Die ewigheid in my hart. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318947
Скачать книгу
ken U nie soos ek U ken nie:

      U is die Een wat die kwaad van my wegkeer, die skild

      wat my teen die brandende pyle beskerm.

      Ek hoef nie koes-koes deur die wêreld te sluip nie,

      ek mág maar, in u krag, my kop hoog hou.

      Nooit roep ek in ’n leegte in nie;

      U antwoord my, keer op keer.

      Van u berg af, deur hierdie wêreld se verraderlike klowe heen,

      kom u antwoord na my toe aangerol.

      Eggo dit, oor en oor, sodat ek góéd moet hoor.

      Met hierdie herhaalde versekerings in my ore

      gaan slaap ek, gerusgestel, vol vrede

      en met nuwe vooruitsigte vir die dag wat op my wag.

      Môreoggend sal ek opstaan en sê: “Hallo, Here!”

      Dankie dat U my laat rus het. Dankie dat U my gerus maak.

      My beskermer.

      Ek is nie meer bang nie, want U ruk my vyande in die bek.

      Hulle is niks.

      Lees Psalm 4 | 4 Januarie

      Ons lig

      Here, ons kom al ’n lang pad, ek en U.

      Ek was al sóveel keer in die moeilikheid

      en dan het U my uitgehelp;

      soveel keer vasgevang,

      en dan het U my losgemaak, vrygelaat.

      Vir my ruimte gemaak.

      Daarom, Here, bid ek nou weer, smeek ek:

      Hóór my, asseblief!

      U weet dat daar mense is wat nie van my hou nie.

      Dit wat hulle oor my sê en beplan,

      is net op een ding gerig:

      Om my leed aan te doen.

      O Here, laat hulle tog besef dat hulle met vuur speel

      wanneer hulle een van u getroue volgelinge se eer skend.

      Laat hulle tog weet dat U na my luister wanneer ek roep.

      Ek roep na U, Here! Hoor my!

      Elke dag beleef ek u goedheid.

      U is teenaan my, en hierdie intieme teenwoordigheid

      skyn helder oor my.

      U sorg vir die brood en die wyn, die oorvloed op my tafel.

      U sorg vir die oorvloed in my hart, die vreugde.

      U gee die vrede wat maak dat ek kan gaan lê

      en gou aan die slaap raak,

      omdat U die Een is wat my bewaar.

      Dan is daar ook dié wat nog meer sukkel as ek.

      Hulle ken U nie regtig nie. Hulle sien U nie.

      Hulle onthou U vaagweg as die God van gister.

      Hulle sê: Déstyds was God goed …

      maar waar is Hy nou?

      U is hiér, Here, ek weet,

      U is hier in die lig.

      U is ons lig.

      Lees Psalm 5 | 5 Januarie

      In die vroegoggend

      Reeds in die vroegoggend, Here, roep ek U aan,

      in die volle verwagting dat U my hoor.

      En in die loop van die dag

      spits ek my ore vir u antwoord.

      Bloot ’n aanduiding dat U my gehoor het

      is vir my genoeg, Here!

      Maar sê tog, wýs my weer, asseblief,

      dat U nie goddeloosheid duld nie,

      dat boosheid U ontstel.

      Dat slimstories U nie beïndruk nie

      en grootmonde U nie bluf nie.

      Dat die wiel uiteindelik sál draai,

      omdat U aan die stuur is.

      U is lief vir my, Here,

      en daarom mag ek na U toe kom.

      Ek buig laag voor soveel onvoorwaardelikheid,

      en ek vra: Leer my om te midde van my teenstanders

      se baie stories, te kan onderskei wat u wil en u weg is.

      Hulle praat regtig báie, Here – en kán hulle lieg!

      Hul woorde is so soet, so vroom.

      Soms dink ek – hoe vreemd dit ook al mag klink –

      hulle glo hulself.

      Maar U weet hoeveel bedrog lê daar

      diep agter op hul tong

      en uit watter bose hart dit voortkom.

      U moet met hulle afreken,

      op u tyd en op u manier –

      U wat alles van hulle af weet.

      Intussen sal ek agter u rug skuil.

      Ja, ek kom kruip solank by U in.

      Lees Psalm 6 | 6 Januarie

      By wie sal ek gaan huil?

      Here, moenie vir my kwaad wees nie …

      maar hier huil ek al weer. Ek is jammer.

      Hoe kan ek tog my trane vir U wegsteek?

      By wie sal ek gaan huil?

      Wie anders sal ek met my leed vertrou?

      Here, U moet tog goed kyk hoe lyk ek,

      hoe uitgeteer ek is.

      En ek is moeg, Here, so bitter moeg.

      En baie bang.

      U moet weet hoe bekommernis my uitmergel –

      ek is net vel en been. Sien U dit?

      Hoor U my ooit?

      Of slaan my gesoebat teen die dak vas

      en wag ek tevergeefs?

      Ek kan tog nie nou al doodgaan nie, Here!

      U moet my asseblief nie los nie –

      ek wil nog oor U praat, van U vertel

      en vir almal sê: “God is goed.”

      Terwyl ek nog asem het, wil ek uitroep:

      “Sy Naam is groot!”

      Maar nou vertel my dikgehuilde oë

      ’n ander storie en almal hoor hoe ek

      na my asem hyg. Ek is al moeg gesug,

      gedaan gekla. Skaam, want almal ken

      reeds my verhaal. Ek slaap nie meer nie.

      ’n Mens kry nie rus as jou kussing nat is nie.

      U hoor my snikke.

      U sien my trane.

      Daarom sê ek nou: “Gee pad, julle!”

      Ek skreeu: “Weg is julle! Kwaadpraters!”

      U laat hulle druipstert omdraai.

      Niemand mors met u kinders nie.

      Lees