Ha-ha! Groot grap. Mêm with egg on her face. Ons maak vir Mêm lekker mal, ons staan saam, eendrag maak mag. Sy gaan haar gat afskrik, sy gaan uitfreak, big time uitfreak en vir ons ’n show gooi wat die manewales wat van tyd tot tyd in die parlement losbars, sal oortref. Sports. Ons gaan sports hê, iets om die Maandagoggend beter te maak. Slegter vir haar, maar who cares?
En ek, bobbejaan wat ek is, het daarvoor geval, het in die harwar wat eie aan ’n Vrydagmiddag is aangeneem die laai is gesluit. Hulle ken my, hulle weet hoe moedeloos dit my maak as alles rondom my voete kry. Selfone, beursies, tablette, boeke, selfs skoenveters het al onverklaarbaar verdwyn. “Maybe someone wants to commit suicide by hanging himself,” was Sihle se verklaring daarvoor.
Ek wil sommer huil. Die vrek weet, ek wil my hande in die lug gooi en oorgee. Sommer net aan die tjank gaan. Maar ek kan nie. Ek moet my pose hou.
“Gaan aan met julle werk!” probeer ek bulder, maar dit klink eerder na die gepiep van ’n muis, ’n baie bang muis wat sou verkies om in ’n gat in die grond te verdwyn.
“No more detention, Ma’am?” Dis Sibusiso wat nader staan en my smekend aankyk. Of dreigend; dis nie so eenvoudig om vas te stel nie.
“Not unless you misbehave again.” Misbehave? Disbehave? Ek weet nou self nie. Ek wys hom met die hand weg. “Toe, loop nou. Gaan sit.”
Ek het ’n break nodig. O sondeval, ek het ’n break dringend nodig. Ek wil die flippen register doen en my e-pos check en ek kan dit nie doen as die kind vir my met daardie swart oë van hom staan en kyk asof hy my nie vertrou nie.
Maar ek kom gou genoeg agter iets in die atmosfeer het radikaal verander. Dis nie net Sibusiso wat nie tot ruste kom nie, die res raak ook nie weer summier aan die slaap nie. Iets het die klas se aandag beet en dis nie “Nuus uit die binneland” wat ek pligsgetrou vir hulle uitgedeel het nie. Ook nie die relletjie met die tablet nie, dis oor en verby. Wat nou nóg?
Hierdie dag gaan weer te veel van my vra. Ek hou hulle onderlangs dop. Die vyand. Die teenoorgestelde party. En daar is meer van hulle as van my. Baie. Te veel. Met die klasse wat elke jaar groter raak, raak die oormag eenvoudig te sterk. Die sirkusdiere te veel en te wild vir ’n enkele afrigter.
Aanvanklik is daar net ’n ruising, soos ’n sinistere geluid op die wind. Jy kan net sowel die suidoos van rigting laat verander as om hierdie onrustigheid hok te slaan. Iewers lag iemand vanuit die agterbankers se geledere. Daar is iets leliks in die lag, iets wreeds. Hulle is soos ’n klomp aasvoëls. Van onskuldige kinders aan die begin van hul grootmenslewe is daar nie sprake nie. Ou Raka het klaar hier ’n draai kom maak. Iemand gaan die slagoffer wees en daar is niks wat ek kan doen om dit te keer nie.
Wie sou dit wees, wonder ek. Wie het die ongeskrewe reëls van die brotherhood of men oortree? Iemand wat geteer en geveer gaan word of op die een of ander manier sal betaal daarvoor dat hy teen die trop gedraai het. Is dit dalk Pulani? Omdat sy ’n einde aan hul teistering gemaak het? Die poets met die tablet is niks in vergelyking met die slegte vibe wat ek nou aanvoel nie.
“Hoekom is dit nodig vir die trop om met tye die swakste onder hulle uit te stoot?” wou ek al by Karel weet. “Hoekom het hulle nodig om af te maai, as daar genoeg vir almal behoort te wees om in liefde en harmonie saam te leef?”
“Man, hulle is almal bebliksem, dis maar al wat dit is,” is hoe hy dit sonder meer vir my opgesom het. “Rotten to the core. Vir hulle is dit goeie voorbereiding vir die wêreld daar buite.”
“Waar net die sterkere oorwin?”
“Die wet van die oerwoud, ou girl. Dieselfde wet as wat in die betonoerwoud geld.”
“It’s a dog-eat-dog world out there?”
“Dit hang alles af van waar jy jou op die food chain bevind.”
