Web. Naomi Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Naomi Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795801211
Скачать книгу

      Hy hou op met skryf en lig sy hand op.

      Sy kan sien dit gaan tyd vat. Hier kom twee verklarings wat afgelê moet word.

      Maar dis nie wat hom hinder nie.

      “I don’t understand Afrikaans.”

      Die ander polisieman praat vanaf die venster met die senior een. Ook in Afrikaans.

      “Dit wil voorkom asof die diefwering vooraf losgeskroef is, ons sal sy alibi moet verneem …”

      Sophia ken polisietaal; Diederick kan ook so klink as hy die dag wil. Maar ten spyte daarvan sal sy dit nooit gewoond raak nie. Dis soos rekenaar-jargon. Dis ’n soort kode.

      Die hoofman-oor-’n-honderd-polisieman maak sy keel skoon. “You two have to come with us to the police station to make a statement.” Dan gaan kyk hy na die vensterraam en diefwering, en merk teenoor sy kollega op: “This seems to have been dislocated at an earlier stage.”

      “Ja, soos ek gesê het.”

      Die senior maak ’n paar aantekeninge in sy bruin lêer. Dis ’n tydsame proses, hy skryf met groot, baba-agtige letters.

      Trouw draai na Sophia. “Hy het op die kombuisvloer gesit sodat die bende hom nie deur die venster kon sien nie …”

      Nou versnel Sophia se hartklop weer, maar dis van woede. “’n Bende onsigbare spoke?”

      “Hulle het deur die parkeerterrein gevlug terwyl jy gaan hulp soek het.”

      “Hy het ons kantoor se diefwering oopgeforseer en ingebreek!”

      “Het jy gesien hoe hy bewe?”

      Kén Trouw die sweetpakman dalk?

      “Can you come over to the police station for me to open the docket?” vra die polisieman, en wag nie regtig vir ’n antwoord terwyl hy die lêer toemaak nie.

      “I don’t want you to open a docket, we don’t want to make a case against him!”

      We? wil Sophia verbaas reageer. We don’t want to make a case against him? Maar voor sy iets kan sê, lui die telefoon.

      Sy wil dit ignoreer, maar Trouw bly die baas. Antwoord, antwoord, beduie sy vir haar.

      Die man aan die ander kant van die lyn klink amper oorhaastig: “Kan ek saam met Sophia Stipp praat?”

      Sy hoop nie hy wil iets verkoop nie.

      “In verband waarmee, as ek mag vra?”

      “Crime. Misdaad.”

      Sy kan nie die noukeurigheid glo nie. En die snelheid, die vlugvoetigheid!

      “Die polisie is klaar hier, dankie.”

      Die man bly ’n oomblik stil. “Is ek nou by BoekWeb?”

      Sy maak ’n afleiding. “Is dit oor daardie tweetalige boek?”

      “Einste, juffrou.”

      Die naam kom by haar op, dalk omdat dit vir haar ongewoon was in sy e-pos.

      “Nikodemus van Wyk?”

      “Dis korrek, ja.”

      Oorgretigheid is nie die woord nie. Kan hy nie ’n bietjie uitstel om te reageer soos normale mense nie?

      Amper-amper vertel sy hom van die inbreker, maar sy keer haarself. Dit het niks met hom te doen nie. Eerder die oproep hanteer soos wanneer daar ’n krisis met die kinders is: handel dit so gou moontlik af en gaan aan met die lewe. Voor die volgende ramp.

      “’n E-pos-onderhoud is dalk die maklikste …” begin sy voorstel.

      “Nie vir my nie. Ek het nodig om in persoon meer info te gee.”

      Meer info waaroor?

      “Is jy ook die skrywer van die verhale?”

      Hy bly ’n oomblik stil. “Is jy Sophia, juffrou? Kan ons môre ontmoet?”

      Trouw trippel in die deur, die polisiemanne is al buite.

