“Ek dink dit nie net nie, ek het reeds iets in die joernaal raakgelees wat duidelik daarop dui dat hy hier by ’n vrou betrokke was. Ek moet net uitvind wie sy was.”
Hy pers sy lippe saam. “Hmm, nou ja, hopelik gaan jy genoeg bewyse kry, want jou hele hipotese hang daarvan af.”
Diana se styfgesnaarde spiere ontspan nog nie. “Die joernaal moet gerestoureer word voordat ek daarmee kan werk.”
“Gerestoureer? Is dit so verweer?” Sy wenkbroue boog boontoe.
“Ja, maar blykbaar is die bib se restoureerder vreeslik bekwaam.”
Hy kyk haar deursoekend aan terwyl hy aan sy pen kou.
“Dis nie ’n onoorkomelike probleem nie.” Sy hoop nie so nie. Kyk hom stip in die oë.
“Goed dan. Laat maar net weet as jy vashaak.”
Moet sy hom vertel van die beroemde biograaf van Oxford wat ook die joernaal wil sien? Nee, nie nou al nie. Hy sal wel een of ander tyd van dié indringer te wete kom.
Sy staan op en neem haar sak. Dankie tog, dit is verby. Sy het so gestres.
Terry loop saam met haar na die deur en maak dit vir haar oop. Diana steek vas. Voor Erna se lessenaar staan ’n lang man met dik vosbruin hare. Sy koningsblou hemp span oor sy breë skouers.
“Professor Swales, dis professor Alex Erskine van Oxford. Hy het nie ’n afspraak nie, maar hy sê hy wil graag met u kom praat,” sê Erna opgewonde. “Hy het by die biblioteek gehoor van Diana se studie en is dit nou nie wonderlik dat Diana ook sommer hier is nie?” Sy is skoon asemloos en maak groot oë. “Hy’s glo ’n beroemde skrywer.” Sy sê die laaste stukkie in Afrikaans voordat sy weer oorslaan na Engels en hulle voorstel.
Diana se asem stok in haar keel. Dit is die indringer wat sy nog heeltyd vrees.
Vervaard kyk sy na die man wat na haar draai. Hy is langer as sy en buk effens vorentoe om haar hand te skud. Dit skep die indruk dat hy hom moet verlaag om dit te doen.
Uit die hoogte kyk hy af na haar. Sy skat hom so Terry se ouderdom, of dalk ’n bietjie jonger. Sy kil oë is so blou dat dit turkoois lyk. Sy het nog nooit sulke opvallende oë gesien nie. Daar is fyn waaierplooie langsaan. Sy neus is smal en reguit, sy lippe goed gevorm maar die mond glimlag nie. Sy onbetwiste manlikheid en viriliteit is oorweldigend, maar hy kom erg meerderwaardig voor. Sy deurdringende en kritiese blik grief haar.
Liewe hemel, haar ingewande verander in jellie.
“How do you do, Miss Malan.”
“How do you do, Professor Erskine.” Die man praat die Engels van die hoër stand, met ’n sweem Skotse brogue. Dit is mooi. Sy diep stem ook.
Terry frons, maar hy skud die biograaf se hand, nooi hom by sy kantoor in. “Diana, jy beter ook insit as dit oor jou studie gaan,” sê hy vir haar.
Terry gaan sit agter sy lessenaar en sy en Alex neem elk hul plek op ’n stoel oorkant hom in.
“Professor Bastiaanse van die JS Gericke-biblioteek het my na u verwys, professor Swales,” sê die Skot. “Ek skryf ’n biografie oor AA Sutherland en stel belang in die joernaal wat hier ontdek is. Ek verneem dat juffrou Malan beplan om ’n studie daaroor te doen.”
Alex Erskine draai sy gesig na haar. “Jy wonder seker waarom ek al die pad hierheen gekom het. AA Sutherland is my oupagrootjie. Ons het al sy joernale opgespoor, maar een wat moes handel oor sy tyd hier aan Victoria Kollege is nooit gevind nie. Die joernaal wat hier ontdek is, is die vermiste skakel. Ek moes dit so gou moontlik sien en terselfdertyd kom kyk hoe lyk die omgewing waar Sutherland twee jaar lank gewerk het.”
Hy kyk sowaar onbeskaamd na elke aspek van haar. Sy blik toer van haar hare tot by haar paar plat swart skoene.
“Is u werklik AA Sutherland se agterkleinkind?” Net nadat sy dit gesê het, voel sy onnosel. Onbeholpe. Dit is mos wat hy pas gesê het. Dit kos moed om in daardie skroeiende oë te kyk, maar sy kyk nie weg nie.
