Sylvia beweeg haar hande in haar skoot, en sy oog vang die flits van die groot diamant aan haar vinger. Hulle het dit gister gaan uitsoek by ’n juwelier in Old Bond-straat. ’n Klein tevredenheid kom lê soos ’n kolletjie warmte binne sy hart. Dis sý ring! Sý is syne. Amper syne . . . Dan word sy gesig hard. Dat die skurk van ’n Radcliffe destyds aan haar kon sê hy het geen geld vir ’n ring nie terwyl hy geld op Lord McKinnan se dogter mors! Dai en Radcliffe sien mekaar soms, want hy doen ook patologiese ontledings vir die Mounthallow-kliniek. Hy moet hom juis die een of ander tyd bel in verband met bevindings. Wel, hy het nou sélf ’n paar mededelings om aan hom te maak! Hy verstom hom darem nou nog dat Sylvia so wrintiewaar in Gretna Green wou gaan trou! Dit dui mos op ’n sterk romantiese streep! En nou? Onderdruk sy dit of het sy dit ontgroei? Ja, seker wat, stel hy homself gerus met valse tevredenheid. Maar dat die man haar so in die steek kon laat op die vooraand van hul huwelik – dit laat die wrewel weer in Dai klim! Hy wens uit sy hart hy kan die man ’n slag ’n ding of twee wys!
Op hierdie grimmige noot hou Dai stil voor die klein kerkie naby Hugo en Sanet se woonstel in Hampstead Heath. Hy help Sylvia uit en voel hoe die sagte materiaal van haar rok tussen sy vingers deurglip. Op die sypaadjie bly sy staan en sprei die mantilla, wat sy oor haar hare gaan dra, oop. Hy neem dit by haar. Dis ragfyn in sy groot hande en hy vrees dat dit sommer sal skeur.
“Laat mý . . .” sê hy nietemin, en hang die wasige stukkie kant oor haar swart hare. Hy buk vinnig die motor in en haal die ruikers van die agterste sitplek af. Sy slaan groot, vraende oë op na hom toe hy die ruiker orgideë in haar hande plaas.
“Ons tróú darem . . .!” verdedig hy, en sy maak hom heeltemal stom toe sy ’n vinnige, veerligte soentjie skuins op sy lippe druk. Hy hou sy eie angelier woordeloos na haar uit en sy speld dit aan sy lapel terwyl hy weer haar ruiker hou, sy oë ver op die groenigheid van Hampstead Heath se groot park.
Toe stap hulle aan na waar die klein Gotiese deurtjie van die kerkie reeds oopstaan.
“Ek het Hugo en Sanet toe gevra om as getuies op te tree,” sê hy gerusstellend en trek haar arm deur syne. “Verder is daar niemand.” Net voor hulle ingaan, fluister hy: “Sanet het vir ons die blomme gerangskik. Ek het gevra vir lelies . . .”
“Baie dankie . . . jy’s so bedagsaam,” sê sy asemrig en byna onhoorbaar.
“Nee wat!” lag hy saggies. “Ek doen altyd moeite as ek trou!”
Iemand binne moes hulle gewaar het, want die orrel word oopgetrek en Mendelssohn se troumars word dawerend, met groot entoesiasme gespeel. Dai sien Sanet se goue kop langs Hugo se donker hare in die bank tweede van voor af, en dit stel hom skielik oneindig gerus.
’n Uur daarna sit dokters Deetlefs en Malan met hul gades in ’n klein Italiaanse restaurantjie, en geniet ’n vrolike huweliksmaal. Daar heers dieselfde tintelende geselligheid as by enige bruilof. Dit laat die ronde Italiaanse eienaar se donker gesig genoeglik plooi, en hy bedien hulle met genot. Hugo skuif sy stoel agteruit en lig sy glasie sjampanje. Hy maak ’n toesprakie, wat Dai laat skud van die lag en Sylvia laat bloos tot agter haar ore, en sy swaai die swart hare terug in ’n verleë kopgebaartjie. Hugo eindig met ’n onhebbelike weergawe van “Lank sal hul lewe”. “En kinders by dosyne . . .” sing Sanet stout. Sy self het nog net twee maande om te wag vir haar en Hugo se eersteling.
“Gedra jou, skat!” lag Hugo toe hy gaan sit. “Moenie jou verbeel omdat jý die voorbeeld stel, dat almal moet volg nie!”
“Mag ek weet waarheen julle vir die naweek gaan?” vra Sanet toe die gelag bedaar.
Sylvia kyk ook vraend en met geringe terughoudendheid na Dai. Hy is gou om dit te merk en sit sy hand oor hare.
