Hy draai weg van die landskap wat geen bystand bied nie en leun na vore, sy oë op die reguit pad, wagtend dat die volgende kilometerteken in die verte sigbaar word, maar die leegheid is ongerep. Het daar ’n bordjie of wegwyser weggeval? begin hy effens ongeduldig wonder wanneer hy die smal naald skielik in die verte uitken, die enigste vertikale lyn in hierdie ruimte, en Eddie spoed verminder. Hy leun na vore om oor die afstand te probeer uitmaak wat daar staan: ‘Donkerpoort 40’ lees hy.
‘Ons het verbygery,’ sê hy. ‘Ons moes waarskynlik êrens afgedraai het.’
‘Daar was geen afdraaipad nie,’ sê Eddie met rustige oortuiging.
‘Maar ons het êrens by Fouriesfontein verbygery. Kyk, dis waar ons nou is.’ Hy hou die padkaart uit, dog Eddie slaan geen blik daarop nie, onaangeraak deur twyfel.
‘Wil jy hê ons moet teruggaan?’ vra hy. Hy ry nog stadig, en hulle beweeg onverbiddelik verder op die pad Donkerpoort toe, weg van die plek waar Fouriesfontein moet wees.
Gekonfronteer met hierdie klaarblyklike gebrek aan deelname aarsel hy vir ’n oomblik. ’n Graf, dink hy, ’n begraafplaas, ’n monument; nóg ’n graf, nóg ’n begraafplaas, nóg ’n monument. Nóg ’n dorp. Hierdie of daardie een, wat maak dit ten slotte saak wat toegevoeg word tot die honderde foto’s wat reeds geneem is of wat ontbreek? Die plek waar ’n jong rebel gesneuwel het en begrawe is. ‘Nee,’ sê hy uiteindelik, ‘draai maar weer om’, en stadig en pligmatig draai Eddie die motor op die smal pad om, verby die kilometerteken wat na Donkerpoort wys en terug in die rigting van Kromburg van waar hulle kom. ‘Ek wil dit nie graag mis nie,’ sê hy vergoeilikend. ‘Ek meen dat Fourie se graf belangrik is, hy het indertyd ’n soort volksheld geword; ons behoort dít ten minste op te spoor en af te neem, al vind ons niks anders wat die moeite werd is nie. Ek het ’n portret wat kort voor sy dood van hom geneem is, ’n nogal goeie afdruk, wat ek wil gebruik . . .’ As Eddie luister, laat hy die feit egter nie blyk nie. Hy verspil sy tyd, besef hy, want Eddie verlang geen verduidelikings of motiverings nie, bloot dat die volgende bestemming aangegee word en die objekte wat hy moet afneem, aangewys. Dit is ’n professionele opdrag wat hy uitvoer, en reeds het hy te kenne gegee dat hy hoop om ’n week by sy gesin te kan deurbring voordat die volgende aangepak word. Wanneer hierdie reis beëindig is, sal hulle kort samewerking ook verby wees en sal hulle mekaar waarskynlik nooit weer sien nie, niks meer van hulle lang tog behoue nie as twee name op die titelblad van ’n boek.
Met sy aantekeninge en die kaart nog op sy skoot kyk hy uit vir ’n moontlike afdraaipad of hek, vir ’n verre ry bome in ’n laagte of ’n kerktoring half agter ’n rant verskuil waar dit die verbyganger nie dadelik opval nie. Dit is jammer dat hy hierdie reis nie met iemand kon onderneem wat ’n sekere belangstelling in die onderwerp het nie, dink hy by homself, ’n mate van historiese kennis of aanvoeling, of in elk geval die bereidwilligheid om hom vir die duur van die projek daarin te verdiep; dog hulle het bykans twee weke in hierdie gedeelde swye en wedersydse onbegrip deurgebring en sal die laaste twee of drie dae seker ook kan deurkom. Dit is genoeg, dink hy dan egter skielik waar hy opkyk van die kaart, en besef effens tot sy verbasing dat hy nie meer werklik in Fouriesfontein belangstel nie. Êrens langs hierdie laaste stukkie pad tussen Kromburg en Donkerpoort het hy versadigingspunt bereik, en hy voel warm en stowwerig en geïrriteerd, moeg vir die rommelige motor en die reguit teerpad, die verslae dorpe, die hotels, die huise met hul sonkamers, diefwering en satellietskottels, die televisiestelle flikkerend in die hoek van woonkamer of hotel. Die pak los blaaie, knipsels en foto’s in die lêer op sy knieë gly van sy skoot en val om sy voete uit, en hy buk nie dadelik om dit op te tel nie. Hy is moeg van die ronddool, die onbestendigheid, die ongerieflike hotels en oneetbare kos, moeg van die verwarde reeks onderhoude, museums en monumente, en dit is tyd om klaar te kry en terug te keer stad toe na die sekerheid en vertroudheid van woordverwerker en lessenaar. Vir hom is hierdie boek ten slotte ewe goed ’n opdrag as vir Eddie, dink hy by homself, al gaan dit in sy geval met groter betrokkenheid gepaard, en ook vir hom sal dit uiteindelik niks meer wees nie as ’n gedenkboek met sy naam op die titelblad, ’n glanspapierpublikasie wat hy later nie eers meer sal deurblaai nie. Die enigste verskil is uiteindelik dat daar op Eddie reeds ’n volgende opdrag wag, terwyl hy hierna self een sal moet soek, self iets sal moet vind.
