Regardt. Regardt van den Bergh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Regardt van den Bergh
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780796318282
Скачать книгу
het toe die spoorlyn langs die wildtuin gebou en ek het gehelp om die slote te grawe waarin ons die telegraafkabels gelê het. Vir die werk aan die spoorlyn het ek daardie jaar R900 verdien en dit het my eerste jaar op Ikeys betaal. Aan die einde van my eerste jaar het ek die dramaprys gewen en ’n beurs gekry wat toe vir my dramavak in die tweede jaar betaal het. ’n Neef van my het my R50 ’n maand gegee en daarmee kon ek die ander vakke betaal, maar ek het swaar geleef. Ek het wortelsop en roosterbrood geëet. As ek kon, het ek Marmite gekoop. My begroting per dag was 50 sent – 45 sent vir ’n omelet en 5 sent vir ’n koffie. Dit was al wat ek kon eet.

      Die eerste ses maande op Ikeys het ek en ’n BCom-student in Claremont ’n kamer in ’n huis gedeel. Ná die vakansie het ek vir ses maande by die akteur Cobus Rossouw se ma, tannie Susan, gaan bly. Dit was hemel op aarde. Ek het elke oggend ’n heerlike ontbyt gekry en sy het baie mooi na my gekyk. Aan die begin van my tweede jaar het ’n pêl my oortuig dat vier van ons ’n huis moet huur. Dit is waar die moles begin het. Ek het nie meer so hard gewerk nie en begin jol. Alhoewel ek nie gedrink of gerook het nie, want ek het nie geld gehad nie, het ek partytjies begin bywoon en meisies en drank is nooit ’n goeie ding nie. Dit alles het gemaak dat my studies tweede viool moes speel, en ek was nog my hele lewe lank spyt dat ek nie my kursus voltooi het nie.

      ’n Oproep van regisseur Manie van Rensburg in September van my tweede jaar het verder bygedra tot die beëindiging van my studies. Manie het my gebel en gesê hy is besig met ’n rolprent genaamd Ongewenste vreemdeling (1973, waarin my ma ook ’n rol gehad het), en hy wou weet of ek nie wil kom help nie. Hy sou my ’n klein rol gee en betaal. Ek was buite myself van blydskap toe ek hoor wat die vergoeding sou wees. Ek het met Manie afgespreek en toe die September-vakansie aanbreek, het ek my tas gepak en koers gekry Knysna toe waar hulle die rolprent geskiet het. Ek het daardie geld broodnodig gehad vir my studies.

      Ná twee weke se skiet het Jans Rautenbach vir Manie van Rensburg as regisseur vervang. Ek het aangebly en aan die einde van die September-vakansie vir Jans gesê ek moet teruggaan al is hulle nie klaar geskiet nie. Jans wou hê ek moes later teruggaan, maar ek was baie agter met my studies. Ek het ’n klomp dramastukke gehad om te lees, en ek het stadig gelees. Dit was dramas van Ben Jonson tot Alan Ayckbourn tot Samuel Beckett. Jans sê toe vir my: “Jy kan nie nou teruggaan nie. Los die universiteit, man. Moenie worry oor die universiteit se papiertjie nie, ek sal vir jou aan die einde van die jaar ’n papiertjie gee. Dan kom jy saam met my Johannesburg toe en help my om die rolprent te redigeer.”

      Toe Jans dit sê, kon ek natuurlik oor die maan spring – enigiets om in die rolprentbedryf te kom. Dit was regtig my kaartjie tot die bedryf waaroor ek jare al gedroom het. Sonder om twee keer te dink het ek my ma gebel en gesê ek gaan nie terug universiteit toe nie; ek het ’n werk by Jans gekry. Ek het my rol klaargemaak en vir Jans met eenvoudige produksiewerk gehelp.

      Toe ek later teruggaan Kaapstad toe om my goed te gaan haal, was professor Robert Mohr, by wie ek drama geloop het, baie teleurgesteld dat ek nie die kursus sou voltooi nie.

      Ons is Johannesburg toe om die rolprent te gaan redigeer. Jans was baie lief vir pap en ek het seker drie tot vier keer in die week vir hom pap en wors op braaihout gemaak. Ek het hout daar by Lonehill gaan haal toe daar nog nie huise was nie en dan sy pap en wors vir hom gemaak en koffie aangedra. Dit was my eerste ervaring van filmredigering.

      Net so skielik soos my kortstondige studies tot ’n einde gekom het, net so skielik het ek in die rolprentbedryf beland. Ek was 21 jaar oud en ek was presies waar ek wou wees.

      Daar is op hierdie aarde geen sekuriteit nie; daar is net geleenthede.

      – Douglas MacArthur

      Hoofstuk 3

      Ongewenste dilemma

      As jy iewers ’n pad sonder enige struikelblokke vind, lei dit waarskynlik nêrens heen nie.

      – Frank A Clark

      As Die kandidaat my denke gevorm en my oor ’n bestemming laat droom het, was Ongewenste vreemdeling my kaartjie na daardie bestemming. Tog was Ongewenste vreemdeling vir my op ’n persoonlike vlak sleg.

