Saamgestel deur
Marianna Brandt
Illustrasies deur
Luan Serfontein
Human & Rousseau
Die studieklok
“V-vrek, ou Hotdog, ons soek vet m-moeilikheid. K-kom ons maak liewer spore,” stotter Hamburger waar hy kort op my hakke deur die donker koshuisgang sluip. Hamburger, oftewel Nico Naude, is my beste pel.
Ons is op dieselfde dag in dieselfde hospitaal gebore. Ons het in dieselfde straat grootgeword. Ons lyk ook amper soos ’n tweeling met ons ligte hare en blou oë. Een verskil is ek is so lank soos ’n flippen hemelbesem en hy is kort en rond. Ons byname het ons al op laerskool gekry.
Op die oomblik is Nico bang. So bang, hy kan sy broek natmaak. Ek ken hom goed genoeg om dít te weet. En nie verniet nie. Dis ons eerste week as graadagts in Hoërskool Bloubaai en ons is op pad na ons eie begrafnis.
Oukei, miskien dik ek nou aan, maar as dinge skeefloop, is ons so goed soos twee bloedkolle teen ’n muur.
“Sjarrap, man,” knip ek sy gekerm kort en skuifel nog ’n paar treë vorentoe. Voor die buitedeur aan die onderpunt van die gang steek ek vas. My vingers voel-voel na die knop. Uiteindelik vat ek dit raak. “Kom ons doen dit net en kry klaar,” fluister ek oor my skouer en draai die knop.
Die stokou deur kraak aardig voor dit met ’n moedelose steun oopswaai. Hard genoeg om die dooies wakker te skud. Ek skrik my besimpeld en trap wild na agter.
“Aaauuu!” Hamburger se brul bons teen die gangmure. Aan die manier waarop hy na sy linkervoet gryp en op sy regterbeen rondspring, lyk dit of my tekkie sy groottoon vergruis het, maar daar is nie nou tyd om daaroor te worrie nie.
Waaroor ons wel moet worrie, is die res van die koshuis wat nou seker helder wakker is. Of ten minste die ouens in die gang langsaan, waar die prefekte slaap. Sê nou iemand kom kyk wat aangaan?
Ek luister met ingehoue asem. Maar niks. Net die ritseling van die nagwind deur die blare van die paar bloekombome langs die koshuis. Iewers in my agterkop waarsku ’n stemmetjie dis net te maklik, maar ek hou my doof en waag dit na buite.
Gruisklippies knars onder my skoensole terwyl ek in die rigting van die bome loop. Na ’n paar treë dring dit tot my deur ek hoor niks agter my nie en ek kyk om. In die maanlig, wat spokerig deur die vlieswolke sif, sien ek Hamburger het vasgesteek. Flippit, hy moenie nou uitchicken nie.
“Kom nou, man,” raas ek. “’n Mens sukkel nie met ’n prefek nie en ’n dare is ’n dare.”
Tot my verligting begin Hamburger beweeg. Kruppel-kruppel skuifel hy agter my aan tot om die hoek van die gebou. Voor ons lyk die kolonie bloekombome skielik dig en donker en onheilspellend. Ek onderdruk die rilling wat deur my lyf glip.
“H-hoe laat is dit?” fluister Hamburger terwyl ons deur die bome vleg.
Ek haal my selfoon uit en sien my hand bewe effens. “Vyf voor twaalf. Nog net ’n paar treë verby die laaste boom en dan …”
Skielik toring dit reg bokant ons. Spierwit in die bleek maanlig. Dis natuurlik nie die eerste keer dat ons dit sien nie, maar so in die middel van die nag lyk dit nogal scary. Amper asof dit ons dophou, dink ek, maar kry dadelik lag vir dié simpel gedagte.
’n Geluid laat my vassteek. Dankie tog, gelukkig net die sagte gehoe-hoe van ’n Kaapse ooruil iewers in die bome! Maar dis te veel vir Nico. Hy maak ’n verpiepte tjankgeluid en vlieg om. Te laat! Asof hulle daarvoor gewag het, verskyn drie skaduwees van agter die naaste boomstamme. Ons is uitgevang.
Tyd om ’n plan te beraam is daar nie. Die middelste figuur spring voor Nico in en hou sy hand in die lug. “En waarheen so haastig?” wil hy in ’n onheilspellende stem weet.
My hart sink in my skoene. Daai stem ken ek. En dis die laaste een wat ek nou wil hoor. Sommer die eerste dag op hoërskool het ek agtergekom hoofseun Vince Bruintjies laat nie met hom speel nie.
