“Dit klink baie aanloklik. Ek wonder waarom die man so gretig is om Tiervlei in die hande te kry?” voeg sy peinsend by.
“Ek sou nie kon sê nie. Ek moet eerlik erken dat dit vir my maar na ’n bra onaansienlike stukkie grond lyk. En as jy my raad wil hê: neem die aanbod sonder versuim aan.”
“Ek sal ’n bietjie oor die saak dink, en ook met Susan en Betsie gesels. Maar ek is seker hulle sal nie beswaar maak nie.”
“Moet net nie te lank dink nie; hy verander dalk van plan.”
“Ek wens ek weet wat om te doen,” sê Aletta onseker.
Gawie neem haar hand en trek dit deur sy arm.
“Arme Aletta,” sê hy sag, simpatiek. “Jy het ’n moeilike tyd agter die rug en ek is seker jy is haastig om ’n einde te maak aan al die spanning en onsekerheid. As jy my net wil toelaat om jou te help – nie net as jou prokureur nie, maar ook as jou verloofde, jou toekomstige man.” Sy antwoord nie, en saggies vervolg hy: “Waarom is jy so koppig, Alet? Op die ou end sal jy tog ja sê. Waarom nie nou nie?”
Waarom nie? wonder sy. Sy hou van Gawie en Ta’ Lettie is reg: sy kan veel, veel slegter vaar as om met hom te trou. Maar iets hou haar teë, en hoe Gawie ook al pleit, kan hy haar nie van besluit laat verander nie.
Die volgende oggend bespreek sy die aanbod met Susan en Betsie. Hulle is albei opgewonde en gretig om dit dadelik te aanvaar. Nie een van hulle is juis geheg aan Tiervlei of lus om weer eendag terug te kom plaas toe nie, en hoe gouer hulle ontslae kan raak van die grond, hoe beter. Op haar beurt is Aletta ook heeltemal bereid om te verkoop, maar sy wil dit darem nie doen sonder om Frans Naudé te raadpleeg nie. Hulle besluit dat sy dadelik vir hom sal skryf.
Hulle is die oggend almal saam kerk toe. Jim het die vorige dag sy hare laat knip en in sy grys pak lyk hy netjies en op sy gemak. Hy wou eers nie in dieselfde bank as hulle sit nie, maar toe Betsie dreig om dan by hóm te gaan sit, neem hy ewe kalm sy plek tussen Ta’ Lettie en die drie dogters van Tiervlei in. ’n Verbasende man, dink Aletta. Stil, beskeie en op sy plek. Hy dring hom nooit aan hulle op nie en verkies blykbaar om alleen te wees. Tog kry sy nooit die gevoel dat hy in enige geselskap verleë of ongemaklik is nie. Betsie, wat Jan Gouws nie voor haar oë kon verdra nie, het Jim van die eerste dag af behandel soos die broer wat sy nooit gehad het nie. Selfs Susan, wat meer snobisties is as Betsie, het hom as een van die gesin aanvaar.
Teenoor haar is hy altyd hoflik en hulle verhouding word geleidelik beter. Sy teenwoordigheid op die plaas het haar lewe baie vergemaklik en sy weet sy kan op hom staatmaak as daar probleme is. Vir alles het hy ’n plan en sy raad is altyd prakties en weldeurdag.
’n Interessante man, dink sy weer, en tog haper daar iets. Sy voel oortuig dat hy dit in enige rigting ver kon gebring het, en die feit dat hy heeltemal tevrede is om ’n plaasbestuurder te bly dui tog op iets vreemds in sy geaardheid.
Terwyl hulle die aand buite op die gras sit en eet, verwys Susan terloops na die aanbod wat hulle gekry het. Aletta probeer haar stil maak – sy het hulle spesifiek gevra om niks daarvan te sê nie – maar die koeël is deur die kerk.
“Het julle nog ’n aanbod vir Tiervlei gekry?” vra Ta’ Lettie nuuskierig. Jim Muller sê niks nie, maar Aletta is bewus van sy verskerpte belangstelling en sy voel verplig om te verduidelik.
“Ons wil graag die aanbod aanvaar,” sê Susan toe Aletta klaar is. “Aletta gaan môre vir neef Frans skryf om hom van ons besluit te sê.”
“Ek het met meneer Pretorius daaroor gepraat,” sê Aletta effens uitdagend toe Jim steeds stilbly. “Hy sê daar is niks in die testament wat ons verbied om ons aandeel van die plaas te verkoop nie.”
“Hy behoort te weet,” sê Jim kalm. “Maar waarom die haas? Waarom kan die mense nie wag tot doktor Naudé oor ’n paar weke terugkom nie?”
