Ek het lank genoeg na beroemde mense se loopbane gekyk om te weet hoe daai ding lyk en dit hulle beïnvloed.
Daar is wel een besonderse subspesie wat nuwe laagtes bereik in hoe ver ’n mens sal daal om jou naam in ’n publikasie te kry. Dis die soort wat bereid is, as deel van die binnekring, om negatiewe inligting oor ander mense te lek in ruil vir positiewe publisiteit vir hulself. (Naam weerhou op aandrang van die prokureur) is ’n goeie voorbeeld van hierdie tipe.
Huisgenoot het hierdie stelsel geskep in Suid-Afrika. Soos menige al uitgevind het, is hierdie mediaspeletjie ’n tweesnydende swaard wat maklik kan seermaak.
Of jy daarvan hou of nie, Huisgenoot speel ’n groot rol om sterre te maak (en te breek) in Suid-Afrika.
Die sterre dink egter nie so nie, en dis waar ek die tweegesig-aspek van baie bekende Suid-Afrikaanse bekendes graag wil uitlig.
Niemand lees Huisgenoot nie, almal skinder daaroor, maar as Huisgenoot bel, is dit die eerste oproep wat beantwoord word. Niemand heg enige waarde aan die Tempo-toekennings nie, maar tog sal hulle vuisslaan om ’n kaartjie te kry. Om die waarheid te sê, bitch en moan almal oor die Tempo’s, hoe sleg dit is, hoe vervelig dit is, dat die kroeg toe is terwyl die funksie aan die gang is, hoe lank dit aanhou, hoe swak Amor Vittone vanjaar weer aangetrek is … jy verstaan wat ek probeer sê.
Huisgenoot het hom ingewurm as ’n onmisbare deel van die Afrikaanse kultuur. Daar is niks wat eens naby die invloedrykheid van die tydskrif kom nie. Daar is geen ander maatstaf in ons kultuur nie. As jy ’n antwoord is in een van Anina Roux se blokkiesraaisels in Huisgenoot, weet jy dat jy werklik ’n naam is wat volksbesit is.
So, maak vrede daarmee dat Huisgenoot hier is, hier was en vir ’n lang tyd nog hier gaan wees. Jy kan dit maar laat rondlê in die TV-kamer, dis okay. Jy kan maar erken dat jy dit lees. Snobisme was nog altyd een van die lelikste eienskappe van die Afrikaner. Dit help nie dat jy probeer voorgee wat jy nie is nie.
Loop na jou voordeur toe, maak die Trellidor oop (natuurlik nadat jy seker gemaak het dat dit veilig is) en skree so hard as wat jy kan: “Ek lees Huisgenoot!” Laat dit weergalm teen die bakstene van die Toskaanse boustyle rondom jou en hoor hoe die eggo terugkom. Dis heel moontlik nie ’n eggo nie, dis die bure wat dit ook skree.
#1 Toskaanse huise. Jy woon in Pretoria, nie in Italië nie. Daar is ’n rede hoekom hulle die huise in Italië só bou. Dit het te doen met ’n gebrek aan ruimte. As jy ’n Italianer wil wees of (God vergewe ons) dink dis classy, sluit eerder by die mafia aan of volg ’n Mediterreense dieet. Dis veiliger, makliker en baie gesonder.
#2 Skinny jeans. Omtrent 2% van die bevolking is dun genoeg om skinny jeans te dra. Dit is ’n minderheid en dit beteken dat dit nie mag gebeur in ’n demokrasie nie. Die dele van jou lyf wat nie in die jean inpas nie, bol oor die rante en ek vind dit aanstootlik om te sien. Vet, behalwe as dit aan ’n skaaptjoppie is, was nog nooit mooi nie.
#3 Skroefdopwyn. As ek in die parkie drink, is ek bereid om dit te aanvaar. As ek meer as R30 vir die bottel betaal, gee my asseblief die menswaardigheid om ’n kurktrekker te gebruik. Ek weet jy wil die lewe vir my makliker maak, maar partymaal is dit net ’n bietjie beter om te sukkel.
#4 Versoeke op die radio. Die noem van hierdie verbod is versoek deur Ian Wessels van RSG. As daar iemand is wat moet weet dat versoeke nie versoek hoef te word nie, is dit hy. Dis dié dat dit die enigste versoek is wat toegestaan word in hierdie boek.
4 Jack Parow
Enigiemand wat Jack Parow en sy musiek verwerp, mag nie hulself Afrikaans noem nie. Lanklaas was daar ’n taalstryder van sulke stoffasie wat die vyand oorrompel en soos ’n wafferse askari gedraai het om hulle saam met hom te laat veg.
Jack Parow vat Afrikaans na plekke waar dit voorheen net kon droom om te wees. Soos Rusland. Onthou jy die Rooi Gevaar? Wel, hulle party nou op Afrikaanse rap.