      Ek was ’n week op Knysna op stel, toe ’n ingenome Emil Nofal, die vervaardiger van die rolprent, vir Manie bel en sê: “Dit lyk soos dié Suid-Afrikaanse Tsjechov wat julle daar maak.” Manie was so opgewonde. ’n Week later, op die Sondag, bel Emil egter weer en sê net vir Manie: “Ons kom af Knysna toe.” Manie het my vertel hy het dadelik geweet Emil het bedoel hy en Jans Rautenbach kom Knysna toe. Emil en Jans het saam die rolprentmaatskappy Emil Nofal Films besit.

      Emil en Jans het die volgende dag op Knysna aangekom en saam met Manie het hulle in ’n hotel agter ’n toe deur vergader. Ek het tee aangedra en gehoor hoe hulle daar in die kamer op mekaar skree. Toe ek op ’n keer tee wou inneem, het hulle net vir my gesê: “Gaan uit!” Emil het die tee deur ’n skrefie in die deur geneem en toe het ek geweet daar is groot moeilikheid. Dit het vir nog ’n dag so aangehou waarin die produksie stilgestaan het. Die ooreenkoms was toe dat Jans elke skoot van Manie sou goedkeur in terme van beligting, hoeke en kamerabeweging. Nodeloos om te sê, is van die skote afgekeur.

      ’n Paar dae later het ek op pad van my rondawel af vir Manie in die paadjie sien aankom – sy oë nat van die trane. Hy het vir my gesê: “Ou Reggie, ek kan dit nie doen nie, ek gaan my goed pak en waai.” Hy het geen verduideliking gegee nie, maar dit was vir my skrikwekkend.

      Nadat Manie vertrek het, het Jans ons as span bymekaargeroep en vir ons ’n pep talk gegee soos Hitler dit nie met sy generaals kon nadoen nie.

      Ek was in ’n sieleworsteling. Manie was sowat ses jaar ouer as ek, maar daar het ’n goeie vriendskap tussen ons ontwikkel. Hy het my oor die rolprent in sy vertroue geneem en vertel wat hy wou doen. Skielik moes ek my lojaliteit teenoor Manie vir Jans gee, wat vir my verskriklik moeilik was.

      Ek het gevoel hulle het die rolprent by Manie gekaap. Of dit was omdat Jans die werk nodig gehad het en of Emil werklik nie van Manie se werk gehou het nie, sal ons nooit weet nie. Niemand sê vir jou die een week jy is besig om ’n Tsjechov te maak en die volgende week vervang hy jou met ’n ander regisseur nie.

      Ons het toe weer begin skiet en daar was ’n paar dinge waarvan Jans nie gehou het, onder andere nie van Trudie Taljaard as die vroulike hoofrol teenoor Marius Weyers nie. Ek het ’n lang pad saam met Jans geloop en ken hom, want ek is die akteur wat die meeste rolprente saam met hom gemaak het. Hy is nie ’n maklike mens nie. Aan die een kant is hy ’n vriendelike en warm mens, maar hy kan in ’n oomblik in die teenoorgestelde verander en dan verskriklik skel en vloek.

      Hy het eendag op stel vir Trudie ’n rok laat aantrek, net om haar daarna te beveel om ’n ander rok te gaan aantrek. Dan moes sy haar hare so maak en dan so. Dit het die hele middag so aangegaan totdat Trudie se oë so geswel was van al die gehuil dat sy nie voor ’n kamera kon verskyn nie. ’n Dag of wat daarna het hy haar in geen onduidelike taal nie in die pad gesteek.

      Hierdie ontsaglike sielewroeging het steeds in my gewoed, want eintlik hou ek baie van Jans. Hy het vir my ’n fantastiese ding gedoen met Die kandidaat, want daar het ek die gewigtigheid besef van wat ons met rolprente kon doen. Jans word as die pionier van die rolprentbedryf van die 1960’s en -70’s beskou. Hy het baanbrekerswerk gedoen in ’n tyd toe die rolprentbedryf in Suid-Afrika nouliks die sosio-politieke werklikhede van die land weerspieël het. Met Die kandidaat het hy, terwyl hy sterk op Carl Jung se psigoterapie gesteun het, die psige van die Afrikaner ondersoek en die skynheiligheid van die sogenaamde “super Afrikaners” ontmasker. Katrina was een van die mees vernuwende rolprente in die 1960’s. Die rolprent fokus op ’n bruin vrou wat haarself as wit voordoen om vir haar en haar seun ’n beter lewe onder apartheid in Suid-Afrika te bewerkstellig. Met Jannie totsiens het Jans ’n sielsieke-inrigting as allegorie gebruik om die Suid-Afrikaanse samelewing onder apartheid uit te beeld. Dit was Suid-Afrika se eerste avant-garde rolprent wat ’n opskudding veroorsaak het. Pappa Lap en Eendag op ’n reëndag het die klasseverskille onder wit Afrikaners ondersoek. Ek het groot respek vir Jans se werk gehad.

      Daar was darem ook die ligter oomblikke op die stel van Ongewenste vreemdeling. Jans het ’n