Sy maak sy vingers een vir een los en sit sy hand ferm terug op die grys-en-wit blokkiesdeken. “Moenie my Ralie noem nie,” sê sy, haar stem skerper as wat sy bedoel het.
“Ek sal nie,” belowe hy. “Ek sal ook nie weer aan jou raak nie. Belowe-belowe … Maar asseblief, moenie weggaan nie. Sit nog vyf minute en luister met ’n oop gemoed na wat ek vra.”
Teen haar sin besef Aralie dat sy na hom ook verlang het. Haar lewe was die afgelope jaar ook leeg. Niel was nie net haar man nie, maar ook haar beste vriend, simpatieke vennoot en klankbord wanneer sy moeg, bedruk of hartseer was oor ’n pasiënt wat sy nie kon red nie. Mens kan nie vier jaar van getroude lewe sommerso uitwis nie.
Niel het gemaak dat sy haar respek vir hom verloor en ’n weersin in hom as man ontwikkel het. Sy kon hom nie naby haar verdra of weer ’n slaapkamer met hom deel nie. Maar noudat die prentjie van hom en Marilee Martins daar op sy lessenaar in die spreekkamer geleidelik vervaag het, onthou sy hoe lief sy vir hom was.
Sy kan selfs daarin slaag om hom jammer te kry. Arme Niel het meer as sy deel gedoen om die druk van lang spreekure en die plaasbesoeke op slegte paaie vir haar te verlig. Dis hý wat moes sukkel om hul balansstaat elke einde van die maand te laat klop, hý wat moes spook om die lendelam yskas en rammelkasbakkie aan die gang te hou.
Sy weet sy het hom baie keer afgeskeep, weggedraai wanneer hy toenadering gesoek het. Voorgegee sy slaap en is onbewus van sy arm om haar heup en sy hand wat liefkosend oor haar bobeen streel. Maar sy was eenvoudig te moeg, gedreineer ná ’n lang dag by die praktyk. Niel het nooit gekla dat hy verwaarloos voel nie. Maar dis te verstane dat hy in ’n oomblik van swakheid kon knak, kon toegee aan die versoeking wat so openlik vir hom aangebied is …
Sy sug diep, swaai die handsak van haar skouer af en sleep weer die bankie onder die bed uit. “Goed, vyf minute. Praat, ek luister.”
Sy het verwag die woorde sal uittuimel soos ’n agent wat ’n tyddeel wil verkoop, om die grootste moontlike impak in die kortste moontlike tyd te hê. Maar Niel lê nadenkend agteroor teen die kussings. Hy maak sy oë toe en probeer aan haar die prentjies oordra wat soos ’n tafereel deur sy geheue flits.
“Balelapa se sonsondergange is ’n geskenk van Afrika. Van okergeel na appelkoospienk na viooltjiepers … Ek wens ek kon dit beskryf. Half wasig, met lugspieëlings oor die uitgestrekte wit panne, terwyl die sebras, gemsbokke en blouwildebeeste in ’n stofstreep aftou watergat toe. Daar’s kremetartbome en ’n kokerboomwoud, aalwyne en mopanies –”
“Jy het oor die foon gesê die plek is in die boendoe, ’n gramadoelas in die middel van nêrens,” onderbreek sy hom. “Is daar darem ’n hotel of iets? Chalets of rondawels?”
“Die rondawels is halfpad voltooi. Die reservaat is in aanbou en nog nie oop vir toeriste nie. Franco se eerste prioriteit is die wildkampe en rehabilitasiesentrum.”
“En waar slaap die mense intussen?”
“In woonwaens en tente.”
“Dit klink bra primitief. Is dit net ’n klomp mans, of is daar darem vroue by?”
“Daar is ’n hele konstruksiespan, bestaande uit bouers, verwers, landmeters en allerhande tegniese ouens. Baie van hulle is getroud, seker met kinders ook.”
“Watse geriewe het hulle? Darem behoorlike badkamers?”
“Die hoofablusieblok is nog nie klaar nie. Volgens die bouplanne lyk dit ultra-luuks, met ’n sauna en jacuzzi. ’n Span is ook aan die werk om ’n swembad uit te grawe, dis net grond en klip waar jy kyk. ’n Groot rots moes met dinamiet uitgeskiet word om ’n holte vir ’n rotspoel en waterval te vorm. Volgende week kom ’n landskapargitek om die tuine uit te lê – alles natuurlik inheems, met ’n lapa waar saans ’n spitbraai aangebied sal word.”
