Wat die KKNK jare lank baie uniek gemaak het, was die groot verskil tussen die erns van die teater en die lighartige musiek. Hier werk die Woordfees se musiek nie. As jy nie kan dans nie, is dit nie musiek nie.
Vir ’n lang tyd het jy mense gehad wat uitloop uit ernstige en selfs eksperimentele teater en dan gaan dans op die snert van kunstenaars soos Arno Jordaan. En Jordaan en sy gel-kop-tipe was orals. In die hoofstraat en op elke verhoog. Doef-doef-spiertiere wat hulle latente testosteroonaggressie saam met hulle gebring het. Die afgelope tyd is daai tipe in die minderheid en vervolgens minder luid. Minus die Axe-walms is die plek baie meer aangenaam.
Oudtshoorn is een van daai dorpe wat pis-larney is. Jy kan ’n baguette bestel, maar jy gaan nie een kry nie. Dis ’n Spar-rolletjie-fopdosser. Die enigste plek waar daar geen la-di-da pis-larney is nie, is die cliché genaamd La Dolce Vita, waar die kroegmanne jou naam onthou, niemand jou ’n houding gee nie en die musiek altyd uit die boonste rakke is. Die enigste restaurant wat jou nie ’n rat voor die oë gaan draai nie, lewer wat op die spyskaart is en waar jy regte single malt kan kry, is Daniël Terblanche se Black Swan. Die res is tannies wat soos tieners aantrek om jou om die bos te lei.
Aardklop is natuurlik die fees wat bekendheid daarvoor verwerf het dat daar klein bendes boykies is wat met mekaar kompeteer oor wie die gewildste of grootste celeb kan bliksem, sommer in die hospitaal in.
Ons weet almal Potchefstroom is die plek waar die universiteit lieg en bedrieg oor ontgroening en Nazi-salute doen, waar mense feeste kanselleer sonder om die reëls te volg en waar alle seksuele energie in die dorp op een plek gekonsentreer is: die Snowflake.
Seks speel ’n groter rol op hierdie feeste as wat mense dink. Daar is ’n dekadente onderbuik wat saans laat, nadat die laaste toneelstuk klaar gemaak het, sy klere uittrek en ditself naak paradeer voor mense wat te veel alkohol ingeneem het.
In elk geval, dit was net ’n idee wat ek daar buite wou laat vir almal wat dink dat Afrikaanse kunstefeeste Calvinistiese kerkbasare is. Dit is dit ook, maar nie net dit nie.
En ons gaan verby Aardklop stuur, want dis nóg vis nóg vlees. Verder noord, die een wat die verste van Stellenbosch af lê, is waar jy die beter stereotipes opspoor. Die regte ouskool-Afrikaner waar die k-woord nog gemaklik van die tong af rol, sommer voordat daar te veel brannas en Coke gedrink is.
Innibos is waar die gees van die ou Suid-Afrika op sy beste voortleef. Die plek waar rassiste, seksiste en homofobe onbeskaamd hulle vlae kan waai en dit dan ook doen in die vorm van die oranje-blanje-blou. Waar Steve “Die Stem” kan sing en die gehoor harder as die klankstelsel is. Waar MaJozi, terwyl hy op die verhoog is, met blikke gegooi word omdat hy die “verkeerde velkleur” het.
As jy die verskil tussen die Kaapse en noordelike platteland wil beleef, dan is Innibos die plek waar dit die beste na vore kom.
Die kunstefeeste is nie net ’n refleksie van waar die Afrikaner vandag is as volk nie, die verskillende plekke waar dit gehou word, is ’n refleksie op die feit dat daar nie iets soos ’n Afrikaner is nie. Ja, hulle praat almal Afrikaans, maar dis nie eens dieselfde Afrikaans nie.
Enige persoon wat die term “Afrikaner” gebruik, weet eintlik nie waarvan hulle praat nie. Dis ’n term wat gebruik word in plaas van ’n lang verduideliking.
Die Namakwalandse Afrikaans wat by die Rittelfees in Vredendal gebruik word, is anders as die Afrikaans wat by die Woordfees gebruik word, wat anders is as die Kaaps wat by die Suidoosterfees gebruik word, wat anders is as die Suid-Kaaps wat by die KKNK gebruik word, wat anders is as die Mielieboer-Afrikaans wat by Aardklop gebruik word, wat anders is as die Afrikaans wat by …
Daar’s net een mens wat dieselfde Afrikaans by almal gebruik en deur almal verstaan word en dis Karen Zoid.
As daar iemand vandag is wat die verskillende groepe Afrikaners bymekaar kan trek, is dit Karen. Ná jare op rockverhoë het haar televisieprogram op kykNET skielik van haar ’n nasionale held gemaak wat orals welkom is.
