Tess trek haar oë op skrefies. Sy vat Bianca se sak en loer skepties daarin.
“Nie die pienk boksie nie … dis myne, die nagrok is vir jou.”
Tess tas na die lap en haal dit uit. “Bianca, jy moes nie.” In haar hande is die duur swart sjiffonnagrok wat sy teruggehang het. Sy vat haar vriendin om die nek en druk haar styf vas. “Dis te duur.”
“Nee, dit is nie. Jy gaan deur diep water en ek wil jou bederf. Vat dit, toe. Belowe my net een ding?”
“Wat moet ek belowe?”
“Dat jy dit eendag vir ’n man sal dra … en my agterna alles sal vertel!” Bianca lag.
“Ek belowe,” sê Tess huiwerig. Hoekom het sy so pas weer Jan-Daniel se mooi bruin oë in haar gedagtes gesien?
4
Toe Jan-Daniel die Dinsdag voor sy eksvrou se nuwe spoggerige huis stilhou, kry hy ’n pyn in sy borskas. Al het net twee dae verbygegaan sedert hy die kinders laas gesien het, verlang hy hom al klaar dood.
In die oprit staan ’n nuwe Land Rover, nie haar kar nie. Nes hy gehoop het, is Sulien seker dié tyd van die dag by die gimnasium. Hy moet eenvoudig die man ontmoet wat alles van hom gesteel het, maar sy hand sal hy nie skud nie. Jan-Daniel klim uit sy motor en stap vasberade na die voordeur.
Hy het nooit gedink sy lewe sal op veertig so uitdraai nie. Deesdae bly hy alleen en sien hy sy kinders elke tweede naweek, en volgens bepaling ook twee vakansies per jaar.
“Pappa!” hoor hy Emma se vrolike groet toe sy die deur oopmaak. Klaarblyklik het sy vir hom voor die venster sit en wag. Hy gaan op sy hurke, en sy gryp hom om die nek en omhels hom. “Het Pappa my iPad onthou?” vra sy gretig. “Sorry. Ek was lekker dom.”
“Dit is hoekom ek hier is.” Jan-Daniel druk sy dogter stywer teen hom vas. Deels omdat hy haar liefdevolle omhelsing steeds elke dag mis en deels omdat hy skuldig voel. Dit was immers hy wat die iPad stilletjies uit haar oornagsak gehaal het sodat hy ’n geldige verskoning kon hê om in die week hierheen te kom.
Sy soen hom op sy wang. Ten minste laat sy kinders hom nog in liefde glo.
“Kom in. Mamma is nie hier nie,” nooi Emma hom binne.
Hy gaan nie nee dankie sê nie. Uiteindelik gaan hy sien waar sý gesin nou bly.
Binnekant is die huis elegant gemeubeleer. Dan merk hy die groot bruin leerstoel waarvoor sy eks so baklei het. Hy wonder of die ander man nou elke aand sy koerant daarin sit en lees? En weet die vent dat dit eintlik sý gunstelingstoel was? Miskien sou die bliksem dan anders daaroor gevoel het.
Daar hang pragtige skilderye teen die mure en … familiefoto’s? Hulle het duidelik nie op hulle laat wag nie. Hy en Sulien is skaars ’n maand gelede geskei en dié twee is nog nie eens getroud nie. Dit voel eienaardig om sy kinders en sy vrou saam met ’n ander man op ’n foto te sien. Daar is twee meisiekinders ook op die foto’s, seker die vent se dogters.
Jan-Daniel bal sy vuiste. Woede stoot weer soos suur melk in sy keel op. Die man op die foto’s lyk omtrent dieselfde ouderdom as hy. Dalk ’n bietjie bruiner gebrand?
Miskien moes hy eerder nie gekom het nie, dink hy. Hy hoort nie hier nie. Om hulle in ’n nuwe lewe voor te stel is een ding, maar om hom hier in hulle alledaagse bestaan in te wurm breek nie net sy hart nie, hy tree ook oor ’n onuitgesproke grens.
Emma se pluk aan sy hand ruk hom terug realiteit toe. “Kom sê vir Joshua hallo. Hy is in sy kamer. Hy het al weer ’n skêr beetgekry, nou moet hy sy kas regpak,” sê Emma.
Ag, hemel, die arme kind is skaars ses.
“Nie een van die oom se katte het meer snorbaarde oor nie,” verklik Emma haar kleinboet.
