“Daar is baie hartseer stories, werklik hartseer stories, juffrou, waarvoor ek die tyd moet maak om na te luister. As jy ’n biegvader soek, die Rooms-Katolieke kerk is hier om die eerste hoek.”
“Ek sal jou betaal … goed betaal,” pleit sy met oë wat in die trane swem.
“Gee jou geld vir die biegvader en daardie ander dokter na wie ek jou verwys het. Hulle sal daarin belangstel – nie ek nie.”
“Nie in …” En sy noem ’n bedrag wat die ergernis in sy oë vir ’n oomblik deur verstomming laat vervang.
Dan vertrek sy mond weer in die nou byna bekende grynslag. “Ek het jou gister skynbaar die verkeerde adres gegee. Ek moes jou na ’n psigiater verwys het.”
“Ek is nie mal nie!”
“Net lelik en vet … en ydel. Ek kry geld vir my diens, juffrou Prinsloo, maar ek is nie te koop nie.”
Sy kyk gespanne en bleek in die blitsende blou oë. “Selfs nie as ek die bedrag … verdubbel nie?”
“Jy is van jou sinne beroof.” Nou is hy verbysterd, kyk eers weg, dan weer met openlike ongeloof na haar. “Jy hoort agter tralies, nie in ’n operasiesaal nie. Weet jou ouers van hierdie fantastiese bedrae wat jy loop en aanbied vir …”
“Ydelheid? Nee, maar al weet hulle ook, maak dit nie saak nie, want dis my eie geld wat ek aanbied. Dis geld wat ek geërf het en ek kan daarmee doen wat ek wil.”
Hy kan haar net verstom staan en aankyk, en met ’n moed wat uit nood voortvloei, stoot sy die deur weer toe, leun daarteen aan en kyk moedig op. “Ek is seker jy sal dit goed in jou kliniek kan gebruik, nie waar nie? Jy het een buite die stad. Ek het al daarvan gehoor.”
“Juffrou Prinsloo …”
“Gaan jy toelaat dat jou kleinlike obsessie oor vroulike ydelheid in die pad staan van die goeie dinge wat jy met so ’n som geld kan uitrig?” Die man is seker reg. Ek is seker mal, dink sy koorsagtig. Waar kom ek daaraan om só met ’n dokter te praat? Ek, wat al die jare geleer is om net die grootste respek vir ’n dokter te hê? En dan is die man nog dokter Klaus Wagner, die beroemdste, bekwaamste plastiese chirurg in die land en ver buite die land se grense bekend.
Maar desperaatheid laat haar met ’n byna gevoellose stem vervolg: “Sal dit soveel saak maak as jy net een keer ’n meisie mooi maak net omdat sy graag mooi wil wees, veral as so baie ander mense daarby gaan baat? Of is die bedrag nog te klein na jou smaak? Moet ek dit opskuif?”
Sy hoor hom met ’n gedempte kragwoord van haar wegdraai, terugstap na sy lessenaar. Dan draai hy weer om, en kyk haar aan asof sy iets is wat die kat ingedra het.
“Ek ken nie juis al die baie ryk mense van die stad nie, maar ek weet nie van ’n Prinsloo-miljoenêr hier rond nie, of kom jy van ’n ander plek?”
“My pa is nie ’n miljoenêr nie … maar ek is … ’n multimiljoenêr. Ek verseker jou die bedrag wat ek aanbied, het ek wel. Ek kan jou die waarborg daarvoor gee.”
Met sy oë op skrefies sit en bekyk hy haar. “Is dit al wat jy het – of is daar nog?”
“Daar is nog net soveel en ek sal alles vir jou gee as jy daarop aandring.”
Hy skud sy kop, vee oor sy oë en ’n vreemde, ongelowige glimlaggie pluk aan sy mondhoeke. Dan wil dit amper lyk asof hy bekommerd is. “Nou begin ek weer voel jy hoort in ’n kleuterskool. Hoe oud is jy, juffrou? Weet jy nie dat ’n mens nie sommer jou finansiële sake uitblaker aan elke vreemdeling wat daarna vra nie? As jy by die ander dokter beland het na wie ek jou verwys het, sou hy alles uit jou getrek het en jy sou dit waaragtig nog gegee het ook.”
“Nee, ek sou nie, want dis net jy wat op my gaan opereer, niemand anders nie.”
Hy kyk haar weer stip aan. “Hoekom dring jy juis so op mý diens aan?”
Haar oë kyk star, uitdrukkingloos terug. “Omdat jy ’n wonderwerk moet verrig. Ek wil mooi wees … asemrowend mooi wanneer jy met my klaar is.”
