Ria se hare hang nog net so. Sy is te bang om dit voor haar oë weg te neem, bang vir wat sy gaan sien!
Martie spring op en kom kruip weg agter Betsie, wat nog steeds stom van verbasing na die vuil, verwaarloosde ou man staar. Hy het op sy knieë langs die donkie neergesak en druk sy kop in die grond soos een wat bid terwyl hy aanhoudend kerm. “Wees my tog net genadig! Ek sal nooit weer drink nie. Ek belowe … nooit weer nie!”
Ria kom stadig regop en gooi haar hare agtertoe.
Die vaal ou donkie staan met vaak oë die hele affêre uiters verveeld en bekyk. Die vreeslike pak goed op sy rug hinder hom blykbaar nie in die minste nie.
Betsie maak verbouereerd keel skoon. Hulle het hom nooit gesien aankom nie, en met hul singery het hulle hom ook nie gehoor nie.
Die man staak sy gekerm ’n rukkie. Dit is doodstil, maar hy druk nog steeds sy kop vas teen die grond. Stadig lig hy sy bolyf effens op. Sy twee oë is egter baie styf toegeknyp. Baie versigtig maak hy een oog oop.
Die kinders het werktuiglik nader aan Betsie beweeg en staan nou in ’n kringetjie om haar.
Die ou man se oë rek skielik albei wawyd oop en dan slaan hy kermend sy hande voor sy oë. “Gaan weg! Gaan weg! Ek sê mos ek sal nooit weer drink nie. O! Lewend kom ons vandag nie lewend hier uit nie, Samuel. Nooit nie. Hier is dan nou al ’n hele skaar van hulle.”
Lettie stamp aan Betsie en beduie met haar kop na die patetiese, vuil ou man wat nie ’n enkele tand in sy mond het nie.
“Wat gaan met hom aan?” Lettie fluister saggies hier naby Betsie se oor.
Betsie haal net haar skouers onbegrypend op. Dit is Ria wat eerste besef wat aangaan.
Sy gee ’n treetjie nader aan die ou skepsel en trek haar arms hoog bokant haar kop op terwyl sy haar stem hees en grof maak.
“Wat wil jy hê …?”
“O!” Die gekerm begin van nuuts af. “Sê sal ek nooit weer sê dat ek nie aan spoke glo nie. Gesien het ek dit met my eie oë gesien.”
Lettie proes saggies en dan kan Pollie dit nie meer hou nie en sy begin skaterlag.
“Ons is nie spoke nie, oom.”
Dit is lank stil voordat die ou man stadig sy vingers oopmaak en tussen hulle deurloer.
Voordat Betsie nog kan keer, glip Martie tussen haar hande deur en gaan staan voor die ou man, wat nou baie versigtig sy hande voor sy gesig wegneem.
“Onth ith nie thpoke nie, oom. Onth ith thommer net onth.” Sy lag vrolik met haar haasbekkie vir die ou oom wat nog minder tande het as sy.
“O-o-o!” Die ou man hier voor hulle op sy knieë het nie nog krag om ’n woord oor sy lippe te stoot nie.
“Meneer …” Betsie staan bekommerd nader. Die ou man lyk heel onskuldig en sy glo darem nie hy sal hulle leed aandoen nie. Maar hy kan vir die ander mense gaan vertel dat hulle hier is.
“Meneer … ek bedoel …” Dit voel nie heeltemal reg om vir hom meneer te sê nie.
“Wat … waar … ek bedoel, waarheen is jy op pad?”
“Prospekteer kom ek hier prospekteer, ja.”
“Wou … wou u … oom hier in die hut kom bly het?” Betsie glimlag vir die ou mens se komieklike manier van praat.
“Ja … ja, so het hy gesê. Daar is ’n hut. Gaan bly kan jy daar gaan bly, ja.”
Martie verstaan nie alles wat hierdie ou man so deurmekaar praat nie. Sy hou egter van die ou oom.
“Wat ith oom the naam?”
“Selons … Selons Cloete.” Hy sê dit so snaaks met sy pap mond dat dit selfs vir Betsie ’n rukkie neem om te verstaan.
Vir Lettie klink dit soos Slons, en sy dink dit pas uitstekend by die verslonste ou man. “Oom Slons! Dit pas nogal by oom.”
