Hy draai stadig om en laat sy oë oor die vertrek dwaal. Dis ’n deftige, nee, ’n uiters elegante vertrek, met warm ondertone. ’n Kamer waarin ’n mens graag wil vertoef – want dit stem ’n mens rustig, maar blus nie jou denke nie. Die pragtige ou goud-en-rooi patroon van die Aubusson-mat is interessant ook. En as ’n mens uit die vertrek is, kan jy nooit die patroon helder voor die gees roep nie, net die aangename effek bly jou by. Al die ander meubels en ornamente in die vertrek sluit in volkome harmonie daarby aan. Die sagte, moderne gemakstoele, die hoepelbeen-sofas en -stoeltjies, die twee Sheratontafeltjies en die indrukwekkende vleuelklavier lyk tuis bymekaar. En die moderne skilderye vorm ’n verrassende maar passende kontras met die geheel.
Dai steek sy hande in sy kamerjas se sakke en drentel na die studeerkamer. In die deur bly hy staan. Hier lyk dit weer asof daar ’n sterk, manlike hand aan die werk was. Die sterk, byna growwe lyne van die lessenaar en ingeboude kaste, die aardsheid van die pottebakkersornamente en sy rye en rye leerbandboeke, wat hy met die skip laat kom het . . . Daar is twee leerleunstoele en ’n divan met ’n bokhaardeken oor. Die vertrek ruik selfs effens na leer, soos die binnekant van ’n duur nuwe motor. Dis ’n plek wat geheel en al aan ’n man behoort. Hoeveel vroue, wonder hy ’n bietjie geamuseerd, sou dit kon weerstaan om so ’n ietsie van hul eie smaak hier te laat botvier? As sy moeder of Martine . . . Hy snuif ergerlik deur sy neus en draai sommer om.
Hy kyk op sy horlosie en besef dat hy sal moet spring om klaar te kry. Hy doen dit dan ook, spring twee-twee die trappe op, en bly huiwerig op die trapportaal staan. Die deur heel op regterhand lei na Sylvia se slaapkamer. Van vanaand af sal dit háár kamer wees. Op ingewing draai Dai die knop en stap binne. Dis ’n droomkamer in skakerings van lila en turkoois. Vir perfekte kleurbalans is daar hier en daar ’n stukkie olyfgroen – in ’n satynkussing, ’n Venesiaanse glasfiguurtjie, ’n sylappie op ’n marmertafeltjie. Sylvia het dié kamer binne die bestek van drie dae reggekry. Eers wou sy maar in haar eie woonstel bly woon totdat alles agtermekaar is. Sy het jou waarlik koeltjies voorgestel dat sy maar net sowel ’n rukkie in haar eie plek kon aanbly . . .
Dít was darem te veel vir hom. Hy het haar verstom aangekyk en gedink: Daarvoor het ek nou seker gevra! Maar hy het heel beredeneerd geantwoord:
“Kyk, Sylvia, ek en my trouery mag vir jou ietwat onkonvensioneel voorkom, maar ek is geen koue vis nie! Van Saterdag af is jy my vrou en woon jy onder my dak, begryp jy?”
Sy het met ’n klein gebaartjie ’n paar los haartjies agter haar oor ingestoot, haar kennetjie effens gelig en kalm gesê:
“Ek begryp, Dai. Daar is niks wat vir my onduidelik is nie!”
Dai kyk weer na die yslike ou koperbed wat in die middel van die kamer staan. Drie dae gelede het Sylvia dit by ’n veiling van Christie’s gekoop. Hy het laterig ingekom van die kliniek af en haar hier aangetref, waar sy besig was om ’n handgeweefde turkooiskleurige bedsprei oor te gooi. Hy het verras bly staan. Die bloubont mat met die effekleurige turkoois matjies, los rondgestrooi, en die sagte gordyne van dieselfde skakerings as die bedsprei . . . dit was pragtig! Maar hy kon om die dood nie help om ’n glimlaggie te kry oor die grootte van die bed nie. Sy het sy oog gevang en hy moes sluk aan sy geamuseerdheid, maar ’n vuurrooi blos het op haar wange uitgeslaan.
“Ek hou van spasie!” het sy verdedigend gesê. “Ek wou nog áltyd op so ’n bed slaap . . .” Sy het baie soos ’n klein dogtertjie gelyk, wat betrap is op iets ongehoords. Sy het die bedsprei teen haar aan gedruk en half gekrenk, half verdedigend na hom gestaar met groot viooltjie-oë . . .
