Hulle het hom nege jaar gelede met die hand uitgekies. Hy was toe nog die leier van een van die Zimbabwiese sebra-bendes. Met sy behendige meswerk kon Freedom ’n sebrakarkas binne net vyf minute van sy vel stroop.
Met dié vaardigheid verkwis hy nie soos ander renosterstropers tyd om deur die horing te saag of om dit met ’n byl of panga te probeer deurkap nie. ’n Renosterhoring, anders as dié van ’n bok, het nie ’n soliede beenkern nie. Die horing ontwikkel bo-op die laag kraakbeen van die neus, amper soos ’n mens se vingernael. Vir iemand so mesvaardig soos Freedom was dit dus maklik om ’n tegniek te ontwikkel waar hy die horing binne enkele minute van die neus kan lig ná netjiese snywerk om die basis. Tyd bly van die opperste belang by enige stropings-operasie.
Tesame met die baie doeltreffende knaldempers vir die .303’s, wat Theodore-hulle spesiaal in die Kaap laat maak het, het Freedom en sy makkers (sy twee broers en ’n neef) in ’n uitsonderlike stropereenheid ontwikkel. Daarby het Theodore sý taak as die beplanner van operasies tot ’n fyn kuns geslyp, altyd ’n stappie voor die wildbewaarders.
Wat destyds die grootste indruk op hulle gemaak het, was dat Freedom nie wou verklap vir wie hy tot in daardie stadium gewerk het nie. Daar was stories dat ’n klomp wit mans, bekend as die Musina-mafia, betrokke was by handel in sebravelle, en dat hulle op verskeie Zim-bendes staatgemaak het vir hul voorraad. Freedom het ontken dat hy vir hulle gewerk het, maar het verder soos die graf geswyg.
Dit het Theodore oortuig: as Freedom en sy bende ooit betrap word, sal hulle nie praat nie. Boonop het hy hulle verseker hy sal vir hulle die beste regsverteenwoordiging kry en vir die regskoste instaan. Nie dat dit hulle veel bekommer nie. Dit het al ’n grap onder stropers geword oor hoe maklik hulle in die Suid-Afrikaanse howe loskom.
Theodore staan van die kampstoel op en strek sy arms uit bo sy kop. Soms vang die alleenheid en die stilte van die bos hom, al nege jaar sy lewenswyse. Hy skud sy kop. Hy gaan homself nie weer daaroor bejammer nie. Dis ’n keuse wat hy destyds gemaak het, en nou moet hy eenvoudig daarmee saamleef.
Hy stap terug in die tent en strek hom op die bed uit. Die moeilikste deel is om saam te leef met die gedagte dat hy verantwoordelik is vir soveel renosters se dood. Daardie wete knaag al meer soos ’n kanker aan hom.
En nou het hy nog die opdrag gekry om ’n skenking namens die maatskappy aan ’n bewaringsorganisasie te maak. Sogenaamd om hulle “te posisioneer as ’n maatskappy wat omgee vir die natuur”.
Hy sug. Sulke oëverblindery gaan nie help as hulle die dag uitgevang word nie.
* * *
Destyds het die wit hoërskool in die suidweste van Uganda nog minder leerlinge gehad as die laerskooltjie. Die meeste kinders is ná hul laerskoolopleiding Engeland toe. Maar ’n paar welvarende wit boere, onder andere Smiley se pa, het hulle hande diep in hul sakke gesteek om ’n lewensvatbare hoërskool vir die kinders van die Britse setlaars te vestig.
Toe ek sestien was, was daar net sewe leerlinge in ons klas. Vicci was die enigste mooi meisie in die hele skool. Dit was dan ook vanselfsprekend dat sy Smiley se meisie sou word. Hy was aantreklik, intelligent en verreweg die beste sportman. Hy het nie alleen al die atletiekbekers ingepalm nie, maar het ook soms saam met die hardebaarde uitgedraf vir die Kampala-klub se eerste rugbyspan, ’n sportsoort wat die setlaars onder die plaaslike bevokling gewild gemaak het.
Ek was nogal jaloers op Smiley se stories oor wat hy en Vicci alles doen wanneer hulle alleen is. Die seksdaad was destyds beperk tot my drome. In daardie stadium het ek nog nooit eens ’n meisie gesoen nie.
Trouens, toe ek een naweek saam met Smiley en Vicci plaas toe gaan, het ek die eerste keer wit vroulike borste in die vlees gesien. Ek en Smiley het altyd in die buitestort van riet gestort ná ons in die dam geswem het. Op dié Saterdagmiddag het Smiley vir my gefluister hy gaan saam met Vicci onder die stort inklim en dan kan ek deur ’n skrefie in die rietmuur na haar loer.
