“Nee, tant Amalia Vermeer se man is dood. Sy is so oud soos oupa! ’n Jaar of twee jonger, miskien. Sy en haar kleinkind, Leana, woon alleen op Meerlust. Tant Amalia se man is baie vroeg dood. Hulle het net die een seun gehad, Anton. Hy was baie sieklik en is dood toe Leana maar ’n kleuter was. Leana se ma, tant Amalia se skoondogter, is so ’n paar jaar gelede weer getroud en woon nou in Switserland.”
“Die kleindogter … hoe oud is sy? Is sy al getroud?” vra Herman hoopvol.
“Leana is so oud soos ek … Nee, sy is nog nie getroud nie.”
“En jy?” vra Herman, uitgehonger vir geselskap. “Het jy nog broers en susters en is julle almal daar op die plaas?”
Haar gesiggie versomber. “Nee, ek … ek is ook al kind en my ouers is albei dood. My oupa het my grootgemaak vandat ek twaalf jaar oud was.”
“Ek is jammer om dit te hoor,” sê Herman en probeer die atmosfeer weer lig en vrolik kry. “My ouers is ook albei dood, maar ons het ’n oom Bennie gehad wat na ons omgesien het. Ons is darem vyf broers, so dit was nie te eensaam nie.”
Estie pak die kosmandjie op en Dawid kom klim weer voor op die wakis.
Die son hel al ver oor na die weste toe hulle by die imposante hekke van Meerlust inry.
Herman probeer nie eers om sy ongeloof en verbasing weg te steek nie. So iets het hy in sy lewe nog nie gesien nie. Nie eers ’n koning kan ’n mooier kasteel hê nie, besluit hy kinderlik. Dit is ’n enorme tweeverdiepinghuis wat bokant die omgewing uittroon. Met sy spierwit mure, swart grasdak en asemrowende tuin, is dit vir Herman absoluut ’n sprokie, iets wat nie in menslike taal beskryf kan word nie.
Die tuin is iets wat hy glad nie kan verwerk nie. Daar by hulle in die Namib, waar water maar skaars is, was die eerste tuin wat hy gesien het, Magriet se groentetuin.
Hy het nie geweet dat ’n mens sulke blomme so netjies in akkers kan plant nie. Hy het nie eers geweet dat ’n mens soveel soorte blomme kry nie!
Die grasperke lyk in die laatmiddaglig soos ’n lusernland en toe hy nader kom, soos ’n fluweelmat. So iets het hy nog nie gesien nie. Hier sal hy maklik tien koeie deur die winter aan die lewe kan hou.
Iewers veraf blaf ’n hond en dwing hom stadig terug na die hede. Hy skud sy kop ongelowig en staar net verdwaas na die prag en weelde om hom. Al word hy ’n honderd jaar oud, sal hy nie genoeg woorde kan vind om dit wat hier voor hom oopgesprei lê, te beskryf nie. Nie eers Magriet sal woorde hiervoor hê nie, troos hy homself.
Estie kyk met verwondering na hom en die trots lê oop op haar gesiggie. “Dit is mooi, nè? Ek het ook so gevoel die eerste dag wat ons hier gekom het.”
Hulle ry om die huis en trek die wa onder die boom in.
Herman spring af en kom agterom gestap en maak die flap van die seil oop.
“Dankie, kind, ons sal môre afpak. Die mense sal kom uitspan,” sê Dawid en klim stram van die wa af. “Estie, vat vir Herman huis toe, ek sal hom môre aan mevrou Vermeer gaan voorstel. Dit is nou te laat.”
“Ek wil net my perd afsaal, oom Dawid. Is hier iewers ’n plek waar hy kan bly?”
“Ja, kom ons vat hom sommer na daardie onderste stalle toe. Hierdie een is net vir die stoetgoed.”
Hulle gaan sit die perd in die onderste stalle en dan kom Dawid terug om te kom seker maak of alles reg is by die opreg geteelde diere. Die stalle is ’n belewenis vir Herman. Nie eers hulle huis op Jakkalswater is so mooi en netjies, selfs nadat Magriet dit onder hande gehad het nie. Alles is silwerskoon en elke dingetjie is presies op sy plek.
Herman trek sy asem vinnig in as hy die pragtige perde elkeen in sy netjiese stal sien staan. Daar is twee staljongens wat hulle versorg, roskam en borsel en dan ’n netjiese blou kombersie oor elkeen hang.
