Hart se tweede kans
Ilze Beukes
Hartklop
1
“Suster Storm, wag eers!” Die verpleegster kom agter Wida aangehardloop net toe sy vir die laaste keer by die deure van die Bellville Rusoord uitstap. “Daar was ’n oproep vir suster. Ek het verduidelik dis eintlik suster se laaste dag, maar sy sê dit gaan oor ’n werk.”
Wida gaan staan. “Wie? Is sy nog op die foon?”
Verpleegster Erica Roux skud haar kop. “Sy kon nie aanhou nie. Dit was Brenda wat by die intensiewe eenheid van die N1 Hospitaal werk.”
“O!” Waaroor sou dit gaan?
“Brenda het gevra dat suster haar terugbel.” Erica gee ’n stukkie papier met ’n nommer aan. “Dalk is dit die antwoord waarvoor suster nog heeltyd wag.”
Wida glimlag. “Nou maak jy my baie nuuskierig, ek sal dit doen sodra ek by die huis kom.”
Erica sug. “Ons gaan suster verskriklik mis.”
Sy steek haar hand uit, druk die verpleegster se hand liggies. “En ek vir julle.” Wida draai om en stap haastig na haar rooi Mini. Sy smag daarna om haar skoene in haar eie huis te gaan uitskop. Die afskeidsfunksie en groetery was emosioneel uitputtend. Die bejaardes het regtig soos haar eie familie geword.
Terwyl sy die sleutel draai, tol haar gedagtes steeds soos ’n warrelwind. Sy dink aan al die kosbare mense wat sy hier agterlaat, die onsekerheid van die toekoms, en sy byt haar lip vas. In haar truspieël sien sy hoe die groot hek van Bellville Rusoord agter haar toeskuif.
Tog voel sy ook opgewonde oor die toekoms. Haar kollegas en die bejaardes het verniet probeer om haar van voorneme te laat verander. Sy beplan immers al die afgelope sewe jaar om haar loopbaan in ’n nuwe rigting te stuur. Dankie tog, sy hoef nie een dag langer te luister na “. . . wat as?” en “sê nou maar . . .?” nie.
Sy parkeer haar motor by haar meenthuis en laai die geskenke uit. Die pakkies beland op die eetkamertafel. Sy blaas haar asem stadig oor haar lippe uit terwyl sy op een van die banke in die TV-vertrek neersak en haar skoene uitskop. Uiteindelik! As haar voete nie so seer was nie, het sy nou van blydskap om die koffietafel gedans.
Nuuskierigheid oor Brenda se oproep kriewel in haar toe sy in haar uniformsak soek na die papiertjie wat Erica vir haar gegee het. Sy skakel die nommer. Dit lui.
“Brenda, hallo.”
“Hi, Brenda, dis Wida Storm.”
“Wida, ek’s bly jy’t teruggebel. Het jy darem die laaste dag by Rusoord oorleef?”
“Ja, dankie, dit was hartseer om vir almal totsiens te sê, maar ek sien uit na nuwe en opwindende dinge . . .”
“Wel, dalk het ek goeie nuus vir jou. Dis hoekom ek gebel het. Dokter Eugene Maritz, ’n pediatriese kardioloog hier by ons, doen orals navraag na ’n verpleegkundige wat sy ma tydelik maar dringend tuis kan versorg. Ek het hom van jou vertel en gesê dat jy die skuif na tuisversorging wil maak. Dit is dalk net die praktiese ervaring wat jy nodig het?”
Opgewondenheid bruis in Wida. Dit is amper onwerklik dat Brenda haar juis vandag van alle dae oor só ’n geleentheid sal kontak.
“Ek is so bly dat jy aan my gedink het.” Wida spring op en loop geesdriftig heen en weer in die vertrek. “Ek stel beslis belang.” Dis dalk die begin van . . .
“Wonderlik! Ek gaan hom nou dadelik sê. Ek het gevra dat dokter wag om van jou te hoor voordat hy besluit. Kan hy jou by hierdie nommer skakel? Hy sal natuurlik eers ’n onderhoud wil reël.”
“Dis reg so, ja. Nogmaals dankie!”
“Groot plesier en baie sterkte met al jou planne vorentoe. Ek glo als sal vir jou uitwerk.”
Wida sit die ketel aan en maak vir haar ’n beker sterk koffie. Wanneer sal die onderhoud wees? Seker gou. Klink of die man haastig is. Ten minste is haar CV opgedateer.
O vrek, wat gaan sy aantrek?