Natuurlik kry die stomme Hamburger nie ’n woord uit nie. Staan net daar soos ’n zombie terwyl sy tande opmekaar klapper. Teen my sin voel ek skuldig. As ek hom nie by die ding ingesleep het nie, was hy tien teen een nou veilig aan die slaap in sy bed.
“Ga!” ontsnap ’n kreet die tweede donker figuur. ’n Ligstraal skiet uit sy hand en ek moet agter my arm koes om te keer dat dit my verblind. “Wat het ek julle gesê?” skreeu hy terwyl die lig van sy flits oor ons speel. “Paddapoef Nico en paddapoef Stef. Dom genoeg om Bloubaai Hoër se taboe uit te daag. Is dit nou pateties of is dit pateties?”
Ek moes geweet het! Prefek Jac Botha. Die luis wat my gedare het om by die kloktoring in te gaan en die koshuis se studieklok om middernag te kom lui. ’n Doodsonde wat geen Bloubaaier ooit durf waag nie. Beslis nie iemand so laag soos ’n graadagt-paddapoef nie. Hoe kon ek so stupid wees! Ek moes geweet het dis ’n lokval.
Die derde figuur tree ook vorentoe. Shaun Roux, nog een van die prefekte in beheer van die graadagts se “verwelkoming”. Sy swart oë boor deur ons. “Julle paddapoewe weet dis streng verbode om die studieklok te lui?”
Ek knik vinnig.
Sy wenkbrou lig gevaarlik.
“J-ja, ons w-weet,” stotter ek en gluur onderlangs na Jac wat met ’n vieslike grynslag op sy bakkies na my kyk.
“Ja, WIE?” Duidelik is Shaun besig om sy humeur te verloor.
“Ja, Groot Koning, ons weet, Groot Koning,” rasper dit uit my keel.
Dit lyk nie of hy tevrede is nie, maar tot my verbasing kom hoofseun Vince tot ons redding. “Miskien moet ons die paddapoewe nog ’n kans gee,” sê hy terwyl hy met afgemete treë tot reg voor ons stap.
Sy stem is laag. “Miskien moet hulle net ’n bietjie huiswerk kry.” Skielik druk hy sy vinger onder my neus. “Miskien moet hulle uitvind hoekom niemand, maar NIEMAND, dit ooit waag om Bloubaai Hoër se studieklok te lui nie,” spoeg hy die woorde in my gesig.
Ek steier agteruit. Al is daar nie ’n vinger onder sy neus nie, steier Hamburger ook.
“Dan kan hulle dit sommer vir die ander patetiese paddapoewe ook vertel,” stel Jac voor. “Saterdagaand in die studiesaal. Die paddapoefkonsert word vanjaar mos daar gehou.”
“Blink plan,” beaam Shaun.
Verbaas kyk ek en Hamburger na mekaar. Het ons regtig só lig daarvan afgekom?
“Hoe moeilik kan dit nou wees? Toe, toe, toe, sê my?” aap Hamburger my sarkasties na terwyl ons die volgende oggend met volgelaaide skinkborde na ons etenstafel stap.
Ek antwoord nie. Wanneer Hamburger homself so opwerk, is dit beter om nie met hom te sukkel nie. Soos ek verwag het, vat hy die geleentheid. “Presies wat jy ook gesê het toe jy my omgepraat het om daai simpel dare te doen,” stoom hy en plak sy skinkbord op die tafel neer.
Die meisie aan die oorkant kyk op en wip haar dosyn vlegseltjies vererg oor haar skouer. Toe ek vir haar skewebek trek, gryp sy haar skinkbord en gaan sit by die tafel langsaan.
“Jy oorreageer, my ou,” probeer ek Hamburger kalmeer toe sy buite hoorafstand is.
“Gmf!” snork hy, nou behoorlik opgewerk. “Teen Saterdagaand moet ons weet waarom dit so ’n danige sonde is om die flippen studieklok te lui anders braai die prefekte ons. En wat het ons al uitgevind? Zilz! Nada!”
Ingedagte skud ek die soutpot oor my graanvlokkies. Wat help dit om te stry? Ons weet nog niks. En dis nie omdat ons nie rondgevra het nie. Inteendeel. Dis omdat nie een van die ander koshuiskinders wil praat nie. Kyk net anderpad asof hulle nie hoor nie. Hoekom? Weet hulle rêrig nie? Of is hulle verbied