Toe Eugene die hond eers weer uitlaat, is Wida bly dat die dier se spelerigheid die atmosfeer darem ’n bietjie verlig het.
Hulle loop uit die hoofslaapkamer terug in die gang. Die kamer aan die oorkant is tweedoelig: Dit lyk soos ’n studeerkamer, maar sy sien dat die bank ook in ’n enkelbed kan afslaan. Dit is kunstig as ’n bank versier met kussings en daar is vier laaie – twee links en twee regs – in die bodem.
Eugene wys na die kamer. “Hierdie vertrek kan deur ’n aflospersoon of Charmaine gebruik word as sy dalk moet oorslaap. Hier is ook ’n stort, toilet en wasbak. Dit is klein, maar bied die nodige.”
“Dit is baie prakties.” Wida kyk na die spierwit-en-sandkleurige dekor. Bypassende materiaalblindings voor die venster is oopgetrek. ’n Ingeboude lessenaar en kas staan direk langs die bed. Knus maar smaakvol.
’n Vriendelike stem klink agter hulle op: “Middag, dokter, suster . . .”
Wida kyk om na die vrou wat beslis die huishoudster moet wees. Sy lyk na iemand wat dinge kan raakvat. Sy is van middelmatige bou en lengte en haar amandelbruin oë glimlag saam met haar lippe. Haar grys krullerige hare is kort gesny. Sy het ’n netjiese langbroek en oorhanghemp aan met ’n voorskoot bo-oor.
Skielik lyk die huis vir Wida geselliger en warm. Dankie tog, hier is iemand om mee te gesels. Nee wat, sy gaan sommer lekker hier werk.
Eugene tree vorentoe. “Sarah, dit is suster Storm. Wida, dit is my regterhand dié.” Wida sien verbaas dat Eugene se gesig sagter word toe hy van Sarah praat.
’n Tienerdogter verskyn ook uit die gang en kom staan langs Sarah. “Aangename kennis, suster. En dit is my dogter, Charmaine. Dankie dat suster haar bietjie touwys gaan maak.”
Die meisie se amandelbruin oë lyk groot en ’n bietjie senuweeagtig. Sy is lank en skraal en het ’n moderne, gevlegte haarstyl wat netjies agter in haar nek vasgebind is. Daar duik diep kuiltjies in haar wange wanneer sy glimlag. “Ek sien uit daarna, suster.”
Wida glimlag met haar. “Dit is lekker om jou te ontmoet, Charmaine. Dokter het nou net vir my vertel dat hierdie kamer joune sal wees die tye wanneer die pasiënt jou nie nodig het nie, of wanneer sy slaap. Ek kan dalk my laptop saambring sodat jy iets het waarmee jy jou in die vrye tydjies kan besig hou. Maar natuurlik sal die pasiënt altyd jou eerste prioriteit moet wees.”
“Dis reg so, suster.”
“Jy hoef eers te begin net voordat mevrou Maritz huis toe kom. Dit behoort binne die volgende twee weke te wees. Ek sal jou op hoogte van sake hou.”
“Ek is gereed om te begin wanneer suster my nodig het.”
Sarah glimlag van oor tot oor. “Dit gaan lekker wees om my meisiekind hier te hê . . . en vir suster natuurlik. Hierdie huis is hoeka te stil.
“Tee, koffie of koeldrank? Wat sal julle drink?” vra sy.
Eugene skud sy kop. “Nie vir my nie, dankie, maar ek sal dit waardeer as jy vir suster Storm verder kan rondwys. Ek moet terug hospitaal toe. Sy en Charmaine kan ook sommer beter kennis maak.”
“Dis reg so, dokter.”
Eugene haal ’n stel sleutels uit sy broeksak en draai na Wida. “Hier is jou sleutels met die kontrole van die hek. Maak jouself tuis. Soos ek gesê het, jy en my ma sal alleen op hierdie vlak bly, want ek bly bo.” Hy gee ’n visitekaartjie vir haar. “Hier is my kantoornommer ook. Jy het seker my selfoonnommer nou die dag op jou foon gestoor toe ek jou gebel het?”
Sy knik.
