Toe hy agter die stuurwiel inskuif, haal hy sy selfoon uit en bel vir Theodore. Soos hulle ooreengekom het, druk hy die foon dood ná ’n paar luie, bel dan weer.
Die sein is nie goed nie, maar hy kom tog deur.
“Two,” is al wat hy sê.
“Good work,” kom Theodore se stem krakerig in sy oor.
* * *
Ek is op 16 September 1952 in Uganda gebore, in die Kabuwoko-distrik in die suidweste van die land, die seun van ’n Britse egpaar, ’n sendeling en ’n onderwyseres.
My maats was die kinders van die kleinboere in die vallei en die huiswerkers van die handjie vol sendelinge in die omgewing. G’n wonder my eerste woorde was nie Engels nie, maar in die Luganda-kontreitaal: “Wasuze otyanno” (goeiemôre) en “Musula mutya” (hoe gaan dit met jou?). Dié taal is soet en ritmies op die oor, deurspek met ’n gekoer en gehmm. En wanneer die mense lag, doen hulle dit met ’n ongekende uitbundigheid: luidrugtig, handeklappend, op-die-grond-vallend.
Voor ek skool toe is, het my ma menigmale vir my gepreek oor dié gewoonte wat ek by my Ugandese maatjies aangeleer het. “Ons is Westerlinge, ons lag meer bedaard. Wanneer ons eendag terugkeer na Engeland, sal jy jou soos ’n wit seuntjie moet gedra. Anders gaan die kinders jou spot.”
Maar sy was verniet bekommerd. Ek het nooit teruggekeer na Engeland nie. My pa was dolgelukkig in sy aangenome land, ’n man wat sy lewenstaak as sendeling met groot geesdrif en toewyding uitgeleef het. En vir my was Uganda my enigste tuiste.
Die paar keer wat ons vir my grootouers in Manchester gaan kuier het, is van my slegste jeugherinneringe. Die grys, koue lug, die vaal geboue en beknopte huisies was ’n duisend myl verwyder van die blou hemel en wye, grasbedekte heuwels van Uganda.
Op dié heuwels wei daar troppe Ankoles met hul lang horings, die beeste wat volgens besoekende Westerlinge ’n ooreenkoms toon met die tekeninge van buffelagtige gediertes in Egiptiese grafkelders. Op hul skowwe of langs hul hoewe is die alomteenwoordige swerms wit veereiers. Dis hierdie beeld van Uganda wat altyd eerste by my opkom wanneer ek aan daardie tyd dink.
Dit was sorgelose kinderjare, al was skool aanvanklik vir my ’n groot aanpassing. Ek het skielik nuwe maats gehad – wit maats, die kinders van die sendelinge, onderwysers en die paar wit boere in die omgewing.
Een van hulle sou my lewe ingrypend beïnvloed. Of dalk is dit hopeloos te sag gestel . . .
* * *
Carina Vosloo kom verbaas orent toe Theodore by die deur van die groot stoor instap. Sy druk haar hare vinnig reg en stryk selfbewus oor haar effens gekreukelde rok. ’n Warmte stoot in haar gesig op. Sy bloos altyd wanneer hy hier aankom.
Sy weet dis simpel om so oor hom te voel. Sy is seker ’n goeie vyftien jaar ouer as hy, maar hy steek ’n vuur in haar aan. Hy is die naaste wat sy al gesien het aan die Camel-man van destyds se sigaretadvertensies, aantreklik op so ’n ruwe manier: sonbruin, wilde krulhare, stoppelbaard, helderblou oë wat diep in jou siel kyk.
“Ek het jou eers môre verwag,” sê sy.
“Ek was hier in die omgewing. Jou nuwe besending al gekom?”
Sy knik, glimlag. “Jy’s gelukkig, vroegoggend hier geland.” Sy beduie na die oorkant van die vertrek. “Dit staan daar teen die muur. Ek is in my noppies met die verskeidenheid.”
Sy stap saam met hom soontoe.
Hy hurk by die eerste masker. Sy merk hoe sy borshare by die kraag van sy kakiehemp uitpeul. ’n Tinteling rimpel deur haar lyf. Here, die man is ’n testosteroontier!
Hy kyk op na haar. “Ashanti-stam in Ghana . . . raai ek?”
Sy knik. “Het sewe daarvan gekry.”
“Altyd goeie verkopers.”
