Web. Naomi Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Naomi Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795801211
Скачать книгу
praat nie met my by die skool nie. Sy wil altyd iets boring doen soos teken op haar eie.”

      Sy visualiseer Magriet by ’n tafel. Die gefokusde gesigsuitdrukking.

      Die seuntjie voeg by: “Maar sy het nie vanoggend geteken nie. Sy was ’n ruk lank binne, en ’n ruk lank buite en toe is sy net weg. Mamma, is sy dood?”

      Sophia klem die stuurwiel stywer vas. Aan die onderpunt van Pleinstraat is die groot sirkel waar sy na regs draai. Dink prakties. As daar ooit ’n tyd was wat sy hierdie seldsame wens gewens het, is dit vandag hier in die motor – hier naby die polisiestasie, waar sy parkeer. Dink soos ’n man.

      Hulle gaan haar vra hoe Magriet lyk, soos Diederick gesê het. En oor haar klere. Wat het Magriet vanoggend aangetrek? Die groen trui is al wat sy kan onthou. In haar skooltassie is alles soos wat sy dit vanoggend ingepak het, toebroodjies inkluis, onaangeraak. Die enigste ander bewysstuk wat sy van haar dogtertjie se bestaan het, is die afkop-pop.

      Toe sy uitklim en vir Mathys oopsluit, besef sy die reën het in groot druppels begin neerplof.

      “Wat het Magriet vanoggend aangehad?” vra sy, koes-koes in die rigting van die deur. Arme kind, is hy dan haar geheue?

      “Daai feetjiehemp van die ander winkel wat jy altyd vertel dis goedkoop en ons groei vinnig so jy koop daar.”

      ’n Bruin dogtertjie in klere van PEP Stores. Al is dit net Magriet, stoksielalleen in die strate van Stellenbosch, gaan g’n mens haar raaksien nie. Sy sal so onsigbaar wees soos die bende spoke wat die inbreker naby hulle kantoor geïntimideer het.

      Die inbreker met die wit sweetpak! Loop hy nog los rond?

      Sy laat die gedagte tydelik vaar toe hulle nat-nat by die deur instap. Dis suiwer paranoia. Die man ken nie vir Magriet nie, maak nie saak wat hy nou die dag daar op die sypaadjie gesê het nie. Nou die dag, maar dit voel so lank gelede. Was dit sowaar net gister toe hy daar buite hul kantoor gestaan het met hul huis se voordeursleutel in sy hand?

      Xoliswa is nie aan diens nie, ook nie die polisiemanne by wie Sophia haar verklaring oor die sweetpakman kom aflê het nie. Dis ’n man wat sy nie ken nie, nóg ’n nuweling. Sy stap hom tegemoet met haar selfoon.

      “My kind is weg en sy lyk só …” sê sy terwyl sy die foon oorhandig sodat hy Magriet se foto dadelik kan sien.

      Hy kyk na die skerm. “Ek het van jou gedroom?” lees hy met ’n frons.

      Sophia gryp die foon terug. Navigeer weg van die SMS en na die foto van Magriet wat sy gereken het daar uitgestal was.

      “My sussie is ’n kleurling,” sê Mathys. Sy woorde skok haar uit haar deurmekaar gedagtegang. Boonop sê hy dit vir ’n polisieman wat self bruin is. Sy besef Mathys kyk saam met haar vir die foto op haar selfoon. Hy het net sy waarneming gedeel.

      Sy sit haar hand op sy kop, en hy skuif weg onder haar handpalm uit. Sy oorhandig weer die foon aan die polisieman, wat die foto bestudeer.

      “U sê sy is u kind?”

      “Ja.”

      Hy kyk nou aandagtig na haar. Hy kyk ook na Mathys met sy grysgroen oë en sy donkerblonde hare. Dit lyk of sy dit gaan moet uitspel.

      “Sy is aangeneem.”

      Hy knip sy oë. “Het u dalk ’n foto van u kind by u?”

      Sy skud haar kop. “My man het gesê …”

      Die polisieman stel nie belang in wat haar man gesê het nie.

      “Ek sal u toestemming moet kry om hierdie foto op u selfoon te bluetooth sodat ons dit onder ons netwerke kan versprei.”

      Sy knik en, terwyl hy agtertoe verdwyn daarmee, draai sy na Mathys. Sy wil een oomblik lank vir hom dáár wees.

      Maar terwyl sy nog besig is om te dink wat sy vir hom wil sê, hoor sy ’n telefoon agter in die polisiestasie lui.