“Ja, en ek is reeds halfpad met my biografie oor hom. Duidelik is daar nou groot leemtes.”
Beskaam is haar hoop dat sy darem ’n ruk lank rustig – alleen – aan die joernaal kan werk. “Die joernaal is nog in stukkies en moeilik om te lees.”
Hy frons. “Ja, ek hoor so. My ma en ouma is baie nuuskierig oor dié joernaal. My ouma, Sutherland se dogter, lewe nog, maar sy is bejaard en bedlêend. Die familie woon al meer as ’n eeu lank in Sutherland House in Edinburg.”
“Maar jy is in Oxford?” vra Terry.
“Ek wás verbonde aan Edinburg Universiteit maar ek het vyf jaar gelede ’n pos aan Oxford aanvaar.” Alex kyk net vlugtig na haar promotor voordat hy weer sy aandag op Diana vestig.
Hy het nog nie een keer geglimlag nie. Kyk net na haar asof hy dwarsdeur haar kan sien. Sy voel soos ’n kat wie se hare in die verkeerde rigting gevryf word.
“Ek verneem jy is nog net heel aan die begin van jou proefskrif?” Oë onder halfmasooglede bestudeer haar.
Al ontketen dié man ’n vreemde dreuning in haar hart, gaan sy hom dit nie laat agterkom nie. “Ek het al heelwat navorsing gedoen en redelik ver gevorder,” sê sy koel. “Maar ek het ook besef daar is ’n vermiste skakel in Sutherland se werk. Ek soek inligting oor die vrou vir wie hy liefdesgedigte geskryf het en ek vermoed sy word in die joernaal genoem.”
Sy kilheid verdwyn en sy oë verskerp van belangstelling. “Het jy al leidrade gevind?”
“Ja, maar onthou die joernaal is nog flenters.”
Hy knik, met sy oë steeds stip op haar gerig. Sy voel asof sy onder ’n kollig staan voor ’n kritiese gehoor, maar sy het haar woorde vergeet. ’n Vreemde hitte trek deur haar lyf en sy hoop haar gesig word nie rooi nie.
Terry tel sy foon op en skakel. “Erna, bring asseblief vir ons tee. Wag eers … professor Erskine, Engelse tee of rooibos, wat ’n kruietee is, of koffie?”
Dit klink vir Diana asof Terry sy irritasie probeer wegsteek. Sy loer na hom. Sy lippe lyk dun en sy oë skerp. Is hy kwaad oor dié man nou hier aankom en hulle sal steur, of sien hy dat die vreemdeling ’n oorweldigende invloed op haar het?
“Ek hou nie juis van kruietee nie. Engelse tee vir my, asseblief.”
Terry kyk van hom na Diana. “En jy?” Dit klink asof hy blaf.
“Ook Engelse tee, dankie.”
Terwyl Terry aan die bestel is, is Diana bewus daarvan dat die besoeker haar openlik betrag. Sy is so verleë dat dit voel of haar vel kriewel. Haar wange gloei.
“Juffrou Malan, sal jy my asseblief die Ou Hoofgebou gaan wys?” vra Alex Erskine. “Ek wil graag die voormalige Victoria Kollege sien waar AA Sutherland klasgegee het.”
Die besoeker kyk dwingend na haar. “Het jy vandag tyd daarvoor? Ek kan nie wag om dit te sien nie.”
Dit is die laaste ding wat sy nou wil doen. “Ek sal ongelukkig eers môre beskikbaar wees.”
Waarom kyk hy heeltyd so af na haar? Wat dink hy as sy so verspot bloos?
Sy sien hy glimlag net so effentjies asof hy haar onwilligheid raaksien en dit hom amuseer. “Ek is bereid om tot môre te wag. Intussen sal ek die gehuggie gaan verken.”
“Gehuggie? Stellenbosch is lankal nie meer ’n gehuggie nie. Sal ons drieuur ontmoet? Hier?”
“By die ingang van die Letteregebou sal goed wees, dankie.”
Erna kom in met ’n skinkbord tee en ’n melktert. Sy moes die tert vinnig laat haal het. Sy sit die skinkbord op die tafel neer. Deel koppies en bordjies uit, sny die melktert, skink en gee aan, maar kyk deurentyd die vreemde professor met openlike ontsag aan totdat sy die vertrek verlaat.
Diana beskou hom diskreet dog noukeurig.