Hy kom regop en loop verder, steek vas by nog ’n masker. “Nogal iets besonders.” Hy buk af en streel liggies met sy vingertoppe oor die hout.
Carina sluk. Wat sal sy nie gee om deur daai ruwe hande bevoel te word nie!
“Dis ’n baie oue van die Masai in Kenia. By die draai van die vorige eeu gemaak,” sê sy.
Hy knik. Sy oë flits oor die vier-en-sestig maskers. “Right, ek vat die hele lot.”
“Altyd ’n plesier om met jou sake te doen, Theodore,” sê sy met haar mooiste glimlag. “Hoe klink afslag van tien persent vir jou?”
“Wat van vyftien?”
Haar hart spring. Daar is fyn lagplooitjies langs sy oë.
“Onmoontlik om vir jóú nee te sê.” Amper sê sy dit sou geld vir álles wat hy van haar vra.
By die toonbank tel hy die note af. Hy betaal altyd kontant, wat hom verreweg haar gunstelingklant maak.
“Nolte sal dit Maandag kom oppik wanneer hy ons volgende besending Kaap toe vat. Sal jy weer so gaaf wees om die agtergrond van elke masker vir my neer te skryf?”
“Natuurlik. Deel van my diens.”
Hy lyk haastig, maar sy probeer desperaat om hom ’n rukkie langer daar te hou.
“Wat van ’n koue bier? Musina is weer vrek warm vandag, mens sou sweer dis somer.”
Hy weifel, maar skud dan sy kop. “Ek sou graag wou, Carina, maar ’n Mosambieker kom lewer krale by my plek af. Ek sal moet ry.”
Sy hou sy lang figuur dop soos hy wegstap. Hy spreek haar naam altyd met soveel teerheid uit . . .
Sy móét ’n plan maak om by sy blyplek uit te kom. Sy dreig al so lank om dit te doen. Hy moet seker bitterlik alleen wees daar. So tussen die bosse kan hy dalk net . . .
2
Werner Erwee swets. Vir hierdie dag het hy nie krag nie. Hy vee sy klam voorkop droog met sy sakdoek. Die wind waai plastieksakke en papiere teen die sypaadjies en geboue in Musina se stowwerige hoofstraat. Nog nie eers tienuur nie en al bloedig warm. Vanoggend op pad van Vaalwater af het hy die voorspelling oor die karradio gehoor: drie-en-dertig grade in die skadu. En dit in die middel van die winter!
Sy bestemming is ’n vaalgrys geboutjie wat ingedruk staan tussen ’n spaza shop en Mabel’s Massage Parlour & Hair Saloon. Die naam bo die tralievenster lees moeilik, die spasies tussen die rooi letters te klein: International Endangered Species Agency (IESA).
Dalk is hy te vroeg, dalk moet hy nog ’n kwartier in die kar wag? Of probeer hy maar net nog ’n bietjie tyd wen voor hy die nuus moet gaan oordra?
Werner skud sy kop. Hy moes hom nooit in dié ding begewe het nie. Destyds toe Tim hom uit die bloute die aanbod gemaak het, het hy gedink dis goed vir sy beeld – hy het toe nog parlementêre aspirasies gehad. Nou is die hele besigheid net ’n meulsteen om sy nek. Hy het nog nooit in die bewaring van bedreigde dierespesies belanggestel nie. Tot voor sy aftrede was hy ’n ouditeur, syfers was sy kos. Sy politieke drome was gefokus op die bydrae wat hy tot die land se bankbalans kon maak.
Maar Tim se oproep uit Amerika het hom gevlei. “Jy’s die enigste onkreukbare Suid-Afrikaner wat ek ken, Werner,” het Tim gespot.
Feit van die saak is, hy is ál Suid-Afrikaner wat Tim ken, sedert hulle as studente kamermaats in die koshuis was toe Werner met ’n beurs in Amerika gestudeer het.
“Die posisie is nie dié van ’n uitvoerende hoof in die tradisionele sin van die woord nie. Dit sal min van jou tyd in beslag neem,” het Tim verduidelik. “Jy sal bloot namens IESA in Suid-Afrika ’n ogie hou oor die geldsake. Die bestuursbeampte sal die operasionele kant hanteer.”
In die praktyk het dit nie so gewerk nie. IESA se donateurs is skatryk en invloedryke Amerikaners met ’n groot passie vir die saak. Hulle wil met niemand anders as die “chief