“Hoekom nie?” vra Herman nuuskierig.
“Ag … kyk maar vir jouself.”
“As ek hier moet kom werk, sal jy my moet inlig oor hierdie dinge. Ek is rou en uit die bos uit en sal nie eers weet daarna om te kyk nie,” terg hy.
Estie is ongemaklik as sy besef dat sy nou kleinlik was. “Mevrou Vermeer, of tant Amalia, soos ons haar noem, is ’n baie dierbare mens. Ons is baie lief vir haar.”
Herman besef dat dit nie vir die kleindogter en skoondogter geld nie, maar vra nie verder uit nie.
Hulle eet ontbyt en dan stap Herman saam met Estie en Dawid af na die stalle toe.
Die perde se voer word gemeng en elkeen kry net die regte hoeveelheid. Herman verstom hom aan die manier waarop Dawid met die diere werk, kompleet soos ou dokter Harris met mense werk.
Estie sien die bewondering in sy oë. “Oupa is ’n veearts,” sê sy as Dawid iets gaan haal en hulle twee alleen is.
“’n Dieredokter?” Herman kan die bewondering nie uit sy stem hou nie. “Hoekom is hy dan hier op die plaas? Hoekom het hy nie ’n plek in die dorp nie?”
“Oupa het altyd gehad. Hy het afgetree. Ons is maar die afgelope drie jaar hier op die plaas. Tant Amalia het vir Oupa die pos aangebied toe hy wou aftree. Ek dink dit was vir hom ’n wonderlike uitkoms. Hy moet besig bly en die praktyk het te veeleisend geword vir hom. Tant Amalia wou gehad het dat ons in die groot huis moet kom bly, maar gelukkig wou Oupa nie. Hy … e … hy het nie daarvoor kans gesien nie.”
“Sou dit nie lekker gewees het om in so ’n pragtige plek te bly nie?” vra Herman ietwat uit die veld geslaan.
“Nie saam met …” Estie bly ongemaklik stil. “Nee, ek verkies ook om ons eie plek te hê, net ek en Oupa.”
Estie gaan die perd se lyf stelselmatig deur vir enige kneus- of seerplekke en Herman moet buk om haar in die gesig te kyk waar sy nou onder die perd se buik werk.
“En jy? Jy is net so goed met die diere. Gaan jy ook vir ’n veearts leer?” vra Herman.
“Oupa leer my sommer self. Ek rig die meeste van die tyd die perde af. My pa was wonderlik daarmee. Dit het ek weer by hom geleer.”
“Jy sê jou pa is dood. Wat het gebeur?” vra Herman onbeskaamd uit, want by Estie het hy al die vrymoedigheid in die wêreld om dit te doen.
“Hy was onder meer ’n ontdekkingsreisiger en het vir maande en soms jare lank op ekspedisies gegaan. Dit was op een van hulle dat hy met ’n olifant slaags geraak het en die slegste daarvan afgekom het. Hy was al meer as ’n jaar dood voordat ons die tyding gekry het.”
Herman hoor die verlange in haar stem en wens hy kan aan iets dink om te sê om haar beter te laat voel.
“Herman!” Dawid roep na hom en hy stap vinnig nader.
“Mevrou Vermeer sal jou nou sien. Sy wag vir jou. Klop maar net aan die deur. Hester, die huishoudster, sal jou na haar toe vat.”
Herman fluit saggies as hy na die groot huis toe stap. Die voordeur staan oop en die son gooi ’n blink baan oor die pragtige donker vloere. Sagte matte versier dit met koninklike grasie. Herman moet homself maan om nie soos ’n kleuter oopmond na al die prag en weelde te staar nie. Sulke goed het hy nog nie eers in die boeke in ou Morris se winkel gesien nie.
Hy klop hard aan die voordeur en loer vinnig of sy kneukels nie dalk ’n merk op die satyngladde hout gemaak het nie.
’n Middeljarige vrou met ’n swart rok en ’n spierwit valletjies-voorskoot kom geluidloos nader.
“Mevrou Vermeer …?”
Die vrou is klaarblyklik heeltemal uit die veld geslaan, want hierdie jong man met sy kakieklere aan kan nie iemand wees wat vir die Vermeers sal kom kuier nie.
