Abraham lag dat sy groot lyf liggies skud. “Ek wou ma’ net gekyk het of die maste’tjie ’n pê’d ken. Hulle kom hie van die bote af en ken nie ’n donkie van ’n pê’d nie.”
Herman lag, maar besef dadelik dat hy hierdie ou nie ’n halwe kans sal kan gee nie. Elkeen probeer seker maar om iewers ’n slag te slaan.
Dit is eers by die laaste paar perde wat Herman een kry wat in sy smaak val. Herman voltooi sy inspeksie en staan dan terug.
“Hoeveel?”
“Dit is een van my spogpê’de, maste’ … biete’ sal jy nie kry nie.”
Herman trek sy skouers op en wag.
“Hoeveel?”
Abraham noem ’n prys en Herman frons gevaarlik. “Jy is seker simpel. Ons verkoop drie perde vir daardie prys en dan lyk ons s’n ses keer beter.”
’n Vrouestem lag klokhelder hier skuins agter hom. “Vandag kom jy jou Moses teë, ou Abraham.” Sy draai na Herman en sê: “Hy sal jou eie broek aan jou verkoop as jy nie versigtig is nie.”
Herman swaai om na die stem, maar sien net ’n jong seun wat hang-staan teen die hek van die kraaltjie waarin die perde is.
“Ai! hoe kan jy nou so iets sê? Die seu’ is reeds so ’n moeilike ou, hy laat hom nie voorsê nie. Hy ken ’n pê’d,” maak Abraham beswaar.
’n Ouerige man kom onder die afdak uit en lag vir ou Abraham se verleë gesig.
“Is dit die man?” vra die ouer man vriendelik vir ou Abraham, wat knik maar nie sy oë van die geld in Herman se hand afhaal nie.
“Ja, mieste’ Conradie. Hy sê hy weet niks van winge’d nie, maar hy ken pê’de.”
Herman steek sy hand uit en vat Dawid Conradie s’n stewig vas. “Herman van Rensburg, meneer Conradie. Aangename kennis.”
Dawid Conradie kyk na Herman se groot bruingebrande liggaam asof hy sy beroep daarmee wil bepaal.
“Boer?”
Herman knik.
“Van waar is jy? Oosgrens?” vra Dawid.
“Nee,” Herman lag. “Ek is van Duitswes, ek het vanoggend met die boot hier aangekom.”
“Gaan jy jou permanent hier in die Kaap kom vestig?”
“Nee, meneer Conradie, ek … ek beter maar eerlik wees. Ek is net hier om ’n sakie te kom afhandel dan gaan ek terug. Ek het my eie plaas in Duitswes … nou net gekry, dit is nog heeltemal onbewerk en dit is hoekom ek nou nog kan alleen los en eers die ander ou sakie kom klaarmaak.”
“Dit is jammer … ek sou jou graag daar op Meerlust wou oplei, dit lyk my jy het ’n oog vir ’n goeie perd.”
“Ek sal enige werk doen, meneer Conradie, net om besig te bly. Die takie wat ek moet kom afhandel, gaan nie baie van my tyd in beslag neem nie, dit is maar net iets wat jy nie in ’n week kan doen nie.”
“Ek is nie die eienaar van Meerlust nie, ek werk ook maar net daar. Mevrou Vermeer het egter gesê ek moet iemand soek.”
Dawid hou sy hand na die jong seun uit. “Estie …”
Sy kom staan langs die ouer man.
“Herman, dit is my kleindogter, Estie … Sy lyk altyd soos ’n seun maar sy is darem ’n meisie,” terg hy teer en nou eers sien Herman die pragtige dik vlegsel agter haar rug. Sy steek haar hand uit en dit verdwyn in Herman se grote.
Sy lag weer vrolik en druk ’n soen op haar oupa se wang. “Hoe moet ek met die diere werk as ek ’n rok aan het, Oupa?” vra sy en klap teen die lang kakiebroek.
“Jy sien, dit is hoekom ek naarstiglik soek na iemand om op te lei om met die diere en veral die perde te werk sodat sy haar soos ’n dame kan gedra.”
“Wel, solank Oupa niemand kan kry nie, moet Oupa maar teen my kakiebroek en -hemp vaskyk.”