Hier is die groot verskil tussen iemand wat dink hulle is ’n taalstryder soos Steve Hofmeyr en iemand wat weet hulle is ’n taalstryder soos Jack Parow: gehoor.
Steve Hofmeyr se gehoor bestaan hoofsaaklik uit politieke vlugtelinge wat hulself versprei het in immigrant-vriendelike lande soos Kanada en Australië en dan natuurlik die plekke waar hulle nie eintlik ’n nuwe taal hoef te leer nie, soos België en Holland. Hulle dra swaar aan hul bevoorregte verlede en voel dat hulle beroof is van hul erfenis. Hulle is ouer, praat Afrikaans met nostalgie en gaan altyd voel dat FW hulle verraai het. Die Engelse sou gesê het he’s preaching to the converted.
Ons weet almal nostalgie hou jou terug in plaas daarvan om jou vorentoe te vat. Nostalgiese mense plant nou nie eintlik die saadjies vir enigiets om te groei nie. So, die Afrikaans wat Steve die wêreld invat, hou geen voordeel vir die taal in nie. Sy geveg is nie vir Afrikaans nie, dis net die verskoning daarvoor. Soos ’n pa wat so lief is vir sy dogter dat hy weier dat sy ooit die huis verlaat, universiteit toe gaan en gaan trou. Daar is natuurlik baie probleme in sulke verhoudings. Probleme soos jaloesie, bloedskande en kindermishandeling.
Jack Parow vat Afrikaans na ’n internasionale gehoor wat niks van die taal weet nie. Hy stel jong mense, global citizens, voor aan die jongste taal in die wêreld.
Hy doen dit deur kontemporêre musiek te gebruik en voor mense op te tree wat toegang het tot tegnologie om die boodskap te versprei wat sy taal deel maak van die 21ste eeu. Die mense wat na sy musiek luister, het geen idee wie of wat die Afrikaner is nie. In baie gevalle stel hulle nie eens belang nie, maar hulle gaan altyd die taal onthou en daaroor praat en dalk selfs daaroor oplees. Hy stel Afrikaans bekend aan ’n nuwe gehoor.
So, wie’s beter vir Afrikaans, Steve of Jack?
Kom ons kyk weer na Steve se gehoor in ons hipotetiese gesprek (wel, eintlik monoloog totdat elke leser ook ’n boekkontrak kry).
Steve se gehoor se bure regoor die wêreld het seker gereeld al die stories gehoor van wat ’n lekker land Suid-Afrika was; hoekom hulle die besluit geneem het om dit te verlaat en hoe sleg dinge nou daar gaan. Die bure hoop elke keer as hulle in die koue moet braai dat hulle net nie weer die skuifieprojektor uithaal nie. As hulle huis toe loop, skud hulle hul koppe en voel rêrig jammer vir hierdie verlore boere, die nuwe Voortrekkers wat in die vreemde langs hulle kom woon het. Hulle hoop ook dat hulle nie gou weer oorgenooi word nie, want damn, dis darem rêrig ’n downer om elke keer sulke stories te moet hoor.
O, en dan wonder hulle ook nog hoekom hierdie vent nie eens die moeite doen om musikante saam met hom te laat speel nie. Wat is hierdie backtrack-ding? Is dit ’n variasie op karaoke waar jy net jou eie musiek doen? Maar nee, dan sou hy nie Neil Diamond covers gedoen het nie. So, eintlik is die volksheld maar net ’n karaoke-sanger. Snaaks, hoe het so iemand die redder van ’n taal geword?
Duidelik is hulle indruk van Afrikaans negatief.
Okay, nou kom ons kyk na ’n tipiese Jack Parow-gehoor.
Die Melkweg in Amsterdam is gepak met mense, skouer teen skouer. Die skare staan so dig, jy kan op hul koppe rondloop. Buite staan nog 400 mense wat nie kon kaartjies kry vir die gig nie. Ek word 100 euro’s vir my kaartjie aangebied.
Die gehoor het al almal ’n paar biere en spliffs in. Hulle is opgewonde oor hierdie nuwe ervaring wat hulle gaan hê. Daar kom hierdie snaakse ou met ’n snor en ’n lang pet op die verhoog, iets wat hulle nog nie voorheen gesien het nie. Hy kombineer ’n onbekende taal met vet beats wat die musiek waaraan hulle gewoond is, reflekteer. Al sing hy in ’n taal wat hulle nie verstaan nie, verstaan hulle die musiek. Dit beteken hulle gaan môre probeer om die lirieke uit te figure op die internet. Langs my staan ’n Poolse vrou wat danksy die poging van die Hertzogpryswenner Tertius Kapp vlot Afrikaans praat. Ek dink nie ek sal haar sommer by ’n Steve gig sien nie. Konsert, eerder konsert. Steve het nie gigs nie, hy’t konserte.