Herman stap verwonderd nader en staan eers vir ’n paar oomblikke doodstil sodat die perd aan sy reuk gewoond kan raak voordat hy sy hand baie stadig uitsteek na die pragtige silwerwit dier toe, en hom baie liggies tussen sy oë vryf.
“Jy is pragtig!” Sy stem is sag en vol verwondering en die dier snork liggies maar gee nie pad nie, hy vroetel net met sy lippe sag in die palm van Herman se hand.
Herman kyk oor sy skouer want hy kan aanvoel dat iemand hom dophou. Estie en Dawid staar hom ongelowig aan.
“Jy het definitief ’n slag met perde!” Dawid klink ingenome. “Venus keur nie enigeen goed nie.”
“Daar is baie wilde perde in die woestyn, oom. Ek en my broers gaan vang vir ons as ons nodig het en dan breek ons hulle in en …” Herman is sowaar verleë as hy kop onderstebo sy sin klaarmaak. “Ek … Daan, my ouboet, glo dat net ek dit kan doen. Hy sê ek praat met my hart, daarom verstaan hulle my.”
Dawid kyk hom stil aan. “Jy het nie kennis van hierdie opreg geteelde diere nie, nè?”
“Nee, oom, maar ek is bereid om te leer.”
“Ons moet nog eers oor die salaris praat …” sê Dawid as Herman klaar is en druk hom by ’n klein kantoortjie in.
Herman knip nie ’n oog as Dawid die salaris noem nie. Die verwondering stoot in hom op. Hulle leef so eenvoudig daar op Jakkalswater en as iemand vir hom moes gevra het of hulle ryk of arm is, sou hy gesê het arm. Hierdie mense kan mos nie op so ’n salarissie leef nie?
Hy was altyd die een op Jakkalswater met die kop vir die finansies. As hy net uitreken watter bedrag Daan nou vir hom gegee het om vir hom diere mee aan te skaf, sou hy vir twintig jaar daarvoor moes gewerk het teen hierdie salaris.
Dawid stuur hom na ’n huisie aan die kant van die stalle, en glad nie na die groot huis wat hulle gesien het toe hulle ingekom het nie.
Herman maak asof hy dit geweet het, maar besef met duidelike klaarheid dat hy sal moet luister en leer as hy nie hier ’n kolossale gek van homself wil maak nie.
“Kom maak jou maar eers daar by ons tuis vannag. Ons sal môre by mevrou Vermeer hoor wat die reëlings is,” nooi Dawid.
Estie is al in die kombuis doenig om kos te maak, en praat oor haar skouer as sy hulle sien inkom. “Oupa, vat hom spaarkamer toe. Die bed is oorgetrek.”
Herman gaan swem sommer in die groot klipdam wat Dawid vir hom uitgewys het. Sy donker hare is los en sag om sy kop en die spiere bult onder die skoon kakiehemp toe hy ’n ruk later weer terugkom by die huis.
“Het jy reggekom?” Dawid kyk na Herman se nog effe klam hare.
“Ja, dankie, dit was baie lekker, die dam is mooi skoon.” Herman sak in die een gemakstoel neer en sug behaaglik. Dit voel rustig en huislik hier by hulle.
Dit is heerlik om weer die vars aandlug in te asem en die son agter die berg te sien wegsak.
Estie kom met lang glase lemoenstroop uit en hou die skinkbord vir Herman, wat een met ’n dankie aanvaar en weer gemaklik terugleun in sy stoel.
Estie kom sit op die muurtjie naby haar oupa. Sy is seker so oud soos die tweeling, som Herman haar op, en skielik is die verlange weer terug in sy binneste.
“Ek het tweelingbroertjies wat seker so oud soos jy moet wees,” deel hy rustig die gedagte wat in sy kop kom.
“Woon jy daar saam met jou ouers of is jy al getroud?” vra Dawid wat nie vanoggend by was toe hy dit vir Estie vertel het nie.
“Nee, my ouers is baie jare gelede dood. My ma eerste. Die tweeling was nog nie eers ’n jaar oud nie.”
“Wie het hulle grootgemaak? Is jou pa weer getroud?” vra Dawid gemaklik, omdat hy weet dat Herman hieroor wil praat, hy het die verlange in sy oë gesien.
“My pa is twee jaar na my ma ook dood. Oom Bennie het toe na ons klomp kom omsien. Daan was darem al groot genoeg dat hy ook kon help.”