Herman frons liggies as iets vir nie reg voel nie. “Is … is u nie mevrou Vermeer nie?” vra hy fronsend.
“Wie is dit, Hester?” ’n Vrouestem klink van agter af op en Herman rek sy nek om te kan sien wie dit is.
’n Jong vrou kom vinnig nader. Dit is die mooiste mens wat Herman nog in sy hele lewe gesien het. Sy is selfs mooier as Magriet! Haar hare is swart en blink, sodat die sonlig daarin weerkaats. Haar vel is sag en wit en die bruin oë wat hom nou kwaai aangluur, is fluweelagtig soos dié van ’n kalf.
“Wie is jy?” Sy kyk hom vies op en af asof hy nou net in die modder gerol het.
Herman, daarenteen, staar haar aan asof sy nou net uit die hemel geval het.
“Ek praat met jou …” Die vrou se sissende stem bring hom stadig na die werklikheid terug.
“Ekskuus … Ek is Herman van Rensburg en mevrou Vermeer wil my sien.”
“In verband met …?” Haar stem is yskoud.
“Meneer Conradie het my gestuur …”
“O! Dan is jy die nuwe afrigter. Van wanneer af kom die werkers by die voordeur in, meneer Van Rensburg?” Sy lê onnodig klem op die meneer.
“Dankie, Leana! Ek sal self verder onderhandel. Kom binne, meneer Van Rensburg.” ’n Baie waardige en netjiese ou dame staan kiertsregop agter die jong vrou.
Die een wat as Leana aangespreek is, swaai woedend om en haar skraal heupe word beklemtoon deur die netjiese rydrag wat sy aanhet.
Dan is dit die kleindogter! dink Herman, en moet sluk aan die vernedering en ongemaklikheid wat in hom opstoot maar blatant verdring word deur die bewondering wat beslis oorheers.
Hy kyk half smekend na die ouer vrou. “Het ek nou iets verkeerd gedoen?” vra hy kinderlik.
Amalia Vermeer knik liggies in sy rigting en maak of sy nie die ongemak sien nie. “Kom in. Hester, vat hom deur studeerkamer toe,” beveel sy en Herman stap gedwee agter die vrou met die swart rok aan.
Hy gaan sit ongemaklik op die een stoel en staan vinnig op as Amalia Vermeer by die vertrek inkom. Sy moet in haar laat sestigs wees, maar sy is flink en regop en ’n mens sal jou maklik met haar ouderdom misgis.
Sy skuif agter die groot lessenaar in en beduie vir hom om te sit.
“Dawid sê jy kom van Duitswes af en soek werk.”
“Ja, tan- … mevrou.”
Amalia moet die glimlag wat om haar mond wil kruip, met mening verwyder. “Dawid sê ook dat jy ’n natuurlike aanvoeling vir diere het.”
Herman antwoord haar nie. Sy hele wese is nou daarop ingestel om hier te kan bly. Die noodlot sou hom nie verniet hier na Meerlust gelei het nie. Hy moet eenvoudig daardie pragtige meisie beter leer ken. Ten spyte van haar houding is sy voete geheel en al onder hom uitgeslaan.
“Ek verstaan jy boer daar, maar het ’n taak om hier te kom verrig?” probeer sy meer van hierdie aantreklike jong man te wete kom.
“Ja, mevrou. My plaas is nog onbewerk en dit is hoekom ek nou maar hierdie ou takie wil kom afhandel.”
“Mag ek weet wat die taak is?”
Herman is ongemaklik. Hoe op aarde kan hy vir haar sê dat hy vir hom ’n vrou kom soek en dat hy seker daarvan is dat hy haar nou net gekry het?
Amalia sien sy ongemak en verander die onderwerp. “Dawid word oud en ek wil nie hê hy moet so hard werk nie. Laat hy jou alles leer wat nodig is. Dalk hou jy van hierdie wêreld en besluit om permanent hier te bly.”
“Ek … ek glo nie, mevrou …”
“Is jy getroud?” vra sy. Daar was iets in Leana se houding netnou … iets wat haar laat wonder. Haar woorde en oë het twee verskillende dinge gesê. Hierdie aantreklike, ongekunstelde man is dalk net wat sy nodig het.