“Jy kan my enige tyd kontak as jy vrae het of vashaak. Laat ’n boodskap as ek nie dadelik antwoord nie, ek sal terugbel. Sterkte met alles. Ek sal die kontrak môre vir jou hier los sodat jy dit kan teken.”
Nadat Eugene weg is, nooi Sarah haar om saam te stap.
Hulle loop eers deur die woonarea en Wida sien dat daar groot skuifdeure is wat na ’n geplaveide patio lei waar stoele en bankies van gegote yster, met donkergroen-en-wit gestreepte kussings, onder ’n groot skadu-afdak staan. ’n Bietjie verder aan is ’n swembad wat blink in die sonlig.
Wida wonder of sy saans hier sal mag swem wanneer sy eers hier bly. Dit sal baie gerieflik wees as sy nie gimnasium toe hoef te ry vir haar daaglikse tyd in die water nie.
“Suster kan binne of buite sit terwyl ek en Charmaine die drinkgoed gaan haal.”
“Kan ek nie maar saam met julle kombuis toe stap nie? Dit is mos die lekkerste kuierplek in enige huis. Ek is ’n Karookind. Dit is waar ons altyd op die plaas kuier.”
Wida sien hoe lekkerkry op Sarah se gesig kom lê. “Die saak is reg, suster. Kom saam met my.”
Hulle stap deur die woonarea, volgens oop plan ingerig met die eetkamer en kombuis wat daaraan grens.
Wida trek ’n stoel uit onder die groot, outydse houttafel wat in die middel van die vertrek staan, en gaan sit.
Sarah sê vir Charmaine aan om ’n melktert te sny en in bordjies te bedien terwyl sy ’n pot tee maak en dit saam met drie koppies en pierings tafel toe bring.
Sarah gaan sit aan die kop van die tafel en Charmaine aan die oorkant.
“Charmaine, dokter vertel my dat jy ’n jaar afgevat het om ’n studierigting te kies. Het jy ander beroepe ook al oorweeg of het jy nog altyd in verpleging belang gestel?”
Charmaine glimlag skamerig. “Suster, ek het eers gedink ek wil dalk onderwys swot. Toe het ek by my ou hoërskool gaan help.”
“Sy was assistent en het ook met die netbalafrigting gehelp,” las Charmaine by. “Die kind van my is baie goed in netbal. Suster, jy moet net sien.”
“Nè?” Wida glimlag en vat ’n hap van haar melktert.
Charmaine lag effentjies. “Ja, ek hou van netbal. Ek hou ook daarvan om met mense te werk, maar ek het agtergekom ek hou nie daarvan om voor mense te praat nie.”
Wida skud haar kop. “Dan gaan onderwys seker nie ideaal wees nie.”
“Dit is wat ons ook gedink het, suster,” sê Sarah.
Wida neem eers ’n sluk van haar tee. “En die belangstelling in die mediese wêreld? Waar ontdek jy dit toe?”
Sarah lyk verbaas. “Het dokter nie vir suster vertel nie? Hy het voorgestel dat Charmaine ’n maand gelede inkom na die praktyk sodat sy kan sien wat hulle alles daar doen, ingeval sy dalk ’n mediese rigting sou oorweeg. Ek is so dankbaar dat hy dit gedoen het. Toe daai gogga eers byt, het hy behoorlik gebyt. Sy het nou haar regte passie ontdek. Maar sy kan nie daar praktiese ervaring kry nie – sy mag net gekyk het wat hulle doen.”
Wida sit verwonderd. Die stroewe Eugene het hom sowaar oor hierdie meisie ontferm en by haar ’n droom vir haar toekoms gekweek. Dalk is hy anders as wat sy hom met die eerste oogopslag opgesom het.
Charmaine knik entoesiasties en haar gesig helder op. “Ek wil ook soos dokter vir mense help. Maar ek weet ek sal onder moet begin. Ek wil alles by suster leer en ek sal hard werk.”
“Natuurlik sal jy,” sê Wida en kyk Charmaine en Sarah om die beurt glimlaggend aan. “Ek weet sommer ons gaan almal baie lekker saamwerk.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно