Dan beweeg sy blik laer af. Hy is seker ’n paar sexy borste kruip onder die T-hemp weg. As die papierhanddoek nie nou daar gelê het nie, sou hy die gleufie perfek kon gesien het. Hy moet keer of sy asemhaling gaan hom verraai. Jan-Daniel kyk gou weg voordat sy pasiënt sien waarna hy staar.
Gedra jou professioneel, Vermeulen, berispe hy homself.
Tog … hy kan dit nie definieer nie, maar daar is iets dêm aantrekliks aan die vrou wat in sy stoel lê. Dit gaan nie net oor wat ’n mens met die blote oog kan sien nie. Sy lyk na ’n gemaklike mens, as dit net nie vir daardie hartseer oë en vlymskerp tong was nie.
Toe sy hom netnou in die oë gekyk het, het sy skielik weer weggekyk. Sulien het altyd gesê hy het so ’n wilde kyk in sy oë, gewaarborg om enige vrou glo af te skrik. Die aanmerking het hom altyd laat wonder wat sy dan ooit in hom gesien het?
Jan-Daniel kyk af na Tess se hande wat om die stoel se armleunings klem. Jip, hy het reg gekyk: Daar is nie ’n ring aan haar ringvinger nie. Sy dra ook nie eintlik juwele nie, afgesien van ’n baie duur horlosie om haar pols. Daaraan het sy seker sentimentele waarde of dalk is sy net prakties en hou sy van ’n horlosie. Nie soos almal wat deesdae sommer na hul selfone loer om te sien hoe laat dit is nie. Hmm, die tyd stap hoeka aan. Laat hy hier klaarmaak.
Tess moet keer of sy wil glimlag vir dokter Dan wat sag op die maat van die musiek neurie terwyl hy aan haar tand werk. Sy neurie ook deesdae in haar ateljee wanneer sy konsentreer op ’n skildery waaraan sy werk. Elke keer wat sy daaraan dink dat sy nou uiteindelik in haar lewe kan doen wat sy nog altyd graag wou, mis sy vir Tian ’n bietjie minder. Sy sal deur die egskeiding kom, sy weet dit. Al voel sy soms so in die steek gelaat. So verwerp.
Hoekom sy juis altyd Tian se aanvaarding nodig gehad het, weet sy nie. Dit was nog altyd net daar soos ’n ou aanwendsel wat nie afgeleer kan word nie, die begeerte om hom iets goeds van haar te hoor sê. Nie dat dit dikwels gebeur het nie. Haar kos het gewoonlik smaak gekort, die beddegoed was te warm of te koud, die nuwe klere wat sy gekoop het net oukei, maar as hy haar die dag wel ’n kompliment gegee het, het dit haar laat voel soos ’n verslaafde wat sy fix gekry het. Soos ’n kind wanneer hy ’n ouer se goedkeuring kry.
Sy wou natuurlik altyd graag haar pa se goedkeuring gekry het en hy, soos Tian, was met niks tevrede nie. Alles kon altyd nog ’n tikkie beter gewees het. Nee, sy gaan nie meer toelaat dat ’n verlange na manlike goedkeuring haar manier van doen bepaal nie. Kwashaal vir kwashaal sal sy haar stukkende siel gesond skilder.
Die inspuiting doen blykbaar sy werk, want Tess voel nie meer die kloppende tand nie. Jan-Daniel werk so mooi met haar. Miskien is hy bang hy moet nog van haar trane afvee. Tess kry sommer van voor af skaam wanneer sy daaraan dink.
Laat sy tog weer ’n vinnige kyk na die dieptes van die man se donker oë waag. Net nog een keer. Om haar kwelling van netnou verkeerd te bewys. Die oomblik toe sy haar oë oopmaak, ontmoet hulle dokter Dan s’n.
Tess vroetel senuweeagtig, verstom dat haar hart wragtig weer ’n ruk gegee het. Die tipe ruk wat Tian die laaste paar jaar nooit meer geïnspireer het nie.
Dokter Dan se harde kug laat haar skrik voordat sy haar oë verleë wegskeur.
3
“Wat?” kraai Bianca van die lag toe Tess haar vriendinne van die petalje met die tandarts vertel. “Hy klink so oulik! Ek dink ek kort ’n nuwe tandarts.”
“Ek hoop jy het hom op ’n date gevra? Of ten minste gehint dat jy van hom hou.” Tanya druk nog ’n soutbeskuitjie in haar mond.
“Die man is waarskynlik getroud. Dis hoekom hy so vies was dat Tess hom gepla het. Hy en sy liefie was dalk besig om te cuddle, toe word hy uitgeroep,” giggel Anette.
Anette is heel moontlik reg daaroor. Tess kan nie dink dat so ’n aantreklike man nie ’n vrou aan sy sy sou hê nie. Haar gemoedstemming sak ’n aks laer. Op haar ouderdom is die kanse seker nou verby. Sy sal nooit weer iemand kry om die res van haar lewe mee te deel nie. Wie date nou nog wanneer jy al diep in die dertig is?
