“Daar is nog een laaste ding. Die dogter van Sarah Daniels, my huishoudster, is negentien en het laas jaar matriek geskryf. Sy het vanjaar afgevat om oor ’n studierigting te besluit. Sy stel belang in verpleging. Is daar ’n moontlikheid dat jy haar as ’n versorger kan oorweeg? Sy sal uit die aard van die saak alles by jou moet leer. Maar ek het gedink jy sal soms ’n ekstra paar hande nodig hê?”
“Beslis. Kom ons kyk hoe dit gaan. Solank jou ma tevrede is met die reëlings, dan val ek daarby in.”
Hy knik. “Jy sal my ma so gou as moontlik ontmoet. O, voor ek vergeet: Wat van aflos oor naweke, iemand wat kan instaan wanneer jy af is? Weet jy dalk van so iemand?”
“Ja, ek ken iemand, maar kom ons kyk net eers hoe dinge verloop. Indien die behoefte ontstaan, kan ons weer praat.”
“Dankie. Ek verwag nie dat jy die vrye tyd waarop jy geregtig is, inboet nie.”
Wida knik.
Hy verskuif die pen na sy ander hand. Gou wip dit weer heen en weer tussen sy vingers. Hy maak keel skoon. “Wat is die vergoeding wat jy in gedagte het?”
Wida maak haar handsak oop en haal ’n betaalstaat uit. Sy hou die salarisstrokie na hom uit: “Dit was my salaris by die aftreeoord. Ervaring is in hierdie stadium vir my belangriker as ’n salaris. Ek sal minder aanvaar.”
Hy kyk daarna, maak ’n nota op die notablok voor hom. “Ek sal die bedrag effens verhoog, dit is ’n opoffering om jou vryheid in te boet en jou take gaan veral in die begin veel meer behels as wat jy by die aftreeoord gedoen het. Kan ek die kontrak maar laat opstel?”
“Dis reg so. As dokter tevrede is?”
“Ek is. Enige verdere vrae van jou kant af?”
Sy glimlag. “Wanneer kan ek begin?”
Sy mondhoek spring effens, amper asof hy wil glimlag. “Is môre te gou vir jou?”
“Nee, ek sal gereed wees.”
Dokter Maritz sit agteroor. “Kan ek jou tweeuur môremiddag by Intercare Hospitaal in Durbanville kry? My ma word vroegoggend oorgeplaas. Die besoektyd is tussen twee en vier in die middag. Daarna sal ek alles vir jou by die huis gaan wys en Sarah ook aan jou voorstel. Dan kan julle oor haar dogter gesels. Van daar is jy op jouself aangewese.”
“Dankie, dokter. Sien dan môre.”
Hulle staan gelyktydig op. Hy steek sy hand uit. “Noem my asseblief Eugene. Hoewel ek jou salaris betaal, is jy ten volle in beheer van my ma se versorging. Sy is die een wat gelukkig en tevrede moet wees. Ek sal daar wees indien probleme opduik of om enige vrae te beantwoord wat jy dalk kan hê. Verder sal julle redelik op julleself aangewese wees. Julle gebruik basies net my huis.”
Sy knik. “Noem my asseblief Wida en nogmaals baie dankie vir die geleentheid.”
Klink nie asof Eugene veel wil weet van sy ma se verpleging nie. Hoekom trek hier so ’n kil luggie in die atmosfeer in? Of is dit haar verbeelding?
Hy maak die deur oop, en sy lig haar hand effens op in ’n groet en glimlag vir hom voordat sy by die deur uitstap. Sy gesig bly strak en hy knik sy kop net weer saaklik. Sy kan nie besluit wat om van die dokter te dink nie.
Dit klink wel of sy haar eie baas gaan wees, en dit is fantasties. Sy kan nie vir meer vra nie.
Kwart voor twee die volgende dag parkeer Wida voor Intercare Hospitaal in die parkeerarea. Terwyl sy vir die dokter wag, kyk sy uit oor Tygervallei-winkelsentrum.
Vyf voor twee parkeer ’n donkerblou viertrek reg voor haar motortjie. Dit is hy.
Sy klim uit en wag dat hy by haar moet aansluit.
Nadat hulle gegroet het, loop hulle na die glasskuifdeure by die ingang van die gebou.
Wida verbreek die stilte: “Ek het al so baie van die plek gehoor, maar was nog nooit self hier nie.”