Anders as die loopgrawe wat deur Jack Parow en Fokofpolisiekar omgedolwe is, het Karen die valbrug oor die kasteel se moot gebou.
Dis dalk die enigste teken van Afrikaanse samehorigheid wat ons tans kan ervaar en dis die kunstefeeste wat daardie valbrug help bou het.
3 Huisgenoot
Dis vandag moeilik om enige iemand te kry wat vir die Nasionale Party gestem het. Hy het die septer langer as veertig jaar geswaai sonder ’n enkele ondersteuner. As die hoogste bome die meeste wind vang, dan is dit ook die bome wat die hardste val as hulle omgekap word. Gister se held is vandag se verleentheid.
Huisgenoot is presies dieselfde. Niemand lees hom nie, maar sy sirkulasie is steeds meer as 100 000. Wel, niemand loop met die verkoopsyfers te koop nie. Dis makliker om “hoeveel mense dit lees” (meer as 2 000 000 per week) te kry. Wat ons wel weet, is dat Huisgenoot, sy Engelse sussie, You, en sy aangenome boetie, Drum, ’n totaal van 450 000 kopieë per week verkoop. Dis minder as wat Huisgenoot op sy eie twintig jaar gelede verkoop het.
Dit is alombekend dat drukmedia minder en minder verkoop. Ekself, eens ’n groot stryder vir die drukkersink wat jy van jou hande moet gaan was nadat jy jou oggendkoerant gelees het, koop dit deesdae net as daar ’n nuwe hondjie in die huis is en Caxton se gratis Northcliff and Melville Times nie genoegsaam is nie.
Daar is mense wat sterk daaroor voel dat Huisgenoot net goed genoeg is om op die vloer van jou papegaaihok te sit. Daar is wel meer geleerde papegaai wat beswaar daarteen aanteken, maar as jou vlerke geknip is, kan jy seker nie te kieskeurig wees nie.
Feit van die saak is dat almal Huisgenoot lees, maar niemand wil dit erken nie. Almal het dit toevallig by die dokterspreekkamer gesien, dalk by ’n vriend se huis (O, nee! Jy’t vriende wat Huisgenoot lees?) of “gou gekyk terwyl hulle in die tou gestaan het” om hul kruideniersware te betaal.
Kom ons aanvaar dit so. Die grootste tydskrif in die land het niemand wat dit koop nie, net baie mense wat dit lees. Soos The Citizen wat altyd orals gratis uitgedeel word, maar dis ’n storie vir ’n ander keer.
Huisgenoot se assosiasie met Afrikanernasionalisme het seker iets te doen daarmee dat die tydskrif se aanslag konserwatief is. Ek het geen probleem met konserwatief nie. Solank hulle my nie op die neus wil slaan in die kroeg, probeer oortuig om soos hulle te dink nie of aanneem dat ek soos hulle is omdat ek Afrikaans praat nie. So, ek is okay met Huisgenoot. Hulle het agt maande lank my salaris betaal een maal lank, lank gelede, en my bedanking daar was dalk nie my grootste oomblik nie, maar ek het Niel Hamman en Franz Kemp vergewe vir hoe hulle my behandel het.
Maar hier is die grootste en belangrikste ding van Huisgenoot wat almal vergeet: Al sal geen ster of glanspersoon erken dat hulle dit lees nie, is dit die maatstaf waaraan roem in hierdie land gemeet word. En dís wat dit die belangrikste publikasie in die land maak.
In die een jaar waarin ek beroemd was, het ek baie met hierdie sterre te doen gehad. Ek het baie dinge geleer, soos dat daar verskillende vlakke van roem is. So, daar’s ongeskrewe reëls oor met wie jy mag gesels sonder om jouself voor te stel.
In hierdie heilige kringe is roem die enige maatstaf. Wat jy doen om dit te bereik en om dit te hou, maak nie saak nie. Party van hierdie klomp het aan hulle roem vasgehou soos iemand wat met sy naels aan ’n swartbord hang. Die maatstaf om roem te meet in hierdie sirkels was net een ding: hoeveel maal jy op die voorblad van Huisgenoot was.
Daar is gereeld gesprekke, miskien eerder skindersessies, waar een persoon se vermoëns om so gereeld op die voorblad te wees bespreek word.
Party van ons sterre is publisiteitslette. Daai “volgens bronne”, “daar word beweer” en die beste van almal “ingeligte bronne” is sommer baie maal die ster self wat Huisgenoot bel en hom laat weet hoe stout/suksesvol/swanger hulle is.
Ek