Die ewigheid in my hart. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318947
Скачать книгу
ek kan leef, is ’n onmeetlike voorreg.

      En dat ek die soetheid van oorwinning

      steeds agter in my keel kan proe,

      maak hierdie lewe ’n loutere genot.

      Dankie vir u ingrype.

      Dankie dat ek dié dag gegun is, dat ek kon sien hoe U

      met kwaaddoeners klaarspeel. Tog verstommend

      hoe hulle die aftog blaas wanneer U aankom!

      Oor hul voete val soos hulle haastig padgee,

      so ver moontlik van U af weg.

      Want U het op u troon gaan sit

      en hulle net één kyk gegee –

      en toe is dit verby.

      Hul hele ou wêreldjie het ineengestort.

      Hul naam is tot niet, uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie.

      Wie sal ooit weer oor hulle praat – behalwe om te vertel van dié keer

      toe die Here hulle weggevee het? Dit is klaar met hulle, ja.

      Maar met mý het U weer begin.

      Luister na my loflied hieroor, mense!

      Hoor my hart, Here,

      ontvang my oorvloedige dankbaarheid.

      Lees Psalm 9:8-13 | 11 Januarie

      “Kom na My toe!”

      Here, U het reeds oor en oor gewys

      dat U die Heerser oor die wêreld is.

      Deur eeue heen sien die mensdom dit.

      “Die God van nasies,” noem hulle U;

      “die Een wat oor die volke oordeel.”

      Maar ek beleef u heerskappy ook in my eie klein wêreldjie,

      wanneer U wat groot is na my toe afbuk.

      As U vir my sê: “Toemaar, toemaar …”

      Dan verwonder ek my: Is dit hoe die grote God klink?

      Is dit hoe Hy fluister?

      U wat die mensdom bulderend kan oordeel,

      Here, U wat oordonderend kan regeer –

      Ú kies om sag te wees.

      Is dit omdat U weet hoe hard hierdie wêreld is,

      en van u kinders se weerloosheid teen kragdadigheid?

      Of is dit maar soos U is –

      die Almagtige wat in die aandwind met sy kinders wandel,

      die Alwetende wat in die stilte fluister?

      Dié een wie se krag juis in ons swakheid vervul word?

      Dan het dit vir my sin, Here, dat U ook Toevlugsoord heet.

      Dat brose mense in u teenwoordigheid tuiskom

      en ontredderdes van altyd af by U skuil.

      U wat ons op die naam ken,

      en ons só roep,

      U laat U ook deur óns ken,

      sodat ons U op die Naam kan roep:

      “Here, help!”

      Sodat ons weer en weer kan hoor

      hoe U antwoord: “Hier is Ek!”

      En nóg ’n slag kan sien hoe u arms wyd oopgaan

      terwyl U herhaaldelik sê:

      “Kom na My toe!”

      Lees Psalm 9:14-21 | 12 Januarie

      Ek sal sonder ophou praat

      Ek het heelwat om te vertel, Here –

      láng stories oor U

      wat my gered het – lank gelede, én heel onlangs.

      Nou is dit weer sulke tyd …

      Asseblief, Here, daar is mense

      wat dit nie goed met my bedoel nie.

      Hulle haat my met ’n passie

      en U is ál wat my kan help:

      Red my uit hul kloue!

      Ek belowe ek sal weer hiervan vertel;

      ek sal sonder ophou praat

      en ek sal jubel oor U, my Verlosser.

      Die boosdoeners val in die gat wat hulle gegrawe het,

      hulle skiet hulleself in die voet.

      Dat ’n mens nou só die argitek van jou eie ondergang kan wees …

      Maar U het weinig simpatie met hulle;

      hulle het immers gekies om U nie te ken nie.

      Hulle het die gesig weggedraai toe U verskyn,

      hulle uit die voete gemaak toe U naby kom.

      Nou moet hulle maar sien kom klaar.

      U aandag is op die hulpeloses toegespits.

      U onthou dié wat weet dat hulle

      nie sonder U kán klaarkom nie.

      Ons wat niks het om aan U te bied nie,

      wat keer op keer met leë hande voor U kom staan,

      óns hoop is op U, wat ons nooit sal vergeet nie.

      Ons vertrou U met ons magteloosheid

      en moedeloosheid; U sál ’n plan maak.

      Daardie spul weet niks, Here;

      hulle is ook maar mense, dom en sonder insig.

      Maar, dankie tog, ék weet,

      ek weet genoeg,

      en ek sal dit oor en oor sê.

      Lees Psalm 10:1-11 | 13 Januarie

      Waar is U?

      Waar is U?

      Hoekom sien ek U nie, Here?

      Waarom hoor ek niks van U nie?

      Speel U ’n speletjie met my?

      Kruip U dan vir my weg?

      Ek het U nou nodiger as ooit –

      U moet die verwaande goddeloses keer.

      Hul hoogmoed ken geen perke nie;

      hulle sê net wat hulle wil,

      sonder dat iemand dit waag om hulle teë te gaan.

      Hulle doen net waarvoor hulle lus het,

      vas oortuig dat niemand hulle sal stuit nie.

      Hierdie soort mens verkondig wyd en syd

      dat hy onaantasbaar is, onoorwinlik, sonder weerga.

      Sonder gewete – en trots daarop!

      Here, U moet net hoor wat sê hy van U!

      Hy sê dit is onwaarskynlik dat daar ’n God is;

      elke mens is sy eie beste baas.

      “Ek maak soos ek wil,” smaal hy, “en solank ek genoeg wins maak,

      is dit reg met my. Ek het vrede met jou en jou sogenaamde God.”

      Hére! En hy glo homself!

      In sy eie oë is hy onaantasbaar; hy sê dit was deur die jare só –

      met sy pa voor hom, en dié se pa voor hóm.