“Dis ’n baie goeie rehabilitasiehospitaal, in dié opsig dat hulle pasiënte bystaan wat beroerte gehad het, breinbeserings opgedoen het en dan ook ortopediese gevalle, soos my ma s’n. Terminale pasiënte kry ook die beste versorging en bystand tot die einde toe. En ’n groot pluspunt is dat hulle oor hul eie fisioterapeute en ook ’n gimnasium beskik.”
“Dit is wonderlik! Ek gaan beslis met die fisioterapeute ’n afspraak maak voordat jou ma huis toe kom. Ek sal graag op hoogte wil wees van al die moets en moenies ten opsigte van haar behandeling.”
“Goeie idee.”
Hulle klim in die hysbak, en hy druk die verlangde knoppie. Stilte sak tussen hulle neer.
Toe die deur oopgaan, wys hy met sy hand dat sy voor moet loop. Die skuifdeure aan die linkerkant staan reeds oop vir besoektyd. Sy volg hom regs in die gang af. “Stap voor, kamer 4 links.”
Sy stap die kamer binne en kyk onseker terug na Eugene. Hy beduie met sy hand. “Daar by die venster aan die linkerkant is my ma. Ek was vanoggend vlugtig hier toe sy oorgeplaas is.”
Wida stap by vier vrouepasiënte verby. Drie se toestand lyk ernstig.
In die bed waana Eugene beduie het, sit ’n gryskopvrou teen opgestapelde kussings. Sy het sagte, liefdevolle oë en glimlag vriendelik, uitnodigend. ’n Doodgewone vrou, goed versorg. Haar hare is in ’n kort bob gesny. Eers toe Wida nader kom, sien sy die donker kringe onder die vrou se blou oë en die té maer gesiggie. Seker al die trauma van die afgelope tyd. Wida gaan staan langs die bed en wag dat Eugene haar voorstel.
Die pasiënt steek haar skraal hande na Wida uit. “Hallo, julle.”
“Hallo, Ma, ontmoet suster Storm.”
Wida voel dadelik gemaklik, loop vorentoe en vat die vrou se koue hande tussen hare. “Hallo, mevrou, noem my asseblief Wida.”
“Noem my ook asseblief op my naam of sê tannie, tog net nie mevrou nie. Ek is Olga Maritz.”
Wida los die vrou se hande en uit gewoonte begin sy die beddegoed regtrek. Sy kan aanvoel dat hulle baie goed oor die weg gaan kom.
Eugene staan aan die ander kant van die bed. Sy stem klink heserig toe hy vra: “Alles reg hier?”
“Hulle is goed vir my, dankie, my kind.”
“Dis goed. Ma, ek gee julle ’n rukkie om kennis te maak, daarna moet ons huis toe gaan sodat Wida vir Sarah kan ontmoet en sien wat als gedoen moet word voordat Ma huis toe kom. Die tyd is min om al die reëlings te tref. Ek wag solank onder.”
Sy sien hoe die tannie vinnig haar regterhand uitsteek en aan haar seun se arm raak, so asof sy hom ’n bietjie langer wil terughou. Daar skuif ’n hartseer trek oor haar oë terwyl sy na hom kyk. “Eugene, ek waardeer dit so. Ek weet wat dit van jou vra . . .”
’n Spiertjie spring langs sy kakebeen. “Dis niks, sien Ma.” Hy trek sy arm onder haar aanraking uit en loop met lang treë by die deur uit.
Die seerkry in tannie Olga se oë raak Wida so dat sy langs haar bed op ’n stoel gaan sit. Sy sit haar hand op die vrou se arm. “Vertel my van die ongeluk. Hoe het tannie se been gebreek?”
Wida ervaar onmiddellike terughoudenheid by haar en wonder daaroor.
Tannie Olga maak nie oogkontak nie en klem haar hande saam terwyl sy haar kop skud. “Ai, dit was alles so onnodig! Ek het die gangkas in my woonstel reggepak terwyl ek op ’n stoel gestaan het om by die boonste rak by te kom. Toe ek van die stoel wou afklim, het my voete onder my uit gegly en toe val ek. Ek het dadelik geweet ek het my been baie seergemaak. Dit was onder my ingevou, en ek kon dit nie beweeg nie.”
“En tannie was nog alleen ook.”
“Uhm . . . ja, maar gelukkig was my selfoon in my baadjie se sak en kon ek die buurvrou bel. Sy hou my spaarsleutel vir wanneer my huishulp, Rebecca, Dinsdae inkom. Ek werk mos halfdag by prokureurs as ’n boekhoudster. Wat ek sonder Bessie sou gedoen het, weet ek nie. Sy het net oorgeneem,