SARAH DU PISANIE
’n Vrou vir Herman
Jasmyn
1
“Herman!” Kaptein Parker roep na die jong man wat met sy sak oor sy skouer bewegingloos op die onderpunt van die boot staan. Hy is groot, gespierd en bruingebrand en ’n tipiese kind van die veld.
Vandat hy op Walvisbaai aan boord gegaan het, is daar egter ’n vreemde hartseer-verlange in die jong man se houding wat nie by sy uiterlike pas nie.
Die eerste twee, drie dae op die boot was hy siekerig en maar groen om die kiewe, maar hy het gou reggekom en soos ’n ingehokte dier rondgeloop. Dit was eers toe Williams siek word en hy sommer vanself sy gewig tussen die manne begin ingooi en die werk doen dat daar ’n bietjie rustigheid in sy gemoed gekom het.
“Wag eers,” roep die kaptein as Herman van Rensburg omdraai. “Ek wil jou sien voor jy gaan.”
Herman knik, swaai die groot sak van sy skouer af en gaan sit daarop terwyl hy lui na die bedrywighede in die hawe kyk.
Alles hier voel taai en vuil en sy hele wese smag na die skoon lug en uitgestrektheid van Duitswes. Die verlange is kennelik so ’n deel van hom dat hy tot die geur van koffie in Magriet se silwerskoon kombuis kan ruik.
Hy maak sy oë vir ’n paar oomblikke toe en trek die sout seelug in sy longe in. Maar dit is egter vir Magriet wat hy ruik, daardie kenmerkende blommegeur wanneer jy naby haar kom.
Hy sug diep soos ’n ou man wat die wêreld se laste op sy skouers dra.
“Ekskuus dat ek jou laat wag …” Kaptein Parker moet effens opkyk na hom as hy regop kom.
“Daar is geen haas nie,” sê Herman, en Parker loer nuuskierig na hom. Op die kaai is niemand wat vir hom wag nie, en hy wonder wat die jong man se planne vorentoe is.
Hy hou ’n hand vol muntstukke na Herman uit. “Vir al jou harde werk op die skuit. Jy het twee mense se werk gedoen nadat Williams siek geword het.”
“Ag, moenie verspot wees nie.” Herman staan terug asof die geld hom pik. “Die besigbly was my redding. Ek sou stapelgek geword het hierdie maand as ek moes sit en niks doen.”
“Asseblief … dit is maar net jou passaat. Jy het vir my baie beteken. As jy ooit werk soek, ek sal altyd vir jou hê.” Hy druk die geld vinnig in Herman se sak en Herman grinnik skeefweg. Hy tel sy sak op en swaai dit oor sy skouer.
“Dankie … Ek sal vir my ’n perd koop daarmee, dat ek darem hier kan rondbeweeg.” Hy tik liggies op die geld in sy sak en glimlag dan skeefweg. “Maar nee dankie vir die werksaanbod. Ek is maar ’n boer jong. Die veld roep my. Ek wil net ’n ou sakie afhandel en sodra ek klaar is, gaan ek terug.”
“Ek hoop dit sal weer op my boot wees …” Parker steek sy hand uit en druk Herman s’n hard. “Dit was aangenaam om jou te leer ken. As ek weer op Walvisbaai kom, sal ek uitkyk vir jou.”
Herman groet en stap met die plank af en die vaste aarde voel vreemd onder sy voete na hierdie maand op die boot.
Parker tik liggies teen sy pet in ’n saluut en Herman wuif voordat hy omdraai en tog effe onseker om hom rondkyk.
Vir hom wat in die stilte van die Namib en op ’n plaas in die Swakopvallei grootgeword het, is so baie mense en so ’n bedrywigheid soos hy hier voor hom op die kaai sien, vreesaanjaend.
Sy gedagtes bly terugkring plaas toe, na Magriet en Daan en alles wat in die laaste tyd daar gebeur het. Die verlange na die bekendheid van Jakkalswater wil hom soos ’n vloedgolf meesleur, maar hy ruk hom doelbewus reg.
Hy wil voor die lente by die huis wees! Hy het ’n plaas om op te bou en te bewerk. Hy moet egter eers hierdie saak klaarmaak, want ’n boerdery kan jy nie alleen los vir ses maande of ’n jaar nie.
Die gedagte aan Jakkalswater en sy familie bring geordendheid in sy gemoed. Hy stap doelgerig op ’n paar mans af wat by ’n groot pakkamer staan en gesels.