Aralie is teen haar sin beïndruk, maar dit beantwoord nie haar vrae nie. “En intussen: wat eet en drink die werkers en waar kry hulle voorrade?”
Niel het daarop staatgemaak dat Aralie platsak is. Die feit dat sy uitvra, bring ’n mate van optimisme. Sy skiet Balelapa darem nie summier af nie. Dalk willig sy in om hom uit te help …
“Daar is voorsiening gemaak vir ’n restaurant en ’n soewenierwinkel wat aandenkings en inheemse kunswerke –”
“Niel!” val Aralie hom ongeduldig in die rede. “Hou op om soos ’n advertensiebrosjure te klink. Ek gaan nie met ’n sak vol geld daar vakansie hou nie. As ek my dálk ’n gat in die kop laat praat en in ’n seniele oomblik inwillig om jou kastaiings uit die vuur te krap, sal dit wees om te gaan wérk. Daarom wil ek weet wat om te verwag. Hoe ver is hierdie boendoes van ’n dorp af?”
“Nege en dertig kilometer,” antwoord hy en hoop sy vra nie verder uit nie.
“Van wátter dorp af?” dring sy aan.
“Otjikavi.”
“Met ’n geroeste sinkafdak waar hulle brood en tsammas verkoop?”
“Was jy al op die dorp?” troef hy haar.
“Nee,” erken sy.
“Otjikavi het ’n koöperasie, ’n poskantoor, ’n hotel en selfs ’n vliegveld.”
Dit klink beter, maar sy speel steeds duiwelsadvokaat. “Vliegveld? ’n Strook woestynsand met ’n verflenterde windkous?”
Hy skud sy kop. “ ’n Behoorlike aanloopbaan waarop vragvliegtuie met toerusting vir die Ruacana-waterskema kan land, asook kommersiële vliegtuie. Franco self het ’n sessitplek-Beechcraft wat hy daar berg en gebruik om voorrade mee in te vlieg.”
“En ook toeriste, as die reservaat eendag oop is?”
“Net in ’n noodgeval. Balelapa lê op die Oshakati-Ruacana-teerpad. Dis maklik bereikbaar vir toerbusse of privaat voertuie, behalwe in die reënseisoen van Desember tot Maart, wanneer net viertrekvoertuie sal kan deurkom. Maar dan is dit in elk geval buite seisoen en te warm vir besoekers, dan konsentreer ons op teling en rehabilitasie.”
Aralie byt senuweeagtig op haar onderlip. “Ek het nie jou kennis en ervaring in daardie veld nie.”
“Dit maak nie saak nie, want jy sal dit nie nodig kry nie, dis nou eers Oktober. Al wat jy moet doen, is net vir ses weke die fort hou tot ek op die been is, dis al. En dis goeie geld, strate beter as wat jy by die motel kry.”
Enigiets sal beter wees as die derderangse motel, dink Aralie, waar die derderangse gaste dink die ontvangsdame is by die prys van die kamer ingesluit – dag en nag tot hul beskikking …
“Wat presies sal my pligte by die reservaat behels?” wil sy weet.
“Niks wat jy nie sal kan hanteer nie. Daar’s nie ’n verskil of jy ’n foksterriër se been spalk of ’n bok s’n nie. En ’n af vlerk is ’n af vlerk, hetsy dit ’n budjie of ’n valk is. Almal raak siek, party word gesond en party gaan dood. Dis basies dieselfde werk as wat jy in die praktyk gedoen het.”
“Presies dieselfde, ja,” stem Aralie saam. “Net heeltemal anders.”
“Jy het mos nog altyd van uitdagings gehou.”
“Miskien …”
Hy kruis sy vingers. “Beteken dit jy gaan hierdie een aanvaar?”
Aralie sê nie ja nie, ook nie nee nie. Nog lank nie. Niel het ’n manier om dinge in pienk sellofaan toe te draai as dit hom pas, en daar’s nog te veel grys areas om met hom uit te klaar.
“Hierdie Balelapa-reservaat van jou is anderkant die gopse. Amper in Angola! Noag sal die ent pad soontoe nooit maak nie. Hy het amper nie eens vandag die hospitaal gehaal nie.”
“Noag?” frons Niel. “Leef die ou oliebol nog?”