Wida se hande sweet terwyl sy met die hysbak opgaan na die tweede verdieping van die hospitaalgebou. Tog voel sy vol selfvertroue.
Op die glasdeur van die spreekkamer staan: Dr. E. Maritz, Pediatriese kardioloog. Spreekure: Maandae, Woensdae en Vrydae 10:00 tot 17:00.
Sy voel sommer heelwat kalmer, want hy kan eenvoudig net ’n wonderlike sagte mens wees as hy heeldag met kinders werk en ’n passie daarvoor het.
Sy druk die deur oop en gaan na die ontvangstoonbank.
Voordat sy iets kan sê, vra die vriendelike gryskop-ontvangsdame met ’n glimlag: “Suster Storm?”
Sy glimlag terug. “Dis reg, ek is hier vir die onderhoud.”
Die vrou tel die gehoorbuis van die telefoon op haar lessenaar op, en Wida hoor hoe sy met die onbekende dokter praat. Toe sy die gehoorbuis op sy mikkie terugsit, kyk sy op. “Suster, hy is amper klaar met die pasiëntjie, sit ’n oomblik, asseblief.”
Wida gaan sit op een van die blou gemakstoele en voel hoe die senuwees in haar maag begin knaag.
Die enigste ander mense in die wagkamer is ’n kleuter wat besig is om met blokkies by ’n blou plastiektafeltjie te speel en sy ma wat skuins agter hom sit met ’n tydskrif op haar skoot. Die haasbekkie glimlag vir Wida. Sy waai vir die pragtige seuntjie.
Op die houttafel in die middel van die vertrek is ’n verskeidenheid tydskrifte, maar sy weet sy sal nie nou op leesstof kan konsentreer nie.
Oomblikke later kom ’n jong vrou met ’n babastootwaentjie uit in die gang. Die ontvangsdame stap om die toonbank.
“Suster Storm. U kan maar deurkom.”
Wida se duim en wysvinger van haar een hand vryf gespanne teen mekaar terwyl sy agter die ontvangsdame in die kort gangetjie afstap. By die deur aan die linkerkant staan die ontvangsdame terug en wys vir haar om in te gaan.
Die man agter die donkerhoutlessenaar kom orent en stap om die bonkige meubelstuk na haar. Hy stap voor ’n bypassende boekrak met mediese boeke verby, en sy merk terloops op dat hy nogal lank is.
Wat haar egter die meeste tref, is sy ernstige gesig en die ysblou oë wat lyk of hulle dwarsdeur mens se siel kan kyk. Sy donker, effens krullerige hare lyk of dit sorgeloos met sy vingers teruggekam is. Hy het ’n ligblou hemp aan sonder das, en die boonste knoop is oop. Daarby dra hy ’n donkerblou chinobroek met swart skoene. Hy lyk of hy in sy dertigs kan wees. Sy gesig laat haar aan beeldhouwerk dink, perfek uitgebeitel. ’n Aantreklike man, maar sy uitdrukking is onpeilbaar.
Die ontvangsdame stel hulle voor: “Dokter Maritz . . . suster Storm.”
Wida hoor hoe die deur agter die vrou toeklik.
Dokter Maritz steek sy hand uit. “Aangename kennis, suster.”
Sy luister na sy diep stem en knik terwyl sy haar hand ook uitsteek. “Aangename kennis, dokter.” Haar hand verdwyn in sy grote met die ferm handdruk.
Hy wys na een van die gemakstoele voor sy lessenaar. “Sit gerus.”
“Dankie.” Nadat sy gaan sit het, gaan hy ook agter sy lessenaar in ’n groot leerstoel sit. Hy tel ’n silwerpen van die notablok voor hom op en wikkel dit heen en weer tussen sy duim en wysvinger.
Stilte hang vir ’n oomblik in die vertrek. Die pen hou op beweeg, en hy kyk Wida direk aan.
’n Koue rilling gly langs haar ruggraat af; sy sal nie graag in hierdie man se slegte boeke wil wees nie. Sy kry die gevoel dat hy baie streng en reguit is.
“Dit was gister jou laaste dag by die aftree-oord, hoekom het jy bedank?”
Nes sy gedink het, sy eerste vraag is op die man af. Hoekom voel dit of hy haar in kruisverhoor neem?
“Dis reg, dit was nie ’n maklike besluit nie, want ek was gelukkig daar. Tog het ek ’n groot droom en is ek nou gereed daarvoor.”
Sy wenkbroue lig. “Brenda het gesê jy stel belang in tuisversorging. Vertel my wat jy beplan.”
