“En jy is in jou hart oortuig dat ek nie ’n vrou en ma kan wees nie?” Sy druk meteens teen hom aan, laat haar arms om sy nek gly. “Jy is nie baie regverdig nie, of hoe, my skat? Het jy al ooit aan my probeer dink as jou vrou en die ma van jou kind?”
Nou is hy bleek en staan stokstyf in haar omhelsing.
“Paula, ’n vrou soos jy … julle soort is nooit goed vir ’n man nie. Julle breek ’n man en los hom dan …”
“En Petra se soort? Hulle is die betroubare, die goeie, en daarom trou jy liewer met een van haar soort, al het jy haar nie regtig lief nie.”
“Ja. Ek trou liewer met ’n vrou vir wie ek die wêreld se respek het en op wie ek kan vertrou, as met een wat …”
“… jy liefhet, maar bang is om te vertrou?”
Hy trek sy asem in, sê dan byna bars: “Nou goed. As dit dan in woorde gesê moet word. Ja, ek trou liewer met Petra, al …”
Haar vingers knel stywer agter sy nek en die begeerlike liggaam is styf teen hom, die pragtige blou oë pleitend, swemmend. “Sê dit dan net een keer, Eugene. Net één keer! Asseblief!”
Sy hande gaan eindelik om haar skraal liggaam en sy stem is skor: “Al is jy soos ’n vuur in my are en kan ek aan niemand anders as jy dink nie! Goed. Ek het dit nou gesê. Laat my nou gaan.”
“Soen my net een keer, asseblief, Eugene. Soos jy my al in jou drome gesoen het. Net één keer!”
Petra sien sy mond met byna ruwe geweld op haar suster s’n neerkom, en sy draai om, weet nie eens dat sy terugstap na haar motor, inklim en wegtrek nie.
Dis eers toe sy die koppie bereik waar ’n mens oor die stad kan kyk, dat sy bewus word van die omgewing om haar. Sy klim uit, stap na die krans wat so pylreguit na benede stort. Sy kyk af. Hoe ver en diep lê die groen gras daar onder. Maar hier digby haar staar die ruwe bergkruin grynslaggend met oopgesperde draketande na haar op.
Dis baie laat die aand dat sy weer haar ouerhuis binnestap. Met dankbare verligting kyk haar ouers op en haar ma stap vinnig nader: “My kind! Ons is al byna rasend. Waar was jy?”
Waar was sy? Êrens in die hel. “Ek het sommer ’n entjie gaan ry om … om te dink.”
“Wat het jy daar onder die arm?” Paula tree nader.
Sy kyk met uitdrukkinglose oë na haar mooi suster.
“’n Rok. ’n Nuwe rok wat ek vir my gekoop het. Wil jy sien?” Sy maak dit oop, hou dit omhoog en haar suster se uitroep van bewondering laat ’n harde glimlaggie na haar lippe kom, net so hard soos haar oë. “Dis mooi, nè? En peperduur. Ek het dit met tant Petronella se erfgeld gekoop.” Dan draai sy na haar ma. “Ek wil nie eet nie. Ek is moeg. Ek gaan slaap. As Eugene bel, sê vir hom ek slaap. Ons kan môre … praat.”
“Jou rok …”
“Vat dit maar vir jou, Paula.”
3
Dokter Eugene Minnaar het vandag blykbaar baie om oor na te dink, want hy is stil en ingetoë in die operasiesaal. Hy moet ’n paar ernstige operasies uitvoer – dalk is dít die rede. Die suster voel dit aan en trek haar stilswyend terug agter haar groen masker en oorjas.
Eers toe hy al sy operasies afgehandel het, kyk hy haar die eerste keer reguit in die oë.
“Dankie, suster Prinsloo.”
Sy gee net ’n kort kopknikkie, draai om na die wasbak om weer vir die volgende operasie te begin skrop. Hy staan ’n oomblik aarselend in die deur, draai dan om, neem sy baadjie van die haak af en begin met die gang af in die rigting van die sale stap.