Ek het met ’n bonsende hart en ’n groeiende ereksie gekyk hoe Smiley haar swemklere uittrek. Die smal skrefie tussen die riete het verhoed dat ek haar onderlyf kon sien, maar die beeld van haar klein, ferm borsies was genoeg om my vir die volgende paar weke skietgoed te gee vir ’n hele klomp nat drome.
Ná daardie dag het ek dit selfs oorweeg om ’n verhouding aan te knoop met die vyftienjarige Monica Davies. Ondanks haar akneeprobleem en diklensbril was ek desperaat vir lyflike kontak. Sy was darem nie te onaardig gebou nie. Maar sy het nie in seuns belang gestel nie. Ek het begin berus daarin dat my regterhand my enigste bedmaat in die afsienbare toekoms sou bly.
Maar in die laaste kwartaal van daardie jaar verskyn daar toe ’n nuwe sendeling se beeldskone dogter op die toneel, kompleet soos in ’n sprokie.
Sophia.
En tóé word my lewe op sy kop gekeer.
5
Die laatmiddag-wintersonnetjie maak patrone op die lessenaar van kaptein Kassie Kasselman in die Nuweland-polisiestasie. Hy pak ’n paar los papiere netjies op ’n hopie en bêre ’n dossier in een van die lessenaarlaaie. Kwart voor vyf. Amper tyd om huis toe te gaan.
Sy gedagtes is nie by die sake waarmee hy tans besig is nie. Hy dink aan sy Kaapse driehoek-seëls wat nou by die wêreld-posseëluitstalling in Australië vertoon word saam met honderde ander bekende versamelaars s’n.
Hy’s gespanne oor wat die beoordelaars daarvan gaan dink. Ook oor die feit dat hy nie daar kan wees nie. Hy hou nie daarvan om van sy waardevolste seëls afstand te doen nie, en sy Kaapse driehoeke het hy nog altyd met groter forensiese sorg hanteer as moordleidrade. Hoewel hy die versekering gekry het dat daar altyd ’n wakende oog by die uitstalling gehou sal word, is dit vir hom nie genoeg gerusstelling nie. Hy sal eers weer kan ontspan as die seëls veilig terug is in sy kluis.
Sersant Rooi Els se onderlangse gebrom by die lessenaar langs syne onderbreek Kassie se gedagtes. Rooi sit kop onderstebo met ’n hoop rekeninge voor hom, die uitdrukking op sy sproetgesig een van uiterste swaarmoedigheid. Hy kyk op na Kassie en skud sy kop. “Bliksis, dis kák om ’n grootmens te wees!”
Kassie moet met moeite ’n glimlag onderdruk. Vandat Rooi twee maande gelede getrou en na ’n groter woonstel verhuis het, het die harde werklikheid van sy nuwe verantwoordelikhede behoorlik ingeskop. Die feit dat Torretjie – Rooi se troetelnaam vir sy vrou – uit haar werk bedank het omdat sy glo ’n hongerloon betaal word, dra by tot sy donker gemoed van die afgelope tyd.
“Torretjie nog nie ’n nuwe job gekry nie?” vra Kassie.
Rooi sug. “Nee, sy’s te verdomp neusoptrekkerig. Intussen moet ons oorleef op my bleddie oortrokke bankrekening.”
“En haar aftreefondsgeld? Sy’t mos redelik lank by daai maatskappy gewerk.”
Rooi snork. “Die grootste deel daarvan het gegaan vir die fokken nuwe yskas en stoof . . . en die tiewie.” Hy lyk dadelik skuldig oor sy bitsigheid. “Wel, ons moes ’n nuwe yskas en stoof kry, en my ou tiewie was so te sê moer toe.”
Die telefoon op Kassie se lessenaar lui. Hy frons. Hy’s nie lus om so kort voor tjailatyd ’n oproep te kry nie, veral omdat dit die luitoon van die stasie se skakelbord is. Dit kan net beteken daar broei iewers moeilikheid.
“Kassie, hier’s ’n vrou wat nét met jou wil praat,” sê Betta van die skakelbord.
Hy sug. “Sit haar maar deur.”
“Hallo, Kassie,” sê ’n vrouestem, “dis Maria wat praat . . . Maria Wolhuter.”
“Maria! Jinne, dis nou ’n verrassing. Ons het eeue laas gesels. Hoe gaan dit met jou . . . en ou Barnie?”
Sy huiwer ’n oomblik. “Dis juis oor hom wat ek met jou wil praat. Hy’t van die aardbol af verdwyn.”
“Verdwyn?”
“Ja . . . dis ’n lang storie. Wil jy my nie ’n vrééslike groot guns doen nie?”