Karel gesels nie gewoonlik met my oor die diep dinge van die lewe nie, maar daardie dag was dit die drank wat gepraat het. Sien jy nou, het ek myself ernstig aangespreek toe hy daardie wyshede kwytraak. Karel ís ’n moerse vangs, al voel dit nie altyd vir jou so nie. Jy kan jou uitgetrapte paar pantoffels agterna gooi elke keer dat hy gretig is om syne onder jou bed in te stoot. Dis wonderlik om ’n warmbloedige man in jou lewe te hê. En in jou bed. Een wat sy hande nie van jou lyf kan afhou nie. Baie vroue sal betaal daarvoor. Sal hul mond hou en nie oor ’n hoofpyn kla wanneer daar nie ’n hoofpyn naby is nie. Of anders ’n pilletjie sluk op die tye dat ’n hoofpyn pret in die bed wil staan en bederf.
Ek het heeltemal verlore geraak in my gedagtes en skrik my dinges af toe Bongani sy kop lig en regop in sy bank skuif. My oog vang syne en ek sien die spot daarin. O flip! Dis ék, dis nog steeds oor mý wat daar onderlangs gepraat word. My maag draai. Fokkietoggie! Daar is iets ernstigs verkeerd met hierdie prentjie. ’n Onderwyseres behoort nie so bang vir haar leerders te wees nie. Maar ek is.
Ek trek-trek aan my romp, probeer die ding effens langer kry sodat daar minder van my mooi bene te sien sal wees. Spog mos jare lank al met my bene, glo graag die mense wat sê ek het ’n paar bene met kunstenaarskurwes. Maar vandag sou ek nie omgee as die einste twee bene beter bedek kon wees nie. Ek’s ’n dapper muis, sing ek in my kop toe ek dit waag om op te staan. Kyk hoe stap ek deur die huis … e, die klas. Voetjie vir versigtige voetjie in die gangetjies af, kamma om te kyk hoe ver hulle al gevorder het met die werk wat ek uitgedeel het. Of hulle al enigsins daarmee begin het. Window dressing soos gewoonlik. Ek weet mos die arme goed het tyd nodig om net eers te akklimatiseer by ’n Maandagoggend. Maar ek moet probeer vasstel waarom ek die middelpunt van die spot en onrus is.
Dinge het verander, in die land en noodwendig ook in die skool. Dis nie net die naam wat van Hoërskool Simon van der Stel na Hoërskool King’s Court verander het nie. Die omgewing se demografie is nou anders en so ook die samestelling van die skool. Dis ’n interessante mengelmoes mense wat hier in skoolbanke vasgevang sit. Interessant en ook ietwat van ’n uitdaging. Kapenaars, sommige van hulle, maar nie almal nie. Sowat die helfte kom uit die noorde. Trek agter ’n pa aan wat in die parlement is en Kaapse kant toe moes kom. Geld is nie ’n kwessie nie. Word in blink motors voor die skool afgelaai, dra die beste klere, die etikette wat saak maak, die duurste skoene. Soms is daar ’n merkbare poging van die ouers se kant af om geesdrif vir skoolgaan aan te blaas, en dra hulle selfs meer by as die afdwingbare skoolfonds. Dié wat genoeg het om uit te deel, is nie suinig nie en dra die enkele armes wat van woonbuurte verder suid ook hier geland het.
Dis ’n kakofonie van kleur en kultuur en ek herken nie al die tale wat op die skoolgrond gepraat word nie. Soms is dit Jood en Mohammedaan wat mekaar aan die keel gryp, maar net so dikwels is dit broer wat teen broer opstaan. Niks snaaks daaraan nie. Daar is in die jaar toet ook pouses op die speelgrond baklei.
Ek spits my ore, probeer hoor waaroor die onderlangse gebrom gaan. Kyk, die outfit wat ek vanoggend inderhaas saamgegooi het, ís out of this world, ek erken dit. Maar dis wat ek doen – ek trek aan om raakgesien te word hier waar onderwyseresse praktiese rokke met ewe praktiese plathakskoene dra. Die klere wat in my kas hang, kan seker as eklekties beskryf word. Elke huis het sy kruis, elke vrou het ’n hang-up. Ek het ook ’n paar demone wat saam met my voor die klerekas staan wanneer ek moet besluit wat om aan te trek.
“Jy’t ’n issue daarmee,” verseker Karel my gereeld.
“Ek hou van mooi klere. Wat is verkeerd daarmee?”
Dit was een van daardie “all dressed up and nowhere to go”-dae, want Karel het jeans en ’n T-shirt aangehad wat sleg afgesteek het by my Troy Exclusive-ballonromp.
“Mooi klere? Noem jy daardie lappe wat jy om jou woel mooi? Jy lyk soos ’n pakkie wat oorhaastig toegedraai is.”
Tydmors, dis wat mens doen as jy jou ordentlik wil aantrek om saam met Karel uit te gaan. Hy’s heeltemal clueless as dit by