“Ja, natuurlik. Nou ja, my meisie, mooi ry en soet wees. Ek sal ongelukkig nie vandag hier kan wegkom om te kom groet nie.”
“Ek begryp. Dan … dan sê ek maar eers tot siens.”
“Tot siens, my skat. Kyk mooi na jouself en kom gou terug.”
Met ’n kennersoog sien sy daardie aand dat tant Petronella op die laaste skof is toe sy op die vervalle, maer ou gesig afkyk. Haar hart trek in opregte meegevoel saam en sy neem die ou hand in hare, streel die yl grys haartjies weg van die benerige voorkop. Arme, eensame ou mens … met ’n eensame lewe agter haar.
En skielik verlaat alle opstand haar, is sy dankbaar dat sy kon kom.
“Dokter sê my hy wou u hospitaal toe bring, maar u wou nie gaan nie, tante.”
“Ag, nee wat, my kind. Ek wil maar liewer op die bed sterf waarop ek al die jare geslaap het.”
Petra sluk, bring ’n bietjie water na die droë lippe. Op hierdie bed waar sy as jong meisie geslaap het, later haar tienerdrome gedroom het, haar frustrasie en verydeling uitgesnik het en nou gedurende die afgelope jare, op die laaste skof, net eensaamheid as enigste metgesel gehad het. Ag, Here, bewaar my tog hiervan, bid sy stilswyend terwyl sy met deernis in die ou oë afkyk.
“Jy het verander, hartjie. Jy lyk anders. Het daar iets gebeur of is dit maar omdat ek jou so lank laas gesien het?”
“Ek gaan trou, tante.”
“Werklik, hartjie? Maar dis wonderlik, my kind! Vertel my alles. Met wie?”
Petra beantwoord al die vrae met trots en sy kan sien die ou dame deel in haar vreugde. Dan sien sy hoe die tam ou oë effens saamtrek. “En wat sê jou ma en pa van hom?”
“Ek het Pappa-hulle nog nie vertel nie. Hy het my gisteraand maar eers gevra!”
“En … Paula?”
’n Kort stilte volg waarin die vraag tussen hulle bly hang. “O, sy weet ook nog niks nie.”
“Het hulle mekaar al ontmoet?”
Sy draai haar kop weg, kyk af na die verslete matjie, haar stem gedemp: “Nee.”
Sy voel die ou hand oor hare vou en die stem kraak in haar ore: “Ek het jou gesê, my kind, daar sal eendag ’n man kom wat sal raaksien hoe mooi jy werklik is … mooi van binne. Miskien is jou Eugene daardie man.”
Petra draai haar kop stadig terug, kyk vas in die ou oë wat haar met soveel deernis aankyk. Sy voel iets in haar styftrek, voel hoe dit tot breekpunt span. Maar jy, tant Petronella, jý het nooit so ’n man ontmoet nie, het jy? Niemand het ooit by jóú uiterlike verbygekyk na die mooi innerlike wanneer hulle eers jóú beeldskone niggie raakgesien het nie. En jy lê vandag hier op jou sterfbed … alleen … soos jy jou lewe lank was.
Sy probeer dapper glimlag. “Miskien. Ons sal dit eers weet wanneer hulle mekaar ontmoet.”
“Dan … twyfel jy?”
Sy sluk, lig haar kop op, sê byna driftig: “Nee. Natuurlik nie. Eugene is anders. Hy is iemand besonders.”
Die ou tante laat sak haar blik. Ja. Die man wat jy liefhet, is altyd iemand besonders tot op ’n dag … dan kom jy agter hy is ook maar net ’n man soos al die ander mans. Soos sý agtergekom het …
“Petratjie, ek het jou al so dikwels in die verlede gesê die liggaam is net ’n dop; die ware mens lê binne-in. Die uiterlike vergaan, maar wat binne-in is, bly steeds groei, word mooier en mooier. Is die uiterlike dan steeds so belangrik vir jou?”
“Ek is ’n mens, tante. Ek is ’n vrou wat baie graag bemin wil word, baie graag wil bemin, kinders wil hê, ’n huis, huweliksgeluk …”
“En jy dink steeds die liggaam speel die belangrikste rol daarin?”
“Nee. Maar ander dink so.” Sy sluk. “Mans dink so. Vir hulle is die uiterlike baie belangrik, meesal die belangrikste. Ek het dit al soveel kere ondervind, tante!”