‘Daar’s die volgende bordjie nou voor,’ merk hy half ingedagte op, en buk om die verspreide papiere op te tel.
‘Ons soek nie bordjies nie,’ sê Eddie met ’n sekere snedigheid, ‘ons soek ’n afdraaipad na jou dorp, en dié moes ons al lankal teëgekom het. Ons is nou presies weer waar ons netnou al was.’
Sonder om ag te slaan, leun hy weer vorentoe na die bordjie wat voor hulle opdoem langs die pad. ‘Kromburg 60’ lees hy. Woordeloos bring Eddie die motor tot stilstand, en vir ’n tydjie sit hulle in stilte daar.
‘Dis waar ons nou net vandaan kom,’ sê Eddie. ‘Dis waar ek die hamburger gekoop het.’ Ja inderdaad, dink hy, en onthou nog met betreklike duidelikheid die hitte, die vrou wat op ’n onsigbare bediende skreeu in die kombuis, die transistorradio, leë koeldrankblikkies op ’n tafel. Die verdonkerde museumpie, die sleutel wat hulle by die kerkkantoor moes gaan soek, die wawiel van beton – dit was Kromburg.
‘Ons het weer verbygery,’ sê hy.
Stadig en geduldig reik Eddie dan uit om die kaart by hom oor te neem en volg met sy vinger die rooi lyn van die pad. ‘Kromburg na Fouriesfontein, 63 kilometer, reg?’ vra hy rustig. ‘Fouriesfontein na Donkerpoort, 54 kilometer; dis 117 kilometer altesaam. Hierdie bordjie sê dis 60 kilometer terug Kromburg toe, en die vorige bordjie waar ons nou net vandaan kom, sê dis 50 kilometer Donkerpoort toe. Dit laat sewe kilometer tussen die twee bordjies waar ons nou heen en weer sukkel, en op hierdie sewe kilometer het ek niks g’n uitdraaipad gesien nie, aan jou kant van die pad of aan myne.’
‘Ek sou darem ten minste Giel Fourie se grafsteen wou probeer vind,’ sê hy sonder om duidelik van sy eie woorde bewus te wees; ‘ek het ’n nogal goeie foto van hom wat ek wil gebruik, en daar hoort iets meer by te wees, ten minste ’n foto van die graf . . .’ Sy stem sterf weg, en hy besef dat Eddie ook nie eers geluister het nie. Dit is nie die plek of die tyd om te sit en redekawel nie, dink hy, op die hitte van die dag op die oop veld in die son; fel slaan die gloed van die dag deur die vensterruite na hulle op, weerkaats van rante, rotse, klipbanke en gruis. Stadig en woordeloos draai Eddie die kar dan weer om en maak hom gereed om opnuut terug te ry in die rigting van Donkerpoort. Ry maar verder, wil hy vir ’n oomblik sê, en doen dit nogtans nie. Op Donkerpoort sal daar iets kouds beskikbaar wees om te drink, ’n hotel met lugverkoeling in die sitkamer of ten minste ’n elektriese waaier, ’n stortbad of bad; hy is moeg en sou liewer vir ’n halfuur wil gaan lê as om langs hierdie troostelose en verlate stukkie pad tussen twee kilometertekens rond te kruie met geen beskerming teen die stowwerige barheid van die somermiddag nie. Werk die lugverkoeling dan nie meer nie?
In die verre deining van die veld, lig trillend soos lugspieëling, kolkend soos ’n dwarrelwind, gaan die groepie ruiters verby, maar daar is niemand wat van hulle bewus is nie, net hy wat deur die venster van die kar sit en uitkyk en hulle so helder sien asof die ruitglas nie gekleur was nie. Dit help nie eers om Eddie se aandag op hulle te probeer vestig nie, want daar is niks wat hy sou kan sien, niks wat die lens kan toelaat of selfs die gevoeligste film kan vaslê nie. Hy is vasgevang, besef hy loom op die hitte van die middag in die rommelige motor, in ’n opdrag wat in wese onuitvoerbaar is, hy is gedoem, hy sal nooit loskom nie, en of dit Fouriesfontein of Donkerpoort is