Ek hoop Ranna het reggekom. Ek hoop Liesbet is veilig.
Dominee Elizabeth Fey … Wie sou dit kon dink? Die lewe betaal jou altyd terug vir jou foute. Met rente én ironie.
Naby die Marlboro-afrit flits die polisiebakkie skielik sy ligte. Die sirene skel kort en hard. Wie wil hulle aftrek? Ek kyk om my rond, nes al die ander bestuurders.
Weer die ligte wat flits. Die polisieman in die passasiersitplek leun by die venster uit en beduie ek moet aftrek.
Ek onderdruk my irritasie en trek links af in die noodbaan. Hulle beter gou maak, voor ek my vlug verpas.
Ek klim uit die Mercedes en loop hulle tegemoet. Al twee klim uit, ’n jongerige man en ’n ouer een, al grys. Hulle oë is onsigbaar agter sonbrillense.
“Middag,” groet ek. “Wat’s fout?” Ek het beslis nie te vinnig gery nie.
“Mevrou, klim asseblief in jou motor,” sê die ouer man. Hy beduie na die voertuig. “Voor almal stadiger ry om te kyk wat aangaan.”
Die jonger een val terug, gaan staan. Sy linkerhand rus op sy holster.
“My handsak is in die kattebak. En my lisensie.”
Die ouer man gaan staan ook. “Kry dit, maar klim dan terug in jou motor. Ons is besig om die verkeer op te hou. Jou remligte werk nie.”
Ah.
Ek maak die kattebak oop. Dwing my hande stil. Vervloek die Blahniks aan my voete. Dis die prys wat mens vir ydelheid betaal.
Langs my handsak lê my gooimesse onder ’n handdoek. Ek wou hulle nog in my tas pak vir die vlug.
Ek skerm met my lyf, gooi hulle in my handsak en druk my foon tussen my borste in. Haal dan die handsak uit en haak dit oor my skouer.
Die ouer man staan hand op sy pistool, waaksaam.
Ek loop na hom toe, al grawend in my handsak. “My lisensie is hier iewers, belowe. My hele lewe is hier binne. Ek is seker jou vrou sê dieselfde.”
Ek glimlag vir hom en hy ontspan effens. Skuif sy hand van die wapen na sy gordel.
Hitte slaan op van die teerpad. Die jonger man se gesig blink van sweet. Hy trek die kraag van sy donkerblou hemp weg van sy nek en ontbloot ’n tatoe. Dit lyk kru en amateuragtig teen sy bleek vel, asof ’n kind dit geteken het.
My hart klop vinniger. Adrenalien prik soos spelde in my vingerpunte.
Ek delf verder in my handsak terwyl my kop oortyd werk. Ek weet my motor se remligte werk, want dit was verlede week in vir ’n diens. Hulle moes eerder gesê het ek het te vinnig gery, of dat my nommerplate gekloon is.
Nader aan die ouer man. Nog nader.
Ek haal diep asem. Meet die verkeer op die snelweg. Dit kruip voort, ruk tot stilstand, begin weer kruip.
“My beursie is hier iewers, ek sweer.” Ek hou aan pad se kant toe beweeg terwyl ek kamstig soek. Die ouer man tree terug, weg van my, nader aan die verkeer.
Ek wag.
Nog ’n paar sekondes.
“Hier’s dit!”
Ek hou my beursie op, loop haastig vorentoe en teen hom vas. Hy tree instinktief terug, oor die geel streep. ’n Swaar gelaaide vragmotor toet skerp, swaai uit en kom tot stilstand.
Die polisieman skrik, struikel na regs, hande in die lug, op soek na balans. Die verkeer in die linkerbaan ruk tot stilstand.
Ek laat val my beursie, skiet onder die vragmotor se sleepwa in, rol tussen die wiele deur. Spring regop aan die ander kant. Skop my skoene uit en hardloop.
’n Polo swenk na regs om my te vermy en tref ’n Golf. Ek hardloop verby die Polo, swenk om ’n Isuzu-bakkie. Spring tot op die meter hoë middelmannetjie, hou aan die lamppaal vas.