Dai het heeltemal binnegekom, tot by die bed gestap en met sy vingers die matras gevoel, gedruk-druk op die sponssagtheid daarvan. Toe het hy sy arms oor sy bors gevou en sedig gesê:
“Ek wou ook nog altyd op só ’n bed slaap, weet jy!”
Sy het verbouereerd bly staan, die bedsprei laat glip en haar hande om die sierlike kopervoetenent van die bed geklem . . .
Hy het vooroor geleun en met sy vingers op haar ken getik.
“Leer my ken, Sylvia! Dis vir my lekker om jou te terg!”
Inteendeel, dink Dai, waar hy weer in die turkoois kamer staan, dis vir my onbeskryflik lekker om net aan haar te dink! Sy wek by my ’n gevoel van gemeensaamheid, van rus en kalmte, van . . . van kameraadskap.
Só staan Daïrus Deetlefs en pluis die saak van heeltemal die verkeerde kant af uit. Hy is soos ’n boer wat ’n mielie op sy blare beoordeel en skoon vergeet dat die vrug toegevou teenaan die stam sit. Hy verbeel hom dat hy geen dwaling van die hart ondervind nie, en hy verwar hierdie dwaling van die hart met wat Martine by hom gewek het – ’n rustelose opwinding waarvan die fut gou verdwyn. Hy vergeet dat al hierdie dinge wat Sylvia hom bring, juis is wat die hart toevou en van só ’n dwaling bewaar. Van die ware liefdesdwaling weet hy nog niks . . .
5
Sowat ’n uur later is Dai gekleed in ’n deftige ligbeige pak met ’n bypassende hemp en gestreepte sydas. Hy gaan by ’n bloemiste in Kensington aan en kry die twee ruikers wat hy bestel het. ’n Klein knoopsgatruikertjie vir homself en ’n bruidsruiker vir Sylvia – spierwit orgideë en versilwerde blaartjies.
Toe sy die deur vir hom oopmaak, bly hy asof versteend staan. Al die keurige woorde, wat hy met soveel oorleg uitgedink het om haar mee te groet op hierdie môre, verwaai soos blare voor ’n rukwind. Sy het ’n lang, turkoois chiffonrok aan, wat alles aan haar beklemtoon – haar groot, pers oë, haar ivoorwit vel, haar smal middeltjie en slanke arms. Die blink, swart hare los op haar skouers. Soos dié van ’n bruid, dink hy verward.
“Hallo, Dai,” sê sy eenvoudig, en staan opsy sodat hy kan binnekom.
Voordat hy homself kan keer, raak hy aan haar hare. Sydraadjies, blink-blink draadjies van pikswart sy. Sy staan doodstil soos ’n beeld, maar hy kan die klop van haar hart in haar kuiltjie sien.
“Jy lyk pragtig . . .” Die woorde van elke bruidegom, wat voor die wonder van ’n meisie-bruid staan.
’n Sagtheid begin in haar viooltjie-oë en sprei oor haar hele gesig. “Dankie . . .”
Hoe is dit moontlik, dink Dai, dat ek kon gedink het ’n troudag is ’n dag in die gelyke gang van ander dae? Want Sylvia lyk nie net soos ’n meisie wat op ’n Saterdag ’n belangrike afspraak in die kerk gaan nakom nie. Sy lyk soos . . . ’n bruid. Sy het al die maagdelike misterie, die geheimenis van Eva in die nog onbesmette Eden. Selfs sonder die wit trourok, wat hy haar versoek het om nié te dra nie. Los dit maar wat, het hy gesê, dis mos darem geen konvensionele huwelik nie. Tog het hy vir haar ’n bruidsruiker gebring – soenoffer omdat hy haar mooiheid ter wille van sy sielerus wil mis kyk? Dit rym mos nie. Iewers is daar tóg ’n dwaling . . . En ongevraag kom daar by hom op die woorde van die jong Nederlandse digter Jacques Perk:
Is liefde dwaling, kan men zoeter dwalen . . .?
Voortgestu deur die emosionele krag van die oomblik, maak Dai sy mond oop om dit aan Sylvia te sê en alle mistastinge finaal uit te wis, maar sy draai om en tel haar silwer handsakkie op, wat op ’n stoel in die portaal lê.
“Hoe laat moet ons daar wees?” vra sy saaklik.
“Oor ’n halfuur . . .” antwoord Dai houterig, en help haar om die woonstel toe te maak. Hulle sal eers Maandag weer hierheen kom om haar laaste paar goedjies te kry.
In die motor op pad kerk toe is albei stil. Alles is mos gesê wat ons wou