Hy knik en staan op, stap om die lessenaar en gaan sit weer. ’n Rukkie lank kyk hulle net na mekaar.
“Hoekom is dit so verskriklik belangrik vir jou om … asemrowend mooi te wees? Terloops, elke mens se begrip verskil van wat mooi is en wat nie mooi is nie. Wat miskien vir my lelik is, is vir jou mooi en omgekeerd.”
Sy aarsel. Sy was van plan om vandag haar hart oop te maak vir hierdie man, hom alles te vertel, van al die jare se minderwaardigheid, van Paula en wat elke keer gebeur het … van wat nou weer gebeur het. Maar iets waarsku haar. As hy moet weet hoekom sy mooi wil wees, sal hy summier weier om haar te help. Klaus Wagner is ’n eienaardige man; dit het sy reeds in hul kort kennismaking agtergekom. Hy is ’n individualis – ’n man wat nie op die breë lees geskoei is nie. ’n Man met sy eie opvattinge wat hom nie maklik na ’n ander se sienswyse sal laat oorhaal nie. Instink vertel haar hy sal beslis nie haar beweegredes goedkeur nie.
Daarom sê sy nou ontwykend: “Enige vrou wil mooi wees.” Sy draai haar gesig weg om die deurdringende blik te ontwyk. “Seker omdat ek nog altyd nie net lelik was nie, maar skreeulelik,” antwoord sy met wrange humor.
Hy sit agteroor, kyk peinsend na haar. “Dis natuurlik onnodig vir my om jou te vertel dat jy heeltemal oordryf.” Sy antwoord nie, en hy sug. “Was jy werklik ernstig oor daardie bedrag, die eerste een, bedoel ek?”
“Natuurlik was ek. Net so ernstig ook om dit te verdubbel.”
Dis weer stil. Lank stil.
“Wat ek eintlik moet doen, is om jou terug te neem huis toe en jou ouers te vra om toe te sien dat jy êrens gaan vakansie hou waar jy jou perspektief sal herwin.”
“Ek sal nie gaan nie.”
“So het ek vermoed. Juffrou Prinsloo …” Hy het ’n ongeduldige frons, maar dis of sy ongeduld meer teen homself gerig is as teen haar. “Ek behoort te weier om die saak verder met jou te bespreek, maar … luister, weet jy presies waarvoor jy jou inlaat? Het jy die vaagste benul wat jy van my én van jouself vra?”
Sy kyk weerloos terug. “Ek weet dit gaan die grootste … e … kundigheid en vaardigheid van jou verg om van my ’n … besonder mooi vrou te maak, maar as daar iemand is wat dit kan doen, is dit jy.”
“Kom ons vergeet eers van mý aandeel. Besef jy wat dit vir jóú gaan inhou? Ek dink nie jy het die vaagste benul …”
“Tog wel. Ek het nog nooit by ’n operasie van dié aard bygestaan nie, maar ek het ’n idee.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek is ’n teatersuster. Ek weet dit gaan ’n lang en pynlike proses wees voordat alles verby is, maar ek is daarop voorbereid.”
Hy staan weer op. “Jy weet nog niks nie, suster Prinsloo,” sê hy sarkasties. “Jy noem dit ’n lang en pynlike proses, maar ek sê vir jou jy het hoegenaamd geen benul van wat op jou wag nie. Jy gaan maande en maande lank in ’n hel van pyn leef – en ek bedoel hél.” Die twee paar oë brand in mekaar. “Begryp jy? En as ons eers begin het, is daar geen omdraaikans nie. Begryp jy dít ook? Want as ons halfpad ophou, gaan jy regtig sien wat skreeulelik beteken.” Nog kyk sy onverskrokke terug. “Is jy regtig gereed dáárvoor?”
Sy is bleek en daar is ’n ligte sweetskynsel aan haar voorkop. “Ja.”
Hy trek sy asem diep in. “Ek weet jy dink ek praat jou net bang, maar …” Hy stap vinnig na die deur en haak sy baadjie af, begin dit aantrek. “Ek sal jou gaan wys wat ek bedoel. Kom.”
Sy word met ’n hand agter die rug deur die voorste kantoor gedruk en sy hoor hom agter haar sê: “Dis al vir vandag, suster. Dankie. Sal u asseblief die deur sluit?”
Buite lei hy haar na die parkeerterrein en sluit die motordeur vir haar oop. Dis stil tussen hulle terwyl hulle deur die verkeer vleg.