Met die beker koffie stap sy gou kamer toe, sit die beker op die spieëlkas neer voor sy die inhoud van haar klerekas ondersoek. Die helfte van die kas gryns soos ’n tandelose mond vir haar met dié dat sy vandag al haar uniforms teruggegee het, behalwe die een wat sy nog aanhet.
Die denim- en kniebroeke en die sonrokke wat in die kas oorbly, lyk nie juis professioneel nie. Die enigste ordentlike ding in die kas is die swart nommertjie wat sy vir troues en spesiale geleenthede hou. Dit kom nou daarvan as mens zero sosiale lewe het en net altyd werk.
Sy trek een van die denimbroeke aan en glip ’n T-hemp oor haar kop voordat sy haar handsak en motorsleutels gryp. Sy ry na die N1 Stad-winkelsentrum. Wie weet hoe gou die onderhoud dalk kan wees? ’n Disfunksionele klerekas sal nie ’n goeie begin wees nie.
Wida geniet die relatiewe stilte na die etensuur in die sentrum. Die meeste mense is nog by die werk.
In ’n vertoonvenster sien sy ’n grys langbroek en baadjie aan ’n winkelpop. Dit lyk ideaal vir ’n onderhoud. Sy stap tydsaam deur die winkel totdat sy kry waarna sy soek.
Gewapen met die klere oor haar arm, stap sy na die aanpashokkie.
Haar selfoon se bekende deuntjie klink op net toe sy die deur op knip skuif.
Sy ken nie die nommer op die skerm nie. Dit moet hy wees!
Sy haal vir ’n oomblik diep asem terwyl sy die klere op die bankie laat afgly en gaan sit. “Hallo, Wida wat praat.”
’n Sterk manstem antwoord: “Eugene Maritz hier, is dit suster Storm wat praat?”
“Dis reg, dokter.”
Sy stem gaan saaklik voort: “Brenda het genoem dat jy moontlik belangstel in die posisie as tuisversorger vir my ma. Kan jy dalk môre na my spreekkamer toe kom vir ’n onderhoud?”
“Doodreg, hoe laat?”
“Kom ons maak dit tienuur.”
“Ek sal daar wees,” belowe sy.
Hy verduidelik vir haar waar sy spreekkamer is en lui af.
Toe die oproep afgehandel is, laat sak sy die selfoon in haar skoot en skud haar kop. Dit is alles so onwaarskynlik, dit gebeur so vinnig, amper te vinnig. Maar terselfdertyd is dit opwindend. Skielik kan sy nie wag dat die tyd voor die onderhoud moet omgaan nie.
Hoe gouer, hoe beter. Wat ’n avontuur wag dalk op haar?
Sy pas die klere aan en kyk in die spieël. Die grys broek pas perfek om haar skraal heupe en die sagte wit bloes met smal platplooitjies aan die voorkant val sag oor haar voller rondings. Sy lig die punte van haar blonde hare uit die bloesie se kraag. Die grys van die klere laat haar oë eerder blou as die gewone grysgroen lyk.
Wida trek die grys heuplengte-baadjie aan. Dit lyk professioneel. Presies die beeld wat sy wil uitdra.
Dankbaar gaan betaal sy daarvoor en stap verder deur die sentrum. Wanneer laas het sy haarself bederf? Sy het mos nou ’n bietjie ekstra geld gekry danksy haar ongebruikte verlofdae wat uitbetaal is . . .
Koop-lus oorval haar en sy drentel opgeruimd by elke denkbare klerewinkel in. Haar voorliefde vir materiaal het sy heeltemal te lank afgeskeep. Sy sal graag weer ’n slag laslappiewerk wil aanpak. Ag, sy hou tog so daarvan om kleure en teksture te kombineer. Dit is seker ook hoekom inkopies by klerewinkels vir haar so lekker is. Dalk het haar grootwordjare op die plaas ook daartoe bygedra, want die maandelikse uitstappies na die naaste kettingwinkels was iets om na uit te sien.
Dit was lekker om soms weg te kom uit die somber atmosfeer van hul plaashuis.
Wida vat aan en vryf materiaal tussen haar vingers, meng en pas stukke. Uiteindelik koop sy nog ’n paar langbroeke, ligte kleurvolle bloesies, gemaklike skoene en oopknooptruitjies vir die koeler dae. Hoewel dit reeds lente is, is die dae soms nog koud hier in die Kaap. Met pakkies wat in haar hande swaai, loop sy by die sentrum uit. Sy kan nie