“Dag!” Hy steek sy hand na die een naaste aan hom uit. “Herman van Rensburg.”
Die man skud sy hand. “Flip Fourie.”
“As jy lank wil bly, moet jy maar daar by San se losieshuis gaan hoor. Die herberge is maar duur …”
“Nee, dit sal net vir ’n dag of twee wees totdat ek ’n perd in die hande kan kry.”
“Waarheen is die reis, neef?” Die manne is vriendelik en Herman vind dit geensins vreemd nie, want daar waar hy vandaan kom, is enige geselskap goeie geselskap.
“Ek soek eintlik werk … verkieslik op ’n plaas. Dit is al wat ek kan doen … nog altyd gedoen het.”
“Man,” die een naaste aan hom beduie met sy hand, “as jy hier omgaan, hou so reguit aan met die pad. Daar voor is twee groot groen hekke. Dit is ou Abraham se plek. Jy sal sommer die plek sien. Hy het perde daar wat hy uithuur en ook verkoop. Hy ken die boere en al die stories in die dorp want elkeen wat iets nodig het, gaan soek dit by ou Abraham.”
“Dankie!” Herman groet en stap doelgerig in die rigting wat hulle beduie het.
Dit is lekker om uit die hawe weg te kom. Die natheid van die see en die kenmerkende reuk van die boot was besig om hom te versmoor.
In Herman is daar nou net een begeerte en dit is om weg te kom van mense en geboue af. Sy hele wese smag nou na stilte en die reuk van die warmgebakte grond. Dit is die enigste ding wat nou rus in sy gemoed sal bring.
Hy kry Abraham se plek maklik. Ou Abraham is ’n Maleier met ’n grys baard en grys hare en ’n vreemdsoortige manier van praat, wat die glimlag al om Herman se mond laat knoop.
“Die maste’tjie sê hy het nou met die boet hie’ aangekom?” sê-vra Abraham.
“Ja, en ek soek ’n perd. Ek moet nou in die veld kom, want hierdie plek druk my bors toe.” Herman klink ongeduldig en ou Abraham lag sag.
“Ken van … ken van …” sê hy op ’n sangerige toon.
“Ek soek werk ook. Die mense sê jy sal dalk weet van iets. Ek is ’n boer en het nog nooit iets anders gedoen nie. Maar ek is groot en sterk en kan enigiets doen as dit moet. Dis net … ek soek nie so baie mense om my nie.”
Ou Abraham sit die yster waarmee hy in die vuur gestaan en werk het, neer. “Ken jy van winge’d?”
“Nee, ek kom van Duitswes af … die Namib … en dit is maar woestyn. Die enigste tuin wat ek ken, is my skoonsuster se groentetuin.”
Ou Abraham lag skaterend en vryf ingedagte oor sy ken. “En pê’de?”
“Perde ken ek. Ons vang vir ons wilde perde in die woestyn en maak hulle mak. Ons perde is nogal mooi …” spog Herman en die verlange na sy mense kom hang weer soos ’n kleed om hom.
“Op Mee’lust soek hulle iemand wat met pê’de kan wê’k. Mooi goed! Mooi goed! Hulle word soos bybies ve’sôe.” Hy laat gewoonlik die “r” uit sy woorde en dit klink vreemd op Herman se oor en hy moet mooi luister wat Abraham sê.
“Dit is jou gelukkige dag. Die mense van Mee’lust is in die dô’p.” Hy stap ’n entjie weg en roep hard na ’n jong seun wat eenkant besig is om in ’n tuintjie te werk.
“Gaan gou hie’ af na Samuel se winkel toe en sê vi’ mieste’ Conradie hy moet wee’ hie’langs kom, hie’ is iemand wat wê’k soek.”
Die jong seun los alles en draf vinnig weg.
“Maak jou tuis, dit sal dalk ’n tydjie neem,” sê Abraham en beduie na ’n vuil bankie onder die boom.
Herman besluit egter om eerder rond te stap, dit is lekker om weer vaste aarde onder sy voete te voel.
Na omtrent ’n halfuur keer hy terug, vasbeslote om vir hom ’n perd te koop, al kry hy dan nie dadelik werk nie.
“Het jy vir my ’n perd, ou Abraham?” vra Herman.
“Ja … te huu’ of te koop?”