Toe Aletta buite kom, noem iemand haar naam. Sy kyk om. Dis Jan Gouws wat vinnig na haar toe aangestap kom. Haar eerste impuls is om dadelik verder te stap, maar sy dwing haarself om te bly staan.
“Hallo, Aletta,” groet hy hartlik, asof daar nog nooit enige probleme tussen hulle was nie. “Ek hoop dit gaan goed met Tiervlei se boere.”
Sy ignoreer sy uitgestrekte hand. “Baie goed vandat jy weg is, dankie. Wat wil jy van my hê?”
Sy sien hoe die hartlikheid uit sy gesig verdwyn en kortaf sê hy: “Ek het ’n belangrike boodskap vir Frans Naudé. Waar kan ek hom kry?”
“Waarom vra jy nie sy prokureur nie? Hy sal jou sy adres in Amerika gee.”
“Jy weet net so goed soos ek dat Frans Naudé nie meer in Amerika is nie,” sê hy bars.
Sy staar hom ’n oomblik aan, dan sê sy kil: “Jy weet blykbaar meer as ek. En terloops, die polisie soek nog altyd na daardie beeste van ons wat weggeraak het.”
“Laat hulle maar soek,” sê hy. “Toe maar, ek sal gou genoeg uitvind waar Frans Naudé is. Maar pas op. Jy sal nog jammer wees oor jou koppigheid.”
Bewend van ontsteltenis stap sy weg. Dreig Jan Gouws haar? Sy is nie bang vir hom nie. Maar sy is tog bewus van ’n vreemde, onverklaarbare gevoel van onheil.
Moenie verspot wees nie, sê sy vir haarself. Moenie toelaat dat jou verbeelding met jou op loop sit nie. Jy hoef jou nie aan Jan Gouws te steur nie.
Sy sal nou dadelik met Gawie gaan praat, besluit sy. Sy sal hom van Jan Gouws se dreigemente vertel, ook van die jong man wat saam met hom tee gedrink het. Hy sal haar gerusstel. Hy sal weet of Frans nog in Amerika is, of reeds op pad huis toe. Op pad huis toe? Net die gedagte laat haar hart vinniger klop. Maar van watter belangrike boodskap praat Jan Gouws?
Gawie is nie in sy kantoor nie. Hy is in die hof en sy tikster weet nie wanneer hy terug sal wees nie. Aletta is teleurgesteld, maar sy wil nie wag nie. Sy sal gou haar inkopies klaarmaak en dadelik plaas toe gaan. Gawie sal seker die naweek kom kuier, dan kan sy met hom gesels.
Toe sy ’n halfuur later weer by die motor voor die poskantoor kom, sien Aletta tot haar ontsteltenis dat die Chev nie één nie, maar twee pap bande het. Is dit Jan Gouws se werk? dink sy dadelik. Dan ruk sy haarself reg. Die bande is nie meer nuut nie, sy het seker êrens ’n stuk draad of ’n paar geroeste spykers opgetel. Gelukkig is daar ’n garage naby waar sy die bande kan laat regmaak.
In elkeen kry hulle ’n lang, splinternuwe spyker.
Peinsend ry Aletta terug plaas toe. Sy ry vinnig, maar nog nooit was die pad so lank, of was sy so bly om Tiervlei se huis te sien nie. Jim kom haar tegemoet en help haar om haar pakkies in te dra.
“Ek het al onrustig begin word,” sê hy. “Was daar weer ’n donkie op die pad?”
Sy wil haar eers vir hom vererg, maar sien die fyn glinstering in sy oë, die effense glimlaggie om sy mondhoeke, en sy grinnik onwillig.
“Nee, maar ek het ander moleste gehad.” Sy vertel hom van die twee pap bande en in die studeerkamer haal sy die twee lang, blink spykers uit haar handsak en wys dit vir hom. “Daar was een in elke band.”
Hy neem die spykers by haar en bekyk hulle fronsend. “Wat beteken dit?” vra hy, en sy gesig is skielik streng.
Sy haal haar skouers op. Sal sy hom alles vertel, of moet sy liewer eers met Gawie praat? Sy weet nie tot wie sy haar op hierdie oomblik moet wend nie. En Frans Naudé, die man wat haar moet help en bystaan, is baie ver weg en blykbaar totaal onverskillig oor wat met hulle gebeur. Sy voel skielik die trane agter haar ooglede brand en draai vinnig weg, skaam en ontsteld dat Jim haar só moet sien. Dan voel sy sy hande op haar skouers, sterk en tog sag, en hy draai haar so dat hy weer haar gesig kan sien.
“Wat makeer?” vra hy sag. “Wat het nog gebeur?”
Sy kyk op na hom, en haar hart klop onstuimig. Sy is bewus van sy nabyheid en daar is iets in die blougrys oë wat so besorg in hare kyk wat haar met ’n skielike opwinding vervul. Haastig staan sy terug en hy laat haar dadelik gaan.
“Ek is sommer verspot,” sê sy. Meer beslis vervolg sy: “Ek is ook vies omdat ek nog niks van Frans Naudé gehoor het nie. Hy verwerdig hom sowaar nie eers om my brief dadelik te beantwoord nie.”
“Die brief is seker net vertraag. Maar jy het my nog nie vertel wat gebeur het nie.”
Aletta tel haar handsak en van die kleiner pakkies op.
“Ek sal jou later vertel. Ek gaan net vir Ta’ Lettie groet en van my dorpsklere ontslae raak.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.