Jan-Daniel lag, want hy wil amper vir die kind sê: “Welgedaan!” Joshua was nog altyd kreatief wanneer hy ’n skêr in die hande kon kry. Wanneer die kinders naweke by hom kuier, is daar nie tyd vir stout wees nie, hy hou hulle te besig.
Hy wonder wat dink die nuwe man van sy twee kosbare kinders? Is hulle vir hom ’n irritasie of gee hy darem vir hulle om ook?
Toe die kamerdeur oopgaan, helder Joshua se oë op. Hy lyk verlig om sy pa te sien. Die kind kom gryp hom om die middellyf. “Pappa!”
“Wat hoor ek van jou?” vra Jan-Daniel. Die kamer is besaai met klere en speelgoed. Vir hom lyk dit of Joshua alles net uit die kas gesmyt het.
As Sulien darem weet wat op haar wag wanneer sy by die huis kom …
Joshua lag verleë en byt sy onderlip vas. “Niks,” sê hy toe met ’n ondeunde glimlag.
“Jy moet soet wees, ou perd, moenie jou ma moeilikheid gee nie.” Jan-Daniel vryf Joshua se hare deurmekaar. Miskien moet hy hom juis aanmoedig om stout te wees. Miskien pos sy dan die kinders vir hom sak en pak terug.
“Is die oom hier?” vra Jan-Daniel sag vir die kinders.
Emma knik.
Hy trek sy asem diep in. Dit is tyd om die man te ontmoet of hy nou wil of nie.
Emma trek haar pa aan die hand, met klein Joshua agterna.
In die gang hoor Jan-Daniel gedempte stemme. Word daar baklei? Is dit dalk die verliefdes? Hy verlekker hom amper in die gedagte. Hy sal nie omgee om Golden Circle-kaartjies vir hul eerste behoorlike argument te hê nie.
Toe hy en die kinders by die toe deur kom, ruk iemand dit skielik van die ander kant af oop.
Jan-Daniel se verbasing kon nie groter wees nie. Sy hart slaan ’n vuishou teen sy borsbeen. Wat maak sý hier?
“Tess, jy moet verstaan,” die manstem klink buierig en ongeduldig, “daar is net nie geld vir alles wat julle wil hê nie. Jy sal moet leer om self reg te kom.”
“Dit is vir jou kind! Jóú kind!” skree-praat sy terwyl sy inderhaas by die deur uitstorm.
Reg in Jan-Daniel vas.
Tess plant haar hande teen sy borskas.
Kan dit wees? Is dié pasiënt al die tyd Tian Meyer se eksvrou? Natuurlik – Tessa Meyer. Natuurlik is sy Tian se eks.
Jan-Daniel vou sy hande om haar boarms om te keer dat sy seerkry: “Hokaai …”
En om te dink hy het oorweeg om haar uit te vra. Veral nadat hy haar Saterdag buite daardie winkel Hartstog raakgeloop het op pad apteek toe. Hel, hy het ure daarna nog gewonder wat sy daar gekoop het. Sy het onweerstaanbaar oulik gelyk met haar nuwe haarstyl, terwyl sy die pakkie agter haar bene probeer wegsteek het.
Sy kyk met onsiende, verstarde oë na hom. Mooi oë. Hy kan steeds nie uitpluis wat die vroumens hom laat voel nie.
Toe Carla ’n groot rooi kring om Tess se selnommer in die praktyk se dagboek getrek het met ’n hartjie daarby, het hy net gelag. Sy ontvangsdame het haar eie afleidings gemaak nadat hy haar van Tess vertel het. Een ding is seker: Tessa Meyer het ’n onuitwisbare indruk gelaat.
En nou staan sy hier reg voor hom met haar hande teen sy lyf. Hy wonder of sy kan voel hoe wild sy hart klop.
Sou Tess besef het wie hy is toe sy hom so ontydig daardie Saterdag gepla het? Dalk het mevrou Tessa Meyer ’n paar vrae van haar eie.
In haar oë wel daar nou trane op. Tess het daardie dag iets van haar broosheid verraai. Nou weet hy hoekom.
Vir ’n oomblik voel dit of iets in hom breek.
Hy gluur die vent aan wat kort op Tess se hakke by die deur uitkom. So dít is nou die man vir wie Sulien hom gelos het? Dit klink of hy nie eens na sy eie kinders se welsyn wil omsien nie. Bliksem.
Hier teen hom ruk Tess skielik.
Toe hy afkyk, registreer verbasing in haar oë. Maar sy sê nie ’n woord nie. Albei van hulle staan doodstil.
Hy