      “But is the protest peaceful?” hoor sy ’n polisieman vra nadat hy geantwoord het. En na ’n rukkie: “You can phone back if the group gets violent.”

      Sy hoor ’n geluid soos die telefoon neergesit word, en bepaal haar weer by Mathys. Hoe voel hý? Sy gesiggie lyk klein en bang, sy mond weerloos.

      “Wanneer was die laaste keer wat u u dogter gesien het?” vra die polisieman agter hulle.

      Sophia neem haar selfoon terug. “Toe ek haar vanoggend by die skool afgelaai het. My man is Diederick Stipp, hy’s ’n speurder daar by die stasie in Adam Tas …”

      Die polisieman trek sy skouers op, irrelevante inligting vir hom.

      “Dis hy wat gesê het ek moet ’n vorm 55 voltooi. Of is dit 55A?”

      “Moenie worry oor die vorm en sy kodes nie, mevrou, daai is ons kopseer. Jy moet net die verklaring aflê en ’n paar vrae oor haar voorkoms en die omstandighede beantwoord.”

      Toe tower hy blitsig ’n stapel vorms op en hou dit by hom op die toonbank. Daar raak klaarblyklik genoeg kinders weg dat hy presies weet waar om dit te vind. Die vertrek klad voor Sophia se oë. Die polisieman gee emosieloos vir haar ’n sneesdoekie aan.

      “Die eerste gedeelte van die proses is dat ek moet neerskryf wat u verklaring is, mevrou,” verduidelik hy. “En u kan daardie … speelding vir my gee, asseblief. Dis baie belangrik dat ons enige DNA kan gebruik in ons ondersoek.”

      Sy bekyk die pop in haar hande ’n laaste keer. Dis verspot om te voel sy kan nie eens oogkontak maak met die ding nie. Daar sit net ’n ronde knoppie aan die nek waaraan die kop moes vas wees. Die pop is verstandloos, sonder sig of gehoor. Die pop is ’n lyf. Sy is plasties en dood.

      Niemand in graad een speel meer pop nie, Mamma.

      Moenie jou steur aan wat ander mense sê nie. Sy’s nie net jou pop nie, Magriet, en sy mág jou beste maatjie wees.

      Enigste maatjie daarby.

      Moeg oorhandig sy dit aan die polisieman. Sy besef sy het dit vasgeklou, haar laaste bietjie Magriet. Daar gaan dit nou, uit haar hande.

      Sy is moeg vir verklarings. Die besigheid met die inbreker by hulle kantoor was te onlangs. Sy en Trouw het die hele oggend staan en praat. Goed, Trouw het daarop aangedring dat sy nie ’n saak wou maak nie, maar hulle moes steeds die insident vir die rekord aanmeld. Sy wat Sophia was, het haar bes gedoen om die polisieman te oortuig dat die ou nie daarmee kon wegkom om sommer net by hulle venster in te klim en niemand doen enigiets daaromtrent nie. En wat het dit haar in die sak gebring? Die polisieman het Trouw se wens eerbiedig en niks verder gedoen nie. Die man met sy wit sweetpak loop los rond.

      Sy besef die polisieman voor haar wag dat sy praat. Sy voel van voor af wanhopig oor die besonderhede wat Diederick haar vertel het die polisie gaan verlang.

      “Hoe moet ek beskryf wat die vorm van haar gesig is?” vra sy. “’n Gesig is ’n gesig. Watse vorm gesig het hý?” Sy beduie na Mathys en gaan voort om haar punt te staaf: “Oukei, dis ovaalvormig, dis net ’n gewone kind se gesig …”

      “Sy gesig is hartvormig.”

      “Ekskuus?”

      “Breë voorkop, kleiner ken na onder. Hoe lyk jou dogter se gesig?”

      Sy kyk hom ’n oomblik lank in die oë, asof hulle poker speel. Hy wag geduldig dat sy moet reageer.

      “My gesig lyk nie soos ’n flippen hart nie.” Mathys gaan sit op ’n vuil bank daar anderkant, vou sy arms en skop sy bene voor hom uit. Sophia kan nie sy emosie uitpluis nie en draai terug na die polisieman.

      “Of hoe moet ek weet hoe ver sit haar oë uitmekaar?”

      “Sal een van haar oë kan inpas tussen haar een oor en die oog die naaste daaraan? Of twee? Drie?”

      Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Sy antwoord nie eens nie. Hy moet haar ysigheid aanvoel, want hy praat weer.