Verskrik deur die skielikheid en heftigheid van die kreet waarop niks hom voorberei het nie, bly hy in die middel van die pad staan en luister, maar dit word nie herhaal nie nog word dit deur enige verdere klank of enige merkbare reaksie gevolg. Was dit ’n dier wat so geskreeu het, of ’n mens wie se stem deur die heftigheid van sy pyn, angs, wanhoop of protes in so ’n mate van alle menslikheid beroof is dat dit nie meer van ’n dier s’n onderskei kan word nie, ’n uiting van loutere verskrikking, ’n enkele uitgerekte gil dwarsdeur die onverstoorde stilte van die dorpsmiddag?
Hy staan in die pad oorkant die hoë mure van die gevangenis en kan nie anders aanneem as dat die onnaspeurbare kreet van agter die hoë mure moet gekom het nie, alhoewel dit so min aan ’n rigting of oorsprong gebonde was soos die gekletter van die perdekommando daarvoor, ’n los, swewende geluid deur die ruimte oor die dakke en bome van die dorp, oor die pad en die gevangenis en die bloekombome en die wydheid van die veld. Moet hy by die swaar ingangsdeur aanklop, en indien iemand agter die tralievenstertjie sou verskyn, wat sou hy vra, met watter reg sou hy verklaring of verantwoording kan eis vir iets wat blykens die gebrek aan reaksie vir niemand anders opspraakwekkend is dan vir hom as vreemdeling nie? Hoe rou en ontstellend daardie kreet ook in sy ore geklink het, moet dit wees bloot omdat hy nog nie geleer het om dit te aanvaar en as normaal te beskou nie, want dit is duidelik dat daar een of ander alledaagse en aanvaarbare verklaring moet bestaan. Hy kyk na die deur met sy klinknaels en breë planke waar die roesbruin verf begin splinter en afskilfer, die uitgebeitelde sluitsteen met die monogram VR 1883 en die hoë, blinde muur van bewerkte klip. Hy sal nie aanklop nie, dink hy: hy moet wag, besef hy opnuut, hoe ongebruiklik hierdie benadering ook mag wees, hy moet waarneem, hy moet kyk, want hy is ’n besoeker op ’n plek waar die instellings en die gebruike vreemd is, en daar is baie wat hy moet leer.
Die son het reeds laag aan die lug gesak, die skadu’s langer, die spore van perde en rytuie skerper afgeteken in die los sand van die pad, en as hy van plan is om na die begraafplaas te gaan, sal hy moet gou maak, besef hy, want die sekondewyser van sy horlosie sit sy ongehaaste wenteling voort, en hoe onverklaarbaar die gang van sake op hierdie dorp ook mag wees, vind dit plaas binne ’n raamwerk van ruimte en tyd wat ’n gerusstellende vertroudheid besit. Ook hier word die middag skaduagtig en koel en begin die donker toeneem.
Op die gevoel af verlaat hy die pad en volg ’n klipperige, uitgespoelde spoor deur die veld wat hom vermoedelik in die rigting van die begraafplaas sal voer. Eenkant op ’n afstand sien hy onduidelik teen die lig van die dalende son, in die toenemende skemeragtigheid van die laatmiddag, ’n skamele versameling huisies wat vermoedelik die gekleurde woonbuurt moet wees, dog ook tussen die hutte en pondokke kan hy oor die afstand geen teken van lewe gewaar nie. Geen hond blaf, geen voël roep in die middag nie, geen geritsel of geruis roer tussen die droë gras en die klippe van die veld nie, asof nie slegs die mense die dorp op geheimsinnige wyse ontruim het nie, maar ook die lewe van die natuur hom op een of ander manier onttrek het. Dit is egter eers baie onlangs dat die ontruiming plaasgevind het, dink hy, want die strate en tuine is versorg, die water loop in die voor, oor die landdroskantoor of magistraatskantoor, wát die juiste historiese benaming in hierdie omstandighede ook mag wees, waai daar ’n vlag en die deur van die hotel staan oop, nog is daar enige teken wat op moontlike ramp of onheil sou kan dui afgesien van die enkele bloedkolle in die stof van die straat en die hoë gil waardeur hy vir ’n oomblik opgeskrik is. Hierdie volslae stilte is egter nie die stilte van verlatenheid nie, besef hy dan, maar ’n stilswye wat verswyg en verberg en slegs wag om oop te breek in geluid soos daardie gil van beskuldiging of wanhoop wat nog in sy ore weerklink. Die hand wat die sluise oopgemaak, die vlag gehys, die strikkie laat val het, is nog hier; die man in die ligte pak is in die huis agter die roosheining waarin hy so onverklaarbaar verdwyn het, die hinkende jong man in die huis agter die sonneblomme waar hy die deur agter hom toegeslaan het. Ongeag die skyn van sake, is hy nie alleen op hierdie dorp nie.