“Is jy fokken mal!”
Ek kyk om. Die Polo se eienaar, middeljarig en rooi in die gesig, gooi sy deur oop. Die jonger polisieman hardloop in die deur vas. Sy pistool val op die teer en skuif tot onder die Golf.
Ek maak my lyf klein, meet die stroom motors aan die ander kant van die snelweg. Die verkeer het al begin stol soos almal na ons staar, maar dit beweeg steeds te vinnig.
“Adriana!” roep die ouer polisieman. Hy loop stadig, versigtig, links om die vragmotor, sy wapen nog steeds in die holster.
Die jonger man het weer sy pistool in die hand. Hy rig dit op my. Hou regs met een, twee waaksame treë.
“Wat wil julle hê?” My hand kruip na my handsak, sluit om ’n mes se hef.
Die motors aan die ander kant van die snelweg ry al stadiger soos almal wonder wat aangaan.
“Yasen wil met jou gesels, dis al!” roep die ouer man. Hy hou links, beweeg op in die pad, asof hulle my tussen hulle wil knyptang.
Ek antwoord nie. Hou hom in die oog. Luister vir die verkeer. Luister …
Ek spring van die middelmannetjie tot op die teer. Draai. Gooi. Die mes tref die jong man in die skouer. Hy skiet blindelings.
Ek koes, hardloop tussen ’n Suzuki en ’n BMW in die vinnige baan deur. Gaan staan op die wit lyn tussen die twee middelbane, soek ’n gaping in die verkeer. Om my skree remme. ’n Ford-bakkie swaai uit, ploeg verby my teen ’n ander voertuig vas.
Ek gly oor die enjinkap van ’n ou Honda wat met rokende remme stop. Hardloop. Waar’s die ouer man?
Daar. Verder op, links van my, nog aan die ander kant van die snelweg, pistool in die hand.
Verskrikte mense duik plat in hulle motors.
Ek hardloop oor die laaste baan, skiet op met die noodbaan, die teer warm en grof onder my kaal voete. Onderdeur die Marlboro-brug. Die ouer man hou by, lig sy wapen en skiet.
Langs my spat ’n stuk beton van die brug af. Nog ’n skoot. ’n Splinter sny my oor. Ek voel die bloed warm teen my vel.
Die ouer man draf baan vir baan oor die snelweg. Ek hardloop op met die graswal, verby verbaasde voetgangers op pad na Alexandra. Kyk om.
Die ouer man is seker vyftien meter agter my. Hy trek nog ’n skoot af.
’n Vrou val voor my op die sypaadjie. Mense gil en spat uitmekaar. Nee, hier moet ek padgee. Die verkeerde mense kry seer.
Ek swenk regs, mik na die stuk vleiland en die onbeboude stuk grond langs die township.
Nog ’n skoot. Dit kom uit die verkeerde rigting.
Ek kyk vinnig regs. Dis die jonger polisieman.
Vinniger. Ek moet vinniger wees.
Ek klem die ander mes in my linkerhand vas. Soek na die foon met my regterhand. “Bel Ranna!” roep ek in die iPhone.
Niks gebeur nie.
“Bel Ranna!”
Die foon lui. Ek hardloop tussen die bosse en riete in.
ADRIANA
1
Johannesburg, September 1986
“Eina!” Die vrou langs my krimp ineen toe Jonas “The Hammer” Gumede ’n derde hou teen die ken kry. Sy kop ruk eenkant toe, sy oë dof. Sy skud haar kop. “Brian Mitchell he ain’t.”
“Brian Mitchell gaan wen,” sê ek, al ken ek haar nie. “Hy gaan Alfredo Layne uitslaan.”
Haar wenkbroue lig. “Alfredo Layne? Wat weet jy van boks?”
Sy bekyk my op en af. Ek weet wat sy sien. Uitgewaste trui, skoolrok waarvan ek die soom lankal moes laat sak het, nerfaf skoene, haasoor standerdsewe-geskiedenisboek op die skoot.
Ek kyk terug. Dis nie asof sy