“Kom,” sê sy terwyl sy opspring. “Ons moet huis toe gaan. Julle bly tog seker vir aandete en Mietjie kom nie vanaand in nie.”
In stilte stap Gawie Pretorius saam met haar terug huis toe, terwyl hy veg teen sy teleurstelling. Hy het nooit daaraan getwyfel dat Aletta ja sal sê as hy eendag sover kom om die groot vraag te vra nie.
In die vroeë skemering, gebaai in die rosige lig van die ondergaande son, het die donker klipkoppies ’n vreemde, aangrypende skoonheid vir Aletta. Sy is bewus van Gawie se teleurstelling en om sy gedagtes af te lei, vertel sy hom van die nuwe bestuurder se versoek om ’n chaperone.
“Ek het nooit daaraan gedink nie,” erken Gawie. “Maar hy is heeltemal reg. Dit kan beslis lei tot skinderpraatjies – ek kan tant Breggie Krige al hoor – en ek dink jy moet dadelik ’n plan maak om Ta’ Lettie te gaan sien.” Liggies voeg hy by: “Die vrou van ’n man wat hom in die politiek wil begewe, moet bo alle verdenking staan.”
“Dan is dit nie oor my goeie naam wat jy besorg is nie,” terg sy hom. “Julle mans is almal net eenders. Ons nuwe bestuurder is ook baie meer bekommerd oor sy reputasie as myne.”
“Dalk het hy die een of ander probleem met vroumense gehad en is nou versigtig,” glimlag Gawie. “Is hy getroud?”
“Om die waarheid te sê – ek weet nie. Hy het niks gesê nie. As hy getroud is, het hy miskien besluit om nie sy gesin saam te bring nie aangesien hy net ’n paar maande hier gaan bly.”
In stilte stap hulle verder, elkeen besig met sy eie gedagtes.
Maar Aletta dink nie aan die jong man wat langs haar stap nie. Sy dink aan Frans Naudé wat nog steeds daar in die vreemde is. Sy wens hy wil terugkom. Eers as sy weet wat sy planne met Tiervlei is, kan sy haar reëlings begin tref en self planne vir die toekoms maak.
Sy dink aan die nuwe bestuurder en wonder wat sy agtergrond is. Sou hy getroud wees? Sy het nooit aan die moontlikheid gedink nie. Stel hy werklik belang in boerdery, of het hy miskien nie die kans gehad om hom vir ’n ander beroep te bekwaam nie?
Dan dink sy aan die gesprek aan die ontbyttafel die oggend en glimlag suur. Die onderhoud het heel anders verloop as wat sy beplan het. Sy kan Jim Muller nog glad nie peil nie, maar hy het haar belangstelling geprikkel, en sy is bewus van ’n onwillige bewondering vir sy stille selfversekerdheid. Hy lyk vaal en sonder persoonlikheid, maar daar skuil kennelik baie meer in Jim Muller as wat ’n mens met die eerste kennismaking besef.
Sy sal hom voorlopig sy gang laat gaan. Sy is maar te dankbaar dat hier ’n man soos hy is wat kan help om die verantwoordelikheid vir die plaas en die boerdery te dra.
Hoofstuk 3
Betsie gaan saam met Aletta kombuis toe om met die aandete te help. Hulle bak wors en eiers en Betsie dek die tafel, dan stuur Aletta haar om Jim Muller by die rondawel te gaan roep.
“Sê vir hom ons prokureur is hier. Gawie wil hom graag ontmoet.”
Jim Muller sit rustig, pyp in die hand, op die bankie voor die rondawel. Die na-gloed van die sonsondergang lê nog teen die westerhemel en die aandskemering val sag oor die bruin, verskroeide wêreld. Hy staan op toe Betsie nader kom.
“Aletta sê die kos is klaar, meneer Muller,” sê Betsie vriendelik. “Jy moet kom eet.”
“Ek sien julle het besoekers,” sê hy.
“Dis Gawie Pretorius, ons prokureur, en Dawie Bruwer, ’n vriend van Susan. Aletta wil hê jy moet vir Gawie ontmoet.”
“Ek kom dadelik,” sê hy. “Ek trek net my baadjie aan.”
