“Carlyle, as ’n man wat so ’n paar jaar ouer as jy is, wil ek jou net ’n bietjie raad gee. ’n Mens kan dink wat jy wil, maar jy kan nie sonder onomstootlike bewyse sê wat jy wil nie. Dis gevaarlik om sommer jou vermoedens te lug sonder om twee keer daaroor na te dink.”
“Ek is jammer. Julle dink natuurlik dat ek ’n gek van my gemaak het. Maar ek het my redes. Soms loon dit om ’n klip in die bos te gooi. Jy gooi soms iets raak.”
“Hm.” Jan kyk hom ondersoekend aan. “En het jy hierdie keer iets getref?”
Carlyle trek sy skouers op en glimlag. “Hoe dink jy?”
“Ek weet nie.”
“Ek weet ook nie.”
“Carlyle, sal julle twee asseblief ophou dubbelsinnig praat en my vertel wat aangaan?” sê Emerit ontsteld.
“Moenie jou ontstel nie, Emerit. Dis sommer … niks nie,” probeer hy haar op onoortuigende wyse gerusstel.
Emerit maak haar mond oop. Voordat sy egter weer kan praat, spring Jan haar voor.
“Ek dink ons het almal ’n uurtjie of twee rus nodig. Ons het geeneen verlede nag veel slaap gehad nie. Kom ons gaan kamers toe.”
Eers teen vieruur die middag kom hulle weer uit hul kamers te voorskyn. Nadat hulle, tot hul eie verbasing, omtrent twee uur lank heerlik geslaap het, het elkeen ’n verfrissende bad geniet. Terwyl Irma in die rigting van die woonvertrek stap, voel sy heelwat kalmer. Sy voel ook effens skaam dat hulle hulle almal tot dusver so kinderagtig gedra het.
Tog raak sy dadelik weer gespanne toe sy die woonvertrek binnegaan en gewaar dat net Anton daar is. Sy huiwer en wonder of sy nie liewer maar moet terugdraai nie, maar hy het haar reeds gewaar.
“Ek … ek kom soek koffie,” verduidelik sy stamelend – en met die beste wil ter wêreld kan sy hom nie in die oë kyk nie.
“Daar oorkant op die tafel. Hulle het dit nou net ingebring.”
Sy stem is koel, amper kil, en sy weet, sonder om op te kyk, dat sy oë onpersoonlik op haar gerig is.
Sy draai haastig na die tafel, en terwyl sy met bewende vingers die koppies regsit, vra sy skynbaar kalm: “Het jy al iets gedrink?”
“Nee, nog nie.”
“Moet ek vir jou ook skink?”
“As jy wil.”
Haar ooglede fladder onrustig terwyl sy langer as wat nodig is die koffie in die twee koppies skink. Selfs toe dit klaar is, huiwer sy nog om na hom om te draai. Dan raak sy meteens bewus van sy teenwoordigheid hier kort agter haar, hoewel sy hom nie hoor nader kom het nie. Sy arm skuur teen hare toe sy hand agter haar rug verbykom om die koppie te neem. Sy aanraking stuur ’n vlugtige rilling deur haar, maar hoekom weet sy self nie op hierdie oomblik nie.
Sy nabyheid ontstig haar meer as wat sy aan haarself wil erken en Irma wil net sywaarts padgee toe sy ander hand liggies op haar heup geplaas word. Sy voel soos ’n voëltjie wat in ’n wip gevang is toe sy sy stem so na aan haar oor hoor sodat sy sy warm asem teen haar vel voel aanslaan.
“Glo jy wat Carlyle Faure netnou van my geïnsinueer het? Is dit hoekom jy vir my bang is?”
Sy draai haar kop weg en haar vingers begin senuagtig met die teelepel in die piering speel.
“Ek … ek is nie bang vir jou nie, Anton.”
Sy voel sy vreemde diepgrys oë op haar brand.
“Jy het nie my vraag beantwoord nie, Irma. Kyk my in die oë en dan herhaal jy wat jy so pas gesê het.” Toe hy haar huiwering gewaar, vervolg hy meedoënloos, uitdagend: “Of is jy bang dat ek die waarheid in jou oë sal lees?”
