Sy knik, beduie na my boek. “Wat maak jy?”
“Ek leer. Ek skryf toets môre.”
Sy soek deur die mense op die vloer. “Oefen jou pa hier?”
“Nee.”
Sy kyk my vraend aan.
“Hy reis baie,” erken ek onwillig. “Vir sy werk. Ek kom eet middagete hier en leer tot my pa my kom optel of oom Tiny my gaan aflaai.”
Ek is nie lus om verder oor myself te praat nie. Netnou wil die vrou weet waar my ma is, of watse werk my pa doen. Ek maak my boek toe en staan op.
Sy keer my met ’n hand op my arm. “My naam is Daisy. Daisy Czerniak. Sommer net Daisy.”
“Adriana van der Hoon. Hallo, Daisy Cze- … Czerniak.” Ek sê haar van soos sy dit gesê het, met die ‘tje’ aan die begin. Dan kan ek die nuuskierigheid eenvoudig nie keer nie. “Waarvandaan kom jy?”
“Pole. Dit lê net so links van …”
“Ek weet waar dit is. Langs die Sowjetunie.”
Sy leun vorentoe asof sy my ’n geheim wil vertel. “Voor ons hiernatoe gevlug het, was ek die beste mesgooier in die hele Oos-blok. The Great Czerniak. Ek het in die sirkus gewerk. Ek kon op vyftien meter ’n lemoen se skil kerf. Net so, sjoep! My pa het my geleer. ”
Ek weeg haar op. Kan dit waar wees? Ek het haar al ’n paar keer hier gesien, maar meestal in oom Tiny se kantoor. En nog nooit met messe nie. Ek dink sy doen deesdae die gym se boeke. En watter boekhouer het al in ’n sirkus gewerk?
Sy lag vir my gesig. “Kom ons gaan eet. Jy vrek oor ham-en-kaastoebroodjies, nie waar nie?”
Hoe weet sy dit? Het sy my dopgehou?
Ek kyk van haar na oom Tiny. Sien hoe hy Jonas se bokshandskoene uittrek, omdraai en vir haar glimlag. Glimlag soos ek hoop Peet van Vuuren ook eendag vir my sal glimlag.
Ek bêre my boek in my tas. “Kan ek koffie ook kry?”
Oom Tiny het ’n nuwe masjien uit Italië laat kom wat die bone fynmaal en swart koffie uitspoeg met ’n dun lagie skuim bo-op. Dit ruik soos ek hoop die hemel eendag gaan ruik.
2
Johannesburg, Oktober 1987
“Jou gewrig moet vinniger wees.” Daisy staan hande in die sye. “Jy moet soos water wees. Dit moet één gladde beweging wees, grasieus en vloeibaar.”
Sy kom staan langs my, tel ’n mes op. “Onthou, elke gooi bou op die vorige een. Nog een, nog een. Totdat jou hand jou oog en jou brein vertrou en jy nie meer hoef te dink nie.”
Die mes vlieg uit haar hand en slaan in die broodbord teen die muur vas. Sy glimlag tevrede. “Dis genoeg. Kom ons gaan eet.”
“Ek wil nog oefen.”
“Jy staan al van drieuur af hier.” Sy kyk op haar horlosie. “Wat van jou huiswerk? Tiny gaan raas. Jou pa dink dat jy hier kom leer, nie rondneuk nie.”
Ons oefen middae in die stoorkamer sonder dat oom Tiny weet. My boeke lê oop op die tafel asof ek kamstig besig is met huiswerk.
Ek gaan haal die messe uit die broodbord. “Hoe ken hulle mekaar? My pa en oom Tiny?”
“Weet jy nie?”
“Nee.” Ek het nog nooit gedink om te vra nie.
“Ek ook nie eintlik nie. Tiny het eenkeer gesê jou pa het lank gelede vir hom geld geleen.”
Ek draai die mes om en om in my hand. “Ek kan nie dink hy het die geld om dit te doen nie.”
“Dan was dit seker toe hy nog klas gegee het by die universiteit. Net ná hy uit Nederland hier aangekom het om met jou ma te trou. Dink ek.”
Ek gooi die mes. Net links van die swart kol in die middel van die broodbord.
Daisy sit haar hand op my skouer. “Jy gooi asof jy iemand wil doodgooi. Los dit nou. Gaan doen jou huiswerk.”
“Ek sal dit vanaand doen.”
“Wat krap so aan jou vandag? Is jou ma okay?”
Nee, maar ek sê dit nie. Die Hollander, my pa, is al weer oorsee en my ma het weer in haar kop in gefoeter. Dalk sal ek eendag verstaan, soos almal sê. Nou is dit moeilik.
Ek trek my arm terug. Thuk. Weer net links van die swart kol.
Ek hou van die geluid van die mes en die hout. Die skoon, soliede, warm klank. Die eenvoud van dit alles. Mens gooi mis, of raak. Niks tussenin nie.
“Adriana. Kom nou. Jy moet gaan leer.”
Daisy gaan nie ophou neul tot ek my huiswerk doen of oor iets praat waarin sy belangstel nie. “Het julle al nuus oor Jonas?”
Sy bly stil.
Ek draai na haar.
“Jonas is gearresteer,” sê sy uiteindelik.
My hand, gereed om weer te gooi, sak. “Wat het hy gedoen?”
“Iets oor die Staat. Ek verstaan nie mooi nie. Tiny probeer uitvind, maar niemand wil hom eers sê waar Jonas aangehou word nie.”
“Iemand moet seker weet.”
“Mense in hierdie land word gereeld gearresteer sonder dat iemand ooit weet hoekom.”
“Ek’s jammer.” Ek weet nie wat anders om te sê nie. En ek weet om stil te bly oor wat ek dink, nes die Hollander altyd sê ek moet.
Daisy kyk lank na haar skoene. “Jy weet nie dalk iets nie? Soos waarmee Jonas besig was nie? Hy wou niks vir my sê nie.”
“Wat bedoel jy, weet ek iets? Hoe sal ek iets weet?”
“Jou pa. Hierdie plek. Tiny.” Sy trek haar skouers op. “Julle leef nie soos die meeste wit Suid-Afrikaners nie.”
Ek gooi die mes, mis die bord amper heeltemal. “Jy ook nie.”
Sy bly stil, lag dan. Draai dat ek nie haar gesig kan sien nie.
Thuk.
Amper daar. Dis beter.
Thuk.
Donnerse gemors van ’n land.
Thuk.
Van ’n huis.
Thuk.
Van ’n lewe.
RANNA
1
Pretoria, vandag
“Ek sal ’n afspraak maak,” stry ek. Rek my treë om by Liesbet Fey by te hou. “Volgende week is goed.”
Die vrou het dié leuen seker al baie gehoor. Sy hou net aan loop, haar voetstappe lig op die dun blou mat.
Ek bly stil, volg haar gedwee, verby die rye houtbanke en om die kansel na die deur wat na die konsistorie lei. Die plek ruik soos alle kerke: kerswas, politoer, hout. Een keer per week word alles netjies skoongemaak en blink gevryf.
Sy hou die deur oop en wag dat ek inloop.
“Dis sommer laf,” skerm ek weer. “En jy het nie tyd nie.”
Sy waai my besware weg. “Ek het baie tyd. En soms is mens net dapper omdat die tyd reg is. Of as die geleentheid vir jou geskep word.”
’n Pienk pamflet teen die muur sê die NG Kerk Moot-Suid hou oor twee weke basaar. Hulle kort eiers en suiker vir die pannekoektafel.