Pollie pomp haar hard in die sy. “Skaam vir jou, Let.”
“Maar die oom sê dan sy naam is Slons.”
Betsie maak geamuseer keel skoon. “Die oom se naam is Selons, Lettie.”
“Oom Thlonthie. Dit ith ’n mooi naam! Ek hou van oom.”
Betsie kan die knop in haar keel nie weggesluk kry toe sy na die ou man se gesig kyk nie. Hy knip-knip sy oë en kyk dan met soveel verwondering na Martie dat dit aan heiligheid grens.
Martie steek haar handjie uit en vryf liggies oor die ou man se stoppelbaard. Sy lag verspot en gril kielierig.
“Gaan oom Thlonthie nou by onth bly, Nannie?”
Betsie kyk magteloos van Martie na oom Selons. “Oom, kom ons gaan maak vir oom koffie, dan gesels ons. Sien … daar is ’n paar dingetjies wat ons vir oom sal moet vertel.”
Onwillig om die betowering te verbreek wat die pragtige meisietjie oor hom uitoefen, staan hy stadig op.
Betsie wag vir hom terwyl sy solank opdragte uitdeel. “Ria, gaan sit solank vir ons koffiewater op.”
Ria draf vooruit en die ander, met oom Selons tussen hulle, stap na die hut toe.
In sprakelose verwondering gaan staan oom Selons voor die hut. Alles is kraakskoon en die bedding met blomme wat hulle geplant het, is netjies en nog klam van die water soos hulle dit netnou natgegooi het. Hier en daar steek al die eerste punte van fyn groen blaartjies bokant die grond uit.
Binnekant die hut kan die ou man sy verbasing net nie langer vir homself hou nie. “Bly, bly julle dan hier?”
“Oom sien …” Lettie stoot die stoel onder die ou man in sodat hy net daarop kan neersak. Sy verander haar sin. “Weet oom wie se plaas dit hierdie is?”
“Weet? Weet, sal ek weet, ja. Dit is ou Trottel se plaas. Ek kom juis vir hom prospekteer.”
Pollie skaterlag al weer en Lettie moet haar vinnig onder die tafel skop.
Uit sy eienaardige manier van praat lei hulle af dat meneer Von Throtha hom gehuur het om hier in die berg te kom prospekteer. Volgens die vorige prospekteerders was hier op die plaas nie juis iets van noemenswaardige belang nie. Hy wil egter net doodseker maak.
“Wanneer het oom vir meneer Von Throtha laas gesien?” “Nee, onthou, kan ek nou nie presies onthou nie. Maand … twee maande. Ek was nog besig met ander werk en het gekom toe ek klaar was.”
Betsie sien met hoeveel eerbied en teerheid die verwaarloosde ou mens na Martie kyk, wat stil-stil nader aan hom skuif. Hul enigste redding gaan wees om op sy gevoel te speel.
Betsie vertel hul hele storie vir oom Selons en sy maak dit so tragies en hartseer dat selfs Lettie en Pollie ongemerk ’n traan probeer afvee. Hulle het nie geweet dit is so erg nie!
Ou Selons snuif hard en vee oor sy neus en oë met sy vuil hempsmou.
“Oom sien … as oom ons nou hier uitjaag, dan weet ons regtig nie waarheen om te gaan nie. Hulle sal die kleingoed in ’n weeshuis sit en ek sal moet gaan werk.”
“Oom Thlonthie thal nie vir onth hier uitjaag nie, nè, oom? Oom kan op my bedjie thlaap. Ek thal by Nannie thlaap.”
’n Vuil, verrimpelde hand met gebarste naels word stadig uitgesteek en rus ’n oomblik met diep ontsag op Martie se donkerbruin haartjies.
“Weggaan, hoef julle nie weg te gaan nie. Nee, ou Selons slaap sommer in die veld. Slaap, slaap hy op enige plek.”
“Oom Selons, maar oom … oom sal nie vir die ander mense sê dat ons hier is nie? Sien … ons wil net omtrent ’n jaar lank hier wegkruip totdat Nannie … dit is nou sy, Betsie, een en twintig is. Dan sal hulle haar toelaat om vir ons te sorg.”
Lettie