Sy kyk hoe Anette vir Bianca wyn inskink, terwyl Tanya nog ’n beskuitjie neem. Dankie tog vir vriendinne wat ’n leeftyd lank getrou bly – al van laerskooldae af. Sonder hulle weet Tess nie hoe sy deur hierdie krisis in haar lewe sou gekom het nie. Hulle kuiers een maal per week hou haar staande noudat sy en Tian uitmekaar is.
“Asseblief! Julle is nou sommer simpel. Ek hou nie van dokter Dan nie. Buitendien sal ek nooit weer ’n man in my lewe kan vertrou nie,” keer Tess gou. “Ek sê net hy het mooi oë en ’n mooi stem, dit is al. En die belangrikste van alles is hy maak nie seer nie.” Van die wegraak in die man se oë vertel Tess hulle niks nie. Die sagte grys strepies langs sy slape is ook vir haar nogal aantreklik, maar sy noem dit ook nie teenoor haar vriendinne nie. Netnou maak hulle allerhande onnodige afleidings.
Dit is tog nie asof sy aangetrokke voel tot die man nie, sy is net dankbaar dat hy haar uit haar pyn verlos het. Daarmee, moet sy erken, is hy beslis goed. Na die inspuiting het sy nie ’n greintjie seer gevoel nie. Hy het so mooi met haar gewerk asof hy dink sy gaan breek.
Dit is dierbaar, maar dit irriteer haar terselfdertyd grensloos. Hy dink seker sy is ’n swakkeling. Nes Tian altyd gedink het. Maar sy moet erken die paar sekondes wat hul oë mekaar gevind het, het … het iets gebeur. Sy weet nie wat nie, dalk was dit net haar ooraktiewe verbeelding.
“Buitendien is hy duidelik ook vasgevang in sy middeljarekrisis. Al die tekens is daar. Ek het hom seker eerder van tyd saam met sy skelmpie beroof.” Tess snork effe onvroulik.
“As ek jy was, het ek sommer net daar in die spreekkamer van al my opgekropte frustrasies ontslae geraak, jy weet?” skaterlag Bianca. “Jy kon dokter Dan verlei het. Hom toelaat om jou ’n wortelkanaal op ’n ander plek te gee!”
“Bianca!” raas Anette, maar hulle lag tog te lekker.
Die trane loop nou al skoon oor Tess se wange. Sy kan nie onthou wanneer laas sy so gelag het nie. “Soos ek sê, vir al wat julle weet, is hy dalk ’n getroude man.”
Tanya skink vir almal nog Merlot.
Die tweede bottel is al oop, maar vanaand het hulle ten minste ’n waardige verskoning. Die vriendinne vier Tess se eerste sukses. Adele Fourie was diep beïndruk deur die skildery wat Tess vanoggend by haar huis in Woodlands gaan aflaai het. Sy het deurnag gewerk en dit betyds klaargekry. Boonop het Adele belowe om Tess se nommer vir al haar vriendinne te gee.
Dit is presies waarop Tess gehoop het.
“Om die onderwerp te verander … wat gaan jy met daardie vet tjek doen?” vra Tanya.
“Ek weet nog nie. Ek het baie gate om toe te stop. Die lewe is duur en kinders verg geld,” sê Tess. “Tian betaal vir die nodigste, niks meer nie.”
“Tian is ’n aap,” sê Anette. “Dit is natuurlik omdat hy nou twee gesinne moet onderhou.”
Tess glimlag. Dit is wat haar ma ook sê. Sy het selfs gedreig om vir Tian namens Tess trompop te loop. Noudat sy daaraan dink, haar ma het na haar pa se dood ’n regte vuurvreter geword. Sy vat nie meer nonsens van enigiemand nie. Dalk kan sy by haar ’n les of twee leer, net jammer haar ma bly nou op Hermanus. Hulle sien mekaar heeltemal te min.
“Praat van gate toestop … Ek weet wat jy met bietjie van die geld kan doen,” sê Bianca, en almal kyk nuuskierig na haar. “Jy kan vir jou ’n helpende hand koop, jy weet, ietsie om vir jou te doen wat ’n man nie altyd reg kan doen nie,” verduidelik sy.
Haar hande praat saam, en Tess sien Anette en Tanya se monde hang net so ver oop soos hare oor die opmerking.
Bianca grinnik. “Dit is te sê as jy nie al klaar so ’n iets het nie.”
Anette gaan skielik aan die hoes en loer na die dak terwyl sy haar asem probeer terugkry. Dit is duidelik dat sy vir ’n sekonde oogkontak met hulle vermy. Beteken dit dat selfs Anette so iets het? Hulle Anette? Maar met ’n man soos Anette s’n, is dit seker nie so ’n belaglike gedagte