Waar hy hierdie gedagte loop en verwerk, is hy nie onvoorbereid op die nuwe kreet wat hy hoor nie; dog dit is ook nie dieselfde onmenslike en haas onwesenlike gil as voorheen nie, maar die uitroep van ’n vrou wat duidelik afkomstig is van êrens tussen die armoedige huisies van die kleurlingwoonbuurt op ’n afstand van hom. Jy moet wag, dink hy, jy moet luister, jy moet waarneem; en hy bly staan op die klipperige voetpaadjie deur die veld en merk sonder verbasing dat daar van tussen die huisies iemand na hom toe aangehardloop kom.
Soseer het hy gedurende hierdie middag en in die loop van enkele ure aan die wisselvalligheid, onvoorspelbaarheid en onverklaarbaarheid van die gebeure gewoond geraak dat die skielike aanskoue van hierdie ontstemde vrou in die verte hom ewe min verras as die kreet wat haar verskyning aangekondig het, en hy die verdere verwikkelings met ’n sekere onbewoënheid kan waarneem. Dit is ’n vrou in ’n lang, donker rok en ’n helderwit voorskoot met valletjies, van die soort wat vir vertoon eerder as praktiese nut gedra is, en sy hardloop dwarsoor die veld, nie na hom toe nie, want ook sy gee geen teken dat sy van hom bewus is nie, maar skuins voor hom verby in die rigting van die dorp, so naby aan die plek waar hy staan dat hy sien dat haar gesig verteken is deur smart of angs en dat daar trane oor haar wange loop. Haar rok haak vas aan die lae bossies, sy strompel oor die ongelyktes en die klippe en die soom van haar rok, struikel, val op haar knieë neer en spring weer op om verder te hardloop asof sy nie eers van die val bewus is nie. Die son het agter die lae rant verdwyn en slegs haar donker rok en die helderheid van haar voorskoot is nog in die dynserigheid sigbaar soos sy van hom af voorthardloop in die rigting van die dorp met haar hande voor haar uitgestrek, maar dan verdwyn sy agter een of ander onvermoede rant, bank of wal, en kom nie weer te voorskyn nie. Hy moet haar volg, dink hy, en vasstel waarheen sy op pad is, en dwarsoor die veld hardloop hy agter haar aan, maar besef dat hy haar heeltemal uit die oog verloor het, sonder om egter te kan verklaar waarheen sy verdwyn het of selfs hoe dat haar skielike verdwyning moontlik was, want tussen die plek waar hy staan en die eerste tuine en bome van die dorp strek die veld met sy klippe en lae bossies egalig uit; daar is geen rant of bank, wal of sloot waaragter iemand hom selfs sou kan probeer verberg nie, laat staan nog vir ’n waarnemer onsigbaar raak. Eers wanneer hy aan die rand van die dorp die poging tot agtervolging laat vaar en weer omdraai, terug na die kleurlingwoonbuurt en die begraafplaas, ontdek hy die groepie vroue in lang, donker rokke soos hare wat agter sy rug om op pad is terug deur die veld in die rigting van die verspreide huisies en pondokke, en besef dat sy in hul midde is en dat hulle alkant van haar loop terwyl hulle haar stut en voortlei of half teen haar sin met hulle saamsleep, strompelend oor die ongelyk grond in die heftigheid van haar ontsteltenis sonder om ag te slaan op hul pogings om haar te troos of te kalmeer. Waar het die vroue haar dan gevind en hoe was dit vir hulle moontlik om haar op hierdie wyse terug te lei sonder dat hy hulle sien? wonder hy, en besef opnuut en met groter duidelikheid die ongepastheid van vrae van hierdie aard en die irrelevansie van die inligting. Dit is nie verklarings wat hier gesoek moet word nie, begin hy algaande besef, maar aanduidings, leidrade of vingerwysings aan die hand waarvan hy algaande die nodige kennis sal kan opdoen en begrip sal ontwikkel van dit wat vir hom nodig is om te verstaan.
Onseker of die vroue van hom bewus is, volg hy hulle op ’n afstand deur die veld. Dit is asof die ontstelde vrou wat hy die eerste gesien het haar verset, en hulle bly saamgebondel staan om haar aan te spoor, moed in te praat of vertroos; sy struikel weer en val of wil haar neerwerp op die grond, en hulle hou haar teë en buk oor haar, hul hande onder haar elmboë om haar op te hef, hul koppe bymekaar, en in die vaal wasigheid van die aand is die deining van die vroue in hul donker rokke en die heftigheid en dringendheid van hul gebare duidelik genoeg oor die afstand om te verklaar wat hier gebeur. Stapvoets en teësinnig word sy op hierdie wyse tot by die eerste huisies voortgelei, en wanneer hy besef dat hulle op die punt staan om weer vir hom verlore te gaan, maak hy skielik sy moed bymekaar om te roep, en skreeu agter hulle aan in ’n poging om hulle aandag te trek voordat hulle verdwyn, verras oor die feit dat dit in die droomagtige en versweë wêreld waarin hy hom bevind nog moontlik is om ’n geluid