      “Asseblief, stuur vir my ’n e-pos dat ons ’n tyd kan afspreek?” vra Sophia. “Hier het ’n dringende saak opgeduik waaraan ek moet aandag gee.”

      En sy sit die gehoorbuis neer.

      “Ek wil nie ’n saak maak nie,” benadruk Trouw. “Hier is niks beskadig nie.”

      Kort gelede het Sophia vir die polisieman vertel dat Lynette aan die diefwering geraak en die misdaadtoneel gekontamineer het. En nou, vir die tweede keer op een dag, besef sy dat sy soos Diederick dink.

      “Die inbreker het ’n gebou beskadig wat nie sy eiendom was nie.”

      “Ek sal ’n handyman kry om die ding weer vas te skroef.”

      Sophia voel of ’n aar in haar kop wil bars.

      “Hy het dit beplán. Dis ’n proses, met voorbedagte rade, om diefwering los te skroef!”

      Sy luister na haarself, na die polisietaal wat sy praat.

      Trouw trek haar skouers op. Toe die Afrikaanse konstabel inloer om hulle aan te jaag, herhaal sy dat sy nie ’n saak wil maak nie.

      Sophia wag vir ’n reaksie van hom. Hy, dienaar van die gereg, sal sekerlik wil sien dat die skurk opgesluit word. Of minstens wil seker maak dat die ou gevang word, want anders veroorsaak die man net weer vir hulle werk en moeite as hy volgende keer by ’n ander gebou inbreek.

      Maar daar is niks. Nie woorde wat Trouw aanmoedig om ’n saak te maak nie. ’n Mombakkies. G’n mens weet wat hy dink nie. Seker al so afgestomp deur alles wat hy elke dag in hierdie land beleef en sien, sê hy bloot, en nou met heelwat minder klem op suiwer taal: “Ek moet anyway ’n incident report aanteken. Julle sal ons moet vergesel na die polisiestasie toe, asseblief.”

      Trouw stem teësinnig in.

      Die twee vroue gaan saam polisiestasie toe, met verskillende weergawes van dieselfde gebeure.

      SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

      Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

      Ons moet haar kry voordat nog mense haar miskyk …

      Met Diederick se woorde in haar ore ry Sophia by die kleuterskool se hek uit en draai regs.

      Hoekom kan ’n mens se lyf net op een plek op ’n slag wees? Sy wil agteruit ook kan ry, sy wil bo-oor die dorp kan vlieg, sy wil in al die windrigtings kan sien. Maar al sê haar broer van Gauteng graag dat Stellenbosch nie soos die res van die land is nie, is die strate tóg soos oral anders. Plat stroke teer waarop motors die rigting moet kies waarin hulle gaan ry.

      Daar is min verkeer. Byna niks nie, om die waarheid te sê. En bo die strate met so min motors vir die middaguur en sonder ’n teken van die dogtertjie wat sy so graag wil sien, is daar dreigende onweer. Swaar wolke.

      “Kumulonimbus.”

      Dis die eerste woord wat Mathys praat sedert hulle weggetrek het.

      “Jy onthou mooi …”

      Sy kan nie verder praat nie. Dis Diederick wat wolke en hulle benamings aan die kinders uitgewys het. Diederick weet wat hy doen, maak nie saak hoe sy in hierdie stadium oor hulle huwelik voel nie. Hy móét weet. Hy móét haar kry.

      So laat hy daar by die kleuterskool aanhou soek, en laat sy dan maar doen wat hy voorgestel het – polisiestasie toe gaan.

      Sy ry by die Jan Marais-park verby. Daar’s sowaar parkeerplek en die studentewoonstelle lê verlate aan haar regterkant. Orals is oop spasies in die dorp; ook net in vakansietyd is dit so stil.

      Maar waar wip-wip Magriet se skouers terwyl sy stap, waar dobber haar koppie ligweg bokant haar lyfie, waar is die bene wat nou dié van ’n laerskoolmeisie word, waar is haar seldsame glimlag?

      “Magriet