“Ons gaan na Stratford-on-Avon,” sê hy, en vertel aan Hugo en Sanet dat hy Sylvia eenmaal gevra het om saam met hom na ’n opvoering van The Two Gentlemen of Verona daar te gaan. “Ek het haar gevra omdat die liedjie ‘Who is Sylvia’ daarin voorkom, sien!”
“Skande!” sê Hugo kamma geskok. “Ek sou haar gevra het omdat sy pers oë het!”
“Ek glo nie hy weet dit nie!” antwoord Sylvia sedig.
“Natuurlik weet ek dit,” maak Dai saggies beswaar en kyk haar reg in die oë – voel tot sy innige ontsteltenis hoe begeerte ’n greep op hom kry, ’n lus losmaak om haar sagte mond te soen en te soen, sy vingers deur haar hare te trek en haar te vra wat, wat, o wát sy regtig dink! Toe hy hom weer kom kry, leun hy oor en druk sy lippe liggies, ondersoekend op haar mond. Sy sit doodstil, maar daar slaan ’n bewing deur in haar soen.
Sanet kyk met blink oë na hulle.
“En nóú?” vra sy tergend. “Na watter Shakespeare-drama neem jy haar hierdie keer?”
Dai hou sy kop skeef en tuit sy lippe.
“Love’s Labours Lost, dink ek!”
“Nee,” sê Sylvia lughartig, “seker The Comedy of Errors!”
Daar is so ’n gelag dat mense by tafeltjies langs en om hulle, opkyk en goedig glimlag. Selfs twee ouerige bolkeil-Londenaars lyk in ’n sekere mate geamuseerd. Want al is die meisie met die pragtige swart hare nou nie in wit gekleed nie, kan ’n mens sommer sien sy is ’n bruid. Sy en die witkopman by haar is so verlief dat ’n mens dit tog nie kan mis kyk nie . . .
’n Rukkie later gaan Dai en Sylvia sommer in die Malans se woonstel verklee, en toe vat hulle die pad. Teen die hoogmiddag ry hulle deur die popmooie klein dorpie, High Wycombe, op pad na Stratford. Sylvia dra ’n spierwit broekpak met lang, rooi krale en rooi armbande. Haar lang, los hare is met ’n wit-en-rooigespikkelde syserpie weggebind. Dai het die dak van die wit Mercedes teruggevou, en die wind sing verby hul ore en warrel die serpie om Sylvia se nek.
“Dis heerlik!” lag sy, en gooi haar arms in die lug sodat die armbande rinkel en hy ’n geurtjie van haar delikate parfuum kry.
Hy snuif waarderend.
“Ek stem saam! Lieflik! Wat is dit? Dioresse? Jolie Madame of Vent Vert?”
Sy laat sak dadelik haar arms, en al is sy oë op die pad, kan hy dadelik voel hoe sy waaksaam raak.
“Nee . . .” antwoord sy en vroetel aan die krale om haar nek. “Dis ’n parfuum wat ek spesiaal vir my laat meng het. Daar is so ’n oulike parfuumplekkie in Chelsea. Twee ou Franse dames het dit verlede jaar oopgemaak. Dit . . . dit was baie duur. Ek moes dit seker nie gedoen het nie, maar . . . dit is mos darem my troudag!”
Dai ry onmiddellik stadiger en trek van die pad af. Toe draai hy hom skuins op sy sitplek.
“Sylvia,” sê hy geduldig, “ek weet jy het nie met my getrou oor my geld nie. Voel jou dus van nou af vry om te koop wat jou hart begeer. Ek ken jou darem goed genoeg om te hoop dat dit nie Windsor Castle of ’n Griekse eiland of dalkies ’n Loire-kasteel sal wees nie!”
“Jy het baie vertroue in my . . .” antwoord sy gedemp.
Hy vat die hand wat met die krale speel vas.
“Ek het, ja. Maar moenie dink dat jy so lig daarvan gaan afkom nie. Eendag gaan ek jou tóg vra presies waarom jy ingewillig het om met my te trou!”
Hy sien hoe haar oë dieper word en haar mond roer ontredderd.
“Ontspan,” sê hy ietwat grimmig. “Ek het mos gesê eers ééndag!”
En met daardie woorde, weet Dai met helder insig, het hy meer as een ding in hierdie huwelik op die lange baan geskuif. Hy draai reg en skakel die motor aan. Ek sal ook nooit leer nie, dink hy. Ten spyte van alles wat vooraf gesê is, het daardie oomblik hom die gaping gebied om alle weerstand af te breek en hul huwelik op normale voet te laat begin. Want, redeneer hy met groot logika, al is dit nog nie gebaseer op liefde nie, is daar by hom ’n toenemende en ’n baie driftige bewustheid van persoog-Sylvia. Om die waarheid te sê, hy gee nie ’n duiwel om of hy die korrekte suster Saunders ooit weer sien nie!
Hy