Hy blaai deur die lêer met inligting oor Fouriesfontein. ‘Onbesliste veldslag (skermutseling?), Feb. 1901, 22 km suidoos van dorp’ lees hy voor. ‘Slag van Vaalbergpas (?). Verskeie oorvalle deur Boere-kommando’s in distrik tot einde van oorlog. Graf G.F. in begraafplaas op dorp; oorlogsgedenkteken.’
Eddie gee geen blyk of hy gehoor het nie, sy oë op die reguit pad voor hulle. Hy is gehuur om foto’s te neem en vervul daarnaas ook die rol van motorbestuurder, verpligtings wat hy professioneel maar sonder merkbare geesdrif of selfs betrokkenheid nakom: die fotografie is sy lewe, maar van die Anglo-Boereoorlog weet hy skaars iets en wil hy kennelik ook niks meer uitvind nie, en as stadsmens is die platteland vir hom onbekende en onbekoorlike terrein. Dit wat hom buite sy werk interesseer, is die dorpshotel aan die einde van elke dagtog, die kroeg, die jongste kriekettelling, ’n bier of twee en ’n aand voor die televisie. Êrens is daar ’n vrou en ’n jong gesin met wie hy elke aand lang telefoongesprekke voer, êrens op die agtergrond is daar ’n voorstedelike huis, ’n swembad en ’n elektriese grassnyer, en dit is al wat hy oor Eddie uitgevind het in die bykans twee weke dat hulle in verdraagsame stilswye die beknopte ruimte van die motor deel en langs die strate van stowwerige dorpe ronddwaal.
Fouriesfontein, dink hy by homself terwyl hy verder deur sy aantekeninge en fotokopieë blaai; en daarna? Hy is nie meer seker nie. Fouriesfontein vanmiddag, die graf en die gedenkteken afgehandel, die toneel van die skermutseling moontlik besoek indien dit belofte inhou, en hopelik sal hulle vroeg genoeg kan wegkom om nog op die volgende dorp op hul roete te kan oornag. Elke besoek word langer uitgerek as wat moontlik geag is toe die reisplan opgestel is: gedenktekens het verdwyn tussen bome en struike waar geen daglig deur dring nie, het toegebou geraak, het gekraak, gebars en van hul voetstukke getuimel, het soek geraak of verdwyn, inskripsies het onleesbaar geword, mense verskil van mening oor die ligging van ’n slagveld of ’n plaas, stry met mekaar oor aanwysings, ’n adres of ’n telefoonnommer, soek na sleutels wat nie opgespoor kan word nie of bel kennisse wat blyk nie by die huis te wees nie; ou mans begewe hulle op onsekere bene tussen die verweerde stene van begraafplase, struikelend oor klippe, onkruid en verroeste metaalkranse, raak verward in hul herinnerings en weerspreek hulself terwyl hulle driftig maar uiteindelik ondoelmatig dui op koppies of die loop van ’n spruit. Hulle het hul belangstelling verloor en vergeet, die vergangenheid prysgegee, en die ongevraagde herinnering aan die feit dat iets wat eens belangrik geag is hulle ontgaan het, laat hulle voel dat hulle op een of ander manier gefaal het in hulle plig, sodat hulle al hoe meer aggressief en ontwykend reageer. Is dit vir die televisie? vra mense, en verloor sigbaar hul belangstelling in die onderneming wanneer hulle moet vasstel dat dit slegs gaan om ’n boek. Dikwels genoeg is die beste wat hulle die besoekers kan toon uiteindelik ’n monumentjie ter ere van die Ossewatrek, ’n suil of wawiel eenkant op ’n stowwerige plein of kerkterrein met wielspore vasgelê in die beton. Dit is al wat van die verlede oorgebly het.