Dawid Conradie druk sy hoed op sy kop vas en kyk ernstig na Herman. “Ek sal jou graag in diens wil neem, al is dit net tydelik, ons sukkel nou.”
“Wat van die pê’d …?” Ou Abraham kyk steeds stip na die geld in Herman se hand.
Estie lag sag, en fluister sameswerend vir Herman: “Jy beter daardie geld bêre voordat ou Abraham se hart gaan staan.”
“Sal ek nie die perd op die plaas kan aanhou nie?” vra hy onseker.
“Nee, dit is nie dit nie, maar dalk is dit nie nodig om ’n perd aan te skaf nie. Ons is met die wa hier.”
“Ek sal verkies om my eie perd te hê,” sê Herman en glimlag verskonend met die pragtige, ongekunstelde jong meisie. Haar helder blougroen oë is vol lewenslus en lyk soos die see op ’n kalm dag.
Herman haal ’n derde van die prys wat ou Abraham genoem het, uit die geldsak en hou dit na hom uit. Hy tel nog geld af. “Hierdie vir ’n saal.”
Abraham kerm en kla maar gee uiteindelik in. “Goed … goed!” Hy steek sy hand uit, maar Herman trek eers weer die geld terug. “Ek wil eers die saal sien.”
Herman soek self vir hom ’n saal uit. Hy is bereid om vir hierdie ou aartsskelm te betaal wat hy by Morris op Walvisbaai betaal, maar niks meer nie.
Herman saal self sy perd op en maak sy sak vas.
“Dankie, Abraham.” Hy hou ’n ekstra geldjie na Abraham uit.
Abraham skud sy kop en weier die fooitjie. “Nee, dit is ve’niet. Maste’ moet da’em besef dit is my plig om die mense so ’n bietjie af te stry.”
Herman lag skaterend. “Ja … dit is seker jou plig, anders sou jy ’n swak handelaar wees.”
“Mies Estie moet kom kyk na die goed … jy is mee’ kwaai as jou oupa,” knor hy. Die jong meisie lag vrolik en stap flink agter ou Abraham aan.
Herman help om van die goed op die wa te laai en maak dan sy perd agter die wa vas voordat hy saam met Estie en Dawid op die wa klim.
Die wa het ’n seiltent op soos ’n ossewa, maar word deur ’n pragtige span perde getrek.
Estie is klein van postuur, nog korter as Magriet, en Herman – wat bitter min kennis van vrouens het – skat haar ouderdom dus maar op vyftien of sestien.
Sy is spontaan en vriendelik en Herman kan haar nuuskierigheid aanvoel.
Hy kyk glimlaggend na haar. “Daar by ons op Walvisbaai het ons net ou Morris se winkel. Ek wonder of daar altesaam vyftig mense op die dorp is. My broers gaan dink ek jok vir hulle as ek van al hierdie baie winkels en mense moet gaan oorvertel,” sê hy half skaam vir sy onkunde.
Dit is bietjie meer as ’n uur voordat hulle uit die Kaap self is. Die oop veld bring rustigheid in sy gemoed en dit is asof hy weer diep en vry kan asemhaal. Hier en daar is ’n plaashuis wat skel afsteek teen die groen van die wingerde.
Herman het nog nooit soveel groen in sy hele lewe gesien nie. Dit voel asof al die groen verf, wat vir die hele aarde bedoel was, per ongeluk hier omgeval het.
Die ongeduld kriewel in hom. Dit is nou sowaar ’n lastigheid, hierdie ding wat hy moet kom doen. Hy begin al hoe meer twyfel aan die wysheid van hierdie besluit van hom, maar die koppige Van Rensburg-streep het hom ook maar goed bygekry. Sy pa het geglo as jy ’n ding doen, doen jy dit goed en op die regte manier. In hierdie geval is die regte manier ongelukkig die enigste manier.
Dawid trek die wa onder ’n groot boom in en Estie klouter agterin en kom met ’n kosmandjie te voorskyn.
Herman, wat nou die honger aan sy maag kan voel, laat hom nie twee keer nooi nie en laat die een sny bruinbrood na die ander vinnig saam met die louwarm koffie verdwyn.
Dawid