Diana kan omtrent haar hande wring. “Gou. Dadelik. Daar is leemtes in my navorsing. Sutherland het ’n klomp liefdesgedigte geskryf vir ’n vrou wat hy vermoedelik hier ontmoet het. Sy is soos die dark lady of the sonnets in Shakespeare se werk. Daar is ’n duidelike onderskeid te bespeur tussen haar en die vrou met wie hy in Skotland getrou het. Hopelik het hy in dié joernaal van haar geskryf.”
Die punt van Anna se lang voorvinger met die knobbelrige litte gaan na haar ken. “Ag, is dit nie romanties nie?”
“Kan ek die joernaal asseblief eers bekyk voordat ons dit aan die restoureerder oorgee?”
Anna huiwer, maar knik dan. “Sit solank hier en kyk daarna. Maar wees tog asseblief versigtig. Jy sien hoe stukkend dit is. Ek gaan gou met ons direkteur hieroor praat.”
Diana gaan sit op die stoel en kyk gretig na die titelplaat waarop staan: Alexander Armstrong Sutherland, MA (Edin.). Versigtig skei sy die eerste bladsy van die tweede. Skrik toe ’n frummeltjie van die bros papier losbreek. Sy maak uit: February 1st 1909. Today is my first day as Assistant in Classics and English at Victoria College, Cape Colony, Africa.
Hoe het die historiese klein Stellenbosch van sy tyd gelyk? Sy sien in haar verbeelding ’n sonnige dorpie tussen berge, met witgekalkte geboue, stofstrate, ruiters, perdekarre en vroue in lang rokke. Heel anders as Sutherland se plek van herkoms: reuse, eeue oue, besoedelde Edinburg met sy imposante kasteel wat onverbiddelik van bo teen die berg afkyk op die mensemassa wat die alewige koue reënweer moet trotseer. Wat nou die Ou Hoofgebou op die Universiteit van Stellenbosch se kampus is, sou toe nog die splinternuwe Victoria Kollege gewees het. Daar rondom sou die kampus wat vandag toegebou van die hoë strukture is, nog meesal onbebou en vol woonhuise gewees het.
Versigtig blaai sy. Dan snak sy skielik na haar asem.
Shall I compare thee to a summer’s day?
Thou art more lovely and more temperate.
Shakespeare se woorde is nie verniet hier nie. Dit besing ’n vrou.
Sy is te bang om verder te blaai en nog skade aan te rig. Haar hande huiwer oor die joernaal. Stemme by die deur laat haar skuldig omkyk. Professor Julius Bastiaanse, die lang, grys en vernaamlykende direkteur van die biblioteek, is by Anna Theron.
“Môre, juffrou Malan. Ek hoor Anna het iets wonderliks ontdek.”
“Ja, professor, dis ’n kosbare ou joernaal, maar ongelukkig is dit flenters.”
“Anna sê my jy dink dit bevat inligting wat noodsaaklik is vir jou proefskrif?”
“Ja, ek het reeds iets gesien wat ek in my proefskrif kan gebruik, professor.”
Hy klik met sy tong terwyl hy die joernaal beskou. “Allamagtig. Ek dink dit sal selfs vir meneer Erdeman ’n uitdaging wees om hierdie verflenterde publikasie te red. Maar ons sal hom vra, en dan kyk ons.”
“Dankie, professor. Ek sal meneer Erdeman natuurlik soveel moontlik help.”
Hy frons, met sy hand oor sy mond, asof iets hom byval. “Weet jy, daar is ’n vermaarde biograaf van Oxford wat ook oor dié skrywer werk, wat onlangs by ons inligting gesoek het. Ek sal hom van dié vonds moet vertel. Hy gaan dit natuurlik wil sien.”
Skok trek in ’n ysige vlaag deur Diana. Gaan daar nou iemand kom inmeng met haar groot vonds? ’n Nuuskierige vreemdeling wat ook ’n kleim kom afpen?
“Ek is nou jammer as dit lastig sal wees,” sê professor Bastiaanse simpatiek. “Maar ons kan tog nie weier dat dié man ook insae kry nie.”
“Nee, seker nie.” Sy wil skree van frustrasie. “Wie is dié biograaf?”
“Professor Alexander Erskine. Hy is ’n wêreldkundige en ons het ’n hele aantal van sy boeke en artikels op ons stelsel.”
Verstom kyk sy na professor Bastiaanse. “O … ek weet van hom.” Natuurlik, enigeen wat met Engelse letterkunde werk, weet van Alexander Erskine. “Ek … almal … moet hom gedurig naslaan. Sy biografie oor die digter Yeats is die beste waarvan ek weet.”