Nie hy of enige van die ander dokters wat sy langs die operasietafel bystaan, beleef haar anders as bekwaam soos gewoonlik nie. So hoort dit mos ook. So is sy opgelei. Wanneer jy langs die operasietafel staan, bestaan persoonlike gevoelens nie. Maar afgesien van dít wat deur die jare heen by haar ingeburger is, snel iets anders haar ook vanoggend te hulp – ’n koue doodsheid wat haar van elke emosie stroop. Sy is soos ’n robot, ’n lewende lyk wat reageer sonder enige wil van haar eie.
Só kom sy die dag aan diens en gaan later met dieselfde vreemde gevoel van onwerklikheid huis toe, asof sy buite haarself leef. Net een keer ervaar sy iets soos gevoel – ’n pynlike sametrekking van die hartspiere – toe sy by die hoofingang uitstap en die man wat eenkant staan en wag, haar aandag trek.
Dit verstil weer in haar en sy probeer hom nie vermy nie. Sy stap eerder reg op hom af.
“Ek het op jou gewag.”
Sonder ’n woord klim sy in die motor en hy kyk haar ietwat verbaas aan. “Wat van jou motor? Het jy nie vandag …?”
“Ja. Ek het.”
Hy frons nou diep en daar is kommer in sy oë. “Is … makeer daar iets, Petra?”
“Nee, maar daar is iets wat ek jou wil sê.”
“Ja?”
“Ek gaan weg.”
“Weg? Hoe bedoel jy?”
“Ja. En ek wil hê ons moet liewer vergeet van alles wat tussen ons … e … gesê is.”
Sy frons is nou diep, sy oë skerp. “Wat bedoel jy?”
“Jy moet van my vergeet.”
“Petra! Wat? Luister …”
“Jammer, Eugene. Ek erken ek was ’n rukkie aangetrokke tot jou, maar … dit was nie ernstig nie. Ek besef nou dit was sommer maar …” Sy kry dit selfs reg om ietwat geamuseerd te glimlag – of, altans, dis hoe sy hoop dit lyk. “Sien, ek het nie baie kêrels in my lewe gehad nie. Toe jy aandag aan my gee, het ek my verbeel … Ja, dit was net verbeelding.”
Sy kan die ongeloof in hom aanvoel. “Hoekom wil jy dan weghardloop?”
Weer, soos netnou, is daar net ’n vlugtige sametrekking van die hartspiere. Dan skud sy haar kop. “Ek is al jare in ’n groef. Ek weet dit lankal. Ek moet ’n slag gaan … lewe.”
Nou kan sy die agterdog in sy stem hoor. “Was jy gistermiddag aan diens?”
Die verbasing in haar stem klink so eg dat sy amper daarvoor skrik. “Natuurlik. Jy weet dit tog. Hoekom?”
Hy kyk eerste weg, sy stem kortaf. “Nee, ek … vra sommer. Petra, ek moet erken jy het my nou heeltemal onverhoeds betrap. Ek was so seker dat jy … dat ons …”
Hy swyg verdwaas en sy kyk stip voor haar deur die voorruit, haar oë hard. Ja, Eugene. Jy was so seker dat ek jou teen jouself sou beskerm. So seker dit is die verstandige ding om met my te trou – omdat dit veilig is vir ’n man om met ’n betroubare, deugsame, lelike vrou te trou eerder as met dié beeldskone vlinder wat oor jou hart sal fladder.
“Ek is jammer, Eugene, as ek jou … onder ’n wanindruk gebring het. Dit was nie doelbewus nie. Wel, dis al. Ek wou net sê …”
“Wag eers. Wanneer wil jy gaan?”
“Ek het netnou my bedanking by matrone ingedien. Aangesien ek nog agterstallige verlof het, is sy bereid om my die end van die maand te laat gaan.” Dis onnodig om hom te vertel dat sy matrone verseker het sy is bereid om daardie verlofmaand se geld in te boet om dadelik te kan gaan. Wat maak ’n paar rand saak? Sy het sakke vol geld, soos Paula dit stel.
“Maar dis die einde van dié week al!”
“Ja.”
’n Swaar, kort stilte volg. “Petra, is jy baie seker?”
“Ja. Ek is baie seker.” ’n Kortaf, bitter laggie. “Ek