Die ewigheid in my hart. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318947
Скачать книгу
’n bose greep en my by “Skoonbegin” neergesit.

      Nou kan ek weer rustig word –

      sonder om gedurig oor my skouer te loer

      en sonder om die pad wat voor my uitstrek

      te fynkam vir struikelblokke wat daar gelê is.

      U het my waarlik vrygemaak, Here!

      Ek wonder dikwels waarom U

      my so buitengewoon goedgesind is?

      Wat het ek gedoen dat U

      hemel en aarde versit om my te red?

      As dit is omdat my hande skoon is –

      dan is dit omdat U dit gewas het.

      As dit is omdat my voete op u paaie gebly het –

      dan is dit omdat U dit só gerig het.

      As dit is omdat ek my aan u voorskrifte gehou het –

      dan is dit omdat U my hart bewaar het

      van die begeertes wat alles so geil toegroei.

      Ek verheug my in u trou, u erewoord.

      Ek staan verstom oor die onvoorwaardelike liefde

      wat ek van U ontvang, wat my laat asemhaal en lewe.

      Ek dank U vir die onderskeid wat net U kan maak,

      dat U ver kan sien en diep kan kyk –

      tot in die seerste seer van die bedrukte hart.

      Ek verwonder my aan die hand waarmee U my vashou.

      Hier is dan mý hande, Here:

      Neem hulle en lei my teen die steilte uit.

      Hier is my hande, Here:

      Gryp hulle vas en spring met my oor die muur.

      Kyk, ek strek hulle na U toe uit –

      neem dit, asseblief!

      U het hulle gereed gemaak

      van altyd af, vir U.

      Lees Psalm 18:31-35 | 25 Januarie

      Hier is my voete

      Dit is wonderlik, Here, dat u pad volmaak is,

      want nou het ek ’n roete wat ek sonder skroom kan volg.

      Dit is wonderlik, Here, dat u woord suiwer is,

      want so het ek ’n gelouterde gawe waaraan ek my verluister.

      En as alles padgee onder my

      – al my sekerhede, al my trots –

      dan kan ek by U gaan inkruip.

      Haai, julle! Wys my nóg so ’n God!

      Gee my daardie een se adres,

      sodat ek hom kan gaan opsoek;

      stuur my sy naam, dat ek hom kan aanroep!

      Nee wat, hulle soek vergeefs.

      Daar is niemand soos U nie, my rots.

      Dit is U wat my toerus om aanslae af te weer;

      my krag kom uit u ruim spens.

      Dit is U wat die hindernisse wegvee

      en ’n plan met die opdraand maak.

      Ek weet van die gevare wat lê en loer;

      U berei my deeglik daarop voor.

      U gee my moed voordat ek vertrek.

      U laat my ligvoets reis,

      huppelend, vrolik, kommervry.

      Al is ek so broos soos ’n bokkie,

      snuiwend in die vreemde luggie,

      weet ek my voete word in diep spore geplant.

      Geen hoogte of diepte laat my meer weifel nie;

      die vastigheid wat U gee, is ’n grondige troos.

      Hier gaan ek nou, Here:

      Hier is my voete –

      skoei hulle met die bereidheid

      om U nougeset te volg.

      Hier is my voete –

      maak hulle sterk, want die pad is lank.

      Lees Psalm 18:36-51 | 26 Januarie

      As ek terugkyk …

      As ek nou op alles terugkyk, Here,

      en die woelinge van die afgelope tyd

      weer voor my geestesoog laat afspeel, dan moet ek sê:

      God was vir my goed, oneindig goed!

      Tot in die fynste besonderhede het U my voorberei

      op die aanslae van hulle wat my wou leed aandoen.

      Met u eie hande het U my versorg,

      my alles gegee wat ek vir die stryd sou nodig hê.

      En my vasgehou, stýf vasgehou.

      Hoe gereeld het U nie met my gepraat nie,

      my moed gegee, my desperate vrae beantwoord.

      Dit alles het my sterk gemaak!

      Ek kon vol vertroue my vyande gaan soek, en vind.

      Sies tog, uiteindelik was hulle so pateties,

      so ontredderd: Hulle het selfs ú Naam aangeroep!

      Aanvanklik het hulle báie name uitgeryg –

      daar was soveel sogenaamde helpers

      wat desperaat gesoebat is om hulle te kom bystaan.

      Maar daar was niemand vir hulle nie; nog nooit.

      En toe roep hulle maar na U …

      U luister nie na vreemdes

      wat opportunisties kom kerm nie.

      U gee nie ag op kansvatters nie.

      Maar wat my betref: Dankie, weer, Here!

      Dankie vir alles: Vir die beskerming,

      vir die oorwinning – dat ek kon sien hoe hulle stof word,

      dat ek dit kon beleef hoe hulle op straat uitgegooi word.

      Dankie vir die vreemdes wat nou skielik voor my verskyn,

      wat uit hul gate kruip en bewerig kom buig.

      Dankie dat U my verhef het.

      U trou is onbeskryflik kosbaar vir my.

      Vir ons, die Dawidskinders.

      Lees Psalm 19:1-7 | 27 Januarie

      Die hemele roem

      Hoor daar, Here, dit is die hemele wat so roem!

      Hoor U die eer wat u skepping U toebring?

      Ja, dit is oor U dat die gejuig losgebars het.

      Dit vloei jubelend voort, sonder ophou –

      dag ná dag, nag ná nag. Van ewigheid af

      en tot in alle ewigheid.

      Daar kom wel dae dat die skepping ook swaar sug,

      dat die aarde na die hemel roep –

      en, meestal lank en soms vergeefs, op ’n antwoord wag.

      Maar vandag is daar net één geluid –

      ’n dawering van bo,

      van onder, van oral.

      Haai, nee,