“Hulle wag reeds langer as drie maande,” sê Aletta. “Ek gaan môre vir hom skryf. As hy Tiervlei dan so graag wil hê, kan hy mos ons aandeel koop.”
“Miskien doen hy dit nog,” merk Betsie opgewonde op. “Hy kan vir ons ’n aanbod maak, dan weet ons darem waar ons staan.”
Jim sê niks en Aletta stuur die gesprek in ’n ander rigting deur van die helderheid van die sterre te praat. Hulle gesels oor die verskillende sterrebeelde en die verhale daaragter, en tot Aletta se verbasing is sy kennis wyer en grondiger as een van hulle s’n. Vol belangstelling luister hulle na sy vertellings.
“Waar kom jy aan al hierdie dinge?” vra Betsie bewonderend.
“Ek het as kind in die sterrekunde belanggestel en heelwat daaroor gelees,” antwoord hy glimlaggend.
“Waarom het jy nie aangehou daarmee nie?”
“’n Mens kry weer ander belangstellings. Ek dink ná die sterre was dit posseëls – of miskien was dit posduiwe. Ek kan nie meer onthou nie.”
Is dit hoe dit met sy werk ook gaan? wonder Aletta. Altyd nuwe belangstellings, nuwe horisonne wat roep. ’n Man sonder ankers, wat gaan waar die gees hom lei. ’n Verstandige vrou is versigtig vir so ’n man.
Aletta is die volgende dag besig om aan Frans Naudé te skryf toe Jim Muller by die studeerkamer inkom. Een van die werkers is siek en hy vra Aletta om die distriksgeneesheer te bel.
“Bel jy sommer asseblief, meneer Muller. Ek wil graag hier klaarmaak.”
Hy maak die oproep, dan gee sy hom die vel papier waarmee sy besig was. “Lees dit, asseblief, en sê my of dit duidelik is.”
Hy neem die papier en lees die boodskap. “Dis heeltemal duidelik. Maar dit gaan ’n hele boel geld kos.”
“Ek weet. Maar ek wil nie hê daar moet ’n misverstand wees nie.” Hy vra haar of dit die brief aan Frans Naudé is.
“Ja,” sê sy. “Ek hoop net hy reageer gou.”
“Die lugpos is deesdae so vinnig, dit sal nie lank vat nie. Wel, ek hoop dit bring die verlangde resultate, juffrou. Ek hoop net nie jy het later rede om dit te berou nie.”
“Waarom sal ek dit berou?” vra sy koud.
“Omdat jy te laat mag ontdek dat die grond baie meer werd is as die prys waarvoor jy dit verkoop het.”
“Glo jy dat dit meer werd is? Glo jy dit eerlik?”
“Ek weet nie, juffrou Vosloo,” sê hy en die blougrys oë kyk reguit in hare. “Ek weet net dat jy niks kan verloor deur nog ’n rukkie te wag nie.”
’n Oomblik kyk sy terug na hom, half geneig om na hom te luister, maar dan staan sy beslis op. Sy sal haar nie weer so maklik van stryk laat bring nie.
Die brief is gestuur en gespanne het Aletta op ’n antwoord gewag. Tien dae het verbygegaan sonder dat sy iets van Frans Naudé gehoor het. Die volgende Vrydagoggend is sy vroeg saam met Susan dorp toe om by die poskantoor navraag te doen, maar die posmeester verseker haar dat daar geen brief vir haar gekom het nie.
Is hy miskien weg, wonder sy, dat hy nooit die brief gekry het nie, of is dit sommer net van pure moedswilligheid dat hy nie antwoord nie? Sy het baie lus en stap reguit na Gawie toe en sê dat hulle die aanbod sal aanvaar.
Net buite die poskantoor loop sy ’n ou vriendin van haar ma raak wat haar nooi om ’n koppie tee saam met haar te gaan drink. Aletta is bly om haar te sien en aanvaar dadelik die uitnodiging. Sy is warm van al die rondjaag en dit gee haar ’n kans om bietjie af te koel voordat sy vir Gawie sien.
Terwyl hulle tee drink, kom twee mans die kafee binne. Sy herken Jan Gouws dadelik, maar hy sien haar nie raak nie en stap na ’n tafeltjie aan die ander kant van die vertrek. Die man by hom lyk vaagweg bekend – sy is seker sy het hom al vantevore gesien, maar sy kan nie onthou waar of wanneer nie. Toe sy en haar ma se vriendin uitstap, kyk die man op. Hy aarsel ’n oomblik toe hy Aletta