HELENE DE KOCK
Keur 1
Die soete dwaling
Seisoen van die skimmelson
Anderkant die vloedwaters
’n Vrou vir Ver-en-Naby
Human & Rousseau
1
Dokter Daïrus Deetlefs stap uit die kliniese koelte van die groot hospitaal en voel hoe die soel middag hom aanraak. Die eerste maal vandag kan hy sy konsentrasie verslap en hom oorgee aan ’n luilekker gedagteloosheid. Terwyl hy aanstap na die parkeerterrein, haal hy diep asem en voel die prik van die najaarsasters in sy neus.
By sy wit sportmotor draai hy om, kyk met genoeë na die witgekalkte hospitaal, omring met grasperke en groot blomakkers. Soos ’n kind kyk hy elke dag daarna en elke dag is dit vir hom mooi . . . Maar nou is die seisoen uitgeblom. Oral is tekens dat die passie van die hoogsomer uitgewoed is. Die blaarstruike is geelgroen, die blomkelke is oop en verwelk. En die lug dra die soet, muwwe geur van vergaande weelde. Die somer is aan die daal. Die gedagte laat Daïrus vreemd hartseer voel. Want Dai Deetlefs – lank, blond en vrolik – het dieptes wat meeste van sy vriende hom nooit krediet voor sou gee nie. Dis op oomblikke soos dié dat hy weet dat hy geensins ’n mens voltooid is nie. Iewers skuil daar ’n groot soeke, wat na bo beur sodra iets hom ontroer. En dan waai daar deur sy gedagtes fragmente uit Hooglied en uit die ou en jong digters soos die blare van ’n verlangeboom . . .
Met ’n suggie klim hy in die motor. Net toe hy wil wegtrek, hoor hy iemand na hom roep.
“Dai! Haai . . .! Dai, wag vir my!”
Hy kyk in die truspieëltjie en sien ’n ronde figuurtjie in wit gekleed uitgehardloop kom. Hy onderdruk ’n glimlag en leun oor om die deur vir haar oop te maak. Dis Rieta Butler, een van die operasiesusters wat ook in die rigting van die Rif woon. Sy plof rooi in die gesig langs hom neer.
“Jammer, jong,” hyg sy, “maar die Austin weier weer vandag, en ek is tog nie lus vir die bus nie!”
“Jy is welkom!” lag hy. Dan swaai hulle uit die ruim hospitaalterrein en is binne oomblikke in die vloei van die stadsverkeer. Hy bepaal hom daarby en hulle ry in stilte huis toe. Dis toe hulle die lang, koel lanings van hul woonbuurt bereik dat hy weer na haar kyk. Sy sit vas aan die slaap – die ronde, pienk mondjie oop in salige vergetelheid. Hy glimlag. Liewe ou Rieta! Sy is nes sy is. By haar voel hy nooit asof daar op hom jag gemaak word nie. Miskien omdat sy reeds verloof is, maar tog . . . Enige ander meisie sou, ten spyte van ’n harde dag in die operasiesaal, nog geprobeer het om Dai Deetlefs se aandag te probeer hou. Want Dai Deetlefs is ’n trofee. Dis nie dat hy self so dink nie. Dis maar net dat hy dit as een van ’n paar lewensfeite ontdek het. ’n Aantreklike man, baie blond, grys oë, breë glimlag en ’n sangstem wat enige operaster sal groen maak. Voeg daarby: ortopedis wat naam maak – en dis ’n kombinasie wat ’n prinses sal laat ogies maak.
En hier sit ou Riets haar en uitslaap langs hom! Hy weet dat dit presies is waarom hy van haar hou. Sy is spontaan, eerlik en waarlik goed. Die soveelste maal wonder hy waar haar ouers haar vandaan gekry het. Hulle is skatryk en ingestel op die genietinge van die lewe. En Rieta is een van die knapste operasiesusters wat hy nog teëgekom het. Dinge rym nie altyd nie, dink hy. Hy sélf is dan nie elke dag seker of sy herkoms danig vormend van aard was nie . . .
Dan is hulle by die imposante Spaanse woonhuis van haar ouers. Hy hou stil en skud haar liggies.
“Dame, ons is al by die terminus!”
Haar oë vlieg oop. Sy kyk verbaas na hom, gaap dan.
“Hygend, dit was nou lekker! Kom jy koffie drink?”
Dai dink aan Martine, wat ongetwyfeld op hom wag, en ’n ligte irritasie skuif in hom op. Laat sy wag!
“Ja, dit sal lekker wees ná al die moeite om jou bewusteloos hier te kry!”
“Ag, ek is maar so ’n gesellige passasier!” terg sy terug. In haar woonstel, wat aan die huis gebou is, wuif sy hom na ’n leunstoel.
“Sit!” En sy verdwyn in die klein kombuisie.
