Toe hy uit die koöperasie aangestap kom, sê hy asof hy dit moeilik vind om sy maniere te onthou: “Ons kan eers ’n koppie tee in die kafee gaan drink. Die plaas is ’n entjie uit die dorp en dit is nou teetyd.”
Hierop laat Marista ’n dankbare “ja, dankie” hoor, want haar keel is so droog van al die benoude gesluk dat dit vir haar voel asof sy dae laas ’n druppel vloeistof oor haar lippe gehad het.
Maar toe hy klaar tee bestel het, is sy jammer dat sy die uitnodiging nie maar van die hand gewys het nie. Die stilte wat nou tussen hulle heers, is tien keer erger as dié in die vragmotor. Sy is eintlik verlig toe daar skielik ’n stem langs hulle opklink.
“My wêreld, Michael, ek het nie geweet jy kom vandag dorp toe nie.”
Meneer Michael lyk ewe verlig toe hy vinnig opstaan, asof die stilte darem op sy senuwees ook begin werk het.
Die ander meisie se oë draai na Marista en hulle vra duidelik glad nie oorvriendelik nie: En waar kom jý vandaan? Marista probeer glimlag, maar sonder sukses.
“Laat ek julle voorstel. Dis Erika Webb. Hulle boer op die plaas wat aan Duiwelskloof grens. En dis juffrou Greyling … ons nuwe … e … huishoudster,” stel hy hulle voor en Erika se oë flits vinnig na hom op en dan weer terug na Marista, terwyl die baas van Duiwelskloof haastig byvoeg: “Johan het haar aangestel.”
“Jul nuwe huishoudster? Maar …” Haar nougetrekte oë bestudeer die gesig oorkant die tafel en haar blik rus lank op die pragtige vel, die diepblou oë, die hare – hoewel in ’n stywe, oninteressante bollatjie agter die kop saamgevat – wat nogtans soos geelryp koring skitter. “O! Ek … ek het nie geweet julle het toe een gekry nie.”
Sy spreek Michael aan, maar haar oë bly koel, vyandig op Marista gerig, wat net stilswyend kan sit en terugkyk.
Michael se stem klink bot. “Soos ek gesê het, dit is Johan se keuse. Kom sit. Wat van ’n koppie tee?”
“Ja, seker, dankie.” Erika neem plaas en dis asof sy nie haar oë van Duiwelskloof se nuwe huishoudster kan wegskeur nie. “Johan het my niks vertel nie. Ek was juis van plan om julle weer môre oor te nooi vir ete …”
Marista sit maar doodstil. Soos sy kan aflei, moet die Webbs en die De Beer-broers baie hegte vriende wees. Blykbaar weet Erika ook alles van die De Beer-huishouding af, en dit klink asof sy afgehaal voel dat ’n nuwe huishoudster vir Duiwelskloof aangestel is sonder dat sy daarvan weet en daaroor geraadpleeg is.
“Dit het ietwat skielik gebeur,” hoor sy die oudste broer se diep stem hier langs haar verduidelik. “Mejuffrou Greyling het maar eers twee dae gelede gebel in verband met die betrekking, en Johan het haar toe sommer dadelik aangestel. Ek het self maar eers gisteraand ná donker daarvan gehoor.”
Erika glimlag teenoor Marista, maar haar oë bly berekenend. “Dit was darem gaaf dat u dadelik kon kom, juffrou. Ek kan u verseker dat die twee mans van Duiwelskloof uitgehonger is. Dit gaan weke duur om hulle versadig te kry!”
Marista voel ’n koue rilling langs haar ruggraat afgaan en sy vra half verbouereerd: “Maar … maar het u dan geen sorg gehad nie?” Ouma het dan gesê daar is ene ou Sabien!
“O ja, ou Sabien is daar, maar sy is nie eintlik ’n kok nie!” lag Erika en die eerste keer sien Marista Michael se gesig in ’n effense glimlag ontspan.
“Jy kan dit weer sê! Net gisteraand nog het Johan gesê as hy nog ’n slag mieliepap en frikkadel in die oë moet kyk, sal hy soos ’n kind aan die huil gaan!”
Die twee lag, maar Marista voel eerder asof sý soos ’n kind aan die huil kan gaan. Ouma het gesê … Sy sluk. Ouma het baie dinge gesê en dit begin nou blyk dat dit dinge is waarvan sy niks geweet het nie!
“Foei tog! Ek kon ook meer kere vir julle iets te ete oorgebring het, maar …”
“Dit was jy wat ons die afgelope tyd aan die lewe gehou het. Jy het meer as genoeg vir ons gedoen.” Hy wend hom tot Marista asof hy skielik daarvan bewus geword het dat daar nog iemand in die geselskap is. “Erika is ons puikste jong meisie in die distrik. Sy loop gewoonlik met al die pryse op die tentoonstellings weg.”