“Ek wag vir jou,” bied Betsie aan, en hy glimlag.
“Jy het toe nooit vanmiddag kom koffie drink nie,” sê sy toe hy terugkom.
“Ek het gaan stap.”
“Jy moes ver gestap het. Ek het gesien toe jy netnou terugkom.”
“Ek wou sommer kyk hoe lyk die plaas. Weet jy waar die baken is?”
Betsie lag. “Was jy tot daar? Toe ek klein was, het ek dikwels saam met Pa tot by die baken gestap of gery – dis waar ons draad loop.” Haar gesiggie versomber. “Maar die laaste jare, vandat Pa siek geword het, was alles anders. Aletta en Susan was albei weg, en Pa wou nooit dat ek alleen so ver gaan stap nie.”
“Heeltemal reg ook. Hoe lank woon julle al hier?”
Hulle stap aan deur die skemering na die groot huis.
“Amper ses jaar. Ek was twaalf toe Mamma met Pa getroud is. Aletta was toe al op universiteit.”
“En Susan?”
“Susan was ’n jaar saam met my in die koshuis op die dorp. Toe is sy universiteit toe. Maar sy was net ’n jaar op universiteit, toe is sy getroud.”
In die eetkamer wag die ander op hulle. Aletta stel Jim Muller voor aan hulle besoekers.
“Ek is bly jy is hier,” sê Gawie. “Aletta – juffrou Vosloo – kan net nie alles alleen behartig nie.”
“Ek sal doen wat ek kan,” sê Jim Muller kalm. “Maar ek sal ook maar algaande moet leer. Ek ken hierdie wêreld glad nie.”
“Jy sal gou leer. Die groot ding is dat hier iemand is om toesig te hou en seker te maak die werk word gedoen. Maar juffrou Vosloo sê vir my dat jy net tot die einde van die jaar hier bly.”
“Ek het voorlopig net tot die einde van die jaar gekom. Maar as doktor Naudé besluit om nie die grond te verkoop nie, bly ek dalk langer aan. Ek weet nie. Die tyd sal ons leer.”
“Juffrou Vosloo en haar susters het net soveel seggenskap oor Tiervlei en wat met die grond gebeur as doktor Naudé,” sê Gawie kil.
“Kom eet, asseblief,” val Aletta tussenbeide. “Die kos is op die tafel.”
Jim Muller is stil aan tafel. Hy antwoord beleef as iemand met hom praat en het verder niks te sê nie. Die oomblik toe hulle klaar geëet het, maak hy verskoning en gaan terug na sy rondawel toe.
“Is dit nodig dat hy saam met julle aan tafel eet?” vra Gawie later toe hy en Aletta alleen is. Susan en Dawie is buite op die stoep, Betsie is kamer toe.
“Waar anders moet hy eet?” vra Aletta.
“Jan Gouws het nie saam met julle geëet nie.”
“Jan Gouws het in die kliphuis gewoon. Hy het ’n bediende gehad om vir hom te sorg. En hy het ook dikwels saam met ons geëet.”
“Hoekom is Jim Muller dan hier in die rondawel? Julle gebruik dit tog vir gaste.”
“Die kliphuis is baie vervalle en daar is omtrent nie meubels nie. En aangesien dit net vir ’n paar maande is …” Sy kyk nuuskierig na Gawie. “Wat makeer? Hou jy nie van Jim Muller nie? Hy is tog ’n beskaafde mens, enigiemand kan dit sien.”
“Ek het niks teen die man nie – en ek is bly hier is iemand wat toesig oor die werksmense kan hou. Ek het niks daarvan gehou dat jy so alleen hier op die plaas bly nie.”
“Dit kon nie anders nie. Maar ek sal self bly wees as dit alles verby is. Dit was ’n swaar jaar.”
“Ek weet, my liefste Alet! Ek het net die grootste bewondering vir jou, die manier waarop jy alles hier behartig het vandat jou ma oorlede is. Daarom wil ek jou graag help om jou sake in orde te kry.”
“Sonder Frans Naudé kan ons niks doen nie,” herinner sy hom weer.
Gawie skuif wrewelig rond in sy stoel.
“Ek