Sy hand sluit om hare en die geklingel van die teelepel verstil. “Of is dit net ’n geval dat jy daardie blonde stuk twak meer vertrou as vir my?”
Sy kyk vinnig na hom.
“Carlyle is nie so ’n stuk twak as wat jy dink nie, Anton.”
“Dan is dit so.”
“Nee, jy het die kat aan die stert beet. Dis nie wat jy dink nie …” Hy draai van haar af weg en sê dan in ’n helder stem: “Kom maar binne, Emerit. Waar is Jan?”
Irma verstyf. Hoe lank staan Emerit al in die deur en luister? Die ouer meisie kom nader en ignoreer Irma heeltemal terwyl sy na die koffiekan reik.
“Ek dink Jan is nog in die bad. Maar Carlyle sal nou hier wees. Ek kom nou net van hom af. Hy trek nog aan.”
Haar stem is gelykmatig, maar vlugtig gly haar blik oor Irma – en sy weet instinktief Emerit wou hê dat sy daardie stukkie inligting moes kry.
Anton het blykbaar ook iets agtergekom, want toe Irma omdraai om te gaan sit, sien sy dat sy oë berekenend op Emerit gerig is.
“Wat? Moes jy dan vir hom sy das knoop?”
Emerit lig haar kop en kyk hom reguit aan.
“Nee. Hy dra ’n oopnekhemp. Dis net dat ons omtrent die hele middag gesit en gesels het, terwyl julle ander geslaap het. Ek en Carlyle ken mekaar goed.”
“Werklik? Van wanneer af?”
Daar is iets spottends in sy vraag, en Emerit frons.
“’n Paar jaar al. Ons was eenkeer saam in dieselfde toneelgeselskap voordat ek model geword het.”
“Jy speel seker!”
’n Blos van woede trek oor haar gesig. “Wat is so snaaks daaraan?”
“Dit klink maar net vir my snaaks dat julle ons nie vertel het dat julle ou vriende is nie.”
Emerit glimlag en gaan ook sit.
“Niemand het gevra nie. Ek en Carlyle is nie eintlik as goeie vriende uitmekaar nie. Toe ons nou weer op die vliegtuig ontmoet, was ek nie seker hoe hy nog oor die saak voel nie. Daarom het ek stilgebly.”
“En nou?”
“Die ou kwessietjie is vergete en begrawe.”
Anton skud sy kop peinsend en vra dan glimlaggend: “Verskoon my as ek te persoonlik raak, Emerit, maar jy weet hoe skrywers is. Ons stel mos altyd in alles belang. Was die kwessietjie, soos jy dit noem, miskien ’n … e … rusietjie tussen twee verliefdes?”
Sy glimlag geheimsinnig.
“Wel, jy kan dit so noem as jy wil. Maar hier is Carlyle nou,” en sy draai na die deur wat oopgaan. “Vra hom self as jy my nie wil glo dat ons mekaar goed ken nie.”
Daar verskyn ’n frons tussen die ligte wenkbroue en sy blik flits vlugtig na Irma wie se aandag op hierdie oomblik in beslag geneem word deur die koppie wat sy versigtig in die piering terugsit. Dan stap hy na die ketel en antwoord effens bot oor sy skouer: “Ja, dis heeltemal waar. Ek en Emerit is ou vriende.”
“Nou ja, julle is nie die enigste twee wat ou kennisse is nie. Ek ken … e … Anton de Woud ook goed,” sê Jan wat ook intussen binnegekom het.
Anton lig sy kop vinnig op en kyk die ander met nougetrekte oë aan.
“Werklik?”
Dis of daar ’n waaksame toon in sy stem ingesluip het.
Jan skink eers sy koppie koffie klaar en draai dan om. Sy oë is stip op die man voor hom gerig.
“Ja, werklik. Jy ken my nie, maar ek ken jóú – redelik goed.” Dan glimlag hy breed. “Ek verslind jou boeke!”
“Dan ís hy ’n skrywer!”
Daar is byna openlike teleurstelling in Carlyle se stem en ’n lui glimlag verskyn om Anton se mond, maar sy oë bly op die onderwyser gerig.
“O ja, hy is ’n skrywer – onder meer,”