Erika waai haar hand afwerend, maar haar stem klink ingenome. “Stadig oor die klippe! Miskien sal mejuffrou Greyling my op die komende tentoonstelling in die skadu stel en al die pryse voor my neus wegraap.” Die oë kyk weer speurend. “U lyk nog nie sodanig oud nie, juffrou. U is dus seker baie knap, nie waar nie?”
Marista tas wild in haar gedagtes rond. Wat moet sy daarop antwoord? Skielik voel sy lus om te giggel, maar sy onderdruk dit, want sy besef sy is op die punt van histerie. Sy wonder wat hulle sal maak as sy sommer nou prontuit erken dat sy nie eens soos ou Sabien mieliepap en frikkadel kan maak nie. Dan sal sy daarvan verseker wees dat sy op die volgende trein terug Kaap toe sal sit!
Nie die eerste keer nie, wens sy met haar hele hart dat sy Ouma kon saamgebring het. Sy sou geweet het hoe om hierdie hooghartige, bekwame juffertjie op haar plek te sit. Maar ál wat Marista kan doen, is om net te glimlag en haar kop ontkennend te skud as enigste antwoord.
Michael staan met ’n ligte sug op.
“Ek is besig om skape te spuit, dus sal ons nou moet gaan,” laat hy hoor en die twee meisies staan ook op.
“Ja, ek moet ook aanstaltes maak. Ek het vanoggend vir Jafta gesê hy moet môreoggend vroeg die boonste kampe bymekaarkry. Ek wil juis nog Ivomec gaan kry.”
“Ek het vandag Ovivax 6 gevat. Ek wil kyk hoe dit werk.”
“Wel, jy kan probeer. Hulle sê dis goed, maar oom Coenie van Mooidraai sê hy vind Ivomec nog maar die beste en baie doeltreffend.”
Vir Marista is hierdie gesprek natuurlik Grieks. Sy staan en luister maar. Benewens die feit dat Erika Webb van die buurplaas met al die bekers in die vroueafdeling op tentoonstellings wegstap, is sy blykbaar ook ’n volbloed boer wat met die mansmense oor boerderyaangeleenthede kan saampraat. Marista krimp ál kleiner en kleiner.
By die vragmotor neem hulle afskeid.
“Tot wederom, juffrou Greyling. Ons sien mekaar weer. Ek maak dikwels ’n draai op Duiwelskloof.”
Vir Marista klink dit na ’n bedekte dreigement en sy voel hoe haar maag ’n snaakse draai maak. Dit gaan erg genoeg wees sonder om nog heeldag so ’n uiters bekwame mens soos dié bekwame Erika ook onder haar voete te hê.
Erika draai dadelik na Michael. “Sien jou weer, maat. Ja, terloops, ek loop vanoggend vir oom Kosie Kaaldoring raak. Hy sê hy het al die eerste dikkopgevalle gekry. Ons sal moet begin dophou.”
Michael knik. “Ja, ek was bang daarvoor. Die ruspes het die veldjie opgeëet, en nou bly net die duwweltjies oor. As ons nou net weer ’n reëntjie kan kry …”
Toe hulle die dorp agterlaat en die swye weer soos ’n taai stroop oor hulle toesak, laat Marista hoor, net om die gespanne stilte te verbreek. “Ek merk op dat hierdie wêreld se mense darem eienaardige vanne het.”
Hy blik vinnig sydelings na haar. “Hoe bedoel u?” vra hy beleef.
“Ek bedoel maar net … e … Kaaldoring is darem ’n vreemde van. Is dit Hollands?”
’n Oomblik is dit stil en dan hoor sy die despoot van Duiwelskloof, soos Ouma hom gedoop het, die eerste keer hardop lag. Sy kyk hom verward aan. Sy kan nie dink wat so snaaks is nie.
“Nee, juffrou,” verduidelik hy laggend. “Dis nie Hollands nie! Dis maar net sy plaas se naam. In hierdie wêreld word die boere selde op hul vanne aangespreek. Oom Coenraad van Zyl bly op Mooidraai. Oom Koos van Deventer bly weer op Kaaldoring. Maar almal noem hom sommer Kosie Kaaldoring. Begryp u?”
Die oë het ’n oomblik hul skerpte verloor en blik geamuseerd in haar rigting. Sy knik, bewus van die bloedrooi blos oor haar hals en wange. Wel, dis dan wat sy het van haar eerste intelligente opmerking van die dag! Van nou af gaan sy haar mond styf toehou. Sy voel so aan haar dat