Geheime liefde
Malene Breytenbach
Satyn
1
Diana het pas by haar kantoordeur aangekom toe sy die telefoon binne hoor lui. Sy sluit vinnig oop, sit haar boekesak neer en gryp die gehoorbuis.
“Diana, jong, jy sal nie glo wat nou gebeur het nie.”
Die bibliotekaresse se stem is nie vanoggend temerig soos gewoonlik nie, maar skril van opgewondenheid. Sy groet nie eens nie. Begin sommer praat.
“Hallo, Anna. Wat het gebeur?”
“Ek het nóg ’n boek gevind oor daardie skrywer AA Sutherland. Dit was by die ou Victoria Kollege-goed wat ons hier in die kluis bêre. Maar dié een is anders.”
Diana se hand verstyf om die gehoorbuis. “Waarom is dit anders?”
“Dit lyk na ’n joernaal, in Sutherland se eie handskrif.”
Diana se asem slaan byna weg. “Jy bedoel … ’n dagboek? Ek het gedink al sy persoonlike goed en manuskripte is in Edinburg se universiteitsbiblioteek.”
“Is dit nie wonderlik nie? Om te dink dat ék die een is wat dit ontdek het.”
“Jy’s ’n ster, Anna. Ek kom dadelik kyk.”
“Ek moet jou waarsku, daar’s ’n probleem.”
“Ag nee. Wat?”
“Jy mag dalk skrik as jy dit sien, dis baie oud en verweer. Maar ja, kom kyk liewer self.”
Diana se asem jaag behoorlik. Gelukkig gee sy eers oor ’n uur haar eerste lesing en is sy nie heeltemal onvoorbereid nie, al wou sy die werk nog ’n slag oorgegaan het. Soos blits gryp sy haar sak, sluit haar kantoordeur en haas haar by die gang af na die trappe. Vandag voel dit eindeloos ver van die vyfde vloer na die grondvloer. Sy spring die trappe twee-twee af, verby mense wat verstom toekyk, hardloop omtrent by die ingang van die Letteregebou uit en oor Ryneveldstraat na die middel van die kampus.
Is hierdie dalk die verlore stuk van die Sutherland-legkaart? Sy het al soveel stof oor hom gekry maar iets ontbreek nog. Iets wat baie belangrik sal wees en meer lig sal werp op sy verblyf hier op Stellenbosch. Iets wat sy moet vind om die gapings in haar proefskrif oor Sutherland te vul, sodat sy haar PhD in Engelse letterkunde kan behaal. Sy is omtrent paniekerig haastig. As Beryl Makin háár proefskrif eerste afgehandel kry, verloor sy wat Diana is waarskynlik die wedloop om ’n permanente pos wat vereis dat die kandidaat ’n doktorsgraad moet hê. Hulle moet sowaar ook onder dieselfde promotor werk, en sy kan raai dat Terry Swales vir Beryl gaan voortrek.
Diana móét eenvoudig daardie pos kry. Haar finansiële situasie is tans so benard dat sy die hoër salaris dringend benodig. Beryl is ambisieus, maar haar familie is ryk en sy is nie finansieel in die knyp nie, te oordeel aan die nuwe Honda wat sy ry en haar tuinhuis in die gesogte Oewerpark langs die Eersterivier. Dit kom al van hulle eerste jaar af, dié wedywering. Maar hulle is mos darem nie meer voorgraadse studentjies nie! Kan Beryl nie vir haar wat Diana is ’n slag iets gun nie? O nee, Beryl wil haar nie net probeer uitstof op akademiese gebied nie, maar ook wat mans betref. Kyk nou net vir haar en Terry Swales … Beryl is nie popmooi nie, maar daar is iets baie sexy omtrent haar. Blykbaar vind die meeste mans haar fassinerend. Sy toor met die manstudente vir wie sy klasgee. Diana verkies om hulle op ’n vriendelike en professionele afstand te hou, anders vat hulle dalk kanse met haar.
Diana breek nie haar spoed by die skuinste wat na die ondergrondse JS Gericke-biblioteek se ingang afloop nie. Haastig vleg sy deur die klompie studente wat op- en afloop. Hoeveel ure het sy nie al in dié plek deurgebring nie? Al haat sy die gevoel van geslotenheid wat dit haar altyd gee. Dit was wel ruimtebesparend om die biblioteek onder die kampus se sogenaamde Rooiplein te bou, maar vir haar voel dit of ’n mens hier sowaar ’n kerker vol gevangenes betree.
Sy gebruik haar personeelkaart om by die toegangsbeheerhekkie in te gaan. Die onnatuurlike atmosfeer wat deur die buisligte vanaf die ingangsportaal tot by die Africana-afdeling en die Sentrum vir Spesiale Versamelings geskep word, laat haar altyd voel dat sy geblikte lug inasem.
