryf word, raak jy ’n vervelige eggenoot. Staak dit, asseblief. Ek is siek en sat daarvan.” Sy kyk stip terug in sy verslae oë. “Ek hoor tant Kitty werk daar met koppies. Ek wil ook tee hê – stérk tee, asseblief. Ek drink nie langer melk nie. Ek is nie twee jaar oud nie.”
Met ’n gesig soos graniet draai Rudolf sonder ’n woord om en stap uit. Madie draai haar om op haar kussing terwyl haar skouers begin ruk.
In die kombuis kyk tant Kitty met groot oë op toe hy kortaf laat hoor: “Sy wil ’n koppie stérk tee hê. Sy drink nie meer melk nie. Sy is nie twee jaar oud nie.”
Tant Kitty se lippe plooi onwillekeurig. Toe gee sy die stryd gewonne en lag. “Jy kan haar nie eintlik kwalik neem nie, Rudolf. Kom, wees nou redelik. Jy behandel haar regtig asof sy presies twee jaar oud is.”
Sy oë blits. Sy tante kan nog lag! Besef sy dan nie in watter netelige posisie hy hom bevind nie! “Hoe kan ek haar anders behandel? Wil tante hê …?”
“Nee! Natuurlik nie, seun. Ek weet, maar …” Sy sit Rudolf se tee voor hom neer en kyk hom bekommerd aan. “Dis nie meer snaaks nie. Madie is nie onnosel nie. Sy het my soms al hier in ’n hoek gehad dat ek nie weet watter kant toe om te lieg nie. Soos vanoggend. Sy wou by my weet waar is haar ouers dan en of sy nie familie het nie.”
Rudolf se oë is ook bekommerd. “En toe? Wat sê tante toe?”
“Dat haar ouers albei dood is en dat sy nie ander familie het nie. Wat kon ek anders sê? Maar sy was nie daarmee tevrede nie. Is hier dan nie foto’s van haar ouers nie? Ek het eers nie geweet watter kant toe nie, en het naderhand maar gesê dat julle ’n klomp goed by my in die buitekamer gebêre het. Haar albums is seker ook daar weggepak. Maar sy wil hulle hê, soos sy haar klere wil hê wat daar by my gebly het.”
“Hm.” Hy byt peinsend aan sy onderlip. Een van die dae betrap sy hulle nog onkant, en wat