“Ek wil graag my eie agentskap vir tuisverpleging begin. Om dié rede wil ek vir ’n ruk lank self tuisverpleging praktiseer om genoeg ondervinding op te doen.”
“Klink vir my na ’n wen-wensituasie vir ons albei. Die aftreeoord het ’n baie goeie getuigskrif oor jou gegee. Ek is heeltemal tevrede daarmee en gaan jou nie bemoei deur ’n klomp onnodige vrae te stel nie. As jy die werk wil hê, is dit joune. My ma het dringend hulp nodig en die tyd is min om alles te reël voordat sy uit die hospitaal ontslaan word.”
Sy knik haar kop. “Ja, ek wil dit graag hê. Dankie vir die vertroue wat dokter in my stel.”
Sy oë haak weer ’n oomblik ondersoekend op haar vas voordat hy knik. “My ma is vyf-en-sestig en sy het laas week in haar woonstel geval en is sedertdien in die hospitaal. Ek het gereël dat sy voorlopig by Intercare in Durbanville gaan aansterk. Sy word môre daarheen oorgeplaas. Daar is dus twee weke oor om alles in orde te kry voordat sy na my huis verskuif word.”
“Wat is die prognose?”
“Sy het ’n tibiale platofraktuur in haar linkerbeen opgedoen. Net onder die kniegewrig. Haar ortopeed praat van ’n moontlike agt tot twaalf weke in gips, aangesien sy al reeds aan osteoporose ly.”
“Sjoe, dit klink baie sleg.”
“Ja, dit is ietwat ongemaklik. Sy woon op die eerste vloer van ’n woonstelgebou in Kuilsrivier. Daar is ’n hysbak, maar die ding is glo gereeld stukkend en my ma het gewoonlik die trap gebruik. In elk geval is die woonstel te klein en beknop en . . . e . . . daar is ander redes waarom die situasie nie gewens is nie. Daarom kom sy by my huis in Durbanville aansterk. Sal dit vir jou moontlik wees om tydelik in te woon?”
“Dit sal nie ’n probleem wees nie.”
“Goed. Ek gaan jou hulp daar nodig kry reeds voor my ma se ontslag uit die hospitaal.”
“Wat het dokter in gedagte?”
“Sy sal seker ’n hospitaalbed en ander toerusting nodig hê. Uit jou ervaring met bejaardes sal jy seker beter as ek weet? Enigiets wat die lewe vir haar makliker kan maak tydens die hersteltydperk. Daar is seker firmas wat sulke goed uitverhuur? Ek sal bly wees as jy beheer van dié proses kan neem.”
“Ja, daar is sulke maatskappye. Ek werk daagliks . . . ek bedoel, ek het daagliks daarmee gewerk en dit vir die bejaardes in die aftreeoord gereël. Ek ken ’n groot verskaffer in Durbanville, hulle pryse is billik en hulle lewer by die huis of instansie af.”
“Dit sal ’n groot las van my skouers afvat. Ek het ’n dubbelverdiepinghuis. Jy en my ma sal alleen op die onderste vlak van die huis bly. Twee van die drie slaapkamers onder staan die afgelope vier jaar onbewoon. Ek wil graag alles vervang, die meubels . . . die gordyne. Kan ek dit dalk ook jou taak maak? Ek weet ek verwag baie van jou – jy is immers ’n tuisversorger, nie ’n binnehuisversierder nie. Jy kan nee sê as jy wil, maar ek sal jou vir die ekstra werk vergoed. Daar sal ook ’n ruim begroting vir aankope tot jou beskikking wees. Ek het ongelukkig net nie self die tyd of energie vir winkels nie.” Vir ’n oomblik skuif hy op sy leerstoel rond en lyk ongemaklik.
Wida glimlag. “Ek gee nie om om dit te doen nie. Dit klink eintlik nogal lekker!” Hier kry sy nou sowaar weer ’n geleentheid om met kleure en teksture te speel.
Die pen wip weer heen en weer tussen sy vingers terwyl die ysblou oë haar vir ’n oomblik vasvang voordat hy weer na die notablok kyk. “Dis seker tyd vir vernuwing.” Dit klink of hy sy gedagtes hardop uitspreek. Iets aan die woorde is vir haar vreemd. Skielik wonder sy of sy by ’n kas vol geraamtes instap . . . Hoekom is die onderste verdieping onbewoon en hoekom moet alles vervang word?
“Ek sal help waar ek kan,” sê sy na ’n oomblik waarin die stilte rek. Vreemde man, daar is nie een enkele foto op sy lessenaar wat enigiets omtrent hom verklap nie. Geen vrou nie? Kind?