Die verkeer deur die toegangsbeheer, verby die toonbanke, na die rekenaars en die lessenaars waar mense sit en studeer, is swaar dog gedemp. Hier en daar lag en gesels studente en personeel, maar hulle doen dit suutjies. By Spesiale Versamelings pyl sy reguit op die lessenaar van die ouderwetse, maer en bebrilde Anna Theron af, wat opkyk toe Diana half uitasem voor haar gaan staan.
“Jy’s vinnig hier.”
“Sjoe, ek het gehardloop. Kon nie gou genoeg maak nie.”
Anna staan op en kom agter haar lessenaar uit. Vlugtig registreer Diana die plat skoene, die romp wat onderkant die knieë eindig.
“Kom ek gaan wys jou. Ek het dit ontdek in een van daardie ou kassies waar die Victoria Kollege-boeke gehou is. Dit was heel agter in ’n hoekie. Ek wou die kas skuif, want dit was in die pad, toe hoor ek iets los rammel daarin.”
“Dis ’n wonderwerk. Hoekom sê jy ek sal skrik om dit te sien?”
Anna Theron loop vooruit. “Jy moet net sien hoe sleg dit lyk.”
Diana volg haar met beklemming. Elke keer as sy hier kom, verwonder sy haar aan die historiese foto’s, aan die kopie van die getekende Unilateral Declaration of Independence van ou Rhodesië en die waardevolle skilderye deur beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Irma Stern, wat met helder gele, rooie en bloue kleur aan die andersins vaal skemerte van dié stil enklave gee. Vandag sien sy dit skaars raak.
Anna Theron sluit die deur van ’n agterste vertrek knarsend oop. Diana word soos dikwels voorheen oorweldig deur die muwwerige reuk van ou leer en papier in die rakke vol antieke hardebandpublikasies. Die bibliotekaresse gaan na die enorme grys veiligheidsdeur van ’n kluis, sluit dit ook oop en trek aan ’n groot staalhandvatsel. Die deur sug op geoliede skarniere oop. Sy skakel ’n lig aan wat grys bokse, kunsvoorwerpe en nog antieke boeke uit die donker rakke te voorskyn bring.
“Ons hou die kosbaarste goed hier, of dié wat gerestoureer moet word.”
Diana stamp haar voet met ’n dowwe slag teen ’n kas. Ons Spreekuur Archieven staan in goue letters daarop geverf.
Anna beduie daarna. “Dis in dié ding dat ek die boek ontdek het. Ek weet nie hoe niemand dit al voor my gevind het nie. Elke departement in die ou Victoria Kollege het een van hierdie kaste gehad. Dit het gedien as hulle biblioteke voordat die CL Marais-biblioteek gebou is. Deesdae hou ons die ou goed in die suurvrye lêers in die kompaktus, anders vergaan die papier. Ek het die joernaal voorlopig in een van ons bewaarbokse gesit, want dit sal gerestoureer moet word.”
Anna trek ’n boks uit ’n rak en dra dit na ’n klein houttafeltjie langs ’n outydse stoel met ’n hoë rugleuning en dun pootjies. Sy blaas oor die boks sodat ’n bietjie stof opdwarrel wat Diana se neus laat kriewel, maak ’n gespe los en lig die deksel. Diana ruik ou leer, muf en vermolmde papier. Sy bewe skoon, so gretig is sy om die inhoud te sien. Anna staan terug en laat haar kyk. Die dun boek het ’n omslag van maroen leer en die woorde AA Sutherland, Journal is in vae goue letters daarop gedruk. Dit lyk erg verslete, die hoeke weggevreet en die rug stukkend. Haar hande jeuk om daaraan te vat, maar sy weet sy mag nie. Die bibliotekaresse lig dit uiters versigtig uit en maak die voorblad met haar vingerpunte oop.
Diana voel asof haar bloed verys. Die papier binne die omslag is so bros dat dele van bladsye lyk of dit uit brokkies geel perkament bestaan. Alles is verkleur van die ouderdom, bruin gevlek, melaats. Op die leesbare dele is fyn, krullerige, outydse skrif in ink wat bruin en dof geword het.
“Sien jy?” sug Anna. “Dis in ’n vreeslike toestand.”
“Hoe op aarde gaan ek dit lees?” vra Diana en raak liggies met een voorvinger aan die kurkdroë, verweerde papier. Sy voel sy kan in trane uitbars.
Anna se brillense blink in die lig. “Toemaar, ons het mos vir meneer Klaas Erdeman. Ken jy hom?”
“Nee, wie’s hy?”
“Hy’s ons restoureerder