Fouriesfontein 20, lees hy, en reken vinnig na. Die beweerde slagveld lê op ’n afstand van die dorp en die inligting daaromtrent skyn onvolledig en onseker te wees, sodat dit waarskynlik maar gelaat kan word; die terrein sal bowendien seker moeilik identifiseerbaar wees, en op sigself was die slag of skermutseling van geen wesenlike belang nie. Die graf en gedenkteken is gelokaliseer en behoort redelik maklik gevind te kan word, en die foto van die jong rebel wat hier dood is, besit hy reeds in ’n eietydse afdruk van goeie gehalte. Fouriesfontein sal dus redelik maklik afgehandel kan word. ’n Uur miskien? ‘Fouriesfontein klink nie baie belowend nie,’ merk hy op. ‘Ek sien iemand skryf daar het nog nooit iets gebeur behalwe die oorlog nie.’ Eddie toon egter steeds geen reaksie nie, sy gedagtes onpeilbaar. Fouriesfontein 10. Na Fouriesfontein kom Donkerpoort, onthou hy, en blaai verder om te sien wat Donkerpoort hulle kan bied. Grafte van Engelse troepe wat deel van die garnisoen uitgemaak het, ’n stuk van ’n muur wat na bewering deur hulle gebou is, die dorpshuis van kommandant Christiaan Louw (tans museum): familieportrette, pluiskeile, kinderwaentjies en kersvorms. Ook hier is daar niks wat hulle oor die afgelope weke nie meermale reeds gesien het nie, tot tien of twintig keer selfs. Hoeveel soortgelyke objekte het Eddie nie al toegewyd, professioneel en heeltemal ongeïnteresseerd op film vasgelê nie, hoeveel honderdtalle foto’s wag nie reeds om ontwikkel te word, die een reeks nouliks onderskeidbaar van die ander: die gedenktekens, grafte, dorpsmuseums, die hoogbejaarde afstammelinge van kommandante of rebelle-leiers, kliphope wat ou verskansings aandui, verroeste blikkies of doringdraad, patrone wat nog opgetel kan word tussen bossies en gruis, die lae deining van veld en rante waar daar eens geveg is, ’n verflenterde vaandel, ’n verkleurde lintjie. Hoe moet daar uit hierdie verslae oorblyfsels ooit ’n boek tot stand kom?
Hy kyk op van sy aantekeninge en sien die kilometerteken wat verbyflits, Donkerpoort 50, sien die reguit pad, die vlakheid van die veld, ’n verre ry bome, die ligte golwing van ’n kliprantjie teen die lug, sien die saamgeskaarde groepie ruiters wat deur die vaalheid van die landskap beweeg, gehul in die stofwolk wat onder die pote van die perde opslaan.
Iets is verkeerd, besef hy dan skielik, en dwing sy gedagtes terug na die werklikheid. ‘Wat het daardie bordjie gesê?’ vra hy.
‘Ek het nie gekyk nie,’ sê Eddie ongeërg.
‘Daar het Donkerpoort gestaan,’ sê hy, maar vir Eddie is die onderskeie dorpe langs hul pad niks meer nie as plekke waar hulle stilhou, foto’s neem en by geleentheid oornag, hul name volkome uitruilbaar. ‘Maar Donkerpoort is die volgende dorp, dit kom ná Fouriesfontein, en ons is op pad Fouriesfontein toe. Eers Fouriesfontein, dan Donkerpoort.’ Terwyl hy nog praat, besef hy hoe verspot sy woorde klink, en soek na die padkaart om bevestiging te vind.
‘Dalk het jy verkeerd gekyk,’ sê Eddie na ’n tydjie sonder om spoed te verminder. ‘Ons sal sien wanneer ons by die volgende bordjie kom.’
Uit sy aktetas haal hy die padkaart te voorskyn, dog onweerlegbaar staan dit daar aangedui: Kromburg na Fouriesfontein, 63 kilometer, Fouriesfontein na Donkerpoort, 54 kilometer, aaneengeryg langs dieselfde reguit rooi lyn waaruit daar skaars selfs ’n plaaspad vertak, en hulle is reeds meer as ’n halfuur gelede uit Kromburg weg. Hy voel ’n ligte ongeduld by die vooruitsig van ’n vertraging wat sy plan vir die middag verder sou kan ontwrig, en waar hy langs Eddie sit met aantekeninge en kaart in ’n slordige bondel op sy skoot vind hy dit moeilik om sy gedagtegang te hervat. Die weinig belowende foto’s wat hulle geneem het, onthou hy dan, die karige restante van die verlede wat aangevul sal moet word met skote wat Eddie bloot as lokale kleur geneem het, die hout- of ysterwerk van ’n ou veranda, ’n houtluik, ’n bakoond, ’n watervoor, die spel van lig en skaduwee oor die oppervlakte van ’n ongelyke muur. Met effens oordrewe kleurgebruik, perspektivistiese verkorting en oordeelkundige snywerk sal jy in die boek ’n drama moet suggereer wat aan die werklikheid ontbreek, dink hy, deur middel van lokale kleur en die oordeelkundige gebruik van ouer foto’s