“Ja, ek weet. En hoe baie het al met ’n mooi liggaam getrou en later besef dit huisves niks binne-in nie, niks wat hom kan bevredig wanneer die jare daardie mooi liggaam begin aftakel nie. Ek weet, my kind. Ek wéét.”
Twee dae later, nadat tant Petronella ook alleen die dood moes ontmoet en weggebêre is in ’n enkelgraf, stel die prokureur Petra in kennis dat sy haar tante se enigste erfgenaam is. Volgens die prokureur is sy nou ’n skatryk meisie.
Maar dit bring beklemming in haar pleks van vreugde. Sy weet hoekom tant Petronella dit gedoen het: As haar lewenspad dieselfde baan moet volg, sal sy ten minste oorgenoeg hê om van te lewe. Maar ek wil nie sakke vol geld hê nie! roep haar hart uit. Ek wil ’n man hê, ’n man wat ek liefhet en my liefhet! Ek wil sy kinders in die wêreld bring en ek wil volkome vrou wees! Wat wil ek met geld doen?
Sy en haar ouers, wat vir die begrafnis gekom het, ry die volgende dag terug stad toe. Die prokureur sal maar die huisie en meubels verkoop.
Dis met ’n gevoel van persoonlike verlies dat Petra uit haar pa se motor klim toe hy voor hul huis stilhou. Sy sal tant Petronella mis. Hulle het so baie gemeen gehad.
’n Geluid dring deur haar somber gedagtegang en sy lig haar kop op. Die voordeur staan oop en daar kom vrolike musiek deur die oop sitkamervensters. Dan eers sien sy die bekende motor onder die boom raak. Eugene …
Sy kom eerste in die sitkamerdeur tot stilstand. Sy kyk na hulle, die twee laggende gesigte … en die beklemming om haar hart neem toe.
2
Hulle sien haar nie dadelik nie, en sy het genoeg tyd om die toneel voor haar te bestudeer en alles in te neem.
Die musiek is hard, byna oorverdowend, soos Paula daarvan hou. Dis een van die nuutste ritteltreffers wat Petra nog nie vantevore gehoor het nie – natuurlik ’n nuwe toevoeging tot haar suster se versameling. Ook hul musieksmaak verskil hemelsbreed. Sy, Petra, hou van klassieke en strelende, rustige musiek. Paula weer, is dol oor popmusiek.
Daar is ’n trek van verbasing in haar oë terwyl haar blik op die man rus wat met onwaardige uitbundigheid – volgens haar, altans – die ingewikkelde passies van die jongste ritteltitmusiek probeer bemeester, sy blink oë op sy leermeesteres vasgenael wat dit reeds perfek kan doen. Sy het nooit geweet Eugene sal te vinde wees vir sulke verspotte uitgelatenheid nie. Om die waarheid te sê, dit skok haar. Die paar keer dat hulle al gaan dans het, was dit altyd op die maat van rustige, dromerige musiek. Wanneer iets van dié aard gespeel is, het hulle gesit en toekyk hoe die ander mense spektakels van hulself maak. En nou … Sy kan kwalik haar oë glo!
Sy staan nog doodstil toe haar ma by haar verbyskuur en met ’n besliste beweging die platespeler se klank afskakel. Daar is kwalik bedekte kommer in haar oë toe sy omdraai en haar blik na die stil, strak gestalte in die deur gaan.
Dis eers toe die musiek skielik ophou dat die ander twee daarvan bewus word dat hulle nie meer alleen is nie, en Paula val uitasem op die rusbank neer, glad nie selfbewus nie. Dis Eugene wat skielik sy glimlag verloor, selfbewus ’n sakdoek uithaal en oor sy voorkop vee. Dan stap hy vinnig nader, buk en soen die stil, stram lippe.
“Julle is gou terug.”
Te gou, flits dit deur haar, maar sy antwoord: “Ons het net ná die begrafnis gery.”
“O, ja.” Hy sluk, lyk beslis ietwat skaam ook. “Het … het alles goed afgeloop?”
“Ja, dankie.”
“Hallo, sus. Middag, Mams, Paps.” Paula kyk hulle belangstellend aan. “Wat sê die testament?”
“Paula!” Haar ma kyk haar openlik ontevrede aan. Sy weet hierdie dogter van haar is nie werklik swak van inbors nie, maar onnadenkend, omdat dit nog altyd