Dai gaan sit en maak sy oë toe. Dit, dink hy, is wat my die meeste hinder van Martine: haar algehele gebrek aan spontaneïteit. Die hemel weet, sy is mooi genoeg om enige man van sy sinne te beroof, maar waarom kan sy tog nie soos Rieta wees nie! Hy weet dat hy kinderagtig is, dat niemand soos iemand anders kan wees nie, maar dit is ’n wens wat van ver kom. As Martine tog ánders was . . .
Toe Rieta inkom met die koffie, maak hy een oog oop, loer verspot na haar en vra vinnig:
“Wat dink jy van Martine?”
Rieta verstil ’n oomblik, sit dan die skinkbord versigtig op die tafeltjie neer. Haar goedige gesiggie lyk gekwel en dit ontgaan Dai nie.
“Sy is van die Loren-Taylor-klas sou ek sê,” antwoord sy eindelik en skink die sterk, swart koffie in.
Dai sit wydsbeen vooroor, strengel sy hande inmekaar.
“Ek het jou nie gevra hoe sy lyk nie,” sê hy saggies.
Sy gee sy koffie aan, bly dan roer en roer in haar koppie.
“Wel, Dai, hulle sê as ’n man eers begin wonder oor ’n vrou, dan is die skrif aan die muur. Want die liefde wonder nie – dit wéét. Maar as jy nou regtig wíl weet, ek dink Martine du Plooy ken die betekenis van net één woord, en dit is EK. Ek-wil-en-ek-sal is haar leuse.” Sy kyk vinnig op, bloos ’n skakering dieper en sê: “Dai, as jy nie oppas nie, sál sy jou kry . . .!”
Dis ’n baie bedeesde Daïrus Deetlefs wat ’n halfuur later huis toe ry. Hy en Rieta het lank gesels. Oor Martine. Oor sy ma, Anne Deetlefs, wat klaar besluit het wie die vrou vir hom is. En weer oor Martine . . .
Hy draai by die groot, wit hekke in en ry stadig met die rylaan langs, wat by die swembad verbyloop. Hy lig sy hand in ’n groet. Martine lê op die randjie van die swembad. Langs haar, by ’n wit houttafeltjie, sit sy ma en Martine se ma. Hulle speel blykbaar kaart, soos gewoonlik. Dai se gesig word troebel sonder dat hy eens daarvan weet.
Hy hou onder die prieel stil en klim uit, maak sy das los, pluk sy baadjie uit en swaai dit oor sy skouer. Dan stap hy aan na waar hy weet die drie vroue met groot intensiteit op hom wag.
Ook in hierdie pragtuin tref dit hom dat die somer bykans verby is. Die grasperke hoef nie meer so dikwels gesny te word nie en sy skoene sak weg in die voos sagtheid daarvan. Die somer is ’n seisoen met ’n nalatenskap, dink hy. Byna soos iemand wat te veel gefuif het. Hy sug. Hy wens hy kon so iets aan Martine sê. Maar hy weet presies wat sal gebeur, want hy het dit een maal probeer toe dit herfs was en die hele wêreld in die glorie van ’n roesgeel vlam gestaan het. Sy het gelag. Kamma besorg gevra of dit nou weer die ou klomp siekes is wat hom so aantas. Dit is die moeilikheid met Martine – sy probeer hom altyd teen sy werk immuniseer. Dis die moeilikheid met ál my mense! dink hy seer; hulle verwag niks beters of diepers van my nie. Al wat ek asseblief tog moet wees, is knap en klinies!
Martine gewaar hom aankom en neem dadelik die houding aan van ’n winkelpop op die kweek. Dit lyk kompleet asof sy iets adverteer. Een been vorm ’n effense kurwe langs die ander; die pragtige kop met die koperrooi hare is op een elmboog gestut. En die grasgroen bikini steek mooi af teen die wit van haar vel. As sy net één maal nie so heeltemal blatant wil wees nie! Dai glimlag, en niks op die songebruinde gesig verraai enigsins wat hy dink nie.
“Hallo, julle!”
“Hallo, Dai!” groet Martine in haar lae stem en vee uitnodigend met haar hand oor die gras langs haar. Maar Anne Deetlefs kyk om en sien haar seun.
“Boetie . . . jy’s vroeg terug!” adem sy verruk, hou een fyn versorgde handjie na hom uit. Hy soen dit, want hy weet dat sy dit verwag. En nie net verwag nie – sy dink dit kom haar toe! Dis na alles sý wat aan hom die lewe geskenk het, hierdie dokterseun van haar. Daarmee saam, dink sy, het sy aan hom alles gegee wat hom gemaak het wat hy is. Wat haar aanbetref, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Dai sou dokter word en later spesialis. Soos ’n eier ’n kuiken en later ’n