Dié gerespekteerde, wêreldbekende akademikus wat deur almal aangehaal word en wie se boeke wyd en syd voorgeskryf word, gaan soos ’n dwarrelwind toeslaan en verwag dat sy, wat net ’n PhD-student is, vir hom moet agteruitstaan.
Nadenkend ry Diana laatmiddag met die Helshoogtepad op en laat die dorp met sy swaar middagverkeer agter. Simonsberg kan ’n mens op ’n sonskyndag soos vandag vrolik verwelkom, soos ’n koketterige vrou. Anders as in die nag, wanneer dit pikswart en monsteragtig opdoem met net hier en daar ligte wat flonker van plekke waar mense tuis is. Vandag wuif die bome en die fynbos. Die herinnering van haar ouers se noodlottige ongeluk op die ou Helshoogtepad, net onderkant die nuwe een waarop sy elke dag kampus toe en terug moet ry, reik sy ou tentakels na haar toe uit. Hulle motor het by die afgrond in die bos in neergestort. Albei is op slag dood.
Sy moes ná die tyd hoor dat haar geliefde pa onder die invloed bestuur het en vir ’n aankomende motor se skerp ligte uitgeswaai het. Dit het haar lank geneem om daarmee vrede te maak. As sy nou terugkyk, weet sy dat die gewig wat sy van graad tien af begin optel het, as gevolg van haar gemoedstoestand was. Kos was ’n troos. Sy was lusteloos en wou nie meer aan sport deelneem nie. Dis eers op universiteit dat sy haar pa vir dié een onbesonne daad vergewe het en weer beter na haar gesondheid begin omsien het. Hy was immers ’n wonderlike pa.
Op die kruin van die pas draai sy uit na Hoogeland bo teen die hang. Deesdae ry sy ’n gerieflike ent op ’n plaaspad wat die buurman, Marcus Thompson, tot by sy groot hek laat plavei het sodat verkeer na sy wynkelder nie in die stof hoef te ry nie. Van daar af ry sy maar weer op ’n stofpad tot by Hoogeland se ingang. Hulle kan nie bekostig om hulle stuk pad te plavei nie.
Diana maak die outomatiese plaashek met die afstandbeheerder oop en kyk hoe die veiligheidstralies rammelend oopskuif. Sy word begroet deur die reuse-eike wat lang skaduwees oor die pad gooi, die roostuin met sy spatsels kleur. Vandag hol daar weer ’n eekhoring voor haar motor verby teen een van die knoesterige ou stamme op. Hy vries eers en betrag haar met ondersoekende kraalogies. Sy moet altyd versigtig wees om nie een raak te ry nie. Sy het nog altyd gewonder of die diertjies individuele mense herken. Hulle is ewe veel boorlinge van Hoogeland as sy, die familie, die troeteldiere en die Adamse.
Sy parkeer by haar motorhuis en stap rustig tot by die hekkie en die geplaveide paadjie. Bokant die breë trappe staan die voordeur oop. In die groot goueraamspieël in die portaal loop ’n lang, skraal meisie met donker hare, geklee in ’n styfpassende swart langbroek en wit linnehemp, haar tegemoet. Dié spieël is bevolk met baie mense, dink Diana. Hulle beelde word in sy hart bewaar. Haar ma en pa is ook daar. Ewig jonk en sterk, hy met sy donker hare, diepbruin oë en breë skouers waarop sy dikwels as kleuter gery het; sy met haar fynbesnede gesig, slanke lyf en welige donkerbruin hare.
“Hier is ek, my darling,” hoor sy ouma Jeanne se stem uit die sitkamer roep.
Churchill, haar ouma se bejaarde en vet Engelse bulhond, verskyn met ’n onwillige blaf in die deur. Kwyl loop verby sy tong en woeste tande. Diana vryf eers die geplooide kop en word waarderend natgelek. Daarna gaan soengroet sy haar ouma, wat met ’n Agatha Christie-boek in ’n leunstoel sit, leesbril laag op haar neus.
“En toe? Hoe was jou dag?” vra haar ouma, en kyk bo-oor haar ronde brillense na haar kleindogter.
“Ek het ’n wonderlike ding oorgekom, Ouma. Een van die bibliotekaresses het in ’n ou kas ’n joernaal ontdek wat Sutherland hier in Suid-Afrika gehou het. Al sy ander joernale is mos in Edinburg.”
Haar ouma se oë word groot. “Ek kan dink dat jy opgewonde is. Kon jy dit lees?”
Diana sug, plof in ’n stoel neer en plaas haar skootrekenaar langs haar op die vloer.
“Net ’n bietjie daarvan. Daar is ongelukkig ’n probleem. Dis so oud dat dit vreeslik verweer is